17 Januarie – Die skatkamer rondom jou. – Jan van der Watt

Lees: Mat 13:36-58 (fokus: 13:44-52)

Om God as jou Here te hê, is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. (13:44)

In stories kry ʼn mens net skatte iewers op ver eilande en jy kan dit net ontdek met ʼn spesiale landkaart wat op geheimsinnige manier ontrafel moet word. Dit maak dat ons die skatte hier rondom ons heeltemal miskyk.

Die “landkaart” van die Bybel vertel in 13:44 vir ons dat die grootste skat is om God te ken en dit is so. Hy maak ons lewe ryker as wat enige skatkis kan en gee ons groter geskenke as wat ons ooit iewers kan uitkrap. Sy skatte tel ʼn mens nie in Rande nie, maar in genade en liefde. Daar is egter ook ander wonderlike skatte wat sommer so rondom jou ‘rondlê’ waarvan ons te vinnig vergeet.

  • Dink aan die skat van die lewe… hoe hard sal jy nie keer as iemand dit wil wegvat nie. Tog staan ons soms met ʼn gekreun en gesteun en baie gekla oor die dag wat voorlê, op. So laat ons God se skat deur ons hande glip. Leef die lewe daarom voluit.
  • Dink aan die skat van die mense wat jy liefhet rondom jou – die klompie mense voor wie jy maar kan wees wat jy is, omdat hulle jou aanvaar soos jy is. Waardeer hulle, al baklei julle soms.
  • Dink aan die skat van gesondheid… om elke dag te kan opstaan en te kan doen wat jy wil. Die waarde daarvan kan nie in goud gemeet word nie. Ongelukkig besef ons eers hoe waardevol ons gesondheid is as ons dit verloor het.
  • Dink aan die een vir wie jy so lief is, maar soms so seer kan maak. Hoe leeg sou jou lewe nie sonder hom of haar wees nie. Geniet mekaar solank julle nog kan.

Sien die skatte in jou lewe raak en geniet dit – moenie dit in die kluis toesluit en soos ʼn boemelaar leef nie. Die Here het daardie skatte vir jou gegee om jou lewe vol en ryk te maak.




Die Here se reaksie (59:15b-21) – Francois Malan

59:15b In vers 1-2 het die digter gesê die Here verberg Hom vir Israel weens hulle sonde, maar hier is die Here self in die prentjie. Hy is wel oral, soos blyk uit die aanklag in verse 2-8 en volgens die belydenisklag van verse 9-15a, maar hier tree die Here self op. Die Here sien daar is geen reg in die samelewing nie (soos in verse 8,9,13,14 herhaal is) en Hy is ongelukkig daaroor.

59:16 Hy het ook baie meer en skerper gesien, tot in die harte en gesindheid van die mense, dat daar  niemand is wat daarvoor omgee en iets daaraan wil doen nie. Daarom tree Hy self op om sy eer te beskerm (letterlik: daarom het sy arm vir Hom hulp gegee), en sy geregtigheid het Hom onderskraag.  In Eseg 34:11-16 neem die Here die herderskap oor sy kudde self oor omdat die herders so sleg is. Hier tree Hy in as ‘n soldaat om sy heerskappy van reg, geregtigheid, waarheid en vrede te vestig, iets waarvoor niemand gewerk het om dit te verdien  nie.

59:17 Die digter-profeet teken die Here in die rol van ‘n vegter wat ‘n soldate uniform aantrek vir die stryd. Maar dit is ‘n stryd sonder die geweld van oorlog of met fisiese wapens, soos later in Efesiërs 6:11-17 vir die gelowige voorgeskryf word: geregtigheid is sy borsplaat om die pyle/aanslae van die bose af te weer; verlossing is sy helm, wat  kop en denke beskerm en onderdruktes en verdwaaldes verlos van verkeerde gedagtes en planne; Hy klee Hom met wraak oor die onreg wat sy mense aangedoen word (vgl. Deut 32:35 en Rom 12:25); en Hy draai Homself toe met ‘n mantel van toorn oor sy mense se verwerping van Hom en sy goedheid en geregtigheid.

59:18 Die woord ‘daad/dade’ (gemul) kom drie keer in die vers voor. Dit gaan om die lewenswyse van die mense en hulle verkeerde dade teen mede-mense. Elke verkeerde daad van die vyande van die Here en van sy teenstanders tot aan die eindes van die aarde (eilande/kuslande as beelde vir die verste uithoeke van die aarde) word vergeld en kom op hulle koppe neer.

59:19 Die dreiging van die Here dat Hy reg en geregtigheid sal inprent, word voorgestel as die koms van ‘n onweerstaanbare mag, soos ‘n rivier wat alles voor hom wegvee (1983  ‘wanneer die teëstander, tsar, aanstorm soos ‘n rivier’ is ‘n afwyking van die ander vertalings, wat tsar as ‘n byvoeglike naamwoord vertaal, wat beter pas in die gang van die betoog: ‘Hy sal kom soos ‘n ingehokte/stormende rivier,’ 1953: ‘saamgeperste stroom,’ NLV: ‘opgedamde vloed,’ BVA: ‘vol rivier’) ‘wat aangedryf word deur die Gees van die Here’  (sommige vertalings: ‘die wind van die Here’ wat die stroom aanjaag – want die Hebreeuse woord ruach word gebruik vir wind en gees). Die gevolg sal wees dat almal, van wes en oos (letterlik: van sonsondergang tot die opkomende son) hulle onderwerp aan die Here se heerskappy met reg en geregtigheid, wat soos die opkomende son sal skyn en met sy Gees indring in die lewens van mense (vgl Joh 16:8-11).

59:20 Die belofte van die Here toe Israel nog in ballingskap was, 43:1: Ek verlos jou, en 44:6: jou Losser, word hier herhaal met ‘n beperking daarby: Ek sal kom as Losser, na dié wat hulle omdraai/bekeer van hulle oortredings. Die Gees van die Here oorwin deur Israel innerlik te verander.

59:21 Wat my betref, dit is my verbond met hulle – verwysende na hulle wat hulle omdraai van hulle oortredings af volgens die vorige vers. (1983: ‘met die volk’ vertolk die woord ‘hulle’  te wyd). Die term ‘my verbond’ word verder verduidelik met ‘my Gees’ en ‘my woorde.’ Die drie: my verbond, my Gees, my woorde, sal in jou mond wees om dit te verkondig en te omhels. Ps 1:2 sê: Gelukkig is die mens wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend oordink. Die ware verbondsmense is hulle wat lewe in hulle verbintenis met die Here, met sy Gees en met sy woord. En dit sal van geslag tot geslag voortgaan. Daarmee sal die gelowiges hulle onderskei van die oortreders wat hulle nie aan die Here, ‘Die Ek is’ persoonlik teenwoordige, en aan sy Gees en gesindheid en sy torah/onderwysing hou nie.Die hele hoofstuk, wat handel oor die diepe verdeeldheid in die gemeenskap oor wat die wil van die Here vir hulle is, sluit met die versekering van die Here se teenwoordigheid en verlossing vir dié wat hulle by Hom skaar met sy ope samelewing vir alle mense wat aan Hom verbind lewe in reg, geregtigheid en barmhartigheid (vgl Rom 10:8-13).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




16 Januarie – Moenie te vinnig antwoorde gee nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 13:1-35 (fokus: 13:24-30)

[Hierdie dagstukkies kom uit ‘n dagboek geskryf deur Prof Jan van der Watt. Hy maak gebruik van Die Boodskap. Dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.]

‘Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’ (13:30)

Mense worstel deur al die eeue nog met die vraag waarom dinge partymaal so lelik verkeerd kan loop. Dit is veral ʼn vraag wat Christene dikwels pla, want hulle het mos ʼn liefdevolle hemelse Vader wat na sy kinders kyk. Immers, as ʼn pa sien sy kinders kry swaar sal hy mos dadelik help. Daarom vra Christene baie keer as dinge skeef loop: Wat het dan van God geword? Is Hy nie ons hemelse Vader wat vir sy kinders moet sorg nie?

Hoewel daar nie kitsantwoorde is nie, praat die Bybel tog hieroor. Een ding is die Bybel duidelik oor – as dinge skeefloop kan daar baie redes voor wees. Daarom moet ons veral oppas om nie te maklik antwoorde te gee nie.

Een antwoord wat die Bybel wel gee, is dat die lewe en wêreld nie perfek is nie… nog nie. En Christene bly in daardie wêreld met al sy skete, bedrog, haat, seerkry, en noem maar op. Magte en mense wat God se ‘land’ in ʼn woesterny wil verander loop tussen die Christene rond. Die Here het gesê dat dit soos ʼn land is waarin daar onkruid en koring saam gesaai is (13:24-30). Goed en sleg is saam deel van hierdie lewe. Ons lewenspad gaan opdraendes en afdraendes hê. Dit is eenvoudig hoe die lewe is. Die goeie koring kan nie help om teen die onkruid te skuur nie en kan nie keer dat die onkruid die son wegkeer nie.

Dit verduidelik nog nie waarom God dit alles toelaat nie. Die antwoord het ons nog nie. Om egter wel te weet dat God besluit het om die onkruid en koring langs mekaar te laat groei, help ons egter met ons gesindheid. Dit help ons om dinge te verwerk en keer so dat die slegte dinge ons opvreet of geestelik verteer. Dit stel ons net reg in teenoor die lewe – as die slegte kom is ons nie verras nie. Nee, ons is gereed as die onkruid die hitte van ons son wegkeer. Ons weet ons kan en hoef nie die vinger na God te wys en te vra waar ons Vader is nie. Hy is steeds die Boer wat weet wat gebeur.

Krisisse gaan daar altyd in die lewe wees… In krisisse moet ons ons nie bekommer oor God, die Boer, se werk of Hom heeltyd probeer herinner oor hoe ons dink Hy sy werk behoort te doen nie. God se werk is nie om nou die krisis-onkruid elke dag uit te trek nie, al wil ons dit gedurig op sy taaklysie sit. Ons moet ons liewer bekommer oor wat op ons taaklysie staan. Ons moet groei al druk die onkruid ons; ons moet bly leef al keer die onkruid ons son weg.

Die boer los nooit sy lande nie. Nog minder sal God jou ooit los. Groei tot sy eer deur al die krisisse heen.




Die Here wag op geregtigheid (59:1-15) – Francois Malan

Die lang gedig, wat nie altyd duidelik is nie, weerspieël die konflik in die vroeë Jodendom, en ondersteun hoofstuk 56 se aksent op ‘n oop inklusiewe gemeenskap en hoofstuk 58 se eis van ekonomiese regverdigheid in die samelewing. Die situasie het vererger en die onderlinge gemeenskap is  verskeur. ‘n Regsorde wat persoonlike vryheid waarborg bestaan nie, en mense blameer God.

59:1 Daar is iets radikaal verkeerd in die samelewing. Die verbondsooreenkoms  tussen die Here en die gemeenskap werk nie, en sommige verwyt die Here vir die chaotiese toestand waarin die land verkeer (soos in 40:27), maar die beskuldiging word kortaf verwerp met een vers: ‘Kyk! die hand van die Here is nie te kort om te help/red nie, en sy oor nie  te  swaar (doof) om te hoor nie! (vgl. 50:2). Sy krag is nie verswak of ingekort nie. Sy hand, dit is sy krag om te red/help en in te gryp word nie verminder nie. En hulle oneffektiewe godsdiens kan nie God beskuldig dat Hy nie hoor nie (vgl. Jak 4:3).

59:2 Verse 2-8 beskuldig Israel dat húlle nie die verbondsooreenkoms nakom nie, en dit is nie die Here wat in gebreke gebly het nie! Vers 2 stel hulle tekortkominge in algemene terme. Dit gaan oor hulle oortredings en sondes. In die volgende verse word dit duidelik uitgespel. Hulle oortredings het’n  skeiding gebring tussen hulle en hulle God en hulle sondes het gelei tot ‘n onwilligheid by God om hulle gebede te verhoor. ‘Julle God…’ beklemtoon die verbondsverhouding, en maak die oortreding daarvan so ernstig.

59:3 Julle hande is bevlek met bloed – skuldig aan  misdadige geweldshandelinge teenoor medemense (vgl. 1:15)

julle vingers met onreg – onbillike behandeling, teistering van swakkeres

julle lippe praat valsheid/leuens – om mense te mislei en te beswadder

julle tong uiter/mompel verkeerdheid/slegtheid – wat net verhoudings vertroebel.

Al hulle optredes (hande en vingers) en woorde (lippe en tong) is ‘n skending van die beeld van hulle God, die Here (Die Ek is die Teenwoordige), en maak mense (sy skepsels) seer. Dit getuig van die innerlike onvrede van mense wat net vir hulleself lewe.

59:4-6 Die vers kyk na die regspleging as die plek waar verontregtes veronderstel is om  reg, geregtigheid en billikheid te verkry, waarvan openbare verhoudings afhang. Maar dit geskied nie in howe waar leuens die waarheid verdring nie (Eks 20:16). As die hofprosedures verdraai word deur leuens en valse voorstellings, is niemand veilig nie. Dit is die soort onreg wat skeiding bring tussen die Here en sy volk (v2). Goeie menslike verhoudings en ‘n gesonde samelewing is verbind aan toegang tot die Here.

Israel se verdraaide samelewing word beskryf met twee metafore: slangeiers wat uitbroei en spinnerakke wat geweef word. Die slangeiers wat uitbroei bring net meer gif in die gemeenskap, meer onreg en geweld. Skynbaar beskeie verdraaiings van die reg (‘’n skuldige los lieg in die hof’) het geweldige en langdurige gevolge in die lewens van mense. Met ‘n web van woorde (o.a. met valse getuienis) word die slagoffers vasgespin en uitgesuig, en die mense wat die woorde gespin het, kan nie daarmee ‘n kleed van geregtigheid vir hulle weef nie, dit is ‘n web van  oortredings/boosheid en geweld.

59:7 Hulle voete hardloop na die kwaad en hulle haas hulle om onskuldige bloed te vergiet

Hulle gedagtes is gedagtes van boosheid/oortreding, geweld/vernietiging in hulle hoofstrate/hoofweë.

Nêrens is dit nog veilig in die samelewing wat in anargie verval het nie. Hulle het ‘n opstandige gemeenskap sonder hoop geword wat hulleself vernietig.

59:8 Die pad van vrede, sjalom,  ken hulle nie

In hulle (diep) spore (van die waens wat die oes wegry; as beeld van hulle lewenswyse) is daar geen reg nie

Hulle paaie (lewenswyses) wat hulle vir hulleself gemaak het,  is krom (oneerlik) – hulle gekose manier van  lewe is nie reguit, met reg en geregtigheid, nie.

Elkeen wat daarop loop (so lewe) ken nie sjalom nie.

Die slotsom van die gedeelte is: geen sjalom – geen reg – geen sjalom. Die rede daarvoor is dat die basiese vereistes vir ‘n  menslike samelewing makeer. Die vasgelegde praktyk van onregverdige uitbuiting is wyd verspreid – en dit vloei voort uit die regbank (regstelsel en praktyk). Israel is inderdaad vergiftig.

59:9  Die klagstaat van verse 2-8 lok ‘n beswaargebed uit, wat enersyds Israel se erkenning/belydenis is en andersyds die aanklagte van die Here bevestig. Reg en geregtigheid (vriendelikheid) word deurgaans van Israel verwag, bv. in 56:1. Maar hier verwys dit skynbaar nie na Israel se verpligting as die Here se volk nie, maar wat hulle van die Here verwag, maar nie van Hom kry nie. ‘Daarom bly die reg (in hofuitpsrake) ver van ons af, en die goeie (tsedakah kindness)  haal ons nie in nie; ons wag op lig – op ‘n duidelike verduideliking deur die Here, maar kyk! duisternis!, maar  ons wandel (lewe) in die duisternis’. Om op die lig te wag sonder om iets aan die geweld te doen, is hopeloos.

59:10 Hulle hoop op ‘n ordelike en voorpoedige samelewing, maar hulle ondervind slegs duisternis asof hulle soos blindes teen ‘n muur aanskuifel, en hulle struikel asof hulle besig is om dood te gaan. So erken hulle hulle toestand en die hopeloosheid daarvan.

59:11 Ses terme som op wat Israel van die Here verwag: reg en geregtigheid/vriendelikheid (v9a); lig en verduideliking (9b), reg en hulp/redding (v11). Met beelde wat die geluide van eensame diere en voëls maak, op soek na ‘n maat, word die hele volk (‘ons almal’)  se treurige toestand beskryf: die lae gegrom van ‘n beer, en ‘n duif se aanhoudende gekla:

‘ons verwag reg, maar daar is geen (reg nie), op redding, maar dit is ver van ons af’. Die gemeenskap kort alles wat hulle van God nodig het om ‘n leefbare en vreugdevolle lewe te leef (58:14). Maar hulle is in so ‘n ellendige toestand dat hulle niks van die Here vra nie. Hulle bekla slegs hulle behoefte.

59:12-13 Die aanklag was dat Israel nie die Here gehoorsaam het nie. Hier erken Israel die inhoud van die aanklag. Die fout lê nie by die Here nie (59:1 word bevestig), maar by Israel se verset teen die Here en dit maak dat die gemeenskapslewe totaal bederf het. Hulle erken hulle menigvuldige rebellies (teen die Here), hulle sondes (teen die Here en hulle medemense), hulle oortredings (van die Here se wet) en onregverdigheid/boosheid. Opstande in die naam van maatskaplike geregtigheid lei  nie baie keer na reg in die samelewing nie, veral nie as dit deurspek word met leuens nie.

59:14-15a Die gedeelte vanaf vers 9 word afgesluit met ‘n opsomming van die belangrikste en ooglopende dinge wat kortkom in die gemeenskap van Israel wat teruggekom het uit die ballingskap. Dit word saamgevat met vyf sinonieme terme vir die handelinge wat ‘n gemeenskap lewensvatbaar maak: die reg (misjpat) en geregtigheid (tsedakah) soos in vers 9; waarheid (‘emet) wat volgens verse 4 en 13 in die howe makeer;  opregtheid/wat nie verdraaid is nie (nekogah) en waarheid  (‘emet) herhaal die vorige twee om dit te beklemtoon. Die vyf wys duidelik dat die lewe van ‘n gemeenskap afhang van sy etiese verantwoordelikheid. Maar dit makeer alles in Israel se samelewing. Vers 13 se wegdraai van die Here af en vers 9 se reg wat ver van hulle verwyder is, onderstreep hoe jammerlik die gemeenskap ontaard het. Die ononderhandelbare vereistes van reg en geregtigheid is die voorwaarde vir ‘n nuwe gemeenskap van verlossing en vreugde  wat die Here vir die teruggekeerdes aangedui het in 56:1-2. Dit het verdwyn. Nou is dit duidelik: as daar geen reg en geregtigheid is nie – is daar geen lewensvatbare samelewing nie!