28 Februarie – Wat gebeur moet gebeur. – Jan van der Watt

Mark 14:1-42 (fokus 14:32-42)

 My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.”’ (14:36)

 

Gebed mag nooit ‘n manier word waarop ons die Here probeer manipuleer nie. Soms sê mense mos dat die Here gesê het Hy sal gebede verhoor en daarom MOET hy doen wat ons sê. Ons mag dit miskien so verstaan, maar dit is nie heeltemal wat die Here bedoel het nie.

Dit het eenmaal op die golfbaan begin reën terwyl die dominee en ‘n lidmaat met die spannendste deel van die spel besig was. “Dominee, trek ‘n paar toutjies sodat die reën kan ophou”, sê die lidmaat. Die dominee se vinnige antwoord was: “Ek is net in verkope, nie in die bestuur nie”. Dit is ‘n groot waarheid: ons kan God nie ‘bestuur’ nie.

Ons kan nie vir God voorskryf wat Hy met gebede moet doen nie. Ons kan ook nie toutjies trek of God manipuleer nie. Jesus het dit nie eers gedoen nie, wat nog van ons (14:36). Gebed werk eenvoudig nie so nie.

Wat ons wel in Jesus se gebed in 14:36 sien, is ‘n openheid om met ons hemelse Vader te praat. Ons kan ons harte voor Hom oopmaak en sê hoe ons voel sonder om bang te wees dat Hy ons daaroor sal kwalik neem. ‘n Mens kan amper sê dat die Here meer in ons intieme verhouding en toewyding aan Hom belangstel as in die presiese woorde van ons gebed. Gebed is in wese nie ‘n inkopielysie nie, maar ‘n verhouding wat verdiep.

Maar ons sien ook Jesus se bereidwilligheid om die saak by die Vader te los en sy beslissing te aanvaar, al sou dit nie die antwoord wees wat gevra is nie. Met die eerste les sukkel ons gewoonlik nie, maar met hierdie tweede les het ons dikwels probleme. Ons wil hê God moet maak soos ons wil. Ons wil maar toutjies trek… En dit is gewoonlik so omdat ons dink in terme van ‘n inkopielysie en nie aan die wonder van die verhouding met en nabyheid aan God nie – want dit is eintlik wat gebed is.




Paasfees – Francois Malan

‘’n Leser vra:

Na vele soektogte op die webwerf en navrae by oumas en oupas: onthou ek nou van hierdie webwerf.

Sus moet ’n takie oor Paasfees doen en ek het gedink ek ken al die antwoorde…verkeerd

Ek trap klei en die tyd haal ons in.

Laat my die volgende vrae toe asb?

Ostern(Paasfees) Paasfees gevier in Duitsland….

  1.  Waarvandaan kom die woord “Paasfees”/ Easter/Ostern    (1)
  2.  Paasfees as Christenfees: Kortliks 20 woorde wat vier Christene tydens Paasfees/Ostern?
  3.  Die datum verskil elke jaar, hoe word Paasfees datum vasgestel?
  4.  Paasfees bestaan uit 3 dae

Grundonnerstag (Donderdagaand van Paasfees)

Wat word herdenk die aand?

Karfreitag (Goeie Vrydag)

Hoe vier Duitsers die dag en wat eet hulle op die dag?

Ostersonntag

Hoe vier Duitsers Paas Sondag?

  1.  Ostereier(Paaseiers) Ontstaan, verf en versier betekenis, hoekom so bont geverf?
  2.  Osterfeuer (Paasfeesvuur) Hoekom die groot vure waar kom die tradisie vandaan? Hoekom doen hulle vandag nog?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord;

1 Die Hebreeuse woord pasag beteken ‘verbygaan,’ ‘oorslaan,’  ‘spaar’ Engels ‘pass over.’ Die Here het vir Moses in Eksodus 12:13,23 gesê dat die huise waar die bloed aan die kosyne gesmeer is (Eks 12:7) sal Hy oorslaan en die slag waarmee Hy die Egiptenaars gaan tref, deur elke eersgeborene dood te maak (Eks 12:12), sal die Israeliete nie tref nie. Daarmee is die Israeliete bevry uit hulle slaweskap in Egipte en het hulle vertrek na die beloofde land. Die Here het die dag as die feesdag van die uittog uit Egipte ingestel wat die Israeliete elke jaar moes onderhou (Eks 12:24-27). Die fees word in die noordelike halfrond (waar Egipte en Palestina lê) in hulle lente 9 Maart-April gevier.

Die Engelse naam ‘Easter’ en die Duitse naam ‘Osterfest’ herdenk Christus se opstanding uit die dood, soos die ontwaking van die natuur in die lente na die winter-dood, in dieselfde tyd as die ou Angelsaksiese fees van  Eastre, Eostre, Ostara, die godin van die lente-ontwaking., waar die naam vandaan kom.

2 Christenfees. Tydens die jaarlikse paasfees van die Jode het Jesus die nag voor sy kruisiging die nagmaal ingestel as herinnering aan sy dood op Goeie Vrydag om die straf van die hele wêreld se sondes te dra sodat ons ewige straf ‘verbygaan;’ en sy opstanding op Paas-Sondagmôre as sy oorwinning oor sonde en dood sodat ons saam met Hom uit die slaweskap van die sonde bevry word vir die nuwe ewige lewe saam met Christus (1 Kor 11:23-26).

3 Vasstelling van Paasdatum:  Sedert die middeleeue vier die christelike kerk die Paasfees op die eerste Sondag na die volmaan na 21 Maart, die lente dag-en-nag-ewening.

4 Die Duitse gebruike ken ek nie. Donderdagaand herdenk egter die instelling van die nagmaal, Vrydag Jesus se kruisiging en Sondag sy opstanding uit die dood.

5 Paaseiers het blykbaar ontstaan uit die Anglo-Germaanse simboliese handelinge wat bedoel was om lewe en vrugbaarheid te bevorder. Die huidige sjokolade eiers wat binne leeg is simboliseer sogenaamd die leë graf van Christus op sy opstandingsdag.

Osterhase, of die Paashaas, soos hy vandag bekend is, het helder gekleurde eiers gelê wat hy vir soet kinders gevat het wat die aand voor die tyd spesiale nessies in hul hoede of kappies reggemaak het daarvoor. Oor die jare heen het die tradisie gegroei, en later het die Paashaas nie meer net eiers gebring nie, maar sjokolade en lekkergoed ook. Dit was ook in Duitsland waar die sjokoladehasies in die 1800’s ontstaan het, wat deel uitgemaak het van die Paasfeesvieringe. Pleks daarvan om nessies in hoede vir hom reg te maak, het die Paashaas sy “skatte” in versierde mandjies begin los.

Die Paaseiers word ook buite in die tuin weggesteek, wat die ontdekking van nuwe lewe in die Tuin simboliseer, met ander woorde, soek en vind nuwe lewe.

Dit is ‘n antieke Christelike gebruik om gekookte eiers rooi te verf vir Paasfees, om die bloed van Jesus te herdenk.

6 Paasfeesvuur kom waarskynlik uit die ou Germaanse heidens-godsdienstige son- en vrugbare plantegroei-kultus. Bome word gesnoei en die droē snoeisels word op die dorpsmeent gegooi waarmee die paasvuur gemaak word.

Skrywer:  Prof Francois Malan




27 Februarie – Gee jouself ‘n kans in ‘n krisis – word stil. – Jan van der Watt

Mark 13:1-37 (fokus 13:3-13)

‘Die Heilige Gees sal vir julle op daardie oomblik help om die regte dinge te sê. Dit sal nie julle wees wat praat nie, maar die Heilige Gees.’ (13:11)

 

Mense wat onder druk was en vlieënde vaandels daar uit is, sê dikwels: “Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie, maar op daardie oomblik het ek presies geweet wat om te sê”.  Natuurlik skei ‘n mens meer adrenalien af as jy in ‘n krisis beland en dit maak jou skerper. Maar daar is ook iets anders.

Jesus troos sy mense: as jy in ‘n krisis beland is jy nie alleen nie. Om die waarheid te sê, as gelowige is jy nooit alleen nie. Die Heilige Gees is by jou (13:11). As jy jou geestelike ore en oë oophou sal jy Hom hoor en sien in alledaagse dinge wat rondom jou gebeur. As jou woorde opdroog sal Hy die woorde laat vloei. As jou moed opraak sal die Gees jou moed gee. Daarin lê ons troos.

Maar hoe gebeur dit? Natuurlik is daar nie ‘n resep nie. Die Here laat Hom nie in woorde vasskryf nie. Nee, daar is nie grense aan hoe die Gees ons kan help nie. Ons weet maar net dat die Here ons beloof dat dit so sal wees. Daarom moet ons maar net ons geestelike antennas uithou deur in die stilte van gebed en meditasie op die boodskap van die Gees te wag. Om in hierdie lewe dus regtig ‘skerp’ te wees, moet jy leer om eers stil te wees. Jy moet leer om na die Gees van die Here te luister, soms op maniere wat jy nie verwag nie.

As die krisis jou slaan, gun jouself die kans om stil en kalm te word… en te luister. Dan sal jy ook “hoor wat om te sê”.




26 Februarie – Wat regtig vir die Here GROOT is. – Jan van der Watt

Mark 12:28-44 (fokus 12:41-44)

‘Sy het meer vir God gegee as enigeen van die ander. Al die ander het gegee omdat hulle so baie het. Hulle sal dit nie eers mis nie. Maar sy is brandarm en het niks nie. Die bietjie wat sy gehad het om iets te koop om te eet, het sy vir God gegee. Ja, sy het alles vir Hom gegee.’ (12:43-44)

 

Die kinders by die kerk het altyd gegiggel as een spesifieke Omie verbystap. As nuwe dominee het ek gou agtergekom dat die kinders hom glo eenmaal ‘n knoop in plaas van geld in die kollektebord sien gooi het. En dit was die rede vir die gegiggel. Later, toe ek hom beter leer ken het, sou ek agterkom dat dit al was wat hy gehad het. Geld was daar nie. Daai knoop was vir hom ‘n simbool… ‘n simbool van sy hart en sy lewe wat aan die Here behoort. Hy het eintlik nie ‘n knoop ingegooi nie, maar homself.

Daar is ‘n stukkie menslike ironie in die hele storie: die kinders het die knoop raakgesien en gegiggel; God het die hart raakgesien en tevrede geglimlag. Die kinders het gegiggel oor die verleentheid; God het in blydskap geglimlag oor die geleentheid – die geleentheid wat sy kind nie gemis het om sy toewyding en liefde aan Hom te bewys nie. En dit het my aan Jesus se woorde laat dink toe die arme vroutjie alles ingegooi het wat sy gehad het. Mense het die geld raakgesien – Jesus het na die hart gekyk (12:43-44).

Hierdie verhaal in die Bybel het ‘n geweldige troosboodskap vir ons: ‘Groot’ beteken vir die die Here iets anders as vir ons. Vir Hom is blyke van liefde ‘groot’; vir Hom is jou hulp aan iemand wat dit nodig het ‘groot’; die besoek aan ‘n sieke of die tyd saam met iemand wat hartseer is, is vir Hom ‘groot’.

Die verhaal van die vroutjie met haar paar sent moet jou moed gee en motiveer: Moenie die kans laat verbygaan om klein dingetjies uit ‘n liefdevolle hart te doen nie. Vir die Here is dit ‘groot’.