Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:9-11) – Francois Malan

2:9 ‘Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom dié Naam geskenk wat bo elke naam is,’

Hier kom ’n radikale verandering in die loflied waarmee Paulus Jesus se nederigheid besing. Die eerste helfte het Jesus
se selfvernedering beskryf. Die tweede helfte gaan oor God se verhoging van Jesus.

As gevolg van sy volkome gehoorsaamheid aan sy Vader deur Homself te verneder tot die dood aan die kruis, is Hy die
verhoogde Here omdat God Hom verhoog het. Selfvernedering lei tot verhoging. Dit is die reël in die koninkryk van
God (Matt 23:12; 18:4). Jesus se offer aan die kruis is ook sy verhoging. Volgens Johannes 12:32-33 het Jesus van sy
kruisiging gesê: ‘As Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê om aan te dui
watter dood Hy sou sterf (vgl. Joh 3:14-15; Num 29:9). Die kruis het die simbool van die ganse Christendom geword.

‘God het Hom uitermate verhoog’ (huperúpsōsen om aan iemand besondere eer te gee). Sy Naam (ónoma sy reputasie
op grond van sy optrede; hupér wat status bo ander aandui) bo elke naam is aan Hom gegee (charízomai ryklik en met
graagte ‘generously’ gegee).

Volgens vers 11 is die Naam kúrios, Here, die soewereine Heerser oor die hele skepping, vgl. Matteus 28:18 ‘Aan My is
gegee alle mag in die hemel en op die aarde.’ So stel God vir Jesus bekend aan almal en alles in die hemel en op aarde
en kondig Hy Hom aan as die Heerser oor die hele skeppping.

2:10 ‘sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – ’

Om die knie te buig is ’n Semitiese idioom as simbool van toewyding, ‘om te aanbid.’ Dat elke knie voor Here Jesus sal
buig, is ’n vervulling van Jesaja 45:23: ‘voor My sal elke knie buig, in my Naam sal elke tong ’n eed aflê.’

Die Naam word in vers 11 gegee, naamlik kúrios, HERE, wat in die Ou Testament verwys na Jahweh, die ‘Ek is’ van
Eksodus 3:14-15. Die Naam wat God aan die vernederde Jesus gegee het, is Here, die ‘Ek is,’ een met die Vader. Jesus
het volgens Joh 14:11 gesê: ‘Glo My dat Ek in die Vader is en die Vader in My.’ Volgens Johannes het Jesus dikwels
gesê ‘Ek is:’ 6:35: Ek is die brood van die lewe; 8:12: Ek is die opstanding en die lewe; 10:7,9: Ek is die ingang vir die
skape; 10:11: Ek is die goeie herder; 11:25: Ek is die opstanding en die lewe; 14:6: Ek is die weg en die waarheid en die
lewe’ 15:1: Ek is die ware wynstok. Paulus sê: ‘As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat
God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.’

Elke knie in die drie dele van die skepping soos die mense van die ou tyd gedink het, sal voor Hom buig: elke knie ‘in
die hemel, op die aarde, onder die aarde’ – engele in die hemel, mense op die aarde, demone en mense wat dood is
onder die aarde, alle redelike skepsels sal voor Hom in aanbidding kniel of in vrees moet kniel.

Dié wat deur God se genade in Jesus glo, buig gewilliglik, in nederigheid en in liefde voor Hom, om Hom te aanbid en
te dien. Hulle lewe vir en onder Jesus as hulle Here, onder sy wet en volgens sy opdragte (Jes 45:25). Hy wat volmaak
gehoorsaam was, moet nou ten volle gehoorsaam word.

Dié wat nie glo nie, sal ontnugter word dat hulle voor Jesus as die wêrekdregter moet verskyn om sy oordeel oor hulle
ongeloof en lewenswyse te ontvang. Ps 81:16 sê: Hulle wat die HERE haat, sal nog voor Hom kruip; dit is hulle lot vir
altyd. Jesaja 45:24: Almal wat teen die Here te kere gegaan het, sal beskaamd daarvan afkom, wanneer hulle voor Hom
moet verskyn. Jesus se woord in Matteus 25:46: die vervloektes sal weggaan na die ewige straf, maar die regverdiges na
die ewige lewe.

2:11 ‘en elke tong sal bely: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van God die Vader’

Die loflied oor Christus se selfvernedering en sy verhoging deur die Vader bereik hier sy klimaks, met die belydenis van
elke tong dat Jesus Christus die Here is. Dit was die vroegste belydenis van die kerk, Hand 2:36: ‘Laat die hele huis van
Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het’ (vgl. Rom
10:9). ‘Elke tong’ is nie beperk tot gelowiges nie, maar verwys na elke rasionele wese wat ’n intelligente erkenning van
die Heerskap van Jesus Christus sal maak. Ook ongelowiges sal tot hulle ontnugtering moet erken dat Jesus die Here en
wêreldregter oor hulle is.

Die einddoel van Jesus se nederige selfopoffering en sy verhoging is die eer van God die Vader wat dit alles beplan en
gelei het. Jesus het van God uitgegaan, Jesus het Hom gehoorsaam, God het Hom verhoog en God het vir Jesus as die
Here oor die ganse skepping aangestel.

Met die lofsang aan die Here Jesus Christus tot eer van God die Vader, wil Paulus die Filippense leer dat nederige
selfopoffering vir ander, God se doel is met sy skepsels en dat Hy daardeur verheerlik word.




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:5-11) – Francois Malan

Die voorbeeld van Christus se nederigheid (Fil 2:5-11)

Die pragtige loflied oor Christus se selfvernedering en opoffering van Homself en sy verhoging deur God, is die
grondbeginsel van ons geloof. Dit wys duidelik die verkeerde verhoudings onder die Filippense, en hoe onmisbaar
noodsaaklike optrede vir Paulus is, wat in 1:24 en 2:3-4 beskryf word. Die hoogtepunt van die brief is Christus se
dieptepunt van sy lyding. Die gedeelte het baie vertaalprobleme omdat sinne nie alles duidelik uitspel nie.

2:5 ‘Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:’

Die gesindheid van Christus wat in 2:6-8 uitgespel gaan word, staan teenoor die selfsug, ydelheid en eiebelang waarteen
Paulus die gemeente in 2:3-4 waarsku.

Die sin handel oor wat die gesindheid van die gemeentelede onder mekaar moet wees, hoe elkeen in die gemeente se
gesindheid teenoor die ander in die gemeente moet wees.

fronéō bedink, optree, gesindheid, word in Romeine 8:5 van elke gelowige gebruik: ‘Wie volgens hulle sondige aard
leef, bedink (fronéō) immers die dinge van die sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink (fronéō)
die dinge van die Gees. In Filippense, waar dit veral gaan oor die eenheid van die gemeente, gaan dit veral oor die
gesindheid teenoor mekaar in die gemeente.

‘wat daar inderdaad (kaí) in Christus Jesus (was/is).’ 2020 laat kai uit. ‘Inderdaad’ beklemtoon die gesindheid van
Christus Jesus. As ‘was’ by gedink word, verwys dit na wat Jesus met sy menswording moes prysgee. As ‘is’ by gedink
word, beskryf dit Christus Jesus se aard as die nederige God. In Matteus 11:29 sê Jesus: ‘Ek is sagmoedig en nederig
van hart.’

Paulus hou Christus se gesindheid vir die gemeente en gemeentelede voor as voorbeeld en maatstaf vir elke gelowige se
denke, optrede en gesindheid. Die gesindheid wat Paulus in 2:2-3 beklemtoon, word hier verduidelik as die gesindheid
van Christus wat nagevolg moet word. Almal wat in Jesus Christus glo, behoort al meer volgens sy gesindheid te lewe,
om soos Paulus te kan sê ‘vir my om te lewe is Christus’ (1:21).

Hier gaan dit veral oor Christus se nederigheid en selfprysgawe as voorbeeld vir elke gelowige oor hoe hulle in ’n
gemeente nederig saam behoort te lewe. Christus is nie net ’n voorbeeld en die maatstaf nie, maar ook die bewerker van
die gemeentelede se liefde vir mekaar en van hulle eenheid as gemeente of liggaam van Christus in die wêreld.

2:6 ‘Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie.’

Paulus se beskrywing van Christus begin met sy identiese goddelike gestalte (en morfê theou hupárchō – morfê verwys
na die natuur en wese, wat meer as die gestalte behels, wat ons nie kan deurgrond nie; hupárcho beteken reeds om
identies te wees. Sy gestalte wys na die majesteit en heerlikheid van sy goddelike bestaan in die ewigheid saam met die
Vader. Daarin stem Paulus saam met Johannes 1:1 ‘In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die
Woord was God.’ In 1 Kor 8:6 sê Paulus: ‘Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één
Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’ In Johannes 17:5 bid Jesus die aand voor sy kruisiging en
verwys na sy hemelvaart: ‘En nou, Vader, verheerlik My by U, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die
wêreld bestaan het.’

Christus het egter sy gelykheid aan God nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie (ouch harpagmòn iets wat
met geweld behou word of met geweld afgeneem word), maar wat Hy in liefde vir die mensdom prysgegee het.

2:7a ‘maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word,

Hy het Homself prysgegee – dit was nie sy lot of onder dwang nie, maar sy eie keuse en wil. In sy soewereine goddelike
vryheid het Hy sy goddelike gestalte van heerlikheid afgelê (kenóō heeltemal leegmaak), alle aspekte van sy hoë status,
sy voorregte en regte as God.

Uit eie keuse word Hy ’n mens wat die gestalte van ’n slaaf aanneem, sonder enige regte of voorregte. In Romeine 8:3
stel Paulus dit nog skerper: ‘…in die gestalte van ’n sondige mens (sarkos hamartias ’n mens wat deur sonde beheers
word)….’ Johannes 1:14 sê: ‘…die Woord het mens geword (sarks ’n lewende mens, die menslike natuur met die klem
op fisiese aspekte daarvan) en onder ons kom woon…’ Jesus het Hom ten volle met die mensdom kom identifiseer.
Soos ’n slaaf, was Hy die voete van sy dissipels (Joh 13:5). Sy eie getuienis was: ‘Die Seun van die mens het nie gekom
om gedien te word nie, maar om te dien (diakonéō) en sy lewe te gee as losprys vir baie’ (Mark 10:45; Matt 20:28; vgl.
Luk 22:27). Hebreërs 2:17: Omdat Hy oor Abraham se nageslag besorg is, ‘daarom moes Hy in elke opsig gelyk word
aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word om as offer te dien tot versoening van die volk
se sondes.’ Hebreërs 4:15: ‘Want ons het nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een
wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het.’

In Filippense 2:3 het Paulus verwys na kenodoksía, die leë roem/trots of selfsugtige ambisie van gelowiges in Filippi.
Daarteenoor staan Jesus as dié voorbeeld van nederigheid vir sy volgelinge. Hy het Homself leeggemaak (kenóō) van sy
ware goddelike gestalte en ’n mens geword sonder enige roem, ‘in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê omdat daar
nie vir hulle plek in die huis se bokamer was nie’ (Luk 2:7 katalúma bokamer Luk 22:12). Gegesel, met die doringkroon
op sy kop en ’n purperrooi mantel om, het Pilatus hom aan die skare voorgestel met: ‘Kyk daar is die mens!’ (Joh 18:5).
So lyk ons geweldgeteisterde mense met wie Hy Hom kom vereenselwig het.

2:7b ‘En toe Hy in die vorm (schêma) van ’n mens verskyn het (eurískō gevind is, verkry het),
2:8 het Hy Homself verneder deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.’

Toe Hy as mens in die wêreld gekom het, het Hy Homself verneder, nie soos die Filippense wat volgens vers 3 streef na
aansien, eer en hulle regte nie. Sy hele lewe word gekenmerk deur selfoorgawe, selfverloëning, selfopoffering, en
gehoorsaamheid tot die dood – die mens se laaste vyand (1 Kor 15:26). Daarvoor het Hy sy lewe gegee as ’n losprys vir
baie (Mark 10:45); gehoorsaam aan God en God se verlossingsplan vir die mensdom. Deur sy dood dra Hy God se straf
op die mens se ongehoorsaamheid aan God (vgl. Gen 2:16).

In sy staat as mens wat Hy aangeneem het, verneder Hy Homself verder tot die lydensbeker van die dood aan die kruis
(Mark 10:38; 14:36), die wreedste en vernederendste straf om naak aan ’n kruis vasgespyker te word (Mark 15:24; Joh
20:25). Dit is die diepste vernedering van die Skeppergod wat as misdadiger saam met misdadigers gekruisig word en
deur God verlaat word (Mark 15:27,34). In Lukas 22:37 het Jesus verwys na Jesaja 53:12 wat in Hom vervulling moet
vind: dat Hy ‘by oortreders gereken is.’ Hy sterf met die woorde van Ps 22:1 ‘My God, my God, waarom het U My
verlaa?’ Jesus het die lydensbeker van sy dood aanvaar. Markus 14:36 ‘..nie wat Ek wil nie, maar wat U wil’ was die
toppunt van sy gehoorsaamheid aan God om Homself te gee in sy diens van en vir die mensdom.

Hebreërs 5:9-10 beskryf sy sterwe as die volmaaktheid van sy gehoorsaamheid, die volmaakte offer as Hoëpriester, vir
almal wat aan Hom gehoorsaam is, as die bron van ewige verlossing. Romeine 3:25 sê: God het Hom daargestel as ’n
versoeningsoffer in sy bloed wat deur geloof in Hom verkry word. In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die
vergewing van ons oortredings (Ef 1:7).

Jesus se volmaakte oorgawe aan die wil van sy Vader is die voorbeeld van nederigheid wat Paulus aan die Filippense
stel as die voorbeeld vir elke gelowige volgeling van Jesus (Fil 1:5 ‘..dieselfde gesindheid wat in Christus Jesus was’).




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:3-4) – Francois Malan

2:3 ‘deur nie iets uit selfsug of ydelheid (te doen) nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;’

Eenheid in die gemeente is onmoontlik as elkeen net vir homself lewe. Daarom beklemtoon Paulus in verse 3-4 sekere
optredes en houdings wat prysgegee moet word, sowel as dié wat moet voortgaan en ontwikkel in die gemeente. Die
eerste strofe het nie ’n werkwoord nie, en moet bygedink word.

‘selfsug’ (eritheía selfsugtige ambisie, of wedywering soos sommige in Rome, Fil 1:15) Dit is ’n gegriefdheid gebore
uit jaloesie wat wedywer impliseer. Teenoor ’n mede-mens mag ek nie selfsugtig of jaloers wees nie – Galasiërs 6:2 is
dubbelsinnig: ‘dra mekaar se laste’ – nie selfsugtig wees nie. Die woorde kan ook beteken: verdra mekaar se
voortreflikhede, deur nie jaloers op mekaar wees nie.

Ydelheid’ (kenodoksía leë roem/trots of selfsugtige ambisie). Ek moet myself nie goed voordoen terwyl ek dit nie is nie
– in Romeine 3:12 haal Paulus Psalm 14:1-3 en Ps 53:2-4 aan: ‘Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie.’
Ek moenie dink my idee of opinie is altyd reg, terwyl dit moontlik verkeerd of oningelig kan wees nie. Die gelowige
weet hy is deur Jesus geregverdig voor God maar bly sondaar, tegelyk regverdig en sondaar, ‘simul justus et peccator’
soos Martin Luther Romeine 7:21-25 opgesom het.

‘nederigheid’ (tapeinofronsunê nederige houding, sonder arrogansie); ‘ag’ (hêgeomai) beskou, om ’n opinie te hê oor
mekaar; ’hoër’ (huperéchō) beter wees, van oortreffende of besondere waarde; die ander beskou as hoër as ek self.

Die een ding (Fil 1:27) waarop die gemeente moet konsentreer is nederigheid teenoor mekaar omdat hulle uit God se
genade lewe. Dit is waarin die gemeente moet vorder (1:25) en wat dit noodsaaklik maak dat Paulus nog in die lewe
moet bly (1:24). Die nederigheid wat Christus kom toon het, beteken dat jy die ander wat ook uit God se genade lewe,
hoër ag as jouself.

Wanneer jy na jou medemens kyk moet jy aan die een ding dink, aan God se genade waaruit jy en hulle lewe. Dit is God
se genade aan iemand waarvoor ons respek moet hê. Daardie respek vir God se werking in die ander gelowiges, is die
fondament van die gemeente. Paulus plaas my mede-broer en -suster as my meerdere, nie omdat hy of sy beter
kwaliteite het as ek nie, maar omdat God se genade uit hom tot my spreek. God het uit sy genade van my ’n broer of
suster van sy Seun gemaak. Deur die genade van God ontmoet ek Christus in my mede-broer en suster. Omdat Christus
in hulle woon, word ek geroep om hulle hoër te ag as myself en hulle in nederigheid en met vreugde te dien. Omdat
Christus in my woon, weet ek ook van my nietigheid en absolute afhanklikheid van God en sy genade. So kan ek as
afhanklike van God se genade die ander hoër ag as myself omdat ek Christus in hom/haar met dankbaarheid in liefde
dien (vgl. Matt 25:40: ‘Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers of susters van My gedoen het, het julle vir
My gedoen).

2:4 ‘deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.’

By die jaloerse selfsug en die ydelheid om jouself goed voor te doen (2:3) word ’n derde afbreker van gemeenskap in
die gemeente van Filippi genoem wat afgelê moet word: die selfsugtige eiebelang wat die belange van die ander uitsluit;
‘elkeen se eie belange’ letterlik: ‘die dinge van elkeen van julleself;’ ‘omsien’ skopéō, beteken ‘om aan te hou om fyn te
kyk en aandag te gee aan.’…

In Fil 2:21 sê Paulus van die meeste van sy medewerkers: Almal soek net hulle eie belang, nie díé van Jesus Christus
nie. Die belange van die ander is juis die belange van Christus wat ook in die ander woon. Vir die Korinthiërs wat gesê
het ‘alles is geoorloof’ en vleis geëet het wat aan die afgode geoffer is, wat die swakkes in die geloof laat struikel het,
het Paulus ook gesê: ‘Niemand moet sy eie belang soek nie, maar dié van ander’ (1 Kor 10:24). In 1 Kor 13:5 het
Paulus gesê: ‘die liefde jaag nie eiebelang na nie.’ Die najaag van eiebelang staan teenoor die wese van God van wie
hulle sê dat hulle Hom dien – 1 Johannes 4:7-8 sê: Geliefdes laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God en elkeen
wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.

‘maar ook na die belange van elkeen van die ander’ – die Griekse woord kai kan ‘en’ of ‘ook,’ beteken, soos meeste
vertalings, ook die 2020 vertaling, dit beskou. Dit impliseer dat jy ook na jou eie belange fyn moet omsien. Maar die
woord kai kan ook ’n saak beklemtoon, veral as dit ’n onverwagte verrassing aandui – ‘maar inderdaad na die belange
van elkeen van die ander. Die voorbeeld wat Paulus in hierdie paragraaf vir die Filippense voorhou om na te volg, is van
Jesus wat Homself geheel en al prysgegee het ter wille van ons sondaars, sonder om aan Homself te dink (Fil 2:5-8). Dit
moet die ingesteldheid van jou lewe wees teenoor ander mense en veral in die gemeente. Jesus het vir die skare en sy
dissipels gesê: ‘As iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy
lewe wil red , sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My en van die evangelie verloor, sal dit red’ (Mark
8:34-35; Matt 16:24-25; Luk 9:23-24).

Die paragraaf het begin met ’n verwysing na die bemoediging van Christus, die aanmoediging van die liefde, die
gemeenskap deur die Gees, die innige toegeneentheid en barmhartighede as die redes om na die belange van die ander
om te sien, en so die eenheid van die gemeente uit te lewe tot die eer van God ons Vader wat vir ons liefhet.




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:1 – 18) – Francois Malan

Christus se nederigheid as voorbeeld vir die gelowige se nederigheid (Fil 2:1-18)

Oproep tot nederigheid teenoor mekaar (2:1-4), Christus se nederigheid en verhoging (2:5-11), oproep om Paulus te gehoorsaam (2:12-18).

Oproep tot nederigheid teenoor mekaar (Fil 2:1-4)

2:1 Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde, as daar enige gemeenskap
van die Gees, as daar enige meelewing en ontferming…’

Die teks het vier sinsnedes sonder enige werkwoord (‘is’ word veronderstel). Elkeen begin met ei tis: dit is merkers
wat iets aandui of enige onseker omstandigheid soos in die 2020-vertaling ‘…as daar enige troos is….’

ei tis kan ook ’n rede aandui op grond van ’n werklike situasie van iets belangriks:
‘Omdat bemoediging in Christus dan belangrik is, omdat aanmoediging uit die liefde belangrik is,
omdat gemeenskap deur die Gees belangrik is, omdat innige toegeneentheid en barmhartighede belangrik is…’

Dit is ook onduidelik wie, wat, aan wie, doen. Waarskynlik gaan dit oor die belangrikheid van wat Christus in die
gemeente in Filippi gedoen het, onder andere deur Paulus.

‘bemoediging in Christus’ – paráklêsis kan ‘troos’ beteken, maar Paulus gebruik die woord as ‘bemoediging’ 19 maal in
sy ander briewe volgens 2020, en nêrens anders as ‘troos’ nie. Daarom lyk dit of Paulus met die kompakte sinsnede hier
sê: omdat Christus my woorde van bemoediging in die verlede gebruik het om julle te help om getrou te bly aan die
geloof in Christus, laat dit julle ook nou bemoedig.

‘aanmoediging in die liefde’ – paramúthion die basis van vertroosting of aanmoediging. Omdat Paulus met Christus se
innige liefde vir hulle (vgl. Fil 1:8), hulle aangemoedig het om te midde van hulle lyding te volhard om in Christus te
bly glo, laat hulle dan sy aanmoediging in 2:3-5 ook aanvaar en daarvolgens lewe.

‘gemeenskap deur die Gees’ – Paulus pleit hier: omdat julle behoort aan die gemeenskap wat deur die Heilige Gees tot
stand gebring is, en julle as gevolg van sy werking die onderlinge gemeenskap van gelowiges begin beleef, lewe voluit
daarvolgens!

‘innige toegeneentheid en barmhartighede -’ splánchna kaì oiktírmoi. Die eerste woord het reeds in 1:8 voorgekom met
verwysing van Christus se innerlike toegeneentheid wat ook in Paulus is teenoor die Filippense. Die tweede woord
verwys na genadige ontferming met sensitiewe meegevoel. In Romeine 12:1 en 2 Kor 1:3 vertaal 2020 dit as die
barmhartigheid van God. Daarom verwys die twee woorde waarskynlik na God en Christus se innige toegeneentheid en
tere barmhartigheid teenoor die Filippense.

Die vier sinsnedes verdeel in 2 groepe: die eerste twee verwys na Christus se bemoediging en liefde wat Hy deur Paulus
aan die gemeente bewys het; die laaste twee na die Vader en Christus wat die Filippense omring met hulle innige
toegeneentheid en barmhartighede. Die Heilige Gees is besig om dié soort innige gemeenskap onder die gemeentelede
te bewerk.

Paulus bevestig hiermee Jesus se woord in Johannes 14:23: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en
my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.’ Joh 14:17 sê ook ‘die Heilige Gees sal
by julle bly en sal in julle wees.’ Die Vader, Seun en Heilige Gees is liefdevol besig om die gemeente te verander om in
nederigheid mekaar lief te hê en te dien (Fil 1:6).

2:2 ‘maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke;’

‘Maak dan my blydskap volkome’ – die enigste hoofwerkwoord in die lang sin wat strek van 2:1-4, is ‘maak volkome.’
Maar dit is eintlik slegs die inleiding tot die hoofidee wat deur verskeie moeilik-verklaarbare bysinne uitgedruk word.
Paulus se gevoelens, sy vreugde, is slegs ’n bysaak. Die hoofsaak is sy ernstige versoek aan die gemeente om te strewe
na eenheid wat deur nederigheid bereik kan word.

‘deur dieselfde gesindheid te hê,’ tò autò fronête; dit beteken om saam op ’n spesifieke manier te dink, maar dit
sluit ook jou emosies, houdings en wil in. (2020: deur eensgesind te wees). Die uitdrukking gebruik hy ook in Fil 4:2
(en in Rom 12:16; 15:5). Dit dui die gemeenskaplike doel van die gemeentelede aan, naamlik die uitlewing,
verkondiging en verdediging van die evangelie, die goeie boodskap oor Christus.

‘deur dieselfde liefde te hê’ (2020: ‘een in liefde’) – liefde van Christus wat deurwerk na mekaar toe. Dit gaan
om die selfopofferende liefde van Christus wat die vrug is van die werking van die Heilige Gees in die harte van die
gelowiges (Gal 5:22).

‘mense wat in siel saam is’ súmpsuchoi – om verenig in een gees te wees, harmonieus saam te lewe (2020: een
van gees’). Dit is die enigste keer dat die woord súmpsuchoi in die Bybel en klassieke Griekse werke gebruik word;
blykbaar Paulus se skepping om die erns van die saak van alle kante te beklemtoon: denke, gesindheid, liefde, gees.

‘terwyl julle die een ding bedink – tò hèn fronountes om een mening of opinie oor iets te hê. Die werkwoord
van die eerste van die vier uitdrukkings word weer in die vierde in die teenwoordige tyd gebruik en dui aan dat hulle
moet voortgaan om dieselfde gesindheid teenoor mekaar te hê wat in Christus Jesus was (2:5) – die één ding waarvoor
almal moet strewe (2020: een in strewe), naamlik om in nederigheid teenoor mekaar die eenheid van die gemeente uit te
lewe.

Op vier verskillende maniere herhaal Paulus dieselfde idee en hy hoop die Filippense neem die saak ernstig op. Die
onderlinge liefdeseenheid van die gemeente in hulle denke en strewe oor Christus en sy nederige diens is belangrik vir
die geestelike ontwikkeling van sy kerk, vir die voortgang van die evangelie, en die getuienis van die gelowiges in die
wêreld.

Paulus se vreugde oor alles wat die Here reeds in die gemeente van Filippi gedoen het, kort nog een belangrike ding, die
hartlike eenheid tussen die gemeentelede, soos hy reeds in 1:27 geskryf het. Daarom skryf hy hierdie brief aan hulle en
hoop hy om hulle te besoek wanneer hy vrygelaat word. As die Here die onderlinge eenheid in die gemeente sou bewerk
sal Paulus se blydskap volkome wees.

Hoe dié soort eenheid moontlik is, word in die volgende verse uitgespel.