5 April: Verkeerde verwagtings versuur jou lewe. – Jan van der Watt

Luk 16:19-17:19 (fokus 17:7-10)

Ons verwagtings is die inkleurkryt van ons lewens. Jou lewe gaan altyd ingekleur word deur wat jy van die lewe, mense, of God verwag.

Kyk maar na Luk 17:7-10. ʼn Werker swoeg die hele dag lank en word dan aan die einde van die dag boonop nog kombuis toe gestuur om kos ook te gaan maak. As die werker verwag het dat sy baas eers vir hom ʼn koppie koffie en leunstoel moes aandra, sou hy baie ongelukkig gevoel het. Tog het hy nie gekla nie – as die “werker” het hy geweet hy moes die kos ook maak. Dis sy werk. Daarom is dit nie vir hom ‘n verrassing nie. Omdat hy die regte verwagtings gehad het, was hy tevrede.

Net so is dit met jou lewe. Wat jy van die lewe verwag, bepaal jou houding teenoor die lewe. As jy dink die lewe skuld jou iets, gaan jy altyd ongeduldig en selfs ongelukkig voel. Dieselfde geld vir jou godsdiens. God is wel goed vir jou, maar jy moenie jou lewe inkleur met die verwagting dat Hy jou die hele tyd moet bedien of jou iets skuld nie. Dan gaan jy gedurig ongelukkig wees omdat God nie doen wat jy wil nie. So sal jy God die “slaaf van jou verwagtings” maak en dit mag nooit gebeur nie. Teleurstelling is dan jou voorland.

Verkeerde verwagtings van God sorg vir ʼn verkeerde houding teenoor die lewe – jy moet liewer jou lewe inkleur met wat God van jou verwag: om Hom voluit te dien.




Geestelike Oorlogvoering – Francois Malan

 

‘n Leser vra

Ek is op soek na ‘n dominees wat bose geeste kan uitdryf. Dringend.

Antwoord vanaf Prof Francois

Ek glo dat geen dominee bose geeste kan uitdryf nie, en dat slegs die Here Jesus Christus dit kan doen waar en wanneer en deur wie Hy wil. So het Hy ’n paar keer tydens sy aardse bediening bose geeste uitgedryf (vgl. Luk. 7:21; 8:2). Toe Hy sy twaalf dissipels uitgestuur het, het Hy aan hulle die gesag oor onrein geeste gee (Mark. 6:7; Mat. 10:8). Hy het ons ook geleer om daagliks te bid: verlos ons van die Bose (Mat. 6:13; Luk. 11:4).

Daarby is dit ’n gevaarlike spel. In Matteus 12:43-45 (Luk.11:24-26) waarsku Jesus dat wanneer ’n onrein gees ’n mens verlaat swerf hy op soek na rus sonder om dit te vind, keer terug na die huis wat skoongemaak is en neem sewe ander geeste, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin.

Markus 9:14-29 vertel van Jesus se genesing van ’n seun wat baie keer deur ’n onreine gees verniel is. Jesus het gesê: Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo (9:23) – dit beteken om op Jesus te vertrou. Hy het ook gesê ‘hierdie soort (die onrein geeste) kan met niks anders as met gebed uitgedryf word nie (9:29). Gebed beteken dat ons die Here sal vra dat Hy  die onrein gees uitdryf.

Skrywer: Prof Francois Malan




4 April: Moenie te veel na geld ruik nie. – Jan van der Watt

Luk 16:1-18 (fokus 16:1-18)

Elke munt het twee sye, sê die spreekwoord.

Sonder geld is ons verlore; vra maar vir iemand wat nie geld het nie. Ons almal het al agtergekom hoe belangrik 50c is as ons dit nie het nie. Geld het ʼn baie positiewe sy.

Maar geld kan ons lewens ook bevoeter, veral as dit ons baas raak. As geld ons baas op ons lewenspad word, beheers dit sommer ook al ons ander verhoudings. By die werk gaan dit net oor geld, by my vriende gesels ons daaroor… oral is dit net geld. Miskien ly ons familie die meeste, want hulle moet die hele tyd hoor hoe duur goed is, hoe hard jy moet werk en dat geld nie aan bome groei nie. Soos as ons te veel knoffel geëet het, is die gevaar dat ons nie agterkom dat ons so na geld “ruik” nie. Ander ruik dit eerste, omdat hulle eerste agterkom hoe my verhoudings met hulle in die mag van geld vasdraai.

Iets waaraan die Bybel ʼn mens altyd herinner is dat jy die een is wat die keuses maak, ook as dit by geld kom. Of jy geld gaan gebruik en of geld jou gaan gebruik, hang van jou af. Kies reg.




3 April: God nooi jou uit. – Jan van der Watt

Luk 15:1-32 (fokus 15:11-32)

Ons hou van die storie van die verlore seun, want ons kan so lekker daarmee assosieer: jy dwaal af, maar kan telkens weer in die oop arms van God instap. Dit herinner ons aan sy liefde en genade wat ons so nodig het. Dit laat ons die hart van God se liefde hier naby, nee, eintlik hier teenaan ons voel. En dit is reg so, want die verhaal gaan eintlik oor God.

Dit gaan oor God wat jou met liefde uitnooi en met ope arms op jou wag. Sy huis staan vir jou oop en die vetgemaakte kalf lê gereed. Maar dan moet ons Hom nie laat wag nie. Ons moet opstaan en gaan.

Die verhaal gaan ook oor ʼn Vader wat soek. Toe die oudste seun nie wou kom nie, het sy pa hom gaan soek. So kom soek God ons ook as ons in selfgeregtigheid of selfbelang vasval. Let mooi op – Hy kom soek ons; Hy kom dwing ons nie. Dit hang van die oudste seun af of hy saam met die Vader die huis wil ingaan en of hy buite wil bly.

God werk nie met elkeen van ons op dieselfde manier nie. Party nooi Hy uit en wag – ander gaan soek Hy. Maar die punt is, Hy is dáár vir elkeen. Sy huis staan vir elkeen oop. Maar dis jý wat moet binnestap