Die Bybel A-Z – Hermie van Zyl

‘n LESER vra:

Kan u dalk help asb – wat is die naaste of soortgelyke boek aan Die Bybel A-Z in Engels vir my Engelse studente?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is werklik ‘n verskeidenheid van moontlikhede, maar ek noem vier wat m i min of meer vergelykbaar is met Die Bybel A-Z (red: Jan van der Watt; Christelike Uitgewers Maatskappy):

  • Pawson, D: Unlocking the Bible. A Unique overview of the Bible. (William Collins – filiaal van HarperCollins.)
  • The Baker Illustrated Bible Commentary. (Eds: Gary Burge & Andrew Hill; BakerBooks.)
  • NLT Study Bible. (Tyndale House Publishers.)
  • The People’s New Testament Commentary. (Eds: Eugene Boring & Fred Craddock; Westminster John Knox Press.) (Hierdie werk handel net oor die Nuwe Testament.)

Ek vertrou dat bg boeke die vraagsteller sal help in sy soektog. Hy sou self kon oordeel watter van hierdie werke die beste beantwoord aan sy oogmerke.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




16 Maart: Moenie te veel fout vind nie. – Jan van der Watt

Luk 7:18-35 (fokus 7:29-35)

As mense nie wil glo nie, sal hulle nie glo nie. Hulle sal altyd ‘n verskoning soek en een kry ook. Dit was so in Jesus se tyd en dit is vandag nog so. Ja-nee, Johannes die Doper was vir party te konserwatief en Jesus weer te liberaal (7:33-34). Niks en niemand is ooit reg nie. As jy vandag nog na patry mense luister wat oor die godsdiens praat, klink hulle nog steeds net so – altyd aan die stry.

Byvoorbeeld, ons hoor gereeld van mense wat braaf beweer dat hulle nie in ‘n God kan glo wat hongersnood of natuurrampe toelaat nie. Ander het weer probleme met ‘n God wat ontevrede is met sonde en dit wil straf. Hoe kan ‘n God van liefde nou dit wil doen? Ander twyfel weer aan ‘n God wat sy Seun sou laat sterf, wat nog van Hom opwek? Ander sê weer God verhoor nie hulle gebede nie (met ander woorde, doen nie wat hulle sê nie) en daarom stel hulle nie meer in Hom belang nie. Aan foutvindery is daar nie ‘n einde nie.

Maar wat sê God hieroor? Miskien kan ons Hom heimelik sien kop skud oor al hierdie slim mense met hulle teorieë. God is gelukkig nie afhanklik van wat mense van Hom dink of sê nie. Wat hulle moet besef is dat God ook na hulle kyk en dalk ook fout kan vind, meer as wat vir hulle goed is (7:35). En op die ou einde is dit sy opinie wat regtig tel!




Mense moedeloos maak in die naam van Christus – Hermie van Zyl

Tianca vra:

Mense moedeloos maak in die naam van Christus. Is daar ‘n teks in God se Woord wat hierna verwys?

Antwoord

Prof Hermie antwoord

Soos ek die vraag verstaan, gaan dit daaroor dat Christene ander mense soms moedeloos maak of frustreer met die manier waarop hulle mense benader of ‘n saak hanteer. Christene het dikwels goeie bedoelings, maar die ander mense is glad nie beïndruk daarmee nie; die goeie bedoelings kom nie goed oor nie. Die “goeie raad” word dikwels beleef as ongevraag, beterweterig of as onbehoorlike inmenging in hulle sake. Sê die Bybel iets hieroor?

Heel eerste moet mens onderskei tussen geldige waarskuwings en onbehoorlike inmenging. Wat eersgenoemde betref: Ons is almal maar baie fyngevoelig oor ons eie idees en lewenstyl. Niemand durf vir my voorskryf hoe ek moet lewe nie, wat ek mag of nie mag doen nie. Maar nou is die Bybel baie duidelik daaroor dat daar situasies kan ontstaan wat ingryping noodsaak. Byvoorbeeld, Eseg 3:20 sê dat as jy iemand sien sondig en jy waarsku hom nie, sal die persoon sterwe, maar sy bloed sal van jou geëis word omdat jy hom nie gewaarsku het nie. Ons leef nie as eilande in die wêreld nie; ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar, veral as jy sien dat dinge ernstig verkeerd loop in ‘n ander se lewe. Eli het byvoorbeeld niks gedoen om sy twee seuns, Hofni en Pinehas, teen te gaan en te ontslaan toe hulle hulle posisie as priesters gruwelik misbruik het nie (1 Sam 2:13-36). Dit was ‘n gruwel in God se oë, en ons weet wat die uiteinde was: God het die twee seuns gestraf en ou vader Eli het ook ‘n tragiese einde gehad (1 Sam 4:12-21). Ook die Nuwe Testament is duidelik daaroor dat ons mekaar op die regte pad moet help. As ons die ander sien sondig, moet ons uit liefde dit nie maar net sienderoë toelaat of anderpad kyk nie, maar daadwerklik iets doen om ‘n tragedie af te weer – net soos mens iemand sal probeer keer wanneer dié onwetend op ‘n afgrond afpeil. As jy dit nie doen nie, is jy liefdeloos en het jy nie die ander se ewige heil op die hart nie. Daarom sê Matt 18:15-20 dat as ons iemand sien sondig, ons die persoon onder vier oë moet gaan spreek om die persoon vir Christus te probeer terugwen (kyk ook Gal 6:1-2; Jak 5:19-20). Paulus is ook ontsteld daaroor dat die Korintiërs niks doen om iemand wat openlik in sonde leef, aan te spreek nie (1 Kor 5:1-13).

Nou is dit egter ook so dat baie mense nie weet waar die grens is tussen geldige ingryping en bemoeisieke inmenging nie. Matt 7:1-5 praat byvoorbeeld oor laasgenoemde. Wanneer jy iemand beterweterig vanuit die hoogte kritiseer oor ‘n saak wat duidelik nie van groot belang is nie maar wat jou om een of ander rede irriteer, dan het jy daardie fyn lyn oorgesteek – dan is dit inmenging in ‘n ander se persoonlike ruimte sonder dat daar ‘n geldige rede voor is. Iets hiervan is ook duidelik in Rom 14. Hier gaan dit oor die sogenaamde middelmatige sake: die een groep sê jy mag nie sekere kosse eet nie, die ander groep het geen probleem daarmee om alles te eet nie. (Dit gaan hier waarskynlik oor die eetgewoontes van die Christene uit die nie-Joodse wêreld wat die Jode-Christene aanstoot gegee het; lg het strenger eetgebruike gehad). Paulus se raad is dat Christene mekaar oor hierdie soort verskille moet ruimte gee, want dit gaan nie oor wesenlike sake nie. Albei partye is eintlik reg; hulle kan in hierdie aangeleentheid kies hoe hulle die Here wil dien. Daarom moet hulle mekaar nie veroordeel nie maar in liefde aanvaar. Dit sou dus verkeerd wees as die een groep die ander een veroordeel omdat hulle kwansuis verkeerd optree. Nee, as jy so inmeng in ‘n ander se vryheid, saai jy onmin en is jy net besig om die ander een moedeloos te maak en te frustreer. En dis nie bevorderlik vir die eenheid van die gemeente of vir ‘n gesonde familie of kerklike lewe nie. Die spreekwoord lui nie verniet nie: “Elke man soen sy vrou op sy eie manier”; daar is nie juis ‘n regte of verkeerde manier nie. Oor sekere goed moet ons gewoon ooreenkom om te verskil.

Dit is natuurlik nie altyd so maklik om te besluit wanneer ‘n saak nie die moeite werd is om oor gaande te raak nie. Party mense het net nie daardie insig nie; hulle meng daarom in waar hulle nie moet nie. Soos die Engelse spreek woord lui: Some people rush in where angels fear to tread. Daarom moet ons mekaar hierin help. Vir sommige mense is daar net een weg en dis húlle weg: dis reg of weg, swart of wit; hulle siening en niks anders nie. Dis moeilik om met sulke mense saam te leef. As so iemand dus voortdurend op ‘n onbehoorlike manier inmeng, moet mens maar die moed bymekaar skraap en hom/haar op ‘n liefdevolle manier gaan reghelp (Gal 6:1). (Maak net eers seker dat die ander nie dalk reg is nie – 2 Kor 13:5; Gal 6:4.) Veral in vandag se tyd waar ons al meer besef dat ons in ‘n wêreld leef waar baie standpunte om die waarheid meeding, is dit so nodig dat ons sal leef en laat leef – natuurlik, binne perke. Daar is net eenvoudig soveel verskillende sieninge, en daar is nie altyd ‘n absolute reg of verkeerd nie. Baie van ons kom uit ‘n agtergrond of het in tyd grootgeword waar daar nie baie botsende standpunte was nie. Daarom is dit vir ons vreemd, selfs vreesaanjaend, om met soveel strydende idees en selfs paradokse saam te leef. Soos nooit tevore nie, sal ons die Here moet bid vir die gawe van onderskeiding (1 Kor 12:10; Fil 1:9-10; Heb 5:14), dat ons sal weet wanneer iets regtig belangrik is en wanneer ons maar kan ontspan.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




15 Maart : Luister en doen… soos Jesus. – Jan van der Watt

Luk 6:39-7:17 (fokus 6:43-49)

‘n Mens se geestelike fondamente is belangrik, want dit is wat jou in storms staande moet hou (6:47-49). Ons almal se geestelike huise word soms maar deur storms getref. Ons word almal hartseer, raak teleurgesteld of kom in krisisse. Die groot vraag is egter of jou geestelike huis gaan bly staan of gaan wegspoel. Dit hang van jou fondamente af.

Geestelike fondamente bestaan uit ‘n mengsel van luister en doen… luister wat die Here sê en doen wat Hy vra. As een van die twee kortkom verbrokkel die fondment. Daar is mense wat graag “luister” maar nooit so ver kom om te doen nie. Hulle fondamente is niks meer as sand nie.

Om na God te luister laat jou besef dat die geheim van die ware lewe by God en nie in die wêreld nie lê nie. Wêreldse dinge moet nooit vir jou so belangrik word dat dit jou hart steel nie. Nee, jou hart moet altyd God s’n bly. Die ritme van jou hart moet God s’n volg. God se manier van kyk na dinge en sy wil vir die lewe, moet jou kyk en wil word. As jy so na hom luister sal jy in pas met Hom kom. Dan sal jy sommer ook weet hoe om reg te doen ook.

Dit is hierdie ingesteldheid en toewyding wat maak dat ons sal doen wat die Here vra. Jy sal jou kop kan optel en selfs in moeilike omstandighede nog God se pad kan loop. Ja, jy sal krisisse kan hanteer omdat geen krisis vir jou groter as God kan wees nie.

Uit Hom sal jy werklik kan leef, ook in die storms.