Jan vra:
Onderwerp: Joh 20:17: “Raak My nie aan nie”
By Jesus se verskyning aan Maria na sy opstanding het Hy vir Maria gesê: “Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na My broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en my God en julle God.” Verder, in 20:19-20 staan daar: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week het Jesus aan hulle verskyn en … (toe) wys Hy hulle sy hande en sy sy.” (1933/53 Afr Vert.) En verder sê Hy ook vir Tomas (20:27) om aan die gate in sy hande en sy te raak en homself te oortuig dat dit regtig Jesus is.
Vraag: Kan mens die afleiding maak dat Jesus gedurende hierdie tussenpose, dit wil sê vroegoggend tot die aand, ‘n hemelvaart onderneem het om Hom aan die Vader te gaan vertoon? Anders hoekom die besondere woorde aan Maria?
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Om die toneel tussen die opgestane Here Jesus en Maria Magdalena in Joh 20:14-18 te verstaan, is dit nodig om eers vier sake ter agtergrond te verduidelik. Dit het te doen met die manier waarop Johannes die gebeure ná die opstanding van Jesus vertel.
Eerstens moet ons die woorde “Raak My nie aan nie” eerder vertaal soos die 1983-Afrikaanse Vertaling dit doen, naamlik: “Moet My nie vashou nie”. Daar is ‘n verskil tussen die twee vertalings. Hoewel albei grammatikaal korrekte weergawes van die Grieks is, is die 1983-Vertaling binne die konteks en bedoeling van Johannes beter. Dit druk naamlik die gedagte uit dat daar ná die opstanding van Jesus ‘n ander verhouding tussen Jesus en sy dissipels tot stand gekom het. Hy is nou op ‘n ander manier teenwoordig by hulle as vóór sy opstanding. (Later meer hieroor.)
Tweedens, mens moenie die twee tonele waar Maria vir Jesus wil vashou en die een waar Jesus vir Tomas uitnooi om aan sy (Jesus se) littekens te raak, met mekaar in verband bring rondom die aanraak-kwessie nie. Nie net word die woord vir “aanraak/vashou” glad nie in die Tomasgebeure gebruik nie, maar dit mag ook nie so gesien word dat daar iets inherent verkeerd was daaraan om Jesus aan te raak nie, so asof dit disrespekvol van Maria sou wees om as sondige mens Jesus se verheerlikte liggaam aan te raak – dat sy so sy verheerlikte liggaam sou besoedel. Die blote feit dat Tomas uitgenooi word om Jesus wel aan te raak, wys dat dit nie oor die aanraking as sodanig gaan nie. Daar is iets anders op die spel.
Derdens, vir die Johannesevangelie is kruisiging, opstanding en hemelvaart alles deel van die tyd van verheerliking van Jesus. So word daar dikwels na Jesus se kruisiging as sy “verhoging” verwys (bv Joh 8:28; 12:32,34). Verder, hoewel Jesus in Joh 20:17 na sy hemelvaart verwys, beskryf Johannes dit nêrens in soveel woorde nie (anders bv by Lukas – Luk 24:51; Hand 1:9-11). Die rede hiervoor is dat opstanding en hemelvaart by Johannes eintlik een en dieselfde gebeure is. Let op hoedat Maria aan die dissipels sê dat sy die Here gesien het (20:18). Dieselfde woorde kom ook voor wanneer die dissipels vir Jesus sien (20:20,25) en wanneer Tomas Jesus bely as My Here en my God (20:28). Here is in hierdie konteks aanduiding van die verheerlikte staat van Jesus as die opgestane Here wat ten hemele gevaar het. Waar Lukas die opstanding en hemelvaart van Jesus as twee afsonderlike gebeure beskryf (40 dae uit mekaar), sien Johannes dit as een en dieselfde gebeure. Volgens Johannes is Jesus dus na opstanding onmiddellik by die Vader as die verheerlikte Here Jesus. Daar is nie eers, soos by Lukas, ‘n “wagperiode” van 40 dae voordat Jesus ten hemele vaar nie. Dus, volgens die Johannesevangelie, wanneer Jesus ná sy opstanding aan Maria en die dissipels verskyn, is dit as die verheerlikte Jesus, as die Een wat reeds na sy Vader gegaan het, d w s, na die hemel gevaar het. Johannes is natuurlik wel bewus daarvan dat die gelowiges aan wie hy skryf, bekend is met ‘n “aparte” hemelvaart naas die opstandingsgebeure. In die mondelinge tradisies wat in die vroeë kerk in omloop was, was dit algemene kennis. En dié wat reeds kennis gemaak het met die Lukasevangelie en Handelinge, sou dit ook daar gelees het. Johannes maak dus gebruik van die hemelvaarttradisie in sy evangelie, maar anders as Lukas teken hy opstanding en hemelvaart nie as streng aparte gebeure nie, maar, saam met die kruisiging, as deel van die één gebeure van verhoging en verheerliking van Jesus.
Vierdens, as verheerlikte Here gee Jesus ook nou sy Gees aan die dissipels (Joh 20:22). Dit is Johannes se weergawe van die uitstorting van die Heilige Gees, wat Lukas in Hand 2 beskryf. Jesus het reeds vroeër belowe dat wanneer hy na die Vader gaan, die Vader vir hulle die Heilige Gees sal stuur (Joh 15:15-16,25-26; 16:5-15). Die ontvangs van die Gees bring nou ‘n nuwe verhouding tussen Jesus en sy dissipels tot stand. Waar hulle vroeër fisies sy volgelinge was, kom daar nou ‘n dieper en voller verhouding tot stand waar die Vader, die Seun én die Heilige Gees sy intrek by die dissipels neem. Let op hoe Vader, Seun en Gees in Joh 14:26 in dieselfde asem genoem word. Hierdie voller verhouding tussen Jesus en sy volgelinge word ook duidelik in die woorde van Joh 20:17 waar Jesus vir Maria sê dat sy Vader ook hulle Vader is, en sy God ook hulle God. Met hierdie woorde probeer Jesus nie afstand skep tussen Hom en die dissipels nie (asof God op ‘n ander manier sy God is as die dissipels s’n), maar wil Hy eerder sê dat die verbond tussen God en sy volk nou op ‘n voller, ryker en inniger manier tot stand gekom het. Hierdie woorde herinner ook aan Rut wat vir Naomi sê: “U volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16). Dit druk die innige verbondenheid tussen Rut en haar skoonma uit. Net so sê Jesus dat daar nou geen verskil meer is tussen sy God en Vader en die dissipels se God en Vader nie. Die verbond tussen God en sy volk het nuut en volkome geword. Daarom dat Jesus ook van die dissipels as sy “broers” praat wanneer hy vir Maria sê: “… gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe …’ “.
In die lig van bostaande vier verduidelikings verstaan mens die toneel wat hom tussen Jesus en Maria afspeel beter. Maria herken Jesus toe Hy haar by die naam noem. Joh 10:2 skemer hier deur, waar staan dat Jesus as die goeie Herder sy skape by die naam roep en hulle lei. Die innige verhouding tussen Jesus en een van sy skape, Maria, word so duidelik. En Maria is so oorstelp by die gedagte dat Jesus leef dat sy Hom vasgryp, so asof sy die verlede wil laat herleef. Sy dink alles sal nou weer wees soos dit was. Maar dan wys Jesus haar daarop dat alles nou verander het; sy opstanding is nie maar net ‘n terugkeer na hoe dit was nie. Hy staan nou in ‘n ander verhouding tot hulle; Hy is nou die opgestane, verheerlikte Here, die een wat deur die dood gegaan het, dit oorwin het en nou by sy Vader is. Hy is nie net meer Maria se leermeester (“Rabboeni”), soos sy Hom geken het tydens sy aardse lewe nie, maar Hy is nou haar Here, soos sy dan ook later na Jesus verwys (Joh 20:18). Sy besef nou dat sy Jesus nie kan vashou vir haarself en die dissipelkring nie; Hy is nou die Here wat ook ander skape het wat Hy moet lei (Joh 10:16). Deur sy Gees is Hy saam met die Vader nou die Een wat in sy Goddelike volheid onder hulle woon. Maria mag Jesus dus eers “vashou” wanneer sy tot die volle besef gekom het van hierdie nuwe verhouding waarin Jesus nou tot die dissipels staan.
Mens moet dus nie Johannes se weergawe van die toneel tussen Jesus en Maria kronologies (volgens tydsverloop) verstaan nie, maar teologies. Die teologiese punt wat Johannes met sy vertelling maak, is dat Jesus se opstanding nie maar net ‘n terugkeer na sy vorige bestaan is nie (soos Lasarus in Joh 11), maar ‘n radikaal ander verhouding tot die dissipels tot stand bring. Hulle moet nou aan Hom “vashou” deur geloof, waarheid en die teenwoordigheid van die Gees. Om hierdie punt tuis te bring, gebruik Johannes die hemelvaarttradisie. Laasgenoemde was bekend in die vroeë kerk, en Johannes wend dit aan as ‘n middel om die opstanding van Jesus te interpreteer as van ‘n radikaal ander orde as wat byvoorbeeld met Lasarus gebeur het. Dit is daarom onnodig om dit so voor te stel dat Jesus tussen die Maria-toneel en die Tomasgebeure ten hemele gevaar het. Johannes se vertelstrategie werk nie op hierdie manier nie. Dit is beter om in die lig van die totale verhaal dit so te verstaan dat kruisiging, opstanding en hemelvaart vir Johannes eintlik een en dieselfde gebeure is – die verhoging en verheerliking van Jesus. En hierdie gedagte, wat per definisie nie aan tyd en ruimte gebonde is nie, moes Johannes in ‘n verhaalstruktuur giet wat noodwendig met tydsverloop en opeenvolgende gebeure werk. Daarom, die woorde “Ek het nog nie na my Vader toe opgevaar nie” en “Ek vaar op na my Vader toe” (Joh 20:17) is nie tydsaanduidings nie maar teologiese uitsprake wat wil sê: Jesus se verskynings aan die dissipels ná sy opstanding is tydelike “hulpmiddels” wat in die gemoed van Maria en die dissipels moet plek maak vir sy permanente teenwoordigheid deur die Heilige Gees by hulle. Só moet hulle Hom in die toekoms beskou, Hom aanbid, in Hom glo en Hom volg; só moet hulle aan Hom “vashou”.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl