U, Here, is tog ons Vader (Jesaja 63:7-14) – Francois Malan

Die oorwinningslied in 63:1-6 straal Israel se vertroue in die Here uit, dat Hy sy volk gaan verlos. Maar hier word dit skielik afgebreek met ‘n klaaglied waarin Israel hulle huidige ellendige toestand bekla en dit ten spyte van die Here se beloftes. Hier word gefokus op die geweldige verskil tussen geloof en omstandighede. Die hoë verwagtings van Israel op grond van die beloftes van die Here het nog nie wonderlik uitgewerk nie, en vandaar hierdie klagtes en versoeke.

63:7-14 Hulle onthou die Goeie Ou Dae.

Die huidige ellende is hulle klagte teen God en hulle gebed om verlossing deur Hom word gestel teen die agtergrond van die Here se genade in die verlede, wat die bron van Israel se lewe was. Israel se ryke verlede stel die kontras tussen die genadige regering van die Here in die verlede en Israel se huidige akute nood.

63:7 Die troue liefdesdade (chasedim getroue bewyse van lojaliteit en solidariteit) van die Here sal ek in herinnering roep (deur dit te verkondig): sy roemryke dade, die rykdom van sy goedheid, wat Hy bewys het volgens sy barmhartighede, en die oorvloed van sy troue liefdesdade (chasedim) aan die begin en einde omsluit die lys – dit gaan alles oor die Here se trou aan sy verbond met die huis van Israel, sy buitengewone gee van Homself aan ons, soos die eerste en laaste woord van die teks sê, aan die nageslag van die man wat 1200 jaar tevore  teen  God en teen mense  ‘n stryd gevoer het en dit end-uit volgehou het (Gen 32:28). Israel word hierdeur aangespreek om dit alles te onthou – onthou speel ‘n belangrike rol in hierdie gedig (vgl. Jesus se woorde by die instelling van die nagmaal wat bedoel is dat ons sy kruisdood vir ons 2000 jaar gelede, sal onthou, Luk 22:19).

63:8 Die Here het Hom aan hulle verbind en ‘n goeie reaksie van hulle verwag. Húlle is immers sy volk, kinders wat nie sal lieg nie/nie vals sal optree nie, en Hy het vir hulle ‘n Verlosser geword. ‘n Verbond word gebou op wedersydse vertroue. Die Here was getrou aan sy verbond (v1) en het verwag dat Israel nie ontrou daaraan sal word nie, maar ‘te lewe volgens my verbond’ (Jes 56:4,6). Sy verbond is juis: Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees (Gen 17:7-8; Jer 31:33; Eseg 26:28).

63:9 Hy was nie vir hulle ‘n vyand nie, Hy self was die engel wat hulle gered het (letterlik: en die engel van sy  gesig/teenwoordigheid; die Septuaginta lees: dit was geen boodskapper/engel, maar sy teenwoordigheid wat hulle gered het, soos in Eks 32:34; 33:14-16 beskryf ). Die Here se sorg word beskryf met vier woorde:  red, verlos, optel, dra, en dit met sy teenwoordigheid, liefde en ontferming deur al die jare. Sy uitredding was nie eenmalig nie, maar ‘n daaglikse optel en dra van hulle, uit liefde vir hulle.

63:10 ‘Die engel van sy gesig’ en ‘heilige Gees’ is terme vir die Here se teenwoordigheid en die agente van leiding, verlossing, redding en van die Here se goedheid, wat Israel teengestaan het, waarteen hulle gerebelleer het met  hulle verharde harte (vgl. Jes 1:2 hulle het teen My in opstand gekom; 30:1 rebelse mense; 30:9 ‘n weerbarstige volk; 65:2 en 66:3 ‘n opstandige volk wat hulle eie kop gevolg het);

Hulle het die Here se Heilige Gees bedroef, vir die Here as Persoon  (vgl. Hand 7:51; in Mark 3:5 was Jesus diep bedroef oor die Fariseërs se verhardheid wat nie ‘n man se gebreklike hand wil laat genees op die Sabbat nie; Ef 4:30 waarsku: moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag; maar in die Ou Testament was daar nog nie kennis van die Drie-eenheid wat Jesus aan ons kom openbaar het nie).

Die vers laat die terugblik op die genadedade van die Here in die verlede uitmekaar spat. Israel se optrede gaan lynreg in teen die Here se goedheid. Van die begin af het Israel dit moeilik, onmoontlik? gevind om hulle lewe aan die heerskappy van die Here toe te vertrou. Daarom het die Here teen hulle gedraai, hulle vyand geword, wat teen hulle veg. Die Here se persoonlike betrokkenheid by Israel is positief in sy leiding, en negatief in sy oordeel.

64:11-14 Toe dit met hulle sleg gaan ná hulle terugkeer uit die ballingskap, toe onthou sy volk (Israel) die ou dae van Moses (letterlik: en hy het onthou dae van die oudheid Moses sy volk – is dit die Here wat die ou tyd van Moses onthou het of die volk?) –  en deur die eeue het Israel met twyfelvrae oor die Here gereageer op slegte tye:  Waar is Hy wat hulle deur die see gebring het, herder en sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in sy (Moses of Israel se?) midde geplaas het?

12 Wat met die regterhand van Moses sy arm/krag verheerlik het, die waters voor hulle gesigte gekloof het om vir Hom ‘n ewige Naam te maak…. (Eks 14:16,21,31)  en v13 deur hulle woestynreis, v14 en intog in Kanaän.

As dit sleg gaan met Israel onthou hulle tog wat die Here vir hulle in die verlede gedoen het. Maar die vraag lui: waar is Hy? Dit is ‘n vraag na die betroubaarheid van die Here. Dit laat hulle terugdink en aan Hom dink. Maar hulle het geen idee nie, dat dit juis húlle verset teen sy wil en leiding is wat die Here van hulle vervreem, en ‘n onderbreking bring in die seën van die Here oor hulle. Daarom is die lys van sy dade in die verlede ook die aanklag teen die Here: Waar is Hy nou as Hy nodig is?

In verse 10-14 word driemaal verwys na die Gees van die Here, as die mag wat die bestaan van Israel dra en inspireer. En nou is daardie krag nie aan die werk in hulle lewe as ‘n volk soos in die verlede nie. En daarom is

daar ‘n krisis.

Twee maal word ook daarna verwys dat die Here se reddingsdade met die uittog uit Egipte en die deurtog deur die woestyn vir die Here ‘n Naam gemaak het in Israel en onder die volke, en nou word die roem van die Here deur hulle en die volke betwyfel met hulle vraag ‘waar is Hy.’ Daarmee wil hulle Hom oorhaal om hulle weer te lei en te red (soos Moses gedoen het na die goue kalf-episode,  Eks 33:2-3; 15-16.

14b word ‘n gebed waar die Here self aangespreek word: so het U u volk gelei…

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




1 Februarie – Die Here kom weer!. – Jan van der Watt

Mat 24:29-51 (fokus 24:37-44)

Dit is nie presies seker wanneer die Seun gaan kom nie, maar wanneer dit gebeur, moet julle reg wees.’ (24:44)

 

Die vroeë Christene het mekaar soms gegroet met ‘n Aramese woord “Maranata”. Dit was bietjie dubbelsinnig, want afhangende van hoe ‘n mens die woord uitspreek, kan die woord beteken: “Die Here kom” of “Here, kom!” So het hulle mekaar elke dag herinner dat die Here enige dag kan kom; meer nog, dat hulle ook daarna uitsien dat die Here gou moet kom.

Met daardie verwagting moet ons as Christene vandag ook leef… wagtend op die Here wat enige tyd weer kan kom. En as Hy kom moet Hy jou op die regte plek kry en moet jy met die regte dinge besig wees. Ja, jy moet reg wees as die Here weer kom (24:45-47).

Die besef laat ‘n mens anders na die lewe kyk. Wat jy elke dag doen moet al klein stukkies hemel hier op aarde wees… stukkies ‘hemel’ omdat elke ding wat jy doen die Here bly behoort te maak. Dit moet een toets deurstaan: sal die Here gelukkig wees as Hy kom en Hy kry my hiermee besig? Sal Hy saam met my oor die grappie kan lag wat ek besig is om te vertel, of sal hy tuis voel op die plek waar ek op daardie oomblik is?

En dit laat ‘n mens anders dink oor wat jy doen en sê, want as jy die toets deurstaan is jy gereed… Dan kan jy ook ander groet deur elke dag te sê: Maranata!




Dit is Ek, wat magtig is om te red (Jesaja 63:1-6) – Francois Malan

Die wonderlike digwerk van hoofstukke 60-62 veronderstel ‘n beslissende ingryping van die Here in die lewe van die hele wêreld, waardeur Jerusalem verhoog sal word met die Here se vyande diensbaar aan haar. So ook in hierdie kort gedig, maar met ‘n kragtiger ingryping van die Here, wat hier voorgestel word as ‘n stryder wat sy wil met geweld sal toepas om die wêreld reg te maak, met heenwysings na die eindoordeel.

63:1 Die vraag word gestel soos van ‘n wag: ‘ Wie is dit wat van Edom af kom?…’ dit wil sê uit die gebied suid van die Dooie See (teen dié tyd was die Here se oordeel oor Edom al voltrek, deur mense uit Arabië, vgl. Obadja 1:1-14)

‘…wat daar uit Bosra (hoofstad van Edom) kom , in klere met skerp kleure/rooi gekleur? Die een – glorieryk gekleed, krom gebuk onder die grootheid van sy krag – Dit is Ek – die Een wat so bekend is dat sy naam nie genoem hoef te word in Israel nie (Eks 3:14; die Dooie See manuskrip voeg by: die Here; maar nie die Griekse Septuaginta nie) – wat in geregtigheid praat, magtig om te red.’ Die Een wat kom word aangedui met sy tipiese kenmerke: geregtigheid tsedakah in sy handelinge, en verlossing hosji‘a (in Griekse vorm is dit Jesus, Mat 1:21) deur sy optrede. Hy kom die verkeerde  dinge in Israel regstel, om Israel waarlik te verlos en leefbare omstandighede vir hulle te skep.

Edom kom van die woord ‘rooi’ moontlik weens die rooi rotsformasies in die land waar Esau (rooi; Gen 25:25; 36:1) en sy afstammelinge  gewoon het. Die stam btsr van Bosra word ook gebruik vir druiwe pluk, wat die klere van die plukkers rooi vlek. Die Here word hier geteken as ‘n soldaat wat uit die stryd kom, met sy mondering rooi gevlek van die bloed van Edom wat meegewerk het aan die wegvoering van Juda in ballingskap (Obadja 10-14) – in Mk 14:23-25 verwys Jesus na die wyn van die Nagmaal as sy bloed waardeur die verbond verseël word en wat vir baie mense vergiet word.

63:2 Die Here word voorgestel as iemand wat die wynpers getrap het en sy klere is rooi gevlek, soos die wag Hom bekryf. Die Hebreeuse term vir ‘rooi’ ’adom is van dieselfde stam  as die naam Edom  ’edom.

63:3-6 Die antwoord op die tweede vraag van die wag word in hierdie vier digverse gegee. Die naam van die spreker word nie genoem nie, maar daar is geen twyfel oor wie die spreker is nie. Drie motiewe kom in die verse tot uitdrukking:

v3 Die wynpers word tipies gebruik om oordeel uit te druk; hier as beeld vir die bloed van die vyande van die Here, wat deur die massiewe oordeel van die Here getref word (vgl. Joël 3:13 ; Openb 14:19; 19:11-13). Die Here sê dat Hy die oordeel alleen moes voltrek, sonder hulp of bystand – van ander volke soos Assirië en Babilon wat Israel vertrap het in die verlede?  Aan die kruis waar Hy die oordeel op die sonde van die hele wêreld op Homself voltrek, roep Jesus hardop: My God, my God, waarom het U my verlaat (Mark 15:34).

v4 Die tyd van die straf  oor sy vyande was ook die tyd van die verlossing vir sy volk, soos ‘n hersteljaar vir Israel.

v5-6 Twee beelde word gebruik: die bloed wat vloei soos sap uit die wynpers, en die wyn wat die mense laat steier in dronkenskap. So het bloed op die grond gevloei. Deur hulle in sy toorn oor te gee aan hulle eie begeertes het die mense mekaar en hulleself vernietig (Rom 1:18, 28-32).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

 




31 Januarie – Die Here se voetstappe is oral. – Jan van der Watt

Mat 23:29-24:28 (fokus 24:1-14)

[Hierdie dagstukkies kom uit ‘n dagboek geskryf deur Prof Jan van der Watt. Hy maak gebruik van Die Boodskap. Dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.]

Dan sal die einde van hierdie wêreld kom. Dit sal natuurlik ’n nuwe begin vir elke gelowige beteken’ (24:14)

Toe iemand eendag in ‘n argument sê dat ons die bestaan van God nie kan bewys nie, want ons kan Hom nie sien nie, het ‘n ander een gesê: “Ons kan Hom miskien nie sien nie, maar ons kan sy voetstappe hoor”. En dit is waar. Luister net…

Ons hoor sy voetstappe elke dag rondom ons. Party is hard en ander is sag. As Jesus in Mat 24 byvoorbeeld praat van die “tekens van die tye”, praat hy van oorloë, aardbewings, swaarkry en sulke dinge. Dit is nogal harde voetstappe. Hierdie is nie “spesiale” dinge wat net aan die einde van die tyd voorkom nie – dit het deur al die eeue heen nog gebeur, omdat God nog altyd daar was. Dis so algemeen en alledaags – tog is dit die tekens van God wat weer sal kom.

Dit is verstaanbaar: as ‘n mens in ‘n aardbewing staan, of bomme val op jou, besef jy wie jy regtig is: ‘n magtelose spikkeltjie in ‘n baie groter heelal. Daar is groter magte wat die heelal beheer en daarvan vertel die ‘tekens van die tye’. Dit mag alledaags wees, maar dit is groter as jy… en juis dit herinner jou aan die werklikheid wat groter as jy is. Daarom herinner dit jou aan God. So weerklink sy teenwoordigheid in jou ore. Party mense kan dalk maak asof Hy nie daar is nie, maar sy voetstappe kan jy nie stilmaak nie.

Die vraag is of ‘n mens jou daaraan steur?