4 Februarie – God het jou lief, ten spyte van alles. – Jan van der Watt

Mat 26:17-56 (fokus 26:31-46)

My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!’ (26:42)

 

Het God regtig Jesus liefgehad? Wie kan ooit daaraan twyfel? Eintlik behoort ‘n mens nie eers so vraag te vra nie. Die Bybel sê op hoeveel plekke dat God Jesus liefgehad het. Maar as ‘n mens na party mense luister kon God Jesus onmoontlik liefgehad het. Hulle sê mos dat as God jou liefhet moet dit net altyd goed met jou gaan. As dit sleg gaan, het God jou skielik nie meer lief nie of het Hy dalk van jou vergeet. Niks is verder van die waarheid af nie. As dit waar sou wees, het God beslis nie vir Jesus liefgehad nie.

Dit het maar swaar met Jesus ook gegaan. Jesus het ook maar in die tuin van Getsemane geworstel en druppels soos bloed gesweet (26:38-39). Hy het ook onder die kruis oppad Golgota toe geswig en aan die kruis van eensaamheid na God geroep. Dit het Hom egter nie in opstand teen God laat kom nie – nee, dit het Hom net dieper in die arms van God ingedryf met die woorde: “Nie My wil nie, maar U wil”. Hy het nie een oomblik aan God se liefde getwyfel nie. Dit was sy geheim. Hy het geweet: al gaan dit swaar, God is steeds daar!

Dit is nie God se werk om net te sorg dat alles altyd vir jou reg loop nie. God sorg egter wel dat as iets verkeerd loop, ‘n mens genoeg krag het om dit wat die lewe vir jou uitdeel, te kan hanteer. Dit was met Jesus so en is so met jou ook.

Dit gaan dus nie oor wat gebeur nie, maar hoe jy dit hanteer. Wat doen jy gewoonlik? Kyk jy na die “gebeur” of die “hanteer”?




3 Februarie – Jy kannie geloof of ongeloof wegsteek nie. – Jan van der Watt

Mat 25:31-46 (fokus 25:31-46)

Al hierdie mense wat so verkeerd lewe, sal gestraf word. En die hel sal nie speletjies wees nie en vir altyd duur. Maar die mense wat reg lewe, sal vir ewig saam met God leef!(25:46)

 

Die lewe is vol verrassings en een daarvan is die manier waarop Matteus vir ons hier vertel hoe die finale oordeel gaan plaasvind (25:31-46). Ons hoor gereeld in die kerk dat as ons glo, is ons saak reg. Maar die verrassing is dat die Here by die oordeel skynbaar nie na geloof gaan kyk nie. Hy kyk eerder na wat die mense gedoen het – of hulle water vir dors mense uitgedeel het of vir mense in die tronk gaan kuier het, en sulke dinge. En die mense wat sulke dinge gedoen het, is Syne.

Is ons nou verkeerd met ons klem op geloof? Beteken dit nou dat die Here mense op grond van hulle dade red? Ja en nee.

  • Ja, omdat dade nie lieg nie. Dit wys wat binne in jou aangaan – wat jou hart van vol is, loop jou dade van oor.
  • Nee, juis omdat die dade maar net ‘n teken is van wat in jou hart aangaan.en dus wys wie jy is… wys of jy glo of nie, wys of jy die Here regtig liefhet en Hom wil gehoorsaam wees of nie. Uit jou dade kan jy aflees of jy glo of nie.

Dade is tekens van iets dieper – van ‘n dieper geloof, of dalk ongeloof. As die Here daarom vra of iemand glo, kyk hy na sy dade, want daar kan jy dit die duidelikste sien. Dade lieg nie en daarom praat geloof die hardste deur dade.

Geloof kan nie weggesteek word nie. Ongeloof ook nie. Dit word aan jou dade gesien.

Die groot vraag is: hoe gaan dit met jou geloof? Wat sê jou dade?




Kom terug en kom af Here (63:15-19) – Francois Malan

Ná die fokus op die Here se goedheid in die verlede en ‘n kort erkenning van hulle opstand teen God (v10), begin die klag nou in alle erns. Die gedig van 63:15 tot 64:12 vleg verskillende temas in die gedig in, van klagtes, versoeke, belydenis van sonde en van vertroue op die Here. Die doel van al die temas in hierdie aanhoudende gebed is om die Here te beweeg om reddend op te tree volgens Israel se huidige nood, volgens die Here se eie karakter, en die Here se toewyding aan Israel in die verlede.

63:15  Kyk uit die hemel en sien, vanuit U heilige heerskappy en U heerlikheid; waar is U jaloesie en U oorheersing, die beroering van U binneste en U liefde/medelye? Hulle (die eienskappe van U) het hulleself van my weerhou.

Die gebed begin met ‘n direkte versoek wat aanvaar dat die Here ver is, in die hemel, maar dat Hy oortuig kan word om af kyk na die aarde, na Israel se nood en behoefte. En as Hy kyk en alles raaksien, sal Hy daarvolgens handel, soos in die tyd van Moses (Eks 2:23-25), met sy ywer en mag, sy diep verbondenheid aan en ontferming oor Israel soos in verse 9, 11-14 uitgespel is.

Die tweede helfte van die vers probeer om die Here tot aksie te beweeg en bevat ‘n verwyt teen die Here. Die ‘waar’ is ‘n eggo van vers 11 wat vra waarom die Here nog nie ingegryp het nie. Dit veronderstel dat die Here se ywer vir en ontferming oor sy volk vertroubaar behoort te wees en teen hierdie tyd ook sigbaar. Die rede waarom, word in vers 16 gegee.

63:16 Want U is ons Vader. Want Abraham ken ons nie en Israel herken ons nie. U Here is ons Vader, van die ou tyd af is U naam ‘ons Losser.’ Die rede wat aangegee word vir die smeekgebed en verwyt van vers 15 word hiermee uitgespel. Hulle herinner die Here aan die intieme en blywende verbintenis tussen die Hom en Israel. In v8 is Israel van ouds af  sy kinders genoem. Klem word gelê op die feit dat Israel aan die Here behoort, dat hulle van die Here afhanklik is as sy kinders, en dat die Here op ‘n onvervreembare manier verantwoordelik is vir die welwese van Israel (vgl. Eks 4:22; Jes 1:2; en Jer 31:20). Abraham en Israel/Jakob ken nie die omstandighede van hulle nageslag nie, en hulle is net mense wat lankal dood is (1200 jaar gelede), maar die Here (‘Die Ek is’, die persoonlik aktiewe teenwoordige) is die lewende God. Israel het geen ander Helper nie en Hy word gevra om as hulle Bewaarder en Beskermer op te tree.

63:17 Soos ‘waar’ in v15,  is ‘waarom’ ‘n tipiese vraag van ‘n klaer. Die vers keer terug na die verwyt in 15b. Daar het iets verkeerd geloop wat Israel nie verstaan nie en nie wil aanvaar nie. Die Here kry selfs die skuld vir Israel se afdwaling van sy pad af en dat Hy hulle harte laat verhard het teen hulle vrees en ontsag vir die Here  (vgl. 6:9-10; want hulle het in opstand teen Hom gekom, 1:2,20). Hierdie tweede verwyt dring by die Here aan om Hom te bekeer en te verander van ‘n Vader wat hulle verwaarloos na ‘n Vader vol ontferming. Israel se toekoms hang af van die Here se veranderde houding teenoor hulle, wat nou as sy dienaars voor Hom staan; hulle is die stamme van sy besitting. Die pleit om ‘n omkeer in die Here word in verse 18-19 verder verduidelik.

63:18 ‘n Moeilike teks wat op verskillende maniere verklaar en vertaal word. Vir ‘n klein (tydjie of vir ‘n nietigheid) was U heilige volk onderwerp (deur ander in besit geneem). Hulle wat ons toegedraai het, het U heiligdom ontheilig. Deurdat die Here se volk (sy besitting 43:1)  en sy heiligdom (wat aan sy diens gewy is) onderwerp is en ontheilig (ongeskik vir sy diens) is, is die Naam van die Here oneer aangedoen. So kan dit nie aangaan nie. Die Here moet nou ingryp om sy eer onder die volke en in sy eie volk te herstel.

63:19 Die klagtes kom daarop neer dat die Here nalatig was. En as die Here nalatig is, neem die kragte van chaos en vernietiging (Israel se vyande) oor. Israel is hopeloos wanneer die Here nie op hulle let en aandag skenk nie. Die Here moet verander en weer aan hulle aandag skenk want hulle nood is ernstig. Die Here se verantwoordelikheid teenoor sy uitverkore volk is groot.

63:19b Daarom sluit die Hebreeuse hoofstuk met dieselfde gedagte as vers 15, maar nie as ‘n opdrag aan die Here nie, maar wel as ‘n versugting, wat in die Griekse vertaling die eerste vers is van hoofstuk 64.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




2 Februarie – Wees gereed!. – Jan van der Watt

Mat 25:1-30 (fokus 25:1-13)

Julle moet nou nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie. Wees altyd gereed vir die koms van die Here! Hierdie waarskuwing is belangrik, omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.’ (25:13)

Het dit jou nie ook dalk gepla nie… die ding met die arme meisies wat so graag die troue wou bywoon en nie toegelaat is nie? Dit alles net omdat hulle olie opgeraak het en hulle wou goed doen – hulle het nog olie gaan haal om nie met dooie lampies die bruidegom te ontmoet nie (25:11-12). Kon die bruidegom nie maar net die sleutel gedraai en die deur oopgemaak het nie? Wat sou dit hom gekos het?

Maar tog moet ‘n mens besef hierdie storie nie oor die bruidegom gaan nie, maar oor die meisies, ja eintlik oor ons. Die meisies het geweet die bruidegom kom, maar het nie moeite gedoen om gereed te wees nie. Hulle het gedink ander dinge is belangriker as om hulle lampies vol te maak. Toe was hulle nie reg toe hulle reg moes wees nie. Dit is die fatale fout wat hulle gemaak het. En die fout kom met ‘n  ongenadiglike harde boodskap – die Here kom net een maal en as Hy kom moet jy reg wees, anders mis jy Hom. En ons ken nie sy tydtafel nie. Hy kan enige tyd kom en wag nie tot jy eendag reg is nie. As jy nie reg is nie stap Hy verby en is dit dalk vir jou neusie verby.

Watter opsies is daar dus vir jou? Net een: wees gereed! Anders is dit dalk te laat.