12 Januarie – Jy, ʼn sendeling. – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:27-10:21 (fokus: 10:1-5)

 ‘Gaan vertel hulle van God se nuwe wêreld wat hier is. Gebruik die toerusting wat Ek vir julle gegee het.’ (10:7)

 Die woord “sendingwerk” laat ons gewoonlik aan beelde dink van verre lande met snaakse name, mense met vreemde tale en klere, tropiese woude waar dapper Christene tussen steekvlieë en muskiete die Evangelie verkondig.

Eintlik beteken die woord baie meer as dit: die sendingveld begin vir die gelowige nooit verder as ʼn meter van hom af nie. Dit sluit die plek en mense in waar sy voet die volgende oomblik gaan val. Kyk maar na Jesus – Hy stuur sy dissipels eerste na die mense rondom Hom, ja, na sy eie mense toe (10:5-6).

Iewers waar jou voet vandag mag val, gaan daar iemand wees wat dalk al gehoor het, maar nog nie geluister het nie. Jy mag dalk die een wees deur wie die Here daardie persoon wil laat luister. Dit beteken allermins dat jy die Bybel oral moet uitpluk en rondswaai. Dit beteken egter wel dat jy in jou lewenstyl ʼn “gestuurde” van die Here moet wees. As die geleentheid kom, moet jy nie onkant gevang word nie.

Moet jouself ook nooit as “gestuurde” onderskat nie, want jy is nie alleen nie. God is ook daar. En dit is nie jy wat die dinge moet laat werk nie. Hy doen die eintlike werk. Moet dus nie vir God probeer ‘werkloos’ maak deur alles self te probeer doen nie.  Heelwat Russiese Christene vertel dat na die val van kommunisme hulle juis so tot bekering gekom het – nie deur ʼn geprekery in kerke nie, maar deur mense wat vir hulle dáár was om vir hulle die pad na God toe te wys.

Jy moet die wegwyser wees vir mense wat die weg soek.




Geloof moet gelewe word (58:1-7) – Francois Malan

Die gedig is ‘n lang en ernstige opdrag van die Here dat sy diep verdeelde volk aangespreek moet word oor hulle skynheiligheid. Die Here verwag dat sy volk se lewe hulle belydenis sal weerspieël, oor wie en hoe hulle Here is, dat hulle nie met hulle lewe ‘n boodskap verkondig wat strydig is met hulle vertroue op die Here en sy woord nie.

58:1 Roep met ‘n keel (sit ‘n keel op, roep hardop), moenie terughou nie (moeie bang wees om dit luid en duidelik uit te roep nie), soos ‘n sjofar (ramshoring wat vir die stryd oproep), verhef jou stem (roep met ‘n luide stem). Die verkondiger van die Here se woord word in geen onduidelike taal nie vier maal die opdrag gegee om die Here se woord te verkondig, hard en duidelik, sonder om doekies om te draai, want dit is ‘n saak van lewe en dood vir mense en gemeenskappe. Die volk van die Here moet op hulle oortredings van die Here se opdragte gewys word.

Maak aan my volk hulle opstand/rebellie bekend (stel die saak hoog, duidelik sigbaar voor) en aan die huis van Jakob hulle oortredings – dit is ‘n lewe wat ingerig word uit teenstand teen die woord en wil van die Here. Later word dit uitgespel dat hulle optrede teenoor mekaar, teenoor hulle arbeiders en arm medemense, ‘n optrede is wat indruis teen die Here se opdragte daaroor.

58:2 En dit gebeur terwyl hulle die indruk wil skep dat hulle baie godsdienstig is. Hulle begeer met vreugde; vreugde word twee maal in dié teks gebruik (1983 vertaal: graag, daarvan hou) – hulle verheug hulle daarin om dag vir dag die Here te soek en na sy wil te vra, so asof hulle ‘n volk is wat in geregtigheid lewe en nie die voorskrifte van die Here verlaat het nie; hulle vra by die Here sy voorskrifte vir geregtigheid en geniet dit om na die Here te kom met lofprysing en gebed. Die digter berispe sy tydgenote wat die diens van God verander het in ’n daad van selfbevrediging  sonder etiese inhoud. Hulle geniet hulle aanbidding. Maar ware aanbidding fokus op die Here se wil en wense soos deur sy woord verduidelik word. Hulle voel goed oor hulle eredienste en in hulle eredienste, maar dit is teen die ware bedoeling van die Here.

58:3 Getrou vas hulle en verneder hulleself voor die Here (moontlik in sak en as), maar die Here neem nie daarvan kennis nie! Want hulle doen dit vir hulle eie begeertes en plesier; om deur die Here raakgesien te word, om die Here se aandag op hulle te laat vestig – eintlik ‘n erkenning dat hulle godsdiens op hulleself gevestig is, dat die doel van hulle godsdiens is om daardeur iets te verkry. Daarom het hulle godsdiens ‘n middel tot ‘n doel geword en nie ‘n doel opsigself nie. Die Here is dus bruikbaar om voordeel te behaal, soos die Satan vir die Here gevra het: Is dit verniet dat Job U vrees? (Job 1:9) – bedoelende sonder hoop op wins. Godsdiens wat bereken wat ek daaruit sal kry, werk nie by God nie! Daarby verdruk hulle al hulle slawewerkers (Septuaginta: die mense onder julle hand – onder julle beheer; die Hebreeuse woord verwys na ‘seermaak, gepynig word). Hulle godsdiens is ‘n opstand teen die Here se eis van liefde tot God met jou hele hart, en jou naaste soos jouself. (Deutr. 6:5; Lev 19:18). Dit bely hulle dag vir dag en gee voor dat hulle God en hulle naaste so liefhet, maar juis nie toepas nie, nie in die erediens en kerk nie en nie by die huis of in die samelewing nie.

58:4 ‘Kyk! Julle vas net tot twis/onenigheid (wat op ‘n regstryd/hofsake met mekaar uitloop)  en twis (met standpunte teen mekaar);  julle vas om  met die vuis van boosheid te slaan; julle vas nie op die dag (vandag soos ons nou praat) om julle stemme in die hoogte (by God) te laat hoor nie.’ Die mens wat vas, baklei omdat hy net op homself gerig is, sodat daar geen grootmoedigheid of vrygewigheid kan wees van mense wat groter as hulleself is nie. Sulke soort aanbidding gee geen toegang tot God nie want die God van Israel is nie beskikbaar om ‘n instrument te word van die mens se berekende manipulasie nie. Dié soort aanbidding is ‘n totale verdraaiing van die beeld van God en ‘n totale verwringing van sosiale verhoudings.

58:5 Die Here soek nie uiterlike tekens van verootmoediging by ‘n mens (adam enige mens) nie, met geboë hoofde (soos ‘n biesie in die stroom of soos verlepte plante) in sak geklee en as op die kop nie.Vir die Here is die uiterlike tekens nie van belang nie, want dit dien slegs om deur mense gesien te word (vgl. Mat 6:16-18).

58:6 Ware vas, wat die Here wil hê, behels nie ‘n soort gedissiplineerde vroomheid nie, maar ‘n lewe met dade wat  jou medemens help en opbou, nie afbreek of verkleineer nie. Dit gaan nie vir God om ‘n passiewe roetine lofprysing van Hom nie. God werk in die gemeenskap en wil hê al sy volgelinge moet saam in die gemeenskap werk om Hom daarmee te prys. Egte vas gaan oor die regstel van onreg teenoor mense in die gemeenskap. Dit eis van jou om af te sien van jou voorregte en van die misbruik van jou mag:

Bevryding van mense wat onregverdig gevange sit – moontlik as slawe (Neh 5:5; vgl Jer 34:16) Letterlik: maak los die onregverdige/bose bande/kettings (gevangenskap)

Bevryding van onderdruktes – verwys na die skuldbande van mense in die mag van die ryk uitbuiters (Neh 5:3-7).                         Letterlik: maak los die stroppe van die juk

Laat die onderdruktes vry – dit bevestig die voorafgaande opdrag

Breek elke juk stukkend – dit brei uit op die voorafgaande twee opdragte.

58:7 Die vas wat die Here van ons verwag is om soos Hy te wees, genadig, barmhartig en vrygewig teenoor ander wat minderbevoorreg is, om jou brood te deel met ander, ook jou huis, jou klere, die basiese lewensbehoeftes (opgenoem in Mat 6:25).  Dit vra iets van jou, wat jou iets kos. Dit is egte vas wat die Here behaag, nie slegs ophou eet nie.

Om jou brood te breek (uit te deel) vir die wat honger is (vgl Neh 5:17)

En die armes, rondswerwers (dakloses) in te bring in die huis (Septuaginta ‘in jou huis’)

Wanneer jy iemand sien wat naak is (letterlik: wat homself verberg) jy hom klee – van jou klere gee as ware vas

En dat jy nie sal wegkruip vir jou familie/medemens nie  (letterlik: jou eie vlees nie) – van die armes in jou familie nie – egte vas is om hulle raak te sien en te help.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




11 Januarie – Jy moet Jesus nooit onderskat nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:14-26 (fokus: 9:18-26)

 ‘Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond!’ (9:22).

 Mense kan maklik blapse maak, nie omdat hulle graag wil nie, maar omdat hulle nie van beter weet nie. Een van die matrose op die skip waarmee eeue gelede tabak in Suid-Amerika ontdek is, het met van die tabak in sy tuisdorp in Europa gaan spog. Ewe kordaat het hy rook deur sy neus geblaas. Die verbaasde dorpenaars het gedog hy’t ʼn towenaar geword en hom daar en dan ter dood veroordeel. Dit was die einde van hom en sy oëverblindery.

Net so lees ons van mense wat die blaps gemaak het om uit onkunde met Jesus te spot en Hom uit te lag omdat hulle gedink het Hy praat onsin toe hy ʼn dogtertjie wou lewendig maak.(9:24). Om iemand lewendig te maak is tog nie moontlik nie. Natuurlik is dit nie moontlik nie – nie vir gewone mense nie. Maar juis daar lê die verskil – Jesus is nie ʼn gewone mens nie, al is daar vandag nog mense wat dit graag wil glo. Hulle probeer hulle bes om Jesus met allerhande stellings en koerantberigte so klein soos ʼn gewone mens te probeer sny. Hy kan volgens hulle nie wonders gedoen het nie, kon Hy nie uit die dood opgestaan het nie, kon niks meer as ʼn gewone mens gewees het nie.

Miskien moet hulle maar mooier kyk na wat Jesus in mense se lewens doen. Hulle moet kyk wat gebeur met mense wat bereid is om hulle hande in die hand van Jesus te sit sodat hy dit styf kan vashou (9:25). Hulle sal sien sulke mense se oë gaan oop vir Jesus wat by hulle is en nuwe lewe begin deur hulle vloei.

Jesus is nie regtig ʼn wonderwerker of towenaar wat met oëverblindery besig is nie; Hy is ʼn geneser. ʼn Wonderwerker doen wonders om gesien te word, nes die man met die tabak. Dit bring jou nêrens nie. ʼn Geneser wil egter stukkende mense heelmaak en nuutmaak – en dit doen Jesus. Hy is soveel meer as ʼn gewone mens. Sy liefde, krag en genade bied soveel meer as wat ʼn gewone mens kan gee.

Jy moenie die blaps maak om Jesus ʼn gewone mens te wil maak nie. Dan gaan jy niks van Hom verwag nie en nog minder kry. Wie bereid is om met oop arms en hande voor die hemelse Geneesheer te gaan staan sal sy hand van genesing oor hulle lewens voel vou. Gee die Geneesheer kans om jou hand in syne te vat, en jy sal ervaar wat die dogterjie in die verhaal ervaar het.




Ek sal hulle genees (57:14-21) – Francois Malan

Na die aanslag op die oortreders in 57:3-13a verander die toon weer skielik in 57:14-21. Die teenstelling tussen oordeel en versekering is tipies van Jesaja wat telkens God se oordeel baie ernstig opneem, maar herhaaldelik hoop ná die oordeel beklemtoon. Die gedeelte sluit in vers 21 met ‘n herhaling van 48:22 (vgl. die slotvers van die boek  66:24): vir die goddelose is daar geen vrede nie, sê my God.

57:14 Die vers herhaal die metafoor van die hoofpad wat as ‘n beeld vir die terugkoms na Jerusalem gebruik is (35:8; 40:3; 49:11). Omdat Israel reeds in Kanaän terug is en die tempel reeds opgebou is, verwys die metafoor waarskynlik na die pad vir die torah, dat gesorg moet word dat daar geen obstruksies sal wees wat volle gehoorsaamheid aan die woord van die Here sal verhinder nie. Die beeld praat van die blye opbou van die samelewing volgens die voorskrif van die Here.

57:15 Die karakter en identiteit van Jahweh word hier op ‘n besondere genuanseerde wyse bevestig: Die teenoorstelling van hoog en heilig teenoor nederig en verdruk is die kern van die Here se selfopenbaring, die misterie van God wat die onderwerp is van die Bybelse geloof. Dit is die beskrywing vir die groot Regeerder van die heelal. Vanuit sy verhewe troonsaal (6:1) reik sy koninklike teenwoordigheid en sy koninklike sorg uit na die laagste en onwaardigste van sy onderdane.  Dit is hierdie optrede van die Here wat die lewenswyse van Israel lei op nuwe weë – my gedagtes is nie julle gedagtes nie…soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede en my gedagtes verhewe bo julle gedagtes en optrede (55:8-9; vgl. sy woorde aan die vertrapte slawe in Egipte in Eks 3:7-8). So het die Seun van God Homself prysgegee deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, gehoorsaam tot die dood aan die kruis (Filip 2:6-8).

Die doel van God se identifisering met die nederiges en verguisdes is om hulle harte en gees te vernuwe, te laat herleef. Die God wat so deur die teruggekeerdes vereer word as die hoë God, gee lewe aan diegene wie se lewe uit hulle gemergel is. Dit is die paradoks van God. Die ereplek, heerlikheid en mag in die Here se koninkryk en tempel behoort nie aan die trotse ambisieuses en sterkes nie, maar aan die nederiges van gees (Mat 5:3-10).

57:16-19 Hier word uitgebrei op die wonderlike aankondiging in vers 15, met ‘n teologiese verslag van die hele verloop van die Here se optrede teen Israel, binne die denkwyse van Israel se tradisie oor die toorn van God oor  sonde. Die basis vir wat volg is die goeie nuus van die Here se versekering dat Hy nie toornig sal bly op Israel nie (vgl dieselfde versekering in Ps 103:9-10).  Die Here se toorn is beperk deur sy identiteit as barmhartig en genadig, geduldig en vol troue liefde (Ps 103:8; vgl. Eks 33:19, aangehaal in Rom 9:15).

‘want ‘n gees word swak/flou voor My, en die mense (letterlik: die wat asem het) wat Ek gemaak het’ (1983-vertaling: want anders sou dit die einde beteken van die mens aan wie Ek die asem gegee het)

Die Here erken dat Hy kwaad geword het vir Israel wat opgeroep is vir die hofsaak teen hulle omdat hulle sy verbond verlaat het en erge straf verdien het. As sy toorn voortgaan sal dit egter sy werk aan sy skepping negatief beïnvloed. Daarom word sy toorn oor die skepsels wat Hy gemaak het, gestaak.

57:17-19  Die Here se optrede teen Israel word in drie stappe aangebied, volgens die Jesaja-tradisie:

1 Ek was kwaad …..voor die ballingskap (v17)

2 Ek sal genees ……. verlossing van die bannelinge (v18)

3 ‘Vrede, Vrede’…… sy teenwoordigheid by Israel na die ballingskap (v19).

57:17 Die vernietigende toorn van die Here wat Israel in ballingskap gestuur het, was ten volle geregverdig. Die Here wat gehoorsaamheid aan die verbond vereis, moes optree teen mense wat daarop uit was om geweldaddig en vernietigend op te tree vir eie gewin. Daarom het die Here hulle geslaan met die ballingskap en Homself vir hulle verberg. Hulle was hardkoppig, daarom moes die Here hardhandig teen hulle optree; hulle het hulle rug op die Here gedraai en wou nie na Hom luister nie, en daarom het Hy Hom vir hulle verberg en doof gehou vir hulle klagtes.

57:18 Die Here sê: ‘Ek het gesien…’ ‘maar… ’ ‘Ek sal hom genees…’ ‘Ek sal hom lei…’ ‘Ek sal vergoed met vertroostinge aan hom en sy treurendes.’  Die Here as Heler wil genees en krag gee vir ‘n goeie lewe. ‘Lei’ verwys na die uitlei uit Egipte en uit Babilon en die Here se beskerming en sorg oor hulle (soos die wolkkolom en manna van ouds). Troos is die sleutelwoord reeds in 40:1. Die drie beloftewoorde verseker Israel van die Here se teenwoordigheid en sorg, soos in Ps 23 uitgespel word met groen weivelde, beskerming en ‘n gedekte tafel. Israel se afdraande lewensreis ná hulle terugkom uit die ballingskap en hulle herstel word uitgespel, maar bevestig ook dat die Here barmhartig en genadig is, en onreg straf (vgl. Eks 34:6-7).

57:19 Die beweging van toorn (v17) na genesing (v18) lei tot sjalom die heelheid van lewe –  dit is totaal in kontras met die vernederdes en verdruktes van v15, en met die toorn van die Here (v17).  Die Here kom met die versekering:  sjalom, sjalom! Vir dié wat ver en dié wat  naby is, vir Jode wat reeds terug is in Jerusalem en dié wat nog verkeer in die verstrooiing dwarsoor die hele Persiese ryk. Dit is die nuwe gawe van die hoë en heilige God (v15) wat besig is om die laagstes en verdruktes te vernuwe (Die Dooie See manuskrip laat die tweede sjalom uit, maar die Septuaginta plaas dit, soos in die Afrikaanse vertaling, elk aan die begin van ‘n sinsnede).

Die vers begin met ‘skeppende (die een wat skep) die vrug van die lippe (woorde) – dit is die Skepper Here wat  met sy skeppingswoord vrede skep (soos met die skepping). Slegs die Skepper kan woorde praat wat doen wat Hy sê (55:11). Die vers sluit met ‘en Ek sal hom (die naby Jode en die wat ver is) genees’ (soos aan die begin van vers 18) om dié wat treur oor hulle sonde, hebsug en ellende nogmaals te verseker van sy heling, van die mens en die samelewing te midde van die bedreiging van die goddeloses wat tussen hulle woon.

57:20  Die paragraaf sluit af  met ‘n uitsluiting: die belofte van sjalom geld nie vir die goddelose nie. Hulle is soos  die see wat rondgeslinger word sonder stilte – wat nooit tot rus kan kom nie, en slyk en modder opwerk. Die goddelose is soos die eindelose bruisende waters van chaos – meedoënloos wreed, verwar, uitdagend, afbrekend – wat altyd vullis en geweld laat opbruis en oorspoel uit hulle harte. Die sjalom van dié wat van die Here afhanklik is, is ‘n gawe wat juis met  die diepgaande verdeeldheid in die samelewing wil gaan. So het Jesus die onstuimige see beveel: Bedaar, wees stil! (Mark 4:39). Alleen die woord van die Here maak alles veilig vir sy volgelinge.

57:21 In die hart van die goddelose is daar geen plek vir vrede nie (48:22), die sjalom van verse 2,18,19. Daarom tree hulle so woes en onvergenoegd op.

Skrywer:  Prof Francois Malan