Gebed in die Gees – Francois Malan

Johan vra:

Oor gebed word daar gesê dat verskillende tipes gebed in die Bybel voorkom onder andere “Gebed in die Gees” (1 Kor 14:14) maar ek dink dit kan verkeerd verstaan word.

Paulus sê dat “gebed in die gees (klein letter maw die mens self se gees as ek dit reg verstaan)” saam met die verstand moet gebeur. Ek dink dit kan tot verwarring lei?

Antwoord

Pof Francois Malan antwoord:

Na die beskrywing van die volle wapenrusting van God, wat simbolies gebruik is in Ef 6:11-17, praat vers 17 van die swaard van die Gees as die simbool vir die woord van God, en sê 6:18: Telkens wanneer julle bid en smeek, moet julle by elke geleentheid deur die Gees bid (1983 en 2014-vertalings; bid in die Gees (1953-vertaling).

In Ef 5:18 word reeds gesê: Wees vol van die Gees (en moenie dronk word van wyn nie). Ef 2:21-22 sê: In Christus verrys die hele gebou (die gemeente/kerk as al die gelowiges), goed saamgevoeg tot ’n heilige tempel vir die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.

Daarmee word bedoel dat ons ons aan die invloed en leiding van die Heilige Gees moet oorgee en só moet bid. Dit gaan om ons gesindheid van oorgee van onsself en ons begeertes en ons oopstel vir die werk van die Gees; om onsself, met die volle wapenrusting van God toegerus, tot beskikking van die Heilige Gees te stel om sy magswerking deur ons te ontplooi in ons stryd teen die bose. So maak die Heilige Gees ons sy instrumente om die boodskap van God in woord en daad uit te dra en nie self in die stryd oorweldig te word nie.

In dieselfde sin moet ons ‘gebed in die Gees’ verstaan as onder die leiding en in die krag van die Heilige Gees, om te bid soos Jesus in Getsemane gebid het: ‘nie my wil nie, maar U wil geskied (Matteus 26:39,42,44).

In Romeine 8:26-27 sê Paulus: So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges (God se kinders) intree.

Ons ken nie die diepte van ons eie nood en die heerlikheid waarvoor ons bid nie. Daarom neem die Gees die saak op en spreek in ons gebede mee met onuitspreeklike sugtinge vanweë ons beperkte insig en vermoë. God wat die harte deursoek let nie soseer op die uiterlike vorm en taal van ons gebed nie, maar op die innerlike roeringe en bedoelings van ons harte. Die Gees vra namens ons maar pas ons versoek by God se wil vir ons. Daarom is die verhoring van ons gebede seker (1 Joh 5:14), maar nie altyd soos ons wil nie.

In 1 Kor 14:14 gaan dit egter oor die gees van die mens wat bid, soos uit die verband blyk. Paulus maak ’n onderskeid tusssen my gees en my verstand. Só maak hy bv. in Romeine 8:16 ’n onderskeid tussen die Gees in ons en ons gees. Die Heilige Gees sluit by die mens se gees aan en lei ons na sfere waar ons verstand nie kan bykom nie (Rom 8:26), by ondervindings wat nie onder woorde gebring kan word nie. Die verstand soek kontak of kommunikasie met die medemens. Die mens se gees soek kontak met God. Wanneer Paulus in tale praat word sy gees aangegryp deur die Gees van God om ’n gemeenskap met die Here te beoefen wat buite die bereik van sy verstand lê. Vgl 2 Korintiërs 5:13: As ons buite onsself is (1953 en 2014-vertalings; 1983-vertaling: in geestesvervoering is), is dit vir God; as ons by ons verstand is, is dit vir julle.

Op die oog af lyk dit of’ bid in die Gees’ en ‘bid in die gees’ tot verwarring kan lei as die tekse buite hulle konteks aangehaal word. Maar as die teks in sy verband gelees word, word dit tog ’n bietjie duideliker. Die ‘bid in my gees’ verwys blykbaar na ’n ekstatiese belewenis wat sommige mense met die gawe om in tale te spreek (1 Kor 12:28,30) kan kry van iets wat die Heilige Gees namens hulle aan die Vader voorlê, terwyl ‘bid in die Gees’ verwys na elke gelowige se verstaanbare gebed onder die leiding van die Heilige Gees, wat die Gees omvorm om by die wil van God vir my lewe in te pas.

Skrywer:  Francois Malan




21 Februarie – Moenie monsters voer nie!. – Jan van der Watt

Mark 9:33-10:12 (fokus 9:33-37)

‘Jesus gaan sit toe en roep sy twaalf getrouste volgelinge nader. “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om ander mense te dien.”’ (9:35)

 

‘n Etiopiese spreuk sê dat sonde soos ‘n naald is wat jy plant met ‘n eik wat groei. Dit gebeur te veel dat iets baie klein en onskuldig begin, maar in ‘n monster eindig wat alles verslind. So is dit met ambisie ook.

Dit is nie verkeerd om ideale en drome te hê en selfs alles in te sit om dit te bereik nie. Sonder ideale en drome sou ons nêrens kom nie. Nog minder hoef jy sleg te voel as jy sukses behaal of die hoogste sport bereik waar ander eenvoudig nie kan nie. Die Here wil hê dat ons ons talente moet gebruik – daarvoor het Hy dit vir ons gegee.

Tog staan die woorde van 9:35 ook in die Bybel: “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om mense te dien”. Die woorde pleit dat daar balans in ons lewens moet wees – balans wat ander mense as mense raaksien en respekteer. Balans wat nooit sukses sal bou deur op ander te trap of ander seer te maak nie. Sodra jy op ander begin trap om bo te kom, begin die Here vrae oor jou drome en ideale vra. Nee, ons moet dit anders sê, Hy begin vrae oor jou vra! Oppas dat wat vir jou lyk soos naalde wat jy plant nie eike word wat alles wat mooi is in jou dooddruk nie.

Ons is gemaak vir mekaar, nie net vir onssself nie. Daarom kan en mag jou ideale nooit ten koste van ander wees nie; dit moet altyd tot voordeel van ander wees. Die Here wil hê ons moet dien, met ander woorde, ons moet na mekaar kyk en mekaar ondersteun.

Droom om die hoogste sport te bereik en jou beste ideale te vervul, sonder om ander moedswillig seer te maak. Dan droom jy op God se styl.




Selfmoord – Hermie van Zyl

Johan vra:

Wat is die”Bybelse beskouing oor selfmoord”?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag na ‘n “Bybelse beskouing oor selfmoord” veronderstel soms dat daar ‘n eenvoudige, klinkklare en ondubbelsinnige antwoord is. Maar soos met baie etiese aangeleenthede gaan dit ook hier nie net oor die aanhaal van enkele Bybelverse en daarmee is die saak afgehandel nie. Net om die kwessie te illustreer: daar word eintlik bitter min oor selfmoord spesifiek gesê in die Bybel; daar is geen “teologisering” daaroor nie. Dit stem mens al klaar versigtig om oorhaastige uitsprake te maak. Verder, die mense van wie ons in die Bybel lees dat hulle selfmoord gepleeg het, se lewe en lewenseinde is geensins navolgenswaardig nie: Abimelek (Rig 9:54), Saul (1 Sam 31:4), Agitofel (2 Sam 17:23), Simri (1 Kon 16:18) en Judas Iskariot (Matt 27:5). Bloot op grond van hierdie gegewens sou mens kon sê: selfmoord is ‘n tipiese daad van wanhoop gepleeg deur mense wat nie ‘n lewende verhouding met God gehad het nie. Maar wat van Simson (Rig 16:29-30)? Is daar nie darem iets positief oor sy heroïese daad van selfmoord te sê nie? Bloot uit sy geval sou mens ‘n saak daarvoor kon uitmaak dat nie alle gevalle van selfmoord negatief beoordeel moet word nie.

Dit is dus duidelik dat ‘n “Bybelse beskouing oor selfmoord” anders hanteer moet word as net by wyse van ‘n paar “Bybelse gevallestudies”. Die saak moet eerder beredeneer word vanuit bepaalde Bybelse grondpeilers, en dan moet eietydse insigte rondom die verskynsel van selfmoord ook verreken word.

Na my mening moet selfmoord vanuit die volgende Bybelse perspektiewe of grondpeilers hanteer word: 1. Die lewe is ‘n gawe van God; 2. Menslike lewe het hoë waarde omdat die mens beeld van God is; 3. Selfmoord kan nie die verhouding met God verbreek nie; 4. Sekere vorme van selfmoord is deel van ‘n groter kompleks van etiese lewensvrae, soos genadedood.

Ek bespreek vervolgens kortliks elkeen van hierdie perspektiewe.

  1. Vanuit die verhaal oor die skepping van die mens in Genesis 1-3 blyk duidelik dat God aan die mens die lewensasem gee sodat hulle lewende wesens kan wees (Gen 2:7). Die res van die Bybel sluit by hierdie gedagte aan – dat God die Lewegewer is (bv Ps 22:10-11; 139:13-16; Pred 11:5; Jer 1:5). Job 1:21-22 bied ‘n bykomende perspektief: omdat dit die Here is wat lewe gee, het Hy ook die reg om dit te beëindig. Dit kom daarop neer dat lewe in die hand van God is: dit is sy gawe aan ons; Hy besluit oor lewe en dood; ons mag nie eiegeregtig besluit wanneer die lewe wat God gegee het, klaar geleef is nie; dit is God se prerogatief. Die gelowige het daarom nog altyd sy tye gesien as in die hand van God (Ps 31:16), selfs al gaan dit swaar. Lyding as sodanig gee ons nie die reg om te sê: genoeg is genoeg nie. God kan lyding gebruik om ons meer diensbaar in sy koninkryk te maak (2 Kor 12:7-9; Jak 1:2-4). Daarom, net soos ek nie iemand anders se lewe arbitrêr mag termineer net omdat dit my pas nie, het ek ook nie die reg om die hand aan eie lewe te slaan en dit op willekeurige wyse te beëindig nie. Hierdie basiese gegewe word by beide moord en selfmoord kennelik geweld aangedoen. Die gelowige is geroepe om met eerbied om te gaan met die gawe van die lewe wat God aan ons toevertrou.

Net ‘n kantaantekening: By Jesus se dood tref ons in ‘n sekere sin ook ‘n vorm van “selfmoord” aan. Ons lees in Joh 10:17-18 dat Jesus die volmag het om self sy lewe af te lê en op te neem omdat Hy dit in opdrag van sy Vader doen. Daarom, toe Jesus sterf, kon Hy sê: “Dit is volbring” (Joh 19:30). Hy sterf op die oomblik toe Hy weet dat sy taak afgehandel is. Sy inhegtenisname, vonnis en teregstelling is ook vooraf deur God beplan; Hy móés sterwe en opstaan, volgens die Skrifte (Luk 24:26-27). Uiteraard was daar historiese prosesse wat tot sy dood gelei het, maar ten diepste was dit die afloop van Goddelike beplanning. Daarom is Jesus tydens sy verhoor ten volle in beheer van die situasie, selfs al lyk dit nie so. So sê Hy aan Pilatus: “U sou geen mag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie” (Joh 19:11). Natuurlik, Jesus se dood is uniek; Hy sterf as die Middelaar tussen God en mens, om so bevryding van sonde en die magte van die dood te bewerkstellig. Niemand anders kan dus aanspraak maak op sulke unieke omstandighede dat dit selfmoord regverdig nie. Om die waarheid te sê, Jesus se dood bevestig dat net God as Lewegewer en Beplanner van ons deel en lot, die reg het om ons lewe te beëindig. Hy alleen weet wanneer dit “volbring” is.

  1. Die mens ontvang nie net die gawe van die lewe uit God se hand nie, maar hierdie lewe het intrinsieke hoë waarde omdat ons na die beeld van God geskep is (Gen 1:26-27). Dit beteken dat ons God se verteenwoordigers op aarde is, maak nie saak wie en wat ons is nie. Ons moet dus so lewe dat God se karakter deur ons doen en late sigbaar word. Dit vorm dan ook die agtergrond vir die 6e gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie” (Eks 20:13). Elke lewe is vir God kosbaar; Hy wil deur daardie lewe geëer, gedien en verheerlik word. As jy iemand anders se lewe wederregtelik neem, wys dit dat jy nie respek het vir die besondere potensiaal en eienskappe van daardie mens waardeur God verheerlik moet word nie. Dieselfde geld vir selfmoord: Mens mag nooit so min van jouself dink dat jy op ‘n eiegeregtige manier ‘n einde aan jouself maak nie. Dan ontneem jy jouself die geleentheid om die beeld van God in jou na vore te laat kom. Ons is juis geroepe om gelykvormig te word aan die beeld van Christus (Rom 8:29), want presies so kom die beeld van God tot sy reg in ons. Selfmoord sny egter hierdie volwassewording in Christus voortydig af. Voordat ek nog ‘n kans het om die beeld van God tot volle ontplooiing te laat kom, besluit ek eensydig dat dit nie kan nie, dat God ‘n fout gemaak het in sy beplanning met my. So gesien is selfmoord ‘n mosie van wantroue in God wat aan my die gawe van die lewe gegee het en my na sy beeld geskape het.
  1. Al bogenoemde is onverdund waar, maar ongelukkig leef ons in ‘n onvolmaakte wêreld. Dít is ook ‘n Bybelse waarheid. Die gebrokenheid van hierdie bedeling en die mag van sonde wat ons gevange hou, maak dat ons nie altyd ons volle potensiaal in Christus kan bereik nie. Daarom is daar dinge soos (self)haat, moord en selfmoord. By selfmoord is die groot vraag altyd of daar enige hoop vir die persoon is, want hy of sy het uiteraard nie kans om agterna tot sondebelydenis te kom nie. Hier moet ons egter nie op ‘n benepe en kortsigtige manier dink oor die verhouding met God nie. Ons verhouding met God berus nie op ons verdienste nie, maar op God se genade. Daar is geen sonde so groot dat dit die verhouding met God kan verbreek nie. Net soos kinders verkeerde dinge aanvang maar steeds kinders in die ouerhuis bly, kan die verkeerde dinge wat ons doen – soos selfmoord – ons nie ontneem van ons kindskap van God nie. Daarom hoef agtergeblewe familie en vriende van iemand wat selfmoord gepleeg het, nie met selfpynigende vrae rond te loop oor die ewige lot van die afgestorwe geliefde nie. Ook selfmoord – hoe verkeerd ook al in die oë van die Here – kan nie die liefde en genade van God uitwis nie. Net soos die verlore seun in die gelykenis (Luk 15) steeds die seun van die vader gebly het, selfs het hy in die ver land gekrepeer weens sy eie toedoen, net so bly ons God se kinders ten spyte van ons sonde en verkeerde besluite – ook dié van selfmoord.
  1. Ons moet ook nie oor selfmoord in strak dogmatiese terme dink nie. Die moderne wetenskap wat hierdie verskynsel ondersoek, het al meermale uitgewys dat dit ‘n komplekse verskynsel is en dat daar talle faktore is wat aanleiding kan gee tot iets so radikaal soos selfmoord. Dit gaan nie net oor uiterste wanhoop aan die lewe, weens omstandighede, wat mense by hierdie daad uitbring nie, maar daar kan ook siektetoestande, soos kliniese depressie, ontstaan wat die lewe van ‘n individu so ruïneer dat hy/sy later geen ander uitweg sien as selfmoord nie. In sulke gevalle word dan ook eerder van selfdoding gepraat, eerder as selfmoord, omdat laasgenoemde soveel negatiewe konnotasies oproep. In dieselfde kader moet ook gevalle van naderende lewenseindes genoem word wat so afbrekend kan wees dat mense selfdoding as laaste uitweg kies. Dan het ons eintlik te make met ‘n vorm van genadedood wat jy aan jouself bedien, wat óf self toegedien kan word óf met hulp van iemand anders. Ek wil nie nou oor die meriete hiervan praat nie. Genoeg om te sê dat die debat hieroor nog glad nie afgehandel is nie; dit het nou eers begin. Die debat skipper gewoonlik tussen die teologiese waarheid dat die lewe ‘n kosbare gawe van God is – soos in punte 1 en 2 hierbo beredeneer – en daarom gekoester moet word, enersyds, en die feit dat die lewe nie absoluut is nie, andersyds. Ons hoef daarom nie ten alle koste aan die lewe vas te klou as dit klaarblyklik tot ‘n einde gekom het nie. Die dood is inderdaad ‘n deurgang na groter lewe saam met God. Uiteraard, terwyl ons in die lewe is – selfs al gaan dit met baie lyding en ontberings gepaard – moet ons dit koester en voluit leef. Maar daar kan situasies ontstaan waar selfdoding nie noodwendig met afkeuring bejeën hoef te word nie. In hierdie verband kan ons ons ook troos aan nog ‘n Bybelse waarheid – dat God by uitstek die God van noodlydendes is. As daar een eienskap van God is wat soos ‘n goue draad deur die Bybel loop en wat veral in die aardse bediening van Jesus manifesteer, is dit dat God die randfigure van die samelewing intrek in sy koninkryk van genade, liefde, barmhartigheid en vergifnis. Terwyl die mens geneig is om ander uit die hoogte van selfgemaakte wette te beoordeel en te veroordeel, is dit altyd God wat in erbarming uitreik na hulle wat swaarkry. En as dit waar is – en dit ís waar – kan ons gerus die oordeel aan God oorlaat rakende selfdoding, sonder om laasgenoemde te verheerlik. Om begrip te hê vir mense wat hierdie weg kies, beteken nie dat dit aangeprys en verheerlik word nie. Dis eerder ‘n manier om in liefde betrokke te raak by die lyding van ander en te erken dat daar baie omtrent die lewe (en dood) is wat in misterie gehul is.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




20 Februarie – Die beste vir jou kind is jou goeie voorbeeld . – Jan van der Watt

Mark 9:2-32 (fokus 9:14-29)

‘Die seun se pa sê toe vir Jesus: “Ek vertrou; en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.”’ (9:24)

 

Dit is nogal opvallend hoeveel ouers in die Bybel hulle kinders na Jesus toe vat, soos die man met sy seun waarvan ons hier lees (9:17). Ouers wil die beste vir hulle kinders hê en daarvoor sal hulle gewoonlik berge versit. Dit is wat liefde doen.

Tog het iemand nou die dag gesê: “Dit gee my slapelose nagte om te dink my kind leer die meeste van wat sy weet van my af”. Dit het my diep laat nadink. Watter spore trap ons waarin ons kinders kan volg? Hoe gaan hulle eendag uitdraai as hulle ons voorbeeld getrou volg?

As jou kind siek word, is jy vinnig om hom dokter toe te vat. Maar maak ons hulle nie soms juis op ‘n ander manier ‘siek’ deur ons voorbeeld wat ons stel nie. Is ons ongeduldig of onvriendelik, of selfs die hoë verwagtings wat ons aan hulle stel nie juis die die dinge wat hulle soms tot in hulle siel siek maak nie? Druk ons nie oneerlikheid of ‘n kwaai humeur vir altyd op hulle persoonlikhede af deur ons so kwaai of oneerlik te gedra nie? Immers, jou kind is maar ‘n na-aper van die mense wat vir hom of haar saak maak, en dit is jy.

Wat presies leer jy jou kind, of jy nou die ma of die ouma of oupa is? As ons vir hulle die beste wil hê, sal ons by onsself moet begin. Ons moet vir hulle die beste wees wat ons kan. Ons sal na onsself moet kyk.

Uiteindelik is die beste ding om te doen, wat al daardie ouers jare gelede gedoen het: hulle het hulle kinders na Jesus toe gevat. Sy voorbeeld is altyd ‘n goeie voorbeeld.