9 April: Neem risikos vir die Here. – Jan van der Watt

Luk 19:1-27 (fokus 19:11-27)

Min van ons gee onsself die kans om die lesse van die lewe behoorlik te leer, want ons is te bang vir risiko’s en teleurstelling. Daarom sê ons so gou ons kan nie.

In die gelykenis van die man wat sy geld vir sy werkers gelos het om te bestuur terwyl hy weg was, lees ons van een bang een, die een wat die “veilige pad” sonder risiko gekies het (19:20-21). Sy leuse was: speel veilig en doen net wat verwag word; niks meer en niks minder nie. Hoe teleurgesteld was sy baas net nie daaroor nie (19:22-24).

Die Here se pad vir sy kinders is so anders – dit is ʼn pad van avontuur en risiko’s. Dis ʼn pad waarop ons soms beledig gaan word omdat ons dit wat die Here vir ons gegee het, nie wegsteek nie.

Hoe lyk die pad? Dit is die pad waarop ons die gawes van die Here moet vermeerder. Ons moet mense meer van Hom laat sien, ja, tussen ander mense, ook mense wat die Here nie ken nie, moet ons met sy teenwoordigheid ‘woeker’. Dáár moet ons die risiko’s loop en die avonture aanpak, al groei belediging, ongewildheid of teleurstelling ook welig op die pad. Juis daar moet ons niks wegsteek nie; ons moet nie in die “veilige nie-risiko-vat-modus” gaan nie.

Neem risiko’s vir die Here. Moet net nie sê jy kan nie!




8 April: Kies geestelike skoene met die regte sole. – Jan van der Watt

Luk 18:18-43 (fokus 18:18-30)

Die lewe is soos skoene – dit is nie so belangrik wat bo is nie, maar wat onder is. Jou skoene kan die mooiste en blinkste bo-op wees, maar sonder ʼn sool onder help dit nie veel nie. Daarom is plakkies met net ʼn riempie bo-op so gewild. Dit is die sool waarop jy staan wat die verskil maak.

So is die lewe ook – wat belangrik is, is dit waarop jy staan – jou sool en nie noodwendig hoe blink jy bo-op lyk nie. Die ryk jong man het ʼn klomp vertoon “bo-op” gehad: geld met al die status wat dit destyds vir hom gegee het. Maar toe die Here vir hom vra waarop sy lewe staan, het hy stil-stil verdwyn.

Dit is die opregte liefde vir die Here wat keer dat die dorings van die lewe jou voete stukkend steek sodat jy nie verder kan loop nie. Dit is daardie toewyding aan Hom wat maak dat jy oor die klipperige pad van teleurstellings en terugslae kan stap.

Sorg dat jy die regte skoene aan het. Moenie so baie bekommer oor wat “bo-op” is nie, maar maak seker van dit wat “onder” is – dit waarop jou lewe staan. Liefde en toewyding aan die Here bly maar van die beste sole vir ‘n mens se lewe.




7 April: God luister… die eerste keer. – Jan van der Watt

Luk 18:1-17 (fokus 18:9-14)

Die Here is nie doof nie – Hy kan goed hoor.

In hoofstuk 18 vertel Jesus die storie van ʼn vrou wat aanhou neul het tot die landdros dit nie meer kon hou nie. Hy het uiteindelik gedoen wat sy gevra het, net om van haar ontslae te raak. Baie mense lei uit hierdie storie af dat ons God se arm moet bly draai tot Hy ingee. Dit is egter nie wat Jesus hier sê of bedoel nie. Kyk mooi, die punt van die gelykenis is dat God juis nie soos daai landdros is nie. Hy is anders. Jy hoef Hom nie te smeek of te soebat om na jou te luister nie. Nog minder hoef jy Hom te probeer manipuleer of te forseer. Hy hoor jou die eerste keer.

Luister maar na die tollenaar in 18:13. Toe Hy opreg in ʼn smeekgebed sy hand na die Here toe uitsteek, het die Here dit gevat en sy lewe nuut gemaak. Die Fariseër, aan die ander kant, se gebed is ook gehoor, maar nie verhoor nie – hy wou God manipuleer, asof God hom iets sou skuld. Daarom druk hy lyste vol van sy eie prestasies in God se hand met die hoop dat dit God sou beïndruk. Maar so werk gebed nie.

Jy hoef God nie te probeer beïndruk of te probeer manipuleer in gebed nie. Kom soos jy is en sê opreg wat jy wil sê. Hy luister.




6 April: Jy sal niks vir die Here kan wegsteek nie. – Jan van der Watt

Luk 17:20-37 (fokus 17:20-37)

ʼn Verkoopsman klop eendag aan ʼn huis en ʼn tiener maak oop – die musiek weergalm, oral staan vuil borde en ʼn sigaret hang uit sy mond. “Is jou ma by die huis?” vra hy. “Wat dink jy?” vra die tiener.

Ons maak ook baie so – as ons dink niemand sal weet of ons herken nie, laat ons ons maskers val. Dit is asof ‘n mens vergeet wat eintlik van hom verwag word en dan doen hy dinge wat eintlik nie regtig “hy” is nie. Die versoeking is veral groot op plekke waar ons dink mense ken ons nie – as ons op reis is, of anoniem in ʼn groot winkelsentrum stap of agter die stuurwiel van ons kar ons humeur verloor.

Soos daai verkoopsman sal die Here ook onverwags aan ons deure kom klop. Dan sal ons niks kan wegsteek nie. Daarom moedig die Here sy mense aan om hulle lewenshuise reg te hou. As gelowige moet jy nie skaam wees as die Here skielik kom aanklop nie, of jy nou in ‘n kar sit of in ‘n winkelsentrum stap.