4 Maart: Die Here is dáár… vir jou. – Jan van der Watt

Mark 16:1-20 (fokus 16:1-8)

 

‘n Mens kan regtig nie help om so biejtie emosioneel te raak by die tuingraf in Jerusalem nie. (Dit kon moontlik Jesus se graf gewees het, hoewel die bewyse daarvoor skraal is). Dit laat ‘n mens in alle geval sien hoe dit kon gewees het: Daar gekom stap jy in die klein grafkamertjie in wat uit rots gekap is. Aan jou regterkant is die plek waar hulle die lyk neergelê het. Maar daar’s niks, want dit is leeg… Bokant die ingang staan daar “Hy is nie hier nie. Hy het opgestaan” (sien 16:6).

Skielik kom die gevoel by jou op: As Hy nie meer daar in die graf lê nie, waar is Hy dan? En dit is die toweroomblik: jy besef dat juis omdat Hy is nie meer daar is nie, kan Hy nou by jou wees. Hy het opgestaan en dit beteken: Hy is nog dáár, by jou in die graf. Jy staan nie alleen daar nie – Hy is by jou, nie as ‘n dooie mens nie, maar as jou lewende Here; nie as iemand wat in ‘n graf gewys het hoe eindig die lewe nie, maar in daardie graf vir jou wys hoe begin die lewe: lewe saam met Hom. Dan wil jy huil en lag tegelyk.

‘n Graf kan dan ook nooit weer vir jou dieselfde wees nie, ook nie jou graf nie. Dit is nie die plek van die dood nie, maar die plek van die lewe – mits jy Jesus ken.




3 Maart: Daar is ‘n verskil tussen of die Here kan en of Hy wil. – Jan van der Watt

Mark 15:21-47 (fokus 15:21-32)

 

Ons kan vinnig sê: “Waar is die Here?” as ons in gebed ons vraelysie ingedien het en Hy nie dadelik gee wat ons vra nie.

Kyk wat gebeur aan die kruis (15:29-30). Mense stap verby en sê spottenderwyse dat Jesus van die kruis moet afklim, die tempel moet afbreek en in drie dae moet opbou, soos Hy mos beweer het Hy kon. Jesus kon, maar het nie. Waarskynlik sou dit die Joodse volk wakker geskud het. Tog doen Hy dit nie.

Die punt is: Jesus doen nie wat hulle vra nie. Beteken dit nou dat Hy nie daardie mense liefgehad het nie of miskien dat Hy hulle nie wou help nie? Natuurlik nie. Daar was goeie redes waarom Hy dit nie gedoen het nie. Jesus se optrede op daardie oomblik het by God se groter plan ingepas en nie andersom nie.

Daarom, as Jesus nie alles doen wat op jou vraelysie staan nie, beteken dit ook nie dat Hy nie vir jou lief is nie. Dit beteken eerder dat God dink dit is nie die regte ding om op daardie oomblik te doen nie. As ons mooi daaroor dink, is dit die manier waarop Hy jou ook beskerm en jou lewe rig. En watter veilige hande is dit net nie om jou lewe in te plaas nie!

God sien dinge raak wat jy miskyk. Daarom moet jy leer aanvaar dat jou planne by God se groter plan moet inpas en nie andersom nie. Daarom moet jy sy keuses vir jou lewe vertrou en respekteer. God sal wel jou drome en planne op die beste manier waar maak. Jy moet geduldig wees.

Die Here is daar. Vertrou Hom met jou planne.




2 Maart: God is nooit baie ver nie, selfs al voel jy so. – Jan van der Watt

Mark 14:66-15:20 (fokus 14:66-72)

 

Een van die roerendste oomblikke in die Bybel kry ons nadat Petrus Jesus verraai het. Toe die haan kraai, lees ons, het hy uitgegaan en bitterlik gehuil (14:72). Ja, hy het gehuil en gehuil. Ek stel my ‘n Petrus voor wat in ‘n bondeltjie buite in die donker op die sypaadjie teen die muur sit en huil. Mense stap verby sonder om te vra… maar God nie. Hy het Petrus se trane gesien en hom nie gelos nie.

Hoewel Petrus miskien nie op daardie oomblik so gedink het nie, weet ons uit wat later gebeur het, dat God se genade en liefde daardie bondeltjie mens juis op daardie oomblik omring het. Al het Petrus in oomblikke van swakheid teen God gedraai, het God nie teen hom gedraai nie. Juis hierdie “Petrus-oomblik” gee ons die kans om die werklike diepte van God se genade op sy beste te sien.

Onthou, in jou “Petrus-oomblikke” waar jy maar net in ‘n bondeltjie kan sit en huil, is God se genade en liefde nooit ver nie. Dit omring jou. Jy gáán weer opstaan en voor begin. Petrus het… jy gaan ook.

 




1 Maart: Jesus se dood is regtig ‘n ironiese dood – Jan van der Watt

Mark 14:43-65 (fokus 14:53-65)

Jesus se dood is vol ironie.

  • Hy word doodgemaak omdat Hy God glo belaster en beledig het – Hy het Homself mos God se Seun genoem (14:61-62).  Intussen is Hy regtig God se Seun, die mense het dit net nie besef nie. Dit beteken dat die mense en nie Jesus nie, eintlik die lasteraars is. Deur te beweer dat Jesus nie regtig Seun van God is nie, beledig hulle God self. Dit is dus hulle en nie Jesus nie, wat eintlik aan die kruis moes sterf weens laster.
  • Meer nog, as Jesus uiteindelik sterf, sterf Hy nie omdat Hy skuldig is nie. Hy is onskuldig. Waarom sterf Hy dan eintlik? Omdat die mense wat Hom doodmaak skuldig is. Juis daarom het hulle Hom so nodig. Sonder Hom sal God hulle nooit vergewe nie.
  • Nog is dit nie die einde van die ironie nie. Die getuies teen Jesus lieg te lekker oor Hom (14:57). Jesus word “skuldig bevind” op die basis van leuens, sodat die grootste waarheid ooit bekend kan word: God het ons so lief dat Hy sy Seun gegee het, sodat ons die ewige lewe kan kry.

 

Jesus se dood is vol ironie… vandag nog. Vandag nog is dit ons wat Jesus op allerhande maniere kruisig terwyl ons self daar moes hang; vandag nog het ons Hom nodig om ons sonde te vergewe; vandag nog kan ons nie sonder die liefde van God klaarkom wat sy Seun vir ons gegee het nie.