‘n Leser vra:
Ek is ‘n lidmaat van die NG Kerk. Ek was gister by ‘n buurgemeente (NG Kerk) waar daar ‘n baba gedoop is. Toe die dominee die doopformule uitspreek: “Ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees”, was dit egter nie die dominee wat die water op die baba se koppie gesit het nie, maar die ouers. Die dominee het glad nie die water op die baba se koppie gesit nie.
Ek het dit nog nooit in ‘n NG Kerk beleef nie en dit pla my geweldig baie. In daardie stadium het dit vir my nie reg gevoel nie en ek wou uitloop, maar het toe bly sit tot aan die einde van die diens. Want ek sê toe vir myself: Wie is ek om te besluit of dit reg of verkeerd is?
My vraag is dus aan u is: Is dit verkeerd of mis ek die punt?
Antwoord
Prof Hermie Van Zyl antwoord:
Ek het eers ‘n breë aanloop oor die meer prinsipiële aspekte rakende die doop waarmee ek ‘n konteks wil skep waarbinne die spesifieke vraag van die vraagsteller beantwoord kan word. Want ‘n mens moet maar altyd vanuit die teologie van die doop na die spesifieke doopgebruike kyk wat oor tyd heen ontstaan het. Uit die teologiese beginsels kan mens dan aanpassings maak waar nodig, sonder om die beginsels geweld aan te doen.
Ons moet onthou dat die doop ‘n sakrament (“ernstige/heilige eed”) is. Dit beteken die doop is nie ‘n menslike uitvindsel nie maar is deur God aan sy kerk gegee waardeur Hy sy genade be-teken en verseël, dit wil sê waarborg. As sodanig is die doop (soos die nagmaal, die ander sakrament in die Protestantse tradisie) as kerklike handeling gevul met ryke simboliek, waarvan die vernaamste die volgende is: 1. Die water simboliseer die afwassing van sondes. 2. Die water verwys ook na die aflegging van die ou lewe. Dink veral aan 1 Kor 10:1-2 waar Paulus die deurtog van oud-Israel deur die Riet See as simbool gebruik van die doop. Egipte, die land van verslawing (= sonde), word dus agtergelaat. 3. Die doop is ook ‘n simbool van nuwe lewe. Titus 3:5 noem dit die bad van die wedergeboorte; ‘n nuwe lewe saam met Christus gaan nou oop vir die dopeling. 4. Dis ook ‘n simbool van toetrede tot die gemeente van God. Die dopeling is van hierdie oomblik af ‘n volwaardige lidmaat van die gemeente. 5. Mens kan ook nie die doop aan jouself bedien nie, maar dit word altyd aan jou bedien – hetsy as kind hetsy as volwassene. Die simboliek hiervan is dat mens nie jouself kan red nie; redding is slegs moontlik deur die genade van God. Mens is in ‘n sekere sin “passief” as dit by redding kom. Die doop wys heen na die genade van God wat mens inhaal en oorweldig. Voordat mens nog iets kan begryp van die grootheid en genade van God (veral by die kinderdoop van toepassing), omvou God jou reeds met sy genade en beloof Hy dat Hy jou sal begelei elke oomblik van jou lewe.
Verder, veral in die Protestantse tradisie het die oortuiging en gebruik ontwikkel dat die doop in gemeenteverband bedien moet word. Dit is slegs by hoë uitsondering dat die doop privaat (in ‘n huis) bedien sal word. Want die doop wil juis sê dat die dopeling nou by die kerk van die Here Jesus ingelyf word (punt 4 hierbo). En hierdie gedagte word ten beste uitgedruk by ‘n erediens waar die hele gemeente getuies is van hierdie inlywing. ‘n Verdere samehangende gedagte is dat Woord en sakrament onafskeidelik is. Die sakrament staan nie op sy eie nie, maar is altyd afhanklik van die Woordverkondiging. Daarom glo ons nie dat die bediening van die sakrament op sigself red nie. Redding geskied nie werktuiglik, outomaties nie. In kerklike taal sê ons: die sakrament werk nie ex opere operato (letterlik: “deur die gewerkte werk/daad”) nie, dit wil sê: die daad van die doophandeling bewerk nie vanselfsprekend redding nie; die doop is nie jou kaartjie hemel toe nie, om dit plat uit te druk. Die sakrament van die doop is en bly altyd simbool van die Woord van God wat bevry en red. Om hierdie rede is in die Protestantse tradisie die bediening van die doop altyd gekoppel aan die amp van die bedienaar van die Woord – die dominee, predikant of pastoor. Hierdie koppeling tussen doop en bedienaar van die Woord bevat dus die simboliek dat die persoon wat die doop aan die dopeling bedien, optree (1) namens die gemeente, as amptelike verteenwoordiger van die gemeente, en (2) as simbool van die Woord van God wat die vermoë het om te red.
Wanneer dit alles gesê is, moet dadelik bygevoeg word dat daar in die Nuwe Testament nie duidelike inligting of opdragte is oor wie nou eintlik die doop mag bedien nie. In Matt 28:19 gee Jesus weliswaar aan die elf dissipels die opdrag om die nasies sy dissipels te maak en hulle te doop. Daaruit sou mens kon aflei dat dit slegs amptelike gesagsfigure is wat die doop mag bedien. Maar mens sou Matt 28 ook anders kon interpreteer – dat die opdrag aan die kerk in die geheel gegee is, en dat alle gelowiges dus met gesag beklee word om te doop. En inderdaad kry mens in die Nuwe Testament ‘n baie gevarieerde prentjie van hoe en deur wie die doop bedien is. So lees ons van Stefanus – ‘n “diaken” – wat mense doop (Hand 8:12,38). In Hand 9:10,18 lees ons van Ananias, ‘n “sekere volgeling van Jesus” wat vir Paulus doop. En volgens 1 Kor 1:13-17 het Paulus blykbaar nie veel erg daaraan gehad om mense te doop nie (hy het ander dit laat doen, maar dis nie duidelik wie die “ander” was nie); vir hom was die verkondiging van die evangelie hoofsaak.
Maar uiteraard was dit vroeë dae. Met verloop van tyd, toe die kerk meer geïnstitusionaliseerd geraak het en die doop as ‘n heilige sakrament beskou is, het die doophandeling algaande aan die kerklike ampte gekoppel geraak. En dis nie noodwendig ‘n verkeerde ontwikkeling nie, want as die doop nie op ‘n ordelike manier hanteer word nie, kan dit die deur oopmaak vir dwaling en allerlei wanpraktyke. En omdat dit in die besonder die ouderlinge is aan wie die taak van toesig, onderrig, leiding, bemoediging, vermaning, waak teen dwaalleer, ensovoorts, gegee is (1 Tim 3:1-7; Tit 1:6-9; 1 Pet 5:1-4), maak dit goeie sin dat die bediening van die sakramente in die meeste kerke aan die amp van bedienaar van die Woord gekoppel is (die leraar is ‘n lerende ouderling). Wat die NG Kerk betref word dit spesifiek in die Kerkorde (artikel 49.1) bepaal dat die sakramente deur ‘n predikant bedien moet word. Verder, wanneer bepaal moet word of erkenning verleen mag word aan die doop wat in ‘n ander kerk as die NG Kerk bedien is, bepaal die Reglement vir die Doop (10.1.3) dat dit in orde is mits die doop bedien is deur ” ‘n persoon wat deur die betrokke kerk afgesonder is vir die bediening van die Woord en die sakramente”.
In die lig van hierdie bepalings van die NG Kerk is dit dus ietwat vreemd dat die dominee waarna ons vraagsteller verwys, ‘n gedeelte van die bediening van die sakrament (besprinkeling van water) aan die ouers “afgestaan” het. Dit is ten minste nie tradisie in die NG Kerk om dit so te doen nie. Wat sou die dominee daarmee wou bereik of simboliseer? Dalk groter betrokkenheid van die ouers – dat hulle so op sigbare manier sê dat hulle self verantwoordelikheid aanvaar vir die geestelike begeleiding van hulle kind? ‘n Teenvraag sou wees: Maar doen die ouers dit nie reeds wanneer hulle “ja” antwoord op die doopvrae nie, juis met die gemeente as getuies? Verder sou mens ook kon vra of so ‘n handeling nie die geldigheid van die doop in die gedrang bring nie, juis in die lig van die kerkorde-bepalings van die NG Kerk soos hierbo genoem? Is die kind nou deur ‘n predikant gedoop of nie? Hierop sou mens seker kon antwoord dat die besprinkeling deur die ouers wel onder toesig van die amp plaasgevind het, dat dit in ‘n openbare erediens gebeur het, met water bedien is, en dat die formule “ek doop jou in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees” wel deur die dominee uitgespreek is. ‘n Mens sou dus ‘n saak daarvoor kon uitmaak dat die geldigheid van die kind se doop nie in die gedrang is nie.
Mens moet die optrede van die dominee waarskynlik ook in ‘n breër konteks probeer verstaan, naamlik liturgiese vernuwing. Die kerk is maar altyd aan die besin hoe die liturgie sinvol vernuwe kan word sodat dit die hedendaagse lidmaat aanspreek en meer betrokke maak. So is dit ook reeds amptelik goedgekeur in die NG Kerk dat die ouers die kind aan die dominee kan oorhandig en dat die dominee dan die kind vashou terwyl hy/sy die kind doop. Die simboliek hiervan is dat die inlywing as lidmaat van die kerk so sterker na vore kom (die dominee as amptelike verteenwoordiger van die gemeente). By die tradisionele gebruik waar die ouers die kind vashou word die verbondsgedagte weer sterker gesimboliseer (die verbondsouers wat verantwoordelikheid aanvaar vir die kind se godsdienstige begeleiding).
My beredenering en standpunt bo is dus nie téén vernuwing nie, maar ek sou tog wou sê dat liturgiese vernuwing rondom die doop nie aan die keuse van individuele predikante oorgelaat word nie, maar dat die kerk saam daaroor besluit voor ‘n nuwe doopritueel ingevoer word – of dit werklik in ooreenstemming met die aard en simboliek van die doop en die ordereëlings van ‘n bepaalde kerk geskied. Die doop as seël en teken simboliseer só ‘n diep geestelike waarheid dat mens nie gebruike wil invoer net omdat dit nuut of oulik is voordat daar nie wyd daaroor besin is en amptelike approbasie (goedkeuring) daarvoor verkry is nie.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl