Luk 9:18-43 (fokus 9:23-27)
Dele in die Bybel soos 9:23-25 laat ons dink dat ons met ‘n twee-kleur-bril na die lewe moet kyk: die een kleur is ons dinge (dit is nou ons “aardse” bedrywighede soos ons ontspanning, werk, familie, ens.) en die ander kleur is die Here se dinge (dit is nou die “heilige” dinge soos bid, sendingwerk doen, kerk toe gaan, Bybel lees). Die bril laat my dan gedurig voel dat as ek met die “aardse dinge” besig is, ek die Here en sy “heilige dinge” in die steek laat. En die gevolg: ‘n kroniese skuldige gewete. Ek kan nie die hele tyd in die kerk sit en met die “Here se dinge” besig wees nie en as ek met die “aardse dinge” besig is, pla dit my dat ek nie genoeg vir die Here doen nie.
Dit is ‘n fout om so te dink. Wat ons in ons alleddaagse lewe doen en wat die Here gelukkig maak, staan nie noodwendig teenoor mekaar nie. Die Here wil net so graag as jy hê dit by die werk of in jou huwelik goed moet gaan. En Hy sit nie in die kerk of langs jou bed waar jy gewoonlik stiltetyd hou vir jou en wag nie. Nee, Hy is in jou huwelik en by die werk by jou. Daar wil Hy ook hê moet jy Hom dien. So oorvleuel sy wêreld en jou wêreld.
Ons moet besef, die Here het net soveel belang by wat sy kinders doen as hulleself. Hy wil graag hê dat ons lekker ontspan, gelukkig en suksesvol is by die werk, dat dit met ons gesinne goed gaan. As ek dus keuses vir hierdie dinge maak, is die Here ook bly daaroor. Ek kies nie teen Hom nie.
Waaroor 9:23-25 eintlik praat, is as ons keuses begin maak wat die Here nie saam met ons kan maak nie; as ons alleen in plekke begin ingaan omdat die Here nie saam wil kom nie, of dinge doen wat die Here nie van hou nie. Dis dan dat ons weer mooi sal moet dink oor wat ons moet kies…