11 Februarie – Wees versigtig – jy kan God maklik miskyk. – Jan van der Watt

Mark 3:1-30 (fokus 3:20-30)

‘Sowaar ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.’ (3:28-29)

 

Kan jy nog die Here in die gewone dinge van die lewe raaksien? Dit word al hoe moeiliker. Alles het so verander… die TV vertel vir ons waar en wanneer dit gaan reën. Ons drink pille as ons siek is of gaan hospitaal toe vir spesiale behandeling as ons sukkel om ‘n baba te kry. Geen wonder nie dat party mense vra wat vir God oorgebly het om te doen? Oral in die lewe het ons ons eie raad en planne. Dit is byna of God “werkloos” geword het, of so lyk dit miskien.

Ons kan God maklik in die lewe miskyk. God kan soms selfs reg voor ons staan sonder dat ons Hom raaksien. Kyk maar na die Jode in ons verhaal: hulle het voor Jesus gestaan en sowaar gedink Hy is die duiwel (3:22), so skeef het hulle gekyk. So het hulle God nie alleen werkloos nie, maar ook magteloos in hulle lewens gemaak. Hy kon nie in hulle lewens werk nie, want hulle wou nie erken dat Hy daar is nie. Hulle het Hom nie meer raakgesien nie en het daarom ook nie meer iets van Hom verwag nie.

Hoe kan jy God raaksien en herken as jy nie wil soek of mooi wil kyk nie? Om God raak te sien, beteken om jouself so bietjie “oop te maak”. Jy moet bereid wees om te erken dat Hy dáár is, meer nog, deel van jou lewe is. Jy moet bereid wees om sy voetspore in die gewone dinge rondom jou raak te sien. Die lewe kom nog van God af, al word die baba in ‘n buis gebore… lewe kom tog nog van God af. Hy het die wette van die natuur geskryf  – al het ons geleer om dit te voorspel. En dit is as ons besef dat die Here by ons is, dat ons Hom weer in die dinge rondom ons sal kan raaksien.

Die Here is nog daar in die alledaagse dinge… kyk net mooi.




10 Februarie – Geniet die Sabbat. – Jan van der Watt

Mark 2:13-28 (fokus 2:23-28)

‘Jesus onderstreep toe weer: “God het die sabbat vir mense gegee om te geniet soos God dit bedoel het. Mense moenie allerhande reëls maak om die sabbat ’n belangriker dag te probeer maak as wat dit is nie. Dit gaan in die eerste plek oor mense en nie oor die sabbat nie. Die Seun van die mens het volle seggenskap oor die sabbat.’ (2:27)

 

Moenie die Here se Sabbat steel nie… dit is syne wat Hy vir jou gegee het om te geniet. Moet dit dus ook nie mors nie.

In 2:27 verduidelik Jesus wat Hy bedoel. Dit gaan nie eintlik oor die dag nie, maar oor jou as mens en hoe jy die dag tot eer van die Here geniet. So wou Hy die fout van die Fariseërs regmaak. Hulle het die Sabbat verkeerd verstaan: Hulle het die Sabbat so vol reëls gepomp dat kwalik nog vir ‘n mens ‘n plekkie oorgebly het om te lewe. Hulle het skoon vergeet waaroor die dag eintlik gaan.

Die Sabbat is daar om te lewe; vir God te lewe en dit te geniet ook. Die Here wil jou uit jou alledaagse sloer uithaal en jou weer kans gee om raak te sien hoe lekker dit is om voluit vir Hom te lewe. Hy wil hê jy moet net weer ‘n slag rondom jou kyk na wat Hy alles vir jou gee om te geniet. Daarom is daar  iets van ‘n uitbundigheid, ‘n lewendigheid in die Sabbat.

Die Sabbat wil jou nie in reëls toesluit nie, maar jou vrylaat in God se goedheid en genade. Dit wil jou saam met God laat feesvier en laat geniet wat Hy vir jou gee.

Dit is lekker om eenmaal ‘n week herinner te word aan die genot van die lewe saam met God. Die Sabbat is eintlik die lewe wat wink. Om die waarheid te sê, dit wil jou eintlik leer hoe om elke dag van jou lewe te leef.

Moenie die Sabbat van die Here “steel” deur nie te geniet wat Hy jou gegee het nie.




‘n Nuwe hemel, nuwe aarde, nuwe Jerusalem (Jes 65:17-25) – Francois Malan

Hierdie verse beskryf in ‘n uitgebreide visioen die nuutheid wat die Here gaan gee. Dit skilder die toekoms van die getroue dienaars van die Here wat Hom as die middelpunt van hulle lewe maak, en nie van die rebelle teen die Here se plan  nie. In 65:1-15 het die verdeelheid in die gemeenskap duidelik na vore gekom. In 66:1-2 word weer verwys na die rebelle se plan met die tempel as spilpunt van Israel se lewe, en nie die Here nie. Tussen die twee verwysings na dié wat hulle eie wil wil volg, handel 65:16-25 oor die getroue dienaars van die Here.

65:17  Die gedeelte open met ‘n oproep tot noukeurige aandag vir ‘n belangrike aankondiging:’Want kyk!’ Die Skepper van die hemel en die aarde wat heers oor die wêreldgekiedenis praat nou, en sy besondere aandag is toegespits op Jerusalem. Hy gaan ‘n nuwe bedeling skep teenoor die ou bedeling van moeilikhede en teleurstellings, ‘n nuwe wat wonderbaarlik nuut is en lewe gee, weens ‘n nuwe verhouding tussen Hom en sy volk. Dit het reeds geblyk in Jes 2:1-4; 4:2-6; 9:2-7; 11:1-10). ‘Die vorige sal nie onthou word nie en nie in die hart opkom nie.’

Die 1983-vertaling is waarskynlik verkeerd met ‘aan dié wat daar nou is’ met verwysings na die huidige hemel en aarde waaraan daar nou nie meer gedink sal word nie. Die 1953-vertaling het meer korrek vertaal met ‘die vorige dinge’ wat verwys na vers16 se ‘vorige benoudhede’ (1983 die swaarkry van vroeër), omdat dieselfde Hebreeuse word vir ‘vorige’ in verse 16 en 17gebruik word.

65:18-19a  Die nuwe skepping van die Here is bedoel om geniet te word. Die visie van ‘n nuwe Jerusalem wek onbeperkte vreugde en blydskap sonder maat. Die Here se doel met die nuwe skepping van Jerusalem is dat dit ‘n plek van dankbare jubeling sal wees, en Hy skep Jerusalem se inwoners as ‘n vreugde vir Hom en vir mekaar en vir die wêreld.

65:19b-23 Die digter noem nou die fasette van die nuwe skepping van die Here. Die langtermyn visie van die boek Jesaja is in 1:26b-27 gestel: Dan sal jy weer genoem word Stad van Geregtigheid, Getroue Stad. Sion sal vrygemaak word deur reg en dié in haar wat berou het, deur geregtigheid. Hier word dit in ‘n reeks praktiese sake uiteengesit:

Stabiliteit en orde waarborg ‘n lang lewe – nie meer gehuil of klagtes nie. So lank as wat die stad nog geweld en brutaliteit beoefen en daaronder ly, is geen lewe veilig nie en iemand verseker van ‘n lang rustige lewe nie. ‘n Stad met ‘n standhoudende infrastruktuur waarin jou lewe nie elke dag ‘n waagstuk is nie as gevolg van ‘n ongeordende gemeenskap met swak sorg, waarin babas vroeg sterf van wanvoeding, geweld, en swak gesondheid. Die kwalieit van lewe sal ooreenstem met die gawes van die genadige Gewer, wat vir almal wil sorg deur almal se onderlinge sorg.

Ook ekonomiese stabiliteit (21-22) met genoeg staatsorde dat mense nie hoef te vrees vir die vrug op hulle arbeid nie, soos reeds in 62:8-9 gestel is.  Dit het gebeur met die strooptogte deur die invallers, of soos die rykes wat vir hulleself gevat het en die armes beroof of nie raakgesien of versorg het nie, soos Amos 5:10-12 hulle aangekla het.

Sonder rampe, klagtes en geween, so lyk ‘n samelewing wat deur die Here geseën word.

65:24 brei uit op  65:1 wat ‘n egte diens aan die Here veronderstel waarin Hy sorg nog voordat Hy gevra word deur sy kinders en hulle Hom vind nog voor hulle Hom gesoek het. Die Here sal direk en onmiddellik beskikbaar wees en aandag aan die stad gee. Bo die ekonomiese stabiliteit is die basiese verhouding met die Here die deurslaggewende faktor. Die werk van die stad is om in gemeenskap met die Here se heiligheid te lewe. Hy het gesê: Hier is Ek! (v1), maar Israel het sy rug op Hom gedraai. Maar met die nuwe skepping van die mense (vgl. Jer 31:31) is lewe in gemeenskap met die Here weer moontlik, vgl Ef 2:18: deur Christus het Jode en nie-Jode toegang tot die Vader deur een Gees; Ef 3:12 in Christus Jesus het ons deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God; vgl. Hebr 4:16.

65:25 brei uit op die tweede motief in 65:17. Die nuwe aarde wat die Here skep is nie tot  Jerusalem beperk nie, maar is ‘n nuwe skepping wat verbind is aan die nuwe Dawid van hoofstuk 11, wat die mees elementêre vyandighede  in die skepping sal oorwin en al die ou vyandighede onder mense tot niet maak. Die wolf en die leeu en die slang sal nie meer skade aanrig nie en hulle sal nie meer vernietig op al die berge van die Here se heiligheid nie, waar die Here se teenwoordigheid, sy vrede en vreugde geniet kan word. Dat die slang egter stof sal eet, herinner aan sy straf in Genesis 3:14 en bind die visie van die nuwe hemel en die nuwe aarde nie slegs aan die ewige lewe in die hemel nie, maar ook aan die huidige lewe vir Israel. Die Here begeer ‘n nuwe soort Jerusalem vir Israel ná die ballingskap, ‘n stad en land waar reg en geregtigheid en barmhartigheid sal lei na vrede. Vir gelowiges ná die koms van die Christus uit die stam van Dawid  (Joh 7:42; Hand 13:23; Rom 1:3) beteken so ‘n nuwe soort lewe groter vreugde oor sy verlossing en die inwoning van God in en onder gelowiges om hulle te lei en te bewaar teen die aanslae van die Bose en teen hulle eie hardkoppige wil. Hulle sien ook uit na die nuwe hemel en die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem met die troon van God en die Lam in die stad, waar sy dienaars Hom tot in ewigheid sal dien en Hom sal sien (Openbaring 21-22, wat uitbrei op Jesaja 65 se visioen).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




9 Februarie – Maak die regte keuses. – Jan van der Watt

Mark 1:29-2:12 (fokus 2:1-12)

 Jesus vra hulle toe: “Wat is die maklikste om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sonde’ of ‘Vat jou matras en loop?’ Om dit egter te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen’ (2:7)

 

Slim mense sê dat ‘n mens se brein vol ‘voetpaadjies’ is. Sê nou jy het ‘n probleem en jy  moet oor iets besluit. Jou brein loop dan ‘n ‘pad’ om daai besluit te neem. As jy weer voor so ’n probleem kom, vat jou brein sommer dieselfde pad, want hy voel hy ken mos die pad. As jou brein dus ‘n paar maal op dieselfde pad loop as iets met jou gebeur, word dit ‘n gewoonte – dan word dit soos ‘n voetpaadjie in jou brein. Jou brein word gewoond dat as daardie vraag of probleem opduik, is daardie die pad (keuse) om te loop. Ja, as dieselfde ding weer met jou gebeur dink jy eintlik nie eers meer mooi nie… jy vat sommer die gewone uitgetrapte voetpad. So vorm gewoontes. En dit is nie altyd so maklik om daardie voetpad te laat toegroei nie.

Sondige gewoontes werk net so. Om ‘n ou klein witleuntjie te vertel, lyk nie gevaarlik nie en dit werk miskien goed om my uit ‘n moeilike situasie te kry. Volgende keer gaan dit makliker en uiteindelik gebeur dit sommer outomaties dat ek in moeilike situasies leuns in alle rigtings vertel. Jy doen dit later sonder om eers mooi na te dink oor waarmee jy besig is… die voetpad lê daar!

Om onsself te help, moet ons dink voor ons doen; moet ons die mag van slegte gewoontes breek. Jy moet die verkeerde voetpaadjies laat toegroei en nuwe, ja, regte voetpaadjies uittrap. Jy moenie dink jy gaan die sonde uitoorlê as jy daai verkeerde voetpaadjies net so los nie. Jou voete sal maar altyd daai pad wil vat. Hulle gaan uiteindelik dongas word waaruit jy nie sal kan kom nie. Maak hulle betyds toe…

Jesus kan jou nogal help om nuwe paadjies uit te trap. Volg net die aanwysings wat Hy vir jou lewe gee.