58:8 Die soort vas, wat die Here vra, lei daartoe dat jou lig deurbreek soos die daeraad. Dit lei tot genesing, beskerming en veiligheid – dan sal die Here jou weer raaksien en verhoor (vgl 58:3 se klag). Die Here sal aan jou ‘n goeie lewe gee. Letterlik:’ jou geregtigheid sal voor jou uitgaan en die heerlikheid van die Here sal jou versamel’ (jou agterhoede wees) soos die wolkkolom met die uittog uit Egipte (Vgl Eks 13:21-22Jes 52:12; Ps 139:5)
‘jou geregtigheid’ – soos die Here sy verhouding met jou reggestel het, moet jy jou verhouding met mense gaan regstel. Sy heerlikheid word gesien in sy liefde en vergifnis; so moet jy ook sy liefde deurgee en sy vergifnis toepas.
‘n Goeie lewe kom slegs deur goeie verhoudings met jou bure en medemense. Die gemeenskap se veiligheid en sekuriteit word bedreig deur selfsugtigheid, hebsug, afsydigheid en uitbuiting. As dit afgelê word, kan die Here se seën verwag word.
58:9 In vers 3 is gekla dat die Here nie hulle vas en verootmoediging raaksien as ‘n goeie werk wat beloon moet word nie. ‘n Loon word nie hier gegee nie, maar die versekering van die Here se teenwoordigheid by hulle, ook in hulle teëspoed en smart. Sy teenwoordigheid beteken dat Hy hulle raaksien en vir hulle toeganklik is. Maar gemeenskap met Hom is verbind aan die aandag wat jy aan jou medemens gee (vgl. Mat. 5:23-24). Volgens Jes 58:3-5 aanbid Israel die Here terwyl hulle hulle medemense verdruk. 58:9 wys die weg na egte aanbidding: as jy sorg dat die mense by jou nie meer verdruk word nie (Lett:erlik dat jy die juk uit jou midde verwyder) – alle vorms van verdrukking (juk) is vir God onaanvaarbaar, ekonomies, polities en sosiaal. God se kinders is veronderstel om vryheid vir almal te bevorder, om ‘n regverdige ekonomie te bedryf; nie meer dreig nie (lett: nie met jou vinger wys nie), nie beskuldig nie, nie sleg van ander praat (skinder) nie, hulle uitskel en verneder nie, alles dinge wat egte buurmanskap en vriendskap onmoontlik maak.
58:10 As jy jouself uitgiet vir ‘n honger persoon – van jou kos uitdeel, en voorsien in die behoefes van die mens wat in nood is (eerder as om net die rykes te pamperlang), dan sal jou lig skyn in die donker en jou duisternis wees soos die middag. Die lig verwys waarskynlik na sjalom in die samelewing, met voorspoed, harmonie onder mekaar en vry van buitelandse bedreigings (vgl. Jes 9:1 en 2 waar Israel se donkerte ‘n beskrywing is van die bedreiging van Assirië en hulle bevryding as lig voorgestel is, wanneer die wonderbare Seun hulle sal bevry). Die Here wil ‘n gemeenskap met reg, geregtigheid en barmhartigheid tot ‘n lig maak wat deur almal gesien kan word.
58:11 ‘Die Here sal jou bestendig (sonder ophou) lei (as jou gids) en vir jou (letterlik: jou siel) versadig te midde van verbrande/verdroogde lande;’ en Hy sal jou bene versterk, en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed nat gemaak is en ‘n fontein wat nie verswak/opdroog nie. Die Here waarborg sy veilige leierskap deur die droogtetye (soos met die uittog uit Egipte en die terugtog uit Babel) en volop water in ‘n dor land, soos Psalm 23 se waters waar rus is selfs in die donker dieptes. Jesus praat van die gawe van die Heilig Gees as strome lewende water wat uit jou binneste sal vloei (Joh 7:37-39) en aan die Samaritaanse vrou bied Hy ‘n fontein van water aan, wat in haar sal opborrel tot die ewige lewe (Joh 4:14).
58:12 Die stad Jerusalem is veral tydens die leierskap van Esra (vanaf 458 v.C.) en Nehemia (445 en 430 v.C.) opgebou (die eerste groep onder Serubbabel het reeds in 538 v.C. teruggekom – hierdie opbou geskied nou 80 jaar na die eerste Jode teruggekom het). Die gemeenskap sou in dié stadium die energie, moed en bronne gehad het om die eeue oue ruïnes weer op te bou, sowel as die fondamente van baie geslagte, indien hulle geleer het om in vrede saam te lewe. Dan sou hulle genoem word: Hersteller van die breuk; Bewoonmakers/herstellers van die paaie om te kan woon – mense wat ‘n nuwe lewensvatbare gemeenskap moontlik maak. Die soort gemeenskap word nie in die eerste plek deur ‘n amptenary of tegnologie of groot geld of oorspronklikheid gebou nie, maar begin deur jou medemens raak te sien en vir hom om te gee.
58:13 ‘As jy jou voet terughou ter wille van die sabbat en nie jou besigheid doen op my heilige dag nie’ – die Sabbat (die Hebreeuse woord sjabat beteken om te rus) is die alternatief vir ‘n rustelose, aggressiewe, ongetemde hebsug wat rondhardloop om jou medemens te misbruik vir jou eie voordeel. Deutr 5:12-15 het rus vir al die lede van die huishouding voorgeskryf, werkers ingesluit. Almal moet rus en die oorvloed van die skepping geniet. Maar vir die mense wat hier aangespreek word, is so ‘n Sabbat onbekend. Hulle verdruk hulle diensknegte en medemense (v6) en jaag na wins ten koste van ander (v3,9b) ook op die Sabbat as hulle vroom in die tempel of sinagoge aanbid. Hier word die Sabbat ‘n toets vir self-beperking van jou eie begeertes en of jy volgens die Here se wil wil lewe. Die Sabbat is bedoel as ‘n vreugdevolle feesdag aan die Here gewy om Hom te eer deur o.a. hongeriges te voed en armes te klee, om te gee, eerder as om te gryp en te versamel (vgl. Mat 12:12; Hand 25:32). Die Sabbat is bedoel as ‘n onderbreking van jou daaglikse program, nie jou eie begeertes en plesiere te soek nie, en’n (ydel) woord/saak te praat nie (1983: nie handeldryf nie).
58:14 Dan sal jy vreugde vind in die Here – die Here belowe dat ‘n alternatiewe gemeenskap, waar mense in vrede met mekaar lewe, in reg, geregtigheid en barmhartigheid, hulle vreugde in die Here sal vind. Die Hebreeuse woord hier vir vreugde praat van ‘n blydskap, sonder hebsug of onderdrukking, oor ‘n goeie lewe wat die Here aanbied aan dié wat op Hom vertrou en volgens sy wil met mekaar lewe met ander waardes as dié van die wêreld om ons. Ware vreugde vloei nie voort uit die najaag van jou eie belang nie, maar medemense is die pad wat die Here aanwys as die toegang tot Hom (vgl. Mat 25:34-40; Jesus se nuwe gebod is juis dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet, deur sy lewe vir ons te gee; Joh 13:34).
‘En Ek sal jou laat ry op die hoogtes van die aarde/land (die pad na ware sukses), Ek sal jou laat eet van die erfenis van jou vader Jakob (van die produkte van die land wat die Here aan Jakob gegee het); want die mond van die Here het gepraat’ – en sy woord doen wat dit sê (Jes 55:11).
Die oop gemeenskap wat in reg, geregtigheid en barmhartigheid met mekaar saam lewe, waarvoor die digter-profeet pleit, het deur die eeue nie by Israel posgevat nie, behalwe by klein groepies, todat Jesus gekom het en dieselfde boodskap gebring het deur aandag te gee aan die Samaritane (Joh 4), ‘n Griekse vrou uit Fenisië (Mark 7:26) en mense van die tien Griekssprekende stede (Mark 7:31-10); en Hy het gebid vir die eenheid van almal wat aan Hom behoort, sodat die wêreld in Jesus kan glo wat die Vader gestuur het omdat Hy hulle liefhet (Joh 17:20-23).
Skrywer: Prof Francois Malan