14 Maart: Maak die verskil… wees die een wat vergewe. – Jan van der Watt

Luk 6:20-38 (fokus 6:27-36)

 

Daar is ‘n spreuk wat sê dat as jy jou vyand wil terugkry, vergewe hom. Hy wil jou mos juis seermaak en as hy sien hy kry dit reg, voel hy soveel lekkerder. Maar as sy plan om jou te probeer seermaak elke keer misluk, sal hy die een wees wat gefrustreerd raak.

Jesus praat dieselfde taal (6:27-29). Christene is bouers, nie brekers nie. Christene wil opbou en heelmaak, nie afbreek en seermaak nie. Dit vat twee om te baklei; dit vat twee vir ‘n kwaaivriendskap; dit vat twee om te stry of te skinder. Dit vat egter een om te vergewe; dit vat een om die angel uit te trek; dit vat een om nie terug te baklei nie. En die Here wil hê die Christen moet daardie een wees.

Dit is nie maklik nie. Om die wilde perd van jou emosies in toom te hou lyk soms onmoontlik. Maar tog moet ons probeer en sal dit inderdaad regkry, want dit kan al die verskil maak. Dit kan verhoudings herstel en vriendskappe red.

Om negatief te reageer in ‘n negatiewe situasie blus lewe. Om positief te reageer in ‘n negatiewe situasie skep lewe.

Christene kies altyd vir die lewe.




13 Maart: Kies die lewe. – Jan van der Watt

Luk 5:33-6:19 (fokus 6:6-11)

 

‘n Mens kan nie help om die ironie in die storie van die man met die misvormde hand te sien nie. Daar sit hy… magteloos om op die Sabbat of op enige ander dag iets goeds met die hand te kan doen. Toe stap Jesus op die Sabbat daar verby. Moet Hy maar verbystap omdat dit Sabbat is, of moet hy omdat dit Sabbat is, die man gesond maak? Jesus kies laasgenoemde, juis sodat die man dan ook nog ‘n hand het om op die Sabbat mee goed te kan doen.

So leer Jesus ons iets belangriks: as reëls en wette bots, wat dan? Byvoorbeeld: die Sabbatwet sê nee! Die wet van liefde sê ja! Die botsing is onafwendbaar – As Jesus kies sal Hy een van die twee wette moet oortree.

Dan kies Jesus: Hy kies vir die lewe! Hy kies die pad wat mense instaat stel om op die Sabbat of watter ander dag ook al weer voluit te kan lewe, ja, voluit mens te kan wees. Hy kies nie vir wette wat jou toesluit nie, maar vir lewe wat vry maak.

Soos Hy moet ons ook vir die lewe kies. As daar konflik is, moet ons nie keuses maak wat verhoudings of mense seermaak nie, maar moet ons vir die lewe kies. As ons tussen ‘n klomp wette spartel om agter te kom wat reg of verkeerd is, soek dan die pad wat lewe bring. Vra watter pad laat mense weer opstaan en aangaan, laat hulle weer met gesonde hande vat.

Kies die lewe!




12 Maart: Moenie Jesus se ewige kans misloop nie. – Jan van der Watt

Luk 5:12-32 (fokus 5:12-16)

 

Ons is maar kuiergaste in die huis van die lewe. Tog lewe ons dikwels asof die lewe aan ons behoort en nooit gaan ophou nie.

Dit is egter wanneer dinge skeefloop dat jy jou in jou eie onmag vasloop. As jy jou gesondheid verloor en jy staar na die dak van die hospitaal voel jy skielik alleen, so vasgedruk in jouself. Dit is dan dat jy besef jy is maar net ‘n kuiergas in die lewenshuis… Dit is dan dat jy desperaat roep en soek, soos die siekes wat Jesus se pad kruis (5:12; 19).

Jesus gee hierdie twee mense wat so roep ‘n tweede kans. Hulle hoef nie meer na die dak te staar nie, maar kan weer opstaan en gaan leef. Hy stuur hulle die lewe in. Hulle moet weer en meer gaan lewe, maar hierdie keer met dankbaarheid en vreugde. Hulle moet bly wees vir die kans om wel kuiergaste in die lewenshuis te kan wees. Hulle moet minder kla en meer geniet. Hulle moet minder frons en meer lag. Hulle moet die lewe wat die Here vir hulle gee léwe tot hulle nie meer kan nie.

Miskien is jy ook so iemand wat roep… en vir wie die Here ‘n tweede kans gegee het. Onthou dan, hierdie lewe behoort nie aan ons nie en gaan ophou. Ons is maar kuiergaste. Geniet daarom elke oomblik daarvan met dankbaarheid en vreudge.

Maar terwyl jy hierdie lewe geniet, moenie van die kans vergeet wat Jesus jou gee as jy dalk eendag nie weer van jou siekbed af opstaan nie… dan het jy sy ewige kans nodig. Maak net seker.




11 Maart : Waar Jesus is, is daar hoop en liefde. – Jan van der Watt

Luk 4:31-5:11 (fokus 5:1-11)

Iemand sê eendag vir ‘n ouderling op huisbesoek: “Ek is nie ‘n huigelaar soos jy wat heeltyd kamma in die kerk sit nie”. Die ouderling antwoord toe: “Ek is nie hier die huigelaar nie. Jy is. Ek ken myself en my sonde – ek weet ek het die Here nodig en gaan soek daarom na Hom. Jy dink jy kan sonder die Here klaarkom en self jou sonde vergewe. Oppas, ‘n mens kan nie God se werk doen nie. Jy het Hom nodig”.

In ‘n Christen se hart is daar altyd ‘n toutrekkery, soos met Petrus (5:8). Aan die een kant besef jy hoe broos en sondig jy is. Jy wil eintlik net jou gesig toemaak in skaamte en vir die Here vra om weg te gaan.

Maar aan die ander kant wil jy net aan Hom bly vashou, nee, vasklou; wil jy nie hê dat Hy moet weggaan nie. Jy weet Hy is die enigste Een wat dood in lewe kan verander. Hy is jou enigste hoop en by Hom en Hom alleen wil jy wees.

Ja, die tou span styf: aan die een kant hoort jy nie by Christus te wees nie – aan die ander kant is dit al plek waar jy kan wees. Dit is nie huigelary nie. Dit is realisme.

Jy sit nie in die kerk omdat jy so goed is of huigel nie – jy is daar omdat Jesus daar is. En waar Jesus is, is daar vir jou hoop en liefde.