22 Januarie – Moenie aanstoot gee nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 17:1-27 (fokus 17:24-27)

 Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie (17:27)

 In 17:24-27 leer Jesus ons ʼn interessante les. Terwyl Jesus-hulle eendag so gesels kom dit uit dat Jesus eintlik nie aan sy Pa se huis, die tempel, belasting hoef te betaal nie, want ‘n kind betaal mos nie belasting aan sy pa nie. Tog betaal Jesus dit. Hoekom? En dit is die les: Om nie mense aanstoot te gee nie. Jesus doen liewer wat Hy nie hoef te doen nie, net om nie mense onnodig seer te maak nie.

Hier kom ons by ʼn grysgebied. Wat is die verhouding tussen wat ons volste reg is om te doen en die belange van ander (al is hulle verkeerd)?  Dit lyk of Jesus die antwoord soek met ‘n tweede vraag: wat gaan die meeste skade veral aan ander doen? Probeer dit agterkom en jy het die antwoord. Om belasting te betaal gaan niemand regtig skade doen nie. (Die geld kom buitendien van God af en daarom kan ‘n mens dit maar vir God teruggee, soos die visstorie vertel – 17:27). Aan die ander kant, om nie te betaal nie, gaan net moeilikheid veroorsaak. Jesus kies liewer die pad wat nie ander aanstoot gee nie, al vra dit van iets Hom.

Reg is dus nie altyd reg nie, nie as dit ander skade kan aandoen nie. Jesus was dus reg om op hierdie punt sy regte prys te gee, want dit was ter wille daarvan om nie aanstoot te gee nie.

Dit is egter nie die einde van die saak nie. Wanneer is die regte van ander so buitensporig dat jy liewer moet doen wat vir jou reg is, al beteken dit dat jy aanstoot gee? Wanneer ander se regte God se regte begin eenkant toe skuif. Jy moet ander nie aanstoot gee nie, maar God nog minder.




21 Januarie – Jesus se barometer . – Jan van der Watt

Lees: Mat 16:5-28 (fokus: 16:24-28)

 Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee… Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jouself eers die volgende vraag af: wat help dit as jy die hele wêreld se skatte besit, maar jy het nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg?’ (16:24, 26)

 Jesus waarsku: jy moet gereeld jou skaal uithaal en net weer seker maak: leef jy nog gebalanseerd?

Wat weeg op jou skaal die swaarste? Dit is bietjie van ʼn strikvraag, want die lewe is so gejaag en vol dinge wat alles vir ons belangrik lyk dat keuses moeilik raak. Elke ding is op sy eie manier belangrik. Kyk byvoorbeeld: Wat is belangriker, jou werk of jou gesin? Eintlik altwee, want sonder werk kan jy nie jou gesin onderhou nie en sonder jou gesin maak jou werkery ook nie eintlik veel sin nie. En so loop die meeste dinge wat ons doen inmekaar. Hoe kies jy nou eintlik tussen dinge wat alles tog belangrik is?

Jesus kan jou help (16:24-26), mits jy bereid is om sy barometer te gebruik. Sy barometer meet wat met die mense rondom jou gebeur… as jy mense rondom jou begin seermaak begin die barometer gevaarlik hoog styg. Byvoorbeeld, as jou werk jou so besig begin hou dat jy jou gesin begin verwaarloos, begin mense seerkry… dan moet jy balans begin kry en jou keuses aanpas. Aan die ander kant, as jy jou werk so verwaarloos dat niemand jou ‘n verhoging wil gee nie, is dit ook nie vir jou gesin goed nie. Ja-nee, balans is die antwoord, en balans meet jy deur mooi te kyk wat gebeur met die mense rondom jou, veral die wat die naaste aan jou is. Jy hoef dus nie jou werk of jou gesin of jou vriende te los nie… jy moet net gebalanseerd leef.

En moet asseblief nie van jouself vergeet nie! Jy kan ook seerkry, om die waarheid te sê, jy kan jouself ‘seermaak’ deur van ‘balans af’ te raak. As jy jou innerlike geluk of gesondheid begin opoffer vir uiterlike sukses is die balans in jou lewe nie meer reg nie. Jesus vra soberheid en soek geluk en vrede… in jouself en met ander mense.

Miskien is dit weer tyd vir jou om te vra: Wat weeg op my skaal die swaarste?




20 Januarie – Leef doelgerig. – Jan van der Watt

Lees: Mat 15:21-16:4 (fokus: 15:21-27)

Weet jy, jou geloof is regtig baie groot,” het Jesus haar toe geantwoord. “Ek sal jou wens waar maak.” (15:28)

In die lewe is dit nie hoe jy begin wat tel nie, maar hoe jy eindig. As jy goed wil eindig, moet jy weet waar die wenpaal is – ja, moet jy ʼn duidelike doel in die lewe hê. As jy nie ʼn doel het nie, kan dit gebeur dat jy in alle rigtings hardloop en nie eers seker is waar jy gaan uitkom nie.

Veral Christene moet doelgerig leef. Ons moet veral seker maak dat ons doelwitte reg is, dat ons doelpale staan waar God wil hê hulle moet staan. Ons moet nie wonder oor waarheen God ons wil vat nie; ons moet seker maak, al vat dit baie gebed. Die Here het immers ʼn doel met jou lewe – elke dag.

Deel van die geheim om doelwitte in jou lewe te stel, is om realisties te wees. Moenie doelwitte stel wat jy weet jy nooit sal kan haal nie. Dit gaan jou net ʼn gestreste en teleurgestelde mens maak.

Maar dan moet ons ook nie leef soos mense wat nie ʼn God het nie. Ons moet ook bereid wees om te vertrou, op God en op onsself. Ons moet soms ook in geloof waag. Ons moet ons voete laat val op paaie wat vir ons onbekend is. As die vrou in die verhaal se voetspore nie na Jesus gelei het nie – dit met die wete dat dit nie maklik sou wees om by Jesus uit te kom nie, sou haar kind nie gered gewees het nie. As Paulus nie in die vreemde en ver stofpaaie van Turkye na nuwe bekeerlinge gesoek het nie, sou die boodskap van God daar stil gewees het. As jy nie bereid gaan wees om in geloof dinge aan te pak en doelwitte te stel wat jy graag wil bereik nie, kan jou wêreld ook krimp tot ʼn doellose gerondhardloop agter niks aan.

Weet jy waar die Here se doelpale vir jou staan. Het jy al mooi gekyk? Jaag dit na in geloof!




Seën, voorspoed en vreugde vir Jerusalem en Israel (61:1-4) – Francois Malan

‘n Persoon, waarskynlik die digter-profeet, is aan die woord in verse 1-7 en 10-11. In verse 8-9 praat die Here. Die volgorde van: mens – God – mens, wys hoe nou die Here se besluit en die menslike roeping aan mekaar verbind is. Die spreker moet die bedoeling van die Here bekendmaak en gaan uitvoer.

61:1 Die spreker is deur ‘my Here, die HERE (Die Ek is Teenwoordige),’ gemagtig en  besiel om die Here se geloofsgemeenskap te transformeer. Twee figure is gebruik vir die magtiging:

1 Die HERE se Gees, sy bemagtigingskrag wat die radikale vernuwing kan bewerk, die Gees wat in die vormlose en leë skepping orde en die lewe gegee het by die skepping (Gen 1:2), van wie Jesus beloof het dat die Gees strome van lewende water uit die binneste van dié wat in Hom glo sal laat  uitvloei (Jn 7:38-39). Dieselfde Gees het nou op hierdie agent van die Here gekom (soos in 42:1; vgl. Jn 20:22).

2 Die HERE se salwing – stel die spreker in die openbaar bekend as die HERE se gesant, of dit is slegs ‘n metafoor  vir sy bemagtiging, soos in Lk 4:18-19 waar Jesus hierdie gedeelte op Homself van toepasing maak. Die lesers en hoorders van hierdie bemagtiging sou onthou van Dawid se bemagtiging met dieselfde twee figure, in 1 Sam 16:13: Samuel het die horing met die olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die HERE het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk (vgl. Dawid se laaste woorde in 2 Sam 23:1-2).

61:1b Die spreker word bemagtig om te bring, te verbind, te verkondig, te bevry, aan te kondig, te troos, te voorsien en te gee. Al hierdie optredes is om diens te lewer aan die swakkes wat geen krag of gesag het nie en uitgeskuif is, om te herstel sodat hulle ten volle sal kan funksioneer in ‘n gemeenskap van welsyn en vreugde.

Om die goeie nuus (evangelie) te bring waarna reeds in 40:9; 41:27 en 52:7 verwys is.  Dit behels die reorganisering van die samelewing volgens die wil van die Here. Dit is evangelisasie met ‘n konkrete sosiale uitwerking. Die gesalfde van die Here moet die Joodse leefwêreld met die evangelie, die goeie nuus, transformeer. Dit bring goeie nuus vir die armes (die mense wat voor God weet hulle is arm, nederig, sagmoedig; 1983: mense in nood), dit verbind gebroke harte (1983: die moedeloses), gee vryheid vir gevangenes (ballinge en slawe), ontslag vir prisoniers (oopmaak van tronke – Griekse vertaling: oopmaak van blinde oë, soos in Lk 4:18), troos vir dié wat treur.

61:2 Dit kulmineer in ‘die jaar van die Here se guns en die dag van ons God se wraak’ (1983-vertaling: die tyd vir die Here se genade en die dag om sy vyande te straf). Die genadejaar verwys na Levitikus 25 se sabbatsjaar wanneer alle mense en goed wat in ekonomiese transaksies verloor is, teruggegee word, grond wat teruggekoop word (Lev 25:13,23,24) en mede-Israeliete wat bywoners geword het gaan vry terug na hulle grond (Lev 25:41). Die menswaardigheid en die orde in die hele gemeenskap word  herstel om te funksioneer volgens die wil en aanwysings van die Here. So het Nehemia opgetree (Neh 5) om ‘n stabiele gemeenskap te skep.

Met Jesus se toepassing van hierdie verse op Homself in Luk 4:18-19 het die mense van Nasaret eers daarmee ingestem en hulle verwonder, maar toe Hy dit ook op die heidene van toepassing gemaak het,  het hulle Hom probeer doodmaak (Luk 4:28-29). Dieselfde gesindheid teenoor buitestaanders word ook deur die meeste Jode in Esra en Nehemia se tyd geopenbaar.

61:3-4 Drie maal word teenoorgesteldes gestel met ‘in plaas van’ soos in 3:24 en 60:17. Dit verwys na die gemeenskap se radikale transformasie van hulle gesindhede en toestand, as gevolg van die verkondiging van die goeie nuus en die uitvoering van ‘n genadejaar. Hulle word genoem dié wat in Sion treur (oor die korrupsie, onreg, selfverryking en onderdrukking) aan wie die volgende toegeken en gegee word:

eer as versiering vir jou kop (soos ‘n bruidssluier of  ‘n blommekrans) in plaas van in oneer met stof/as op jou

voete, om vasgevang te sit in dinge wat niks werd is nie (1983: ‘as’ as teken van smart). In Hebreeus is daar ‘n woordspel: pe’eer i.p.v. ’eefêr – blomme in plaas van stof/as.

Olie van vreugde in plaas van ‘n begrafnisseremonie

‘n mantel van lofprysing in plaas van ‘n ontmoedigde/neerslagtige gees

Op Christus toegepas, verwys dit na sy kruisdood en begrafnis wat vervang word met sy opstanding en hemelvaart (vgl. Joh 16:20: julle hartseer sal in blydskap verander)

Sodat hulle genoem sal word groot magtige bome van geregtigheid, deur die Here geplant sodat Hy (deur hulle eerlike en regte optrede en lewe) verheerlik kan word.

en hulle sal die eeu-oue ruïnes opbou, verwoeste plekke uit die vorige tye weer oprig

en hulle sal die bouvallige stede vernuwe, die verwoeste plekke deur baie geslagte.

Hulle is die samelewing wat deur die Jubeljaar herstel is in hulle waardigheid as mense wat vol vreugde voor die Here lewe in reg, geregtigheid en barmhartigheid, en nou weer krag en visie en energie het, soos groot sterk bome (vgl. Ps 1:2-3), om die tempel en die mure van Jerusalem en die stede van Juda op te bou – dit staan  teenoor Israel voor die ballingskap wat soos bome was, waarvan die blare verdroog is 1:30 (vgl. Haggai 2:4-5).

Skrywer:  Prof Francois Malan