20 Maart: Moenie jou lewe ‘n “ek wou” lewe maak nie. – Jan van der Watt

Luk 8:49-9:17 (fokus 9:7-9)

 

Ons moet nie wag dat dinge met ons gebeur nie; ons moet dit laat gebeur. As jy op jou stoel sit en sê: “Niks gebeur met my nie”, is dit juis omdat jy op die stoel vasgeplak sit en nie is waar jy dinge kan laat gebeur nie. In ‘n groot mate is ons self verantwoordelik vir wat met ons gebeur. Jy kry wat jy verdien.

Die grote Herodus wou ook vir Jesus sien (9:9), maar het nie. Hy wou nie werk maak daarvan nie… en toe gebeur niks. En wat is die storie van sy lewe? “Ek wou Jesus sien, maar ek het nie”! Die “wou” het hom net mooi niks gehelp nie.

Die Here het vir ons die lewe gegee om te geniet. En hy het ook vir ons arms en bene en ‘n verstand gegee om dit mee te geniet. As jy dit nie gebruik nie, sal die goue geleenthede ook by jou verbygaan. Dan sal die storie van jou lewe ook ‘n “ek wou”-storie word.

Maak gebruik jou geleenthede; jaag jou drome na, al misluk dit – oppad sou jy in alle geval baie meer ontdek as wanneer jy net op jou stoel sou bly sit het. Moenie bang wees om regtig voluit te lewe nie, want dit is die een ding wat die Here net vir jou gegee het om iets mee te doen – jou lewe. Moenie dat dit ongemerk by jou verbygaan nie.

Staan op en laat dinge gebeur: verander jou “wou” in “het”. Jy verdien dit.




19 Maart: Varke?. – Jan van der Watt

Luk 8:22-48 (fokus 8:26-39 )

 

Vir ons as gelowiges klink dit amper onmoontlik dat mense Jesus kan wegjaag. Tog, in 8:34-37 doen mense dit, nogal nadat Jesus daar tussen hulle ‘n groot wonder laat gebeur het. Hoekom doen hulle dit?

Die antwoord kan ‘n mens byna nie glo nie – hulle was kwaad omdat hulle ‘n paar varke verloor het, ongeag wat hulle gewen het. Ja, dit was óf die varke óf Jesus. En hulle kies die varke!?

Ons moenie te vinnig ons kop skud nie. Hulle het gedink hulle maak die regte besluit omdat hulle hulle blindgestaar het teen die varke. Die oë van hulle hart was toe, maar die oë van hulle beursies en besittings was wawyd oop. Toe hulle die keuse moes maak was die varke al wat hulle raakgesien het en oor bekommerd was.

So moet ek en jy ook elke dag keuses maak. Soms gebeur dit dat ons tussen Jesus en iets anders moet kies. Partymaal kies ons nes daai klomp mense met die varke – ons kan so bekommerd wees oor ons eie beursies, gewildheid of aspirasies dat ons Jesus “wegjaag”.

As ons verkeerde prioriteite in ons lewens begin kry kan ons soms belaglike dinge doen… kan ons ter wille van ‘n paar varke Jesus misloop.




18 Maart: Jy kan nie vir die Here wegkruip nie. – Jan van der Watt

Luk 8:9-21 (fokus 8:16-18)

‘n Dominee loop eendag ‘n man raak wat in ‘n donker hoekie wegkruip terwyl hy te veel drank drink. “Broer, die Here sien jou ook hier raak, al probeer jy wegkruip”, sê die dominee. “Ja, dominee, maar Hy skinder nie so baie nie. Dis nie vir Hom wat ek hier wegkruip nie”, kom die antwoord.

Daar is geweldig baie waarheid in die storie. Ons kan nie vir die Here wegkruip nie. Hy weet waar ons is en wat ons doen. Sy lig skyn in die verste en donkerste plekke van ons hart (8:17). Dan “skinder” Hy ook nie… sy teenwoordigheid by ons is opreg. Hy is nie daar om ons te probeer seermaak nie, selfs al waarsku Hy ons dat Hy nie net paai nie, maar ook oordeel kan uitspreek (8:17). Selfs die verwysing na oordeel is eintlik ‘n bedekte pleidooi om God in jou lewe raak te sien… om te besef Hy is daar om iets aan jou eie lewe te doen.

Met die Here kan jy in jou donker hoekies praat. Hy luister maar skinder nie daarna nie. Hy is daar om jou te help, omdat Hy jou liefhet. En jy hoef Hom nie te probeer beïndruk nie, want Hy weet.

Hy is die Een wat jy kan vertrou…




17 Maart: Regverdige onregverdigheid?. – Jan van der Watt

Luk 7:36-8:8 (fokus 7:36-50)

Is daar iets soos regverdige onregverdigheid? Vir party mense lyk dit of God so werk. Soos vir Simon in ons verhaal (7:36-50) is dit vir baie mense moeilik om te verstaan waarom God mense so verskillend hanteer. Is Hy dan nie regverdig nie? Moet Hy nie ‘n bietjie na ons “track record” kyk nie? Party van ons leef darem baie beter as ander.

As ons egter anders na God se manier van werk kyk, verstaan ons dit miskien ‘n bietjie beter: die een mens het baie sonde en die ander een min; Jesus vergewe albei se sonde. Wat het dan gebeur?  Vir beide het die onmoontlike moontlik geword – hulle kan kinders van God wees. Of jy nou bietjie of baie sonde gehad het, ‘n verhouding met God sou nie vir jou moontlik gewees het nie, tensy Jesus dit moontlik kom maak het. Het Jesus regtig vir die een meer as vir die ander gedoen? Was Hy regtig onregverdig?

Dit is die wonder van God. Hy kyk nie na ons soos ‘n bankbestuurder wat “sondenote” of selfs “goeie-dade-note” tel nie. Nee, Hy vat ons soos ons is en vergewe wat nodig is, sodat ons nuut kan begin. Vir Hom spel dit nie “onregverdig” nie, maar “regverdig”. Dit is immers hoe liefde werk.