Is ‘n wit leuen verkeerd? – Francois Malan

Willem vra:

Dit gaan hier oor Joh 7:8-10

Ons weet Om te lieg is verkeerd God kan nie lieg nie – Num 23:19; Tit 1:2 Dit wat nie in die lig is nie is in die duisternis ens.. Maar wat antwoord ons ander Bybelstudente op die vraag – Help asb

– Jesus se tyd was nog nie daar nie, maar het hy dan ‘n wit leuen vertel?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Joh 7:5 sê Jesus vir sy broers wat Hom aanpor om na Judea te gaan om tydens die Loofhuttefees in Jerusalem Homself in die openbaar aan die wêreld bekend te stel: ‘My tyd (kairos – oomblik in die tyd vir ’n bepaalde gebeurtenis, bestemde tyd) is nog nie hier nie.’ Die Vader bepaal Jesus se tyd vir optrede (vgl. 5:19 ‘die Seun kan niks uit sy eie doen nie;’ 5:30: ‘Uit Myself kan Ek niks doen nie….Ek doen die wil van Hom wat My gestuur het.’  Hy word ook nie deur mense rondgestuur nie, allermins om vir Homself roem onder die mense te soek, soos die duiwel hom volgens Mat 4:5-7 en Luk 4:9-12 versoek het om Homself bekend te stel deur van die tempelspits af te spring en deur die engele gedra te word (die Johannesevangelie het nie die versoekings in die woestyn nie, maar hier tree sy broers as die werktuie van die duiwel op om Hom te versoek om Homself te verheerlik. Daarom sê Johannes dat sy broers nie in Hom geglo het nie, en dat die wêreld hulle nie kan haat nie, 7:5,7).

In 7:8 herhaal Hy dat sy tyd nog nie vervul is nie (soos ’n sandlopertjie wat tyd meet, vol loop; vgl. 2:4; 8:20). In 7:10  sê Johannes: ‘Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het Hy toe ook opgegaan – nie openlik nie, maar in die geheim’ – juis anders as wat sy broers wou hê (7:4: ‘want niemand doen iets in die geheim én wil dan tog in die openbaar bekend wees nie.’ Sy broers het sy nederigheid nie verstaan nie. Dit is so anders as wat die wêreld soek. Jesus wil juis nie aandag op Homself trek met sy aankoms by die fees nie. Op die bestemde tyd, toe die fees al halfpad verby was het Hy na die tempelterrein opgegaan om onderrig te gee (7:14). In 7:17,18 gee Hy die rede vir sy optrede. Hy soek nie sy eie eer nie, maar van die Een wat Hom gestuur het. En dan op die laaste dag van die fees, wanneer water uit die Siloambad oor die altaar gegooi word, nooi Hy die skare uit om by Hom lewende water te kry, wat verwys na die Heilige Gees wat dié wat in Jesus glo sou otvang (7:37-39).

Nee Hy het nie ’n witleuen vertel nie, maar gewag op die aanwysings van sy Vader.

Skrywer:  Prof Francois Malan




29 Maart: Kies vir vrede, met God . – Jan van der Watt

Luk 12:35-58 (fokus 12:49-53)

Ons ken Jesus as die liefdevolle Een. Die Een wat kindertjies na Hom toe laat kom; wat arm weduwees uit hulle nood help; wat siekes gesond maak.

Tog dra Jesus nie net altyd die sagte, vriendelike glimlag nie. Hy soek beslis nie ten alle koste vrede net om te kan sê daar’s vrede nie. Hy wil ons nie maar soos babas aan die slaap sus al woed daar ‘n storm nie (12:51-52). Jesus maak ons wakker uit ons slaap en waarsku ons dat daar ook oomblikke van onvrede en selfs woeste onrus oor ons pad gaan kom. Dit is die oomblikke wanneer ons voor keuses te staan gaan kom: keuses vir of teen Hom… en dit gaan waarskynlik onrus in ons verhoudings bring

Glo my, keuses vir Jesus het kompetisie. Dikwels is die druk van ons vriende of selfs familie so groot dat ek maar saamstap, hoewel ek weet dat dit nie die pad is wat Jesus sou kies nie. Dit bring nie vrede by Jesus nie, dis verseker. Maar doen ek dit nie, is my vriende ontevrede. Dikwels stoei ek met my eie belange wat nou nie presies Jesus se belange is nie. Iewers gaan daar onvrede wees, maak nie saak wat ek kies nie.

Dit is nie so maklik om Christen te wees nie, maar jy weet darem wat van jou verwag word. Jy moet ten alle koste vrede te handhaaf – vrede met God. Daarvoor moet jy elke keer kies. Dit kan onvrede by jou vriende of by die werk bring, maar die vrede wat jy dan by Jesus het, moet jou sterk maak om daardie onvrede te kan vat.

Kies reg, kies Jesus… en die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal joune wees.




28 Maart: Los daai slegte troetelgewoontetjies. – Jan van der Watt

Luk 12:13-34 (fokus 12:22-34)

 

Wat is jy bereid om te doen om te kry wat jy wil hê? Of miskien nog ‘n belangriker vraag: wat is jy bereid om op te gee om te kry wat jy wil hê? Om iets te doen is gewoonlik ‘n uitdaging. Om iets op te gee, is moeiliker, want dit vra opoffering. En die oomblik wat jy moet begin opoffer, begin jy dink en weeg… wat is die belangrikste?

‘n Mens raak so maklik gewoond aan sekere maniere van dinge doen dat jy later nie eers meer daaroor dink nie. Jy doen dit sommer. Jy kom in daai gewoonte en dit kan ‘n goeie of slegte gewoonte wees. Om slegte gewoontes wat jy aangeleer het te verander vat nogal inspanning en selfdissipline. Jy  moet ‘n bietjie werk daaraan.

Om te keer dat jy nie te veel verkeerde gewoontes aanleer nie, moet jy jouself dus gedurig toets. Waarom doen ek iets? Wat wil ek daarmee bereik? Wat is my gesindheid? Bevorder dit my verhouding met die Here en met die mense rondom my? En as ek agterkom my antwoorde wys ek is op die verkeerde pad, moet ek vinnig omspring. Hoe vroeër ek dit doen, hoe makliker is dit. As jy betyds omspring sal dit jou ook help om ‘n lewensstyl aan te leer wat jou “minder in die versoeking sal lei”.

Christenskap gaan oor prioriteite (12:34). Prioriteite gaan oor dinge wat vir jou belangrik is en wat jy die graagste wil doen. Daarom moet jy bereid wees om jouself gedurig te “toets” en daai troetelgewoontetjies op te gee wat jou verhouding met die Here beduiwel. As jou verhouding met die Here vir jou n prioritiet is, sal jy dit doen.




Raak my nie aan nie – Francois Malan

Jan vra:

Onderwerp: Joh 20: 17: Raak My nie aan nie.

By Jesus se verskyning aan Maria na Sy opstanding het Hy vir Maria gesê: Raak my nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na My broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na My Vader en my God en julle God.

Johan 20: 19: En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week het Jesus aan hulle verskyn en Sy wonde vir hulle gewys.

Vraag: Kan mens die afleiding maak dat Jesus gedurende hierdie tussepose dit wil sê vroeg oggend tot die aand ‘n hemelvaart onderneem het om Hom aan die Vader te gaan vertoon anders hoekom die besondere woorde aan Maria?

 

Antwoord

Prof francois Malan antwoord:

Die Griekse woord háptomai word gebruik vir ‘aanraak’ en vir ‘vashou.’ Hier pas ‘moenie my vashou nie’ beter by wat volg: ‘want Ek het nog nie na my Vader opgevaar nie. Sy moet Hom nie vir haarself hou nie (die Griekse opdrag hapto is in die refleksie vorm wat wil sê ‘moenie my vashou vir jouself nie,’ soos sy in Joh 20:15 gesê het dat sy sy lyk sal wegneem as sy sy liggaam gekry het. In plaas daarvan dat sy Jesus vir haarself wil vashou moet sy die goeie boodskap van sy opstanding aan sy broers die dissipels gaan oordra dat Hy in Galilea aan hulle sal verskyn. So moet haar liefde vir Hom uitgedra word aan ander.

Matteus 28:1,9 se weergawe is effe anders. Matteus praat van twee vroue, Maria Magdalena en die ander Maria wat sy voete gegryp het (kratéo vashou, in die aoristus-verlede tyd wat verwys na ’n moment in die verlede) en Hom aanbid het. Met die aanbidding van Jesus erken hulle die afstand tussen hulle as mense en sy godheid. Die erkenning bring mee dat hulle Hom nie vir hulleself wil vashou nie, maar dat hulle deur Hom vasgehou wil word.

Jesus nooi egter vir Tomas om Hom aan te raak. By Maria bestaan die gevaar dat sy Jesus vasklou in die beperktheid van haar liefde; by Tomas die gevaar dat hy Jesus sal los as hy nie die merke van die spykers in Jesus se hande sien en sy vinger in die spykermerke kan steek en sy hand in sy sy kan steek nie (Joh 20:25). Die uitleër Smelik vergelyk Maria se persoonlikheid met ’n klimop wat aan ’n paal of boom vasklou om te groei, en Tomas met ’n doringrige dissel wat steek as jy aan hom vat. Maar Tomas raak toe nie aan Jesus nie. Toe hy egter Jesus self sien en die spykermerke aan sy hande sien, erken hy Jesus as sy Here en sy God.

Die mens se kontak met die opgestane Jesus is in geloof wat die Heilige Gees in ons werk om te glo wat die woord van God oor Jesus getuig. Daarom sê Jesus vir Tomas moenie langer ongelowig wes nie, maar gelowig.

Jesus het nie tussen die twee optredes opgevaar en weer teruggekom nie. Hy het vir Maria gesê: Maar gaan na my broers en sê vir hulle ‘Ek vaar op (die teenwoordige tyd van die Griekse werkwoord anabaino druk ’n voortgaande handeling uit: Ek is aan die opvaar) na my Vader en julle Vader, en na my God en julle God.’ Dat Jesus in die proses was om op te vaar na sy Vader, is om sy werk te gaan voltooi. Volgens Joh 12:32-33 het Jesus gesê: As Ek van die aarde verhoog word, sal Ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf.’ Sy verhoging tot die regterhand van sy Vader begin reeds met sy verhoging aan die kruis om die grootste liefdesdaad van God te volbring deur die sonde van die ganse wêreld op Hom te neem. En die verhoging loop deur sy opstanding tot sy hemelvaart. So is Hy besig om op te vaar.

Die doel van sy opvaring deur sy verhoging aan die kruis, sy opstanding uit die dood, en sy bekendmaking van sy opstanding aan sy dissipels voor sy hemelvaart deur sy verskynings aan hulle, is volgens Joh 14:2 om vir ons plek te gaan berei in die huis van sy Vader. Sy opvaring geskied deur sy kruisdood vir ons sonde en opstanding dat ons uit die bande van sonde verlos kan word, en deel kan kry aan die ewige lewe by God wat reeds by ons bly as ons Hom liefhet. In Joh 14:23 sê Hy: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ In sy groot neerbuigende liefde woon die Vader en Jesus nou reeds by ons om ons gereed te maak om vir ewig by Hom te woon. Deur die werking van die Heilige Gees in sy kinders  (Joh 14:15-17) moet sy liefde ook in ons wees en teenoor ander uitgeleef word. Deur sy liefde deur ons te laat vloei na ander mense, selfs na ons vyande toe (Mat 5:43-48), word ons voorberei om in die Vaderhuis te bly. So berei Jesus tans vir ons plek in die Vaderhuis.

Skrywer:  Prof Francois Malan