28 Januarie – Maak die beste van jou geleenthede… – Jan van der Watt

Mat 21:33-22:14 (fokus 22:1-14)

Onthou, baie sal die uitnodiging hoor, maar nie naastenby almal sal die hemelse fees haal nie.(22:14)

‘n Mens lewe net een maal… en dit beteken dat baie kanse net een maal kom. As daai kans verby is, is dit verby. Daarom moet ‘n mens reg wees om die kans te gryp as dit kom. Baie mense wag vir kanse en as dit kom, doen hulle niks. Kanse gryp jou nie, hulle kom net. Jy moet hulle gryp, anders is hulle verby. Die klomp ouens in die storie in die Bybel moes duur betaal om die les te leer – hulle het kans gehad om die bruilof by te woon, maar wou dit nie ‘gryp’ nie… en toe was dit verby.

Die lewe is so vol geleenthede, klein en groot. Maar ons kyk dit te maklik mis. Ons voel dikwels so swartgallig oor die lewe dat ons die lewe en sy kanse by ons laat verbygaan. Ons raak partymaal geestelik so moeg dat ons vergeet om te lewe. Jy moet onthou, die Here is maar altyd met jou lewe besig; geleenthede is gawes van hom af. Dit is asof die Here vir jou deure oopmaak om jou so na plekke te lei waar jy nooit sou gekom het nie. Dit is die manier waarop hy jou wil gebruik om ‘n verskil te maak, nie net aan ander mense nie, maar ook aan jouself. Geleenthede is die deure wat oopgemaak word na ‘n avontuurlike lewe.

Natuurlik is nie alles wat vir ons na geleenthede lyk regtig geleenthede nie. Soos die wyse Salomo het jy wysheid nodig voor jy die deur oopmaak. Kyk mooi voor jy besluit. Vra God om jou te help om reg te kies. Vat sy hand in gebed en kies reg… jy leef net een maal.




27 Januarie – Dit is dade wat tel, nie woorde nie. – Jan van der Watt

Mat 21:12-21:32 (fokus 20:28-32)

‘Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’ ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help. Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie. Nou vra Ek julle, watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?(20:28-31)

In die lewe is daar mense wat dinge laat gebeur, mense wat praat oor hoe dinge moet gebeur en dan mense wat wonder wat gebeur het. Wie van hulle maak regtig ‘n verskil in die lewe? Natuurlik die wat bereid is om moue op te rol en te doen. Niks gebeur as iemand dit nie laat gebeur nie. In God se koninkryk is dit nie anders nie. God soek daadmense wat bereid is om hulle moue vir die koninkryk op te rol. Dit het Jesus met sy verhaal van die twee seuns verduidelik– dit was nie wat hulle gesê het wat getel het nie, maar wat hulle gedoen het (21:28-30).

ʼn Groot probleem in die Christendom kan wees dat ons net praat, miskien omdat ons ʼn God het wat so baie vir ons doen. Ons het so baie om oor te praat. Ons kan oor sy liefde en genade praat en dit laat ons altyd lekker voel… maar as ons net praat, is dit waar die krag van die liefde en genade ophou. Om ‘n verskil te maak moet dit deur dade verder gedra word.

Ons kan met groot gevoel praat oor die armes of mense wat Hom nie ken nie… en mekaar selfs probeer motiveer om iets te doen. Maar mense kan nie woorde eet of van goeie bedoelings warm word nie. Jesus sê dit is eers as jy jou hande begin vuil maak ter wille van sy koninkryk, dat daar werklik iets gebeur. Dit is dan dat jy ʼn verskil begin maak. As jou woorde dade begin word begin wonders gebeur.

Die wet van sy koninkryk is nie wonder of praat nie, maar doen!




Bose geeste in jou huis – Francois Malan

Jackie vra:

Ek wonder al so lank oor die vraag. Kan geeste of bose geeste in jou huis wees? Kan hulle met jou praat of jou aanraak? My mense glo daaraan maar ek self het dit nog nooit beleef/ervaar nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Paulus waarsku in Efesiërs 6:10-12 teen die listige aanslae van die duiwel. ‘Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.’

In Efesiërs 2:2 verwys hy na die gemeentelede se heidense verlede: ‘Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.’

Jesus waarsku in Lukas 11:24-26; vgl. Matteus 12:43-45): Wanneer ’n bose gees uit ’n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so ’n man slegter daaraan toe as aan die begin.

Die Bybel weet van die werking van bose geeste wat ons probeer wegkry van die Here af en weg van die Here se riglyne vir ons lewe. Sekere mense raak bewus van die werking van die bose geeste, wat gewoonlik nie hoorbaar met jou praat nie, maar jou probeer bang maak. Hulle raak bewus van sy teenwoordigheid, dikwels deur iets wat hulle aanvoel. Maar almal van ons ken versoekings wat ons wil lok en aandryf om verkeerde dinge te doen.

Jesus sê byvoorbeeld: die duiwel is ’n leuenaar en die vader van die leuen (Joh 8:44). As ons verkeerd gedoen het probeer ons dikwels eerste om die verkeerde te bedek met ’n leuen om ons los te lieg. Dan roep ons eintlik die duiwel om ons vry te maak. Terwyl Jesus sê die waarheid sal ons vrymaak (Joh 8:31). As ons die waarheid praat staan Hy ons by, want Hy is die weg die waarheid en die lewe (Joh 14:6).

In Efesiërs 6:10-18 wys Paulus die pad aan vir die gelowiges hoe om die duiwel se teenwoordigheid en sy werking teen te staan:

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag (want Hy het die duiwel oorwin. Ons kan by die Almagtige God skuil). Die Here se pad wat Paulus aanwys word verduidelik met die beeld van die soldaat in uniform, wat vir Paulus oppas (Hand 28:16). Ons moet die volle wapenrusting van God aantrek en so lewe, gereed vir die stryd teen die bose geeste. Die wapenrusting bestaan uit:

1 die waarheid soos die gordel wat die soldaat se los klere om sy heupe vasmaak sodat hy vryelik kan werk en veg. So ken ons Jesus as die waarheid wat ons vryelik laat lewe deur die waarheid met mense te praat en daarin te bly. Dan kan die duiwel, vader van die leuen, ons nie vir sy doel gebruik nie.

2 geregtigheid soos die borsharnas van die soldaat, wat sy hart beskerm teen die pyle en spiese van die vyand. Geregtigheid is om in die regte verhouding met God te lewe as sy kinders vir wie Hy sorg. Die regte verhouding kry ons van God af omdat Jesus reeds vir al ons sondes met sy lewe betaal het en ons vrygespreek het. Daarom kan die duiwel ons nie aankla nie, en sy bose geeste kan ons nie uit ons Vader se hand ruk nie (vgl. Joh 10:28-29).

3 bereidheid vir die evangelie van vrede soos die sandale aan die soldaat se voete wat hom oor klippe en dorings vryelik laat beweeg. So kan ons praat en getuig oor die wonderlike evangelie, die goeie boodskap, dat ons deur en saam met die Seun van God beskou word as God se kinders. Dan kan die duiwel ons nie gebruik vir geweld en valse stories oor ander mense nie.

4 geloof in die Here Jesus, is soos die groot skild wat die soldaat se voorkant heeltemal bedek om die brandende pyle, met tou om wat met pik gesmeer is, af te weer. So kan geloof in die Here Jesus die vurige pyle van die Bose se aanvalle en versoekings afweer. As daar bose geeste in jou huis sou inkom kan jy hulle in die Naam van die Here Jesus bestraf en vra dat Hy hulle uitjaag.

5 verlossing soos die helm om die soldaat se kop te beskerm. So verlos Jesus ons van die sondeskuld van ons verlede, en verlos ons uit versoekings van die Bose deur by ons te staan in alle omstandighede. As ons in ons koppe seker is van ons verlossing deur Jesus, kan ons die duiwel en sy versoekings oorwin, en sal die bose geeste ons ook nie probeer aanval nie.

6 die woord van God is die swaard van die Gees. Die soldaat val aan en beskerm homself met sy swaard. So is die woord van God wat ons in die Bybel lees en ons lewens daarvolgens inrig, ons aanvalswapen en ons beskerming teen die Bose. Met die woord van God het Jesus die versoekings van die duiwel suksesvol teengestaan (lees Matteus 4:4,7,10).

7 daarby kom gebed waarmee ons met ons Vader praat nadat Hy met ons deur sy woord gepraat het. Met gebed dank ons Hom vir alles wat Hy elke dag vir ons doen, en bid ons elke dag dat Hy ons sal lei om sy wil vir ons lewe te doen.

Skrywer:  Prof Francois Malan




26 Januarie – Teken punte aan in God se span. – Jan van der Watt

Mat 20:17-21:11 (fokus 20:17-28)

‘Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense’ (20:26-28)

Daar is seker min dinge wat toeskouers so irriteer soos ‘n bang rugbyspeler. Nee, om rugby te speel moet jy van jouself vergeet ter wille van jou span. As daai hoë skop op jou afkom saam met ‘n ou wat twee maal jou grote is, het jy nie ‘n keuse nie. As jy rugby wil speel moet jy daai bal vang en agterna maar toets of alles aan jou nog op hulle plek is en behoorlik werk. Jy kan nie dan weghardloop nie. Dan moet jy maar van jouself vergeet en aan die span dink, want dit is nie jy nie, maar die span wat tel.

Christenskap is ook ‘n spanspel. Jesus het dikwels gesê dat sy volgelinge dienaars moet wees (20:26). Wat Hy eintlik daarmee bedoel het, is dat jy deel van God se span is en voluit vir Hom moet speel. Dan is dit nie jou eie belange wat tel nie, maar die belange van die span. Om behoorlik in God se span te speel, moet jy van jouself vergeet en voluit speel. Wat vir die span belangrik is, moet jy doen, al beteken dit dat jy slaweklere moet aantrek en die werk van ‘n dienskneg in die koninkryk moet doen.

Christenskap gaan dus in die eerste plek oor gesindheid, ja, of jy regtig in God se span wil speel. As jy die hoë bal nie wil vang nie, sal jy dit ook nie doen nie. Maar as jy vir God wil speel, sal jy doen wat Hy van jou vra. En dan sal jy die hemelse skares op hulle voete en aan die juig hê.

In ‘n Christen se boekie is daar nooit optelsomme van wat dit jou kos om Christen te wees nie. Wat wel daar staan is wat jy vir die ander gedoen het. Dit is hoe jy punte aanteken in God se span.