60:15 Die omkeer word gevier in verse 15-16: waar niemand kom nie (letterlik: waar niemand deurgaan nie), vreugde sonder einde (letterlik: vreugde van geslag tot geslag) – ‘n volledige omwenteling vir Jerusalem, die eens verlate stad. Ten spyte van wisselende omstandighede en agtereenvolgende bouwerk aan die tempel van die Here, was Jerusalem die sentrum van die Judaïsme waarheen pelgrims vir 500 jaar lank gestroom het tot in 70 n.C.
60:16 ‘jy sal die melk van nasies drink (suig), en aan die bors van konings suig – nasies en konings sal hulle oorgee om Jerusalem te verhoog, om haar selfs met hulle liggame met deernis te versorg. Dit is metafore vir die voorafgaande voorspellings vir Jerusalem. Die beeld van nasies en konings wat aan Jerusalem eer bewys verwys na ‘n goeie lewe vir Jerusalem en na die vernedering van haar vroeëre vyande tot kinderoppassers (vgl. 49:26). Dit word alles gedoen deur die Here, jou Redder en Verlosser, die Magtige van Jakob, die God wat 1200 jaar te vore reeds ‘n verbond met hulle voorvader Jakob gesluit het (Gen 28:13-15) – dit behoort Israel te oortuig om die plan van die Here vir hulle te aanvaar en hulle eie programme te laat vaar.
60:17 In plaas van 3:24 se vyfmaal ‘in plaas van,’ wat totale vernedering en slawerny aangekondig het, word hier viermaal ‘in plaas van’ gebruik om sterkte en eer vir Jerusalem aan te dui. Alles in die stad sal opgradeer word weens die instroming van buitelandse rykdomme. Die vers gaan voort met ‘n gedugte verpersoonliking van sjalom en tsedakah (vrede en geregtigheid) as magte wat die welsyn van die samelewing sal bewerk soos in Ps 85:10-14. In die ballingskap was Israel onder harde werkgewers (vgl. Egipte se slawedrywers, Eks 5:14) maar nou stel die Here die genadigste, grootmoedigste en vriendelikste beheerders oor hulle aan, naamlik vrede en geregtigheid – die regte verhouding met God en medemens!
60:18 Die nuwe ‘opsigters’ sal sorg dat al die ou negatiewes uit die land en binne sy grense uit die weg geruim word: geweld, verwoesting, afbreek (o.a. met gedwonge verhuisings). Die mure van die stad sal ‘Verlossing’ (jesju‘ah soos in Jesaja –‘ die Here is Verlosser’, en die naam jesju‘ah ‘Jesus’ (Mat 1:21) genoem word en die poorte ‘Lofprysing,’ (tehillah soos in Halleluja- loof die Here). Die stad het nie mure van klip nodig nie, want die Here (Die Ek is Teenwoordige) is haar beskerming (Ps 90:1; 91:1-16), wat lei tot ‘n oneindige lofprysing van die Here (Ps 95:1-2). Die nuutheid van die Here se nuwe bestel verskil totaal van die ou manier van lewe.
60:19-20 Die digter-profeet waag om hier nog groter beelde te gebruik om die welsyn van die nuwe bedeling aan te kondig. Tot hier is politieke en ekonomiese beelde gebruik om die verandering te verduidelik. Nou gaan hy na die wyer perspektief van die skepping: Die nuwe Jerusalem van die teruggekeerdes sal vir seker nog die son en die maan nodig hê, maar in die profesie word die son en die maan deur die Here self vervang. Hy sal die lig en die heerlikheid, die waarborg en die versekering van Israel wees, ‘n ewige lig wat alle duisternis verdryf, geen nag meer nie, of gevaar of verloor van beheer nie (Ps 139:11-12; Openb 22:5). In die Jerusalem van die teruggekeerde ballinge is die tempel ook nie meer die plek van lig nie, maar die Here, sy liggaam wat vir ons sonde aan die kruis gebreek is (vgl. Joh 2:19-22). Hierdie direkte verhouding met die Here is beter as die tempel (Joh 14:23).
60:21 Al die inwoners sal regverdiges wees – mense wat reg en geregtigheid sal laat geskied. Dit kan hulle egter slegs doen as hulle aan die Here en sy woord vashou, aan Hom wat hulle sondes vergewe het en hulle in die regte verhouding met Hom laat lewe (58:8-10; 59:20). Die besit van die land, in plaas daarvan om huurarbeiders van ‘n vreemde regering te wees, loop dwarsdeur Jesaja (49:8 om die land weer te herstel; 57:13 vir wie by die Here skuil; 61:7 ‘n dubbele porsie in die land vir vreugde; 65:9 die Here se bergland), soos aan Abraham belowe in Gen 15:18 (vgl. egter Hebr 11:13-16 se beter vaderland).
In 11:1 is voorspel dat ‘n loot (netsêr) uit Isai se wortels vrugte sal dra. Hier sê die Here dat Israel ‘n loot is wat Hyself geplant het toe Hy hulle teruggebring het uit die ballingskap, toe Hy hulle sonde vergewe en hulle verhouding met Hom reggemaak het, hulle wat deur hulle sonde weggegooi was soos ‘n boomtak (loot, netser) wat al klaar vrot is (14:19). Hulle is die skepping van sy hande (meervoud soos in die Dooie See manuskrip), Hy het hulle gevorm om in hulle sy heerlikheid te toon. Hulle moet die toonbeeld van hulle God voor die nasies wees, ‘n toonbeeld van reg, geregtigheid en barmhartigheid teenoor alle mense. Daarvoor het Hy hulle geplant en nuut geskep, gevorm na sy beeld (Gen 1:27).
60:22 Die geringste word ‘n groot nageslag en die minste ‘n sterk nasie (soos belowe aan Abraham, die vader van baie nasies; Gen 17:3-6). ‘Op die regte tyd sal Ek, die Here, dit haastig aan haar (Jerusalem) doen.
Die eerste groep Jode het uit Babel teruggekeer onder Sesbassar en Serubbabel, ná Kores se dekreet in 538 v.C. (2 Kron 36:22; Esra 1:1). Na sewe maande, toe hulle gevestig was, het hulle in Jerusalem bymekaargekom om ‘n altaar vir die Here op te rig, en het hulle die huttefees gevier (Esra 3:1-2, 4). Na nog sewe maande het hulle begin om die fondament vir die tempel te lê (Esra 3:6,8,10).
Kores is in 524 v.C. opgevolg deur sy seun Kambuses, wat almal dood gemaak het wat hom teenstaan. Hy het Egipte onderwerp en op pad terug in Palestina gesterf in 522 v.C. Toe was daar vir twee jaar opstande in die Persiese ryk tot Darius, Kambuses se militêre leier, die oorhand gekry het na 29 veldslae. (Serubbabel se gedagte om met geweld vir Israel se vryheid te veg in hierdie deurmekaar tyd, is deur die Here gekeer (Sag 4:6: met mag en krag sal jy nie slaag nie, maar deur my Gees). Dit was ‘n tyd toe dit swaar gegaan het met Israel. Die profeet Haggai het die swak ekonomiese toestand van die Judeërs toegeskryf aan die feit dat die tempel nog in puin gelê het. As hulle dit herbou sal die Here ingryp, die nasies skud en die tempel luisterryker maak as dié van Salomo. Sagaria 9-14 het in soortgelyke terme die volk aangespoor om die tempel te voltooi. Die Jode het weer moed geskep en die bouwerk hervat, sestien jaar na die fondament gelê is. Spoedig is teenstand gekry van die inwoners van Samaria wat vroeër deelname aan die tempelbou geweier is. Die bouwerk is hervat nadat die Persiese koning Darius versoek is om in die argiewe te laat soek na Kores se proklamasie, wat toe gevind is (Esra 6:1-2), en is daar toe aan die tempel gebou van 520-515 v.C.
Na Darius kom sy tweede seun Ahasveros aan bewind 486-464 v.C. wat nie so vriendelik was met die Jode nie, en in sy tyd is hulle openlik vervolg, sodat Jode in die ryk bang was om hulle identiteit te openbaar (vgl. Ester 2:10). Die lewe in die hele Persiese ryk het in sy tyd agteruitgegaan. Die boek Ester vertel hoe die Jode van algehele uitwissing gered is.
Ahasveros is opgevolg deur sy derde seun Artasasta (464-423 v.C). Die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing het aan die begin van Artasasta se regering ‘n klagskrif teen die inwoners van Juda en Jerusalem by hom ingedien teen die opbou van die mure van Jerusalem, waarop hy opdrag gegee het dat die bouery gestaak moes word (Esra 4:6, 21-23). Maar in sy sewende regeringsjaar gee hy aan Esra volmag om die tempeldiens in Jerusalem, die regspraak en die opvoeding van die volk te gaan herstel en herorganiseer (Esra 7). In die twintigste bewindsjaar van Artasasta stuur hy Nehemia met volmag om die mure van Jerusalem te herbou (Neh 2:12-7:3). Daar was toe weer herhaalde male pogings van die Samaritane om die bouwerk tot stilstand te bring, maar Nehemia het voortgegaan, en selfs die volk bewapen om hulleself te verdedig teen aanvalle (Neh 4:13).
Dit is in hierdie tye dat die derde deel van die boek Jesaja afspeel (hoofstukke 56-66). Dit reflekteer die teologiese krisis in die vormingsjare van die Judaïsme. Dit was ook ‘n sosiale rekonstruksie. Dit volg op die visie van hoofstukke 40-55 oor die terugkeer van die ballinge en wat die Here se heerlike doel daarmee is. Ten spyte van die woelinge van die jare na die terugkeer, is hoofstukke 60-62 en dele van 65 seker dat die Here se plan nog deurgevoer sal word in hulle verswakkende omstandigheide. Dit volg op hoofstukke 56-59 se stryd tussen die mense wat ‘n oop samelewing as die nuwe pad van die Here verkondig, met gehoorsaamheid aan die wet van die Here se etiese eise van reg en geregtiheid en barmhartigheid vir alle mense, en die kwaai teenstand daarteen van hulle wat staan by die ou manier waarop hulle die wet toegepas het om hulleself te beskerm (vgl. ook die stryd in die eerste kerk in Hand 15 en in Petrus se hart in Hand 10; Gal 2:11-14 teenoor Gal 3:28).
Skrywer: Prof Francois Malan