Kom terug Here (vervolg) (64:8-12)- Francois Malan

64:8 ‘Maar nou, Here, U is ons Vader! Ons is die (rooi) klei en U is besig om ons te vorm; ons is almal die werk van U hand (die Dooie See Manuskripte lees: hande).’

Alles wat gesê is oor wat hulle is en wat hulle gedoen het, word deur die digter agtergelaat, as dinge wat nie van belang is nie, en hy beweeg na die nóú, die huidige tyd, van Israel se nood. Wat nou tel is niks van ons nie; al wat tel kom nou alles van die Here af, van sy oorspronklike verhouding en basiese verbindtenis sedert Abraham, wat nie deur omstandighede bepaal word nie, of deur hulle reaksie daarop beïnvloed word nie. Afgesien van alles wat tot nou toe gesê is, is God ons Vader en ons Pottebakker/Formeerder, wat daarom die hele verantwoordelikheid vir Israel het, en Israel is totaal afhanklik en gevorm deur die Here se initiatief (sy hand). So bid Israel nou met die woorde van die Here self in 45:9-1, dat Hy hulle Vader, Formeerder en Maker (die werk van U hand) is. Dit is die grond waarop die volgende smeekgebed berus:

64:9 Die drie dele van die smeekgebed word telkens met imperatiewe ingelei, twee negatief en een positief: ‘Here, moet tog nie vir altyd  toornig wees nie, en nie vir ewig ons sonde onthou nie. Kyk! Sien ons tog as U volk, ons almal’.

Die profeet pleit om vergifnis vir hulle sonde en Hy vertrou op die Here se verbondenheid aan die volk, as sy volk wat Hy uitgekies (Abraham)  en gevorm het (deur sy woord en sy straf). Die digter maak aanspraak op die Here se liefde, die liefde van ‘n Vader (64:8) wat deur sy liefde vir sy kinders hulle oortredings vergewe (vgl. Luk 15:24), op sy verbond (hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees), en op sy verbondsbeloftes soos o.a. tydens die ballingskap oorgedra is deur Jeremia 31:31,34; 32:38; en Esegiël 16:59-63).

64:10-11 Die twee verse beskryf, met tipiese digterlike oordrywings, die ellende van Israel om die Here se simpatie te wek om Hom te oortuig om in te gryp. ‘Die stede van U heiligheid – Israel se stede waaraan die Here toegewy is – het ‘n wildernis geword, Sion (die ou stad van Dawid, 2 Sam 5:7 en later ook die tempelplein) het ‘n wildernis geword, Jerusalem (die uitgebreide Sion) ‘n verlate plek.’

‘Ons heilige en pragtige Huis (die tempel van Salomo) waar ons vaders U geloof het, is deur vuur verteer; en al ons kosbaarhede (magemadim) het ‘n ruïne/verlate plek (garebbah) geword.’

64:12  Die smeekgebed sluit met ‘n geloofsvraag: ‘In die lig van hierdie dinge (die ellende waarin hulle tans verkeer, en die lang geskiedenis van die Here se reddingsdade, en dat Hy hulle as sy kinders uitgekies en gevorm het) sal U, Here, U inhou/beheer, sal U stilbly en ons so erg verdruk?

Die vraag is of die Here weer, soos lank gelede, gaan ingryp. Sal die gebed die Here beweeg om op te tree soos hulle vra? Die boek Klaagliedere eindig met dieselfde vraag (Klaag 5:20-21). Voor sy hemelvaart het die dissipels ook vir Jesus gevra: Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk vir Israel gaan oprig? (Hand 1:6). Maar in plaas van ‘n koninkryk vir Israel, het Jesus hulle ‘n ander opdrag en toerusting gegee: om, met die Heilige Gees toegerus, sy getuies te wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand 1:8). Dit was ook die Here se doel met Israel ná die ballingskap, maar hulle wou ‘n koninkryk net vir Israel self hê (vgl. die drie maal wat die Heilige Gees in hoofstuk 63:10,11,14 genoem word, al het Israel die Gees nog nie as ‘n Persoon in die Drie-eenheid geken nie, maar aan die Here self gedink het, vir wie hulle bedroef het, wat onder hulle was en hulle gelei het). Met die teenwoordigheid van die Heilige Gees van God by hulle, wil die Here dat hulle sy getuies voor die wêreld moet wees, ‘n lig vir die nasies, waarheen die nasies sal stroom (Jes 42:6; 49:6; 52:10,15;  60:3).

Maar die gebed is tog merkwaardig met sy teensprake wat ‘n kenmerk is van geloof. Israel moet so bid omdat daar geen alternatief is as om na terug te draai as na die Here toe nie. Hy is die fondament van Israel se toekoms, van hulle hoop, sonder versekering of waarborg dat die Here sal doen wat hulle vra.

Die hymne in 63:1-6 is seker van die Here se dag van wraak. Maar in die tussentyd is dinge deurmekaar en benodig voortdurende gebed. Die geskiedenis van die Here se genadige dade is die agtergrond van hulle vertroue op God (vgl. Jesus se gelykenis in Luk 18:1-8 om te verduidelik dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word; soos die weduwee se herhaaldelike versoeke aan die onregverdige regter). Dit is die God wat aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg sal doen en hulle gou sal help – nie soos ons wil nie, maar soos Hy wil. Gebed is die praktyk van geloof wat steeds moed hou. Dit is ons vertroue op God op wie ons in die Onse Vader ons lewe oorgee aan sy inisiatief, sorg en leiding tot sy eer.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




6 Februarie – Wie se kind is jy?. – Jan van der Watt

Mat 27:11-56 (fokus 27:11-26)

‘Pilatus vra: “Wat moet ek dan met Jesus, wat Christus genoem word, doen?” “Kruis toe met Hom!” skreeu die skare soos een man. Pilatus vra: “Vir wat is julle so kwaad vir hom? Wat het hy dan gedoen om dit te verdien?”’ (27:22)

 

“Abba” beteken pa in Aramees en “bar” seun van…. “Barabbas” se naam beteken dus “seun van pa” of “pa se seun” (27:26). Interessant genoeg, is Jesus ook “barAbbas”, want Hy is die Seun van die Vader (“Abba”). Dit is die ironie van die lewe. Die een pa se seun is vrygelaat en die ander Pa se Seun is doodgemaak. Barabbas het nog ‘n kans gekry… omdat die ander Pa se Seun bereid was om te sterf.

Dit is eintlik waaroor die bekende verhaal van Jesus gaan. Hy het mense wat dit eintlik nie verdien nie, nog ‘n kans kom gee; nog ‘n kans om te leef, maar hierdie keer saam met God.

Nou wonder ek net wat Barabbas met hierdie tweede kans gedoen het? Iemand het ‘n storieboek daaroor geskryf – in die boek het Barabbas sy lewe vir die Jesus teruggegee; nie deur te sterf nie, maar deur te lewe, nuut te lewe, vir Jesus te lewe…

Of dit regtig so was weet ons natuurlik nie, maar dit is tog lekker om te dink dat dit dalk so kon gewees het. Dan sou Barabbas eintlik vir ons almal ‘n voorganger wees – die eerste een wie se lewe deur dood, Jesus se dood, verander is. Ja, so word ‘n sondaar ‘n kind van die hemelse Vader… barAbbas en nie Barabbas nie.

Hoe spel jy jou naam – barAbbas of Barabbas?




Kom terug Here (vervolg) (Jesaja 64:1-7) – Francois Malan

Die Hebreeuse teks eindig hoofstuk 63 met vers 19a en begin 64:1 met 63:19b. Die Griekse vertaling, gevolg deur die tradisionele vertalings, begin egter hoofstuk 64:1 met die Hebreeuse 63:19b, en het daarom 12 verse in hoofstuk 64, teenoor die Hebreeuse 11 verse.

64:1-3 ‘O, as U maar die hemele sou oopskeur en afkom!  Voor U aangesig (teenwoordigheid) sal berge bewe/skud’ (Griekse vertaling: hulle sal wegsmelt; Latynse vertaling: wegvloei).

Die Here word gevra om die skeiding tusen die hemel, waar die Here is, en die aarde (waar Jerusalem is) oop te skeur om in hulle noodsituasie af te daal. In 63:15 is slegs gevra dat Hy sal afkyk na hulle omstandighede. Hier word gevra dat die Here sal ingryp soos by Sinai (Gen 19:18).

64:2 ‘Soos vuur’n ruigte kreupelhout aan die brand steek en water borrel/kook deur vuur – om U Naam bekend te maak aan U teenstanders/vyande (hulle is aan die brand), deur U gesig/teenwoordigheid bewe/skud die nasies’ (soos water wat borrel as dit kook).

Die Here word gevra om af te kom vir ‘n sigbare vertoning van ontsaglike krag wat die Here se vyande sal beïndruk en so ruimte te maak vir Israel om in te lewe. Vuur is hier ‘n metafoor vir God se direkte ingryping. Vuur laat dinge gebeur: bosse brand en water kook – so was die brandende braambos ‘n teken van die Here se teenwoordigheid (Eks 3:2); so het die Here swael en vuur op Sodom en Gomorra laat reën (Gen 19:24); vuur gestuur om die 250 Israelitiese leiers wat teen Moses en Aäron in opstand gekom het, te verteer (Num 16:35). Dawid sê, toe hy in die nood was het die Here so opgetree (Ps 18:8; vgl. Nahum 1:5; Hab 3:6). Die berge is ook simbole vir die farao en vir die versterkte stede in Palestina waarvan die mure geval het. Israel vra dat die Here met geweld die nasies sal skud sodat Israel die Here se getuies sal word deur sy magtige dade (soos met uittog uit Egipte). Die nasionaliste in Israel wou politieke mag verkry deur die Here se magtige optrede teen die nasies. Die Here wil egter hê dat mense uit die nasies in sy tempel kom aanbid, aangetrek deur Israel se regverdige lewe in vrede (2:2; 11:10; 42:1,6; 51:4;  55:5;  60:3; 61:9,11; 66:18).

64:3 ‘Toe U vreeswekkende dade gedoen het, wat ons nie verwag het nie, het U afgekom en die berge het gebewe voor U aangesig.’ Die digter beroep hom op die ou tradisie dat die Here hardhandig optree teen sy vyande – waarom nie nou weer in hulle noodsituasie nie?

64:4 Van die ou tyd af het niemand gehoor of geluister of met die oog gesien wat ‘n god buiten U kon doen vir dié een wat op U wag nie – by implikasie nie vir die ongeduldige aktivis, wat nie geduldig op die Here vertrou nie. Die digvers is ‘n tussenspel wat die Here se onvergelykbaarheid besing, soos Eks 15:11 in Moses se loflied ná Israel se verlossing uit Egipte. ‘n Terugblik uit vers 4 na verse 1-3, sien die Here se onvergelykbaarheid in sy ongeëwenaarde krag en vermoë om teenstanders van die Here te intimideer. In die volgende verse word die Here se onvergelykbaarheid baie anders gestel.

64:5 ‘U ontmoet/aanvaar dié een wat hom verbly en reg doen deur U te onthou in U optrede; Kyk! U, U het in die ou tyd toornig geword wanneer ons sonde doen en daardeur skuld bring oor die volk, maar ons kon tog nog (deur U) verlos word’ (1983 maak daarvan ‘n vraag wat twyfel of dit nog kan). Die Here vra van hulle: blydskap, reg, en ‘n lewe volgens sy wil. Die mense wat gesondig het kon nog vergewe word, soos ná die goue kalf, Eks 34:4-14 (1983 se vraag impliseer dat hulle nie meer vergewe kon word nie).

64:6 Die toon van die gedig verander en erken dat die huidige ellende waarin hulle verkeer, verdiende ellende is. Almal in Israel is ritueel onrein – onbevoeg om in die teenwoordigheid van die Here te kom; al hulle geregtighede/goeie werke is soos vuil klere – met verborge selfsugtige motiewe. ‘Ons verdroog soos ‘n blaar, ons almal, en ons oortredings/sonde (of skuld weens die sonde) waai ons weg soos die wind blare wegwaai. Gedryf deur hulle sonde is Israel van geen waarde nie, en daarom is dit te verstane dat Israel se ganse bestaan op die spel is.

64:7 Die belydenis bereik sy toppunt in die erkenning van hulle totale mislukking, en dat die Here goeie rede het om Homself vir hulle te verberg, en nie vir hulle beskikbaar is nie. Daar is niemand wat die Here aanroep nie (parallel met 63:19b soos diegene oor wie die Naam van die Here nie uitgeroep is nie), niemand wat homself opwek om aan U vas te hou nie, want U het U gesig vir ons verberg en ons laat wegsmelt – oorgegee aan die vernietigende hand (krag) van ons oortredings – deur die mag van hulle sonde is hulle weggesleur van die Here af. Die verbinding tussen die Here en Israel is tot niet. Dit is die logiese uitkoms van die erkenning, maar die gebed eindig met ‘n geloofsbelydenis in 64:8-12.

Skrywer:  Prof Francois Malan




5 Februarie – Eerlikheid maak ʼn verskil. – Jan van der Watt

Mat 26:57-27:10 (fokus 26:57-68 )

‘Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.”’ (26:65)

 

Jesus het geweet wat oneerlikheid is. Hy het dit self aan sy lyf gevoel – dit is basies oneerlikheid wat Hom kruis toe gestuur het. Een van sy dissipels het hom verraai en om Hom te kon kruisig moes mense allerhande valse stories oor Hom vertel. Een van sy beste vriende het selfs op ‘n punt gelieg en gesê Hy ken Jesus nie. Ons dink dikwels nie daaraan nie, maar dit moes Hom baie en diep seergemaak het. Wys jou net, toe Jesus dit die nodigste gehad het, was niemand eerlik genoeg om Hom te help nie.

Mense het sedertdien nog nie verander nie. Daar is vandag nog net soveel oneerlikheid en agterbaksheid as destyds – en dit sommer so tussen ons. Dit kom jy gewoonlik agter as iets gebeur waar jy ander se eerlikheid die nodigste het. Om dan agter te kom mense is nie wat hulle voorgee om te wees nie, maak die seerste.

Oneerlikheid moet Christene nie moedeloos maak nie – dit is deel van hierdie lewe, in alle geval solank sonde sy sin kry. Maar juis dit moet jou as Christen aanmoedig om n verskil te maak. Dit moet jou aanmoedig om met meer oortuiging ‘Christen’ in die wêreld te wees. Dink net daaraar: Wie gaan vir die wêreld wys hoe eerlikheid en opregtheid lyk as jy as Christen dit nie gaan doen nie? Immers, eerlikheid vra dikwels om teen jouself te kies, om keuses so te maak dat regverdigheid seëvier, al kos dit jou baie. En Jesus het Christene geleer om dit te kan doen.

Christene moet die reddingsboeie wees vir ‘n samelewing wat in die oseaan van oneerlikheid wegsink. Eerlikheid kan ‘n verskil maak… so kan Christene.