5 Januarie – Eerlikheid is die lig van die siel – Jan van der Watt

Lees: Mat 5:1-48 (fokus: 5:33-37)

‘“Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Wat help dit in elk geval om iets te sê soos: ‘Ek sweer ek praat nou die waarheid?’ Dit kan niks aan julle omstandighede verander nie. Sê liewers net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. Hou julle woord. Doen wat julle sê.’ (5:36-37)

ʼn Eienskap van Christene is dat hulle veronderstel is om te doen wat hulle sê. Hulle “ja” moet hulle “ja” wees en hulle “nee” hulle “nee” (5:36-37). Dit is ʼn hoë eis wat Jesus aan ons stel. En dit sny tot in die hart van ons Christenskap, want eerlikheid en integriteit is pilare waarop ons Christenskap staan.

Die werklikheid lyk dikwels anders. Iemand het eendag gesê dat as ʼn besigheidsman vir hom sê hy’s ʼn Christen, raak hy baie agterdogtig en versigtig. Natuurlik kan ʼn mens nie veralgemeen nie, maar dit is so dat daar mense is wat die hoë eise van eerlikheid wat Jesus vir ons stel, misbruik. Hulle gebruik die naam ‘Christen’ om so die indruk te skep dat hulle heeltemal betroubaar is… iets wat jy dikwels sommer baie gou agterkom nie so is nie. ʼn Mens kry dus dikwels die gevoel dat juis hierdie lofwaardige en goeie eienskappe van eerlikheid en integriteit skaars begin raak.

Dit is jammer dat dit so is, want eerlikheid is die lig van die siel. Dit is ʼn lig wat na binne en buite skyn… As jy eerlik is met jouself sal jy ook eerlik met ander kan wees, en natuurlik omgekeerd. As jy eers vir mense begin jok, sal dit ook vir jou maklik wees om vir jouself ʼn rat voor die oë te begin draai. Jy sal allerhande verskonings vir jouself begin uitdink wat jy in jou binneste weet nie reg is nie en dit nog begin glo ook… en so begin jy vir jouself jok.

En hoe meer jy vir jouself jok, hoe makliker sal dit word om dit te doen. So word die liggie van eerlikheid al dowwer en dowwer tot jy jouself nie meer kan vertrou nie. En dit sal op ander afsmeer. Hulle sal gou agterkom dat hulle jou ook nie meer kan vertrou nie. En wat het dan geword van jou ‘ja’ of ‘nee’? Wel daar sal net vraagtekens daaroor bly staan.

Wees daarom eerlik – in die eerste plek met jouself. Hou die donker kolle van “oneerlike verskonings soek” of “feite verdraai” uit jou lewe uit. Want as jy eerlik is met jouself sal jou lig van eerlikheid helder na binne en buite bly skyn. Dan sal jou “ja” ʼn “ja” vir almal wees. Hou jou woord… doen wat jy sê, want dit is wat die Here van ʼn Christen verwag.




Hou reg en geregtigheid in stand (Jes 56-66) – Francois Malan

Hierdie elf hoofstukke weerspieël waarskynlik die lewe van die teruggekeerde Israel  Hoofstukke 40-55 het hoofsaaklik gehandel oor die terugkeer van die ballinge, oor  die uitnodiging en die vreugde om terug te gaan, met ‘n wonderlike verwagting vir die nuwe lewe wat voorlê. Klanke daarvan kom ook voor in hoofstukke 60-62 en 65 wat steeds hoop dat die Here se bedoeling met die terugkeer sal uitwerk in omstandighede wat al swakker lyk.

Toe Israel in 538 v.C. vanuit die hele Persiese ryk begin terugkom in Kanaän (Esra 1:1-4), was daar mense wat tydens die ballingskap agtergebly het en steeds daar gebly het en ook van die hervestigde volke van elders (vgl. 2 Kon 24:24). Daar was verskille tussen die teruggekeerdes en die mense wat daar gebly het, en ook verskille onder die teruggekeerdes oor hoe om aan die nuwe lewe met die Here vorm en orde te gee. Die profete Haggai, Sagaria en deels Jeremia spreek dieselfde omstandighede aan. Dit was waarskynlik tydens en ná die herbou van die tempel 520-515 v.C. en voor en tydens Esra (458v.C.) en Nehemia (445 en 430 v.C.) se aankoms. Hoofstukke 56-59 gee getuienis oor dispute wat ontstaan het oor die omvorming van Judaïsme, of dit ‘n oop gemeenskap moet wees vir alle mense, of ‘n geslote gemeenskap wat slegs vir getroue Jode bedoel is. Hoofstukke 60-62 verheug hulle oor ‘n beter toekoms wat te wagte is. In hoofstukke 63-66, wat ‘n verskeidenheid van gesigpunte het, kom die klem op die visies van hoofstukke 60-62 en die dispute van hoofstuke 56-59 na vore. Ná hoofstuk 65 se verwagting dat die Here Jerusalem nuut gaan skep en ook ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, wys die slothoofstuk dat daar nog steeds baklei word of die nuwe lewe oop moet wees vir almal en of hulle ‘n geslote Joodse gemeente moet wees, amper ’n honderd jaar na hulle begin terugkeer het.

56:1-2: Dié verse, uit ongeveer 10 jaar na die ballingskap, stel die hooftema wat die visoen oor die nuwe pad vir Israel  aandui. Teenoor  die Here se woord aan die hardhorende onbekeerlike bevolking voor die ballingskap (6:9-11), wys die Here hier wat sy gedagtes vir hulle nuwe lewe is. Twee woordpare word daarvoor gebruik, wat albei in noue verband met mekaar staan:

Die eerste woordpaar is ‘reg en regverdigheid,’ wat dikwels in die Ou Testament en Jesaja gebruik word (bv. Jes 9:6) – ‘die reg (misjpat) bewaar/sorg vir/in stand hou,’ en ‘doen wat reg/regverdig/billik(tsedaka) is. Daardeur word sterkes en swakkes, ryk en arm aan mekaar verbind en word die pad vir die Here se verbondsgemeenskap uitgestippel. Dit verseker sekuriteit, waardigheid en welsyn vir elke lid van God se volk. Dit is juis wat ontbreek het voor die ballingskap (5:7).

Die tweede woordpaar is ‘my verlossing/hulp’ (jesju ah) en ‘my geregtigheid’ (tsedaka, 1983: redding). Wat in die eerste woordpaar van sy volk teenoor mekaar vereis word, is reeds deur God aan hulle uit genade geskenk. Sy verlossing het Hy reeds deur die Persiese konings gegee, en sy geregtigheid verwys na die volk se regte verhouding tot die Here. Deur die ballingskap het Hy hulle reeds gelouter van hulle onreg teenoor mekaar, van hulle afgodediens  en onsedelike lewe (1:22,25; 48:10; Jer 11:4). Hy het sy verhouding met hulle herstel en duidelik gesê: Hier is Ek! (40:9; 52:6), die persoonlik aktief teenwoordige by julle, die ‘Ek is’ van Eks 3:13-15.

Die gevolg van ‘n lewe van reg en geregtigheid in die samelewing, wat voortspruit uit die Here se verlossing en geregtigheid, is lewensgeluk/blydskap, die Here se seën op jou lewe (vgl. Ps 1:1;  Mat 5:3-12). Wat mense onderskei van mekaar is of jy reg en geregtigheid doen of nie. Jou volk, geslag, status, ekonomiese krag of politieke status is nie vir die Here belangrik nie (vgl. Gal. 3:28). Letterlik begin vers 2 met: ‘Gelukkig is die mens (’enosj) wat dit (reg en gergtigheid) doen en die seun van die mens (ben adam afgelei van die rooi grond ’adamah se stof waaruit die mens gevorm is en waarheen hy terugkeer Gen 2:7; 3:19), wat daaraan (reg en geregtigheid) vashou.’ Die twee woorde vir ‘mens’ is soortname en sluit alle mense in.

‘Wat die sabbat hou en nie ontheilig nie, en sy hand weerhou om enige kwaad te doen.’ Die onderhouding van die sabbat het die deel van Israel, wat uit die ballingskap teruggekeer het, onderskei van die ander Jode en volke, as mense wat ernstig volgens die tien gebooie van die Here lewe. Tydens die ballingskap het Esegiël juis daarop gewys dat hulle nie die sabbatte gehou het nie en daarom in die ballingskap beland het (Eseg 20:12vv; 22:8,26). Negatief word gestel dat geluk voortspruit uit die vermyding van die bose, van alles wat die Here verbied (vgl. Job 28:28; Ps 1:1; Spr 3:7).

Die begeerde visie van die twee verse is ‘n gemeenskap wat toegewy sal wees aan die wet (torah lering) van die Here. Toe Esra kom, het hy probeer om die wet van die Here streng toe te pas (vgl. Esra 9:14; 10:11).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




4 Januarie – Nie status of geld nie, maar liefde – Jan van der Watt

Lees: Mat 4:1-25 (fokus 4:1-11)

 Jesus het skerp gereageer: “Gee dadelik pad van My af, Satan! Die Bybel sê: ‘Jy moet net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien!’ (4:10)

 Iemand het eenmaal gesê: ‘Wie God dien ter wille van geld of status, sal die duiwel ter wille van meer daarvan dien’ en dit is seker! As jy, jou status en jou eer die ‘god’ in jou ‘gods-diens’ word, sal jy agter enigiets aanloop wat ‘jou en jou status’ kan bevorder, of dit nou God of Satan is, want eintlik loop jy maar op die ou einde net agter jouself aan.

Dit was die plan waarmee die duiwel Jesus so heimelik wou uitvang. Hy het al sy kaarte daarop gesit dat Jesus meer van homself en sy eie eer gaan hou as van God. Kamma onskuldig het die duiwel aan Jesus voorgestel om klippe in brode te verander of van die tempel se dak afspring. Die duiwel het goed geweet dat die Jode destyds geglo het dat hulle nuwe Messias juis daardie buitengewone dinge sou kom doen sodat hulle hom kan uitken. Die duiwel het daarop gereken dat Jesus dit graag sou wou doen omdat as die Jode dit sou sien hulle Hom onmiddellik as hulle messias-koning uitroep – en wat ʼn status en eer was dit net nie. Dadelik sou Jesus as koning van die Jode op die troon sit… wie sou sulke eer kon weerstaan?

Die vangplek was natuurlik dat Jesus so self ʼn nuwe meester sou hê vir wie Hy gehoorsaam… die duiwel self. Hy sou vir die duiwel luister en nie vir God nie. So sou God se plan vir sy lewe misluk het. Mense sou Hom dadelik Messias wou maak en Hy sou nooit by die kruis vir ons uitgekom het nie.

Gelukkig het Jesus God nie vir geld of status gedien nie, maar uit liefde en toewyding, anders sou die duiwel Hom miskien kon uitvang. ʼn Oorgegewe lewe vir God het die verskil gemaak sodat Jesus dwarsdeur die stof van bedrog wat die duiwel opgeskop het, kon sien.

Jy moet ook versigtig wees vir die duiwel – hy is ʼn spesialis ‘bedrog-opskopper’. Oppas dat hy jou nie so goed laat voel dat jy die ‘god’ in jou ‘gods-diens’ begin word nie. Die beste medisyne daarteen is natuurlik om in liefde en toewyding baie naby aan die Here te leef.




Die vreugde en vrede van die HERE se ewige verbond (55:1-13) – Francois Malan

In hierdie verse maak die digter-profeet ‘n skerp kontras tussen  die ou lewe onder Babilon se gesag en die nuwe aanbod van lewe saam met die HERE.

55:1 Waarskynlik klink die vers soos ‘n straatverkoper wat sy ware adverteer. Aan verbygangers word gratis water, gratis wyn en gratis melk aangebied. Dit staan teenoor die Babiloniese ryk se duur, onbevredigende kos wat teensinnig aangebied was. Israel word uitgenooi om die Here se vrye alternatiewe voedsel te kies. Die tema van die gedig is die lewenswyse onder Babel wat tot die dood lei teenoor en die lewenswyse onder die Here wat ‘n vreugdevolle tuiskoms en lewe aanbied.

55:2 Die aanbod van die gratis voedsel van die Here se bevryding word vergelyk met die duur sogenaamde brood wat Babel aanbied, waarvoor Israel hulle afsloof sonder bevrediging, sonder enigiets van waarde as beloning. Daarteenoor roep die Here hulle om te luister na sy uitnodiging na gratis goeie ryk voedsel wat bevredig.

55:3 Die beeld van brood gaan oor in die beeld van die Here se ewige verbond. ‘Neig julle oor en kom na My toe, luister en julle siel/self sal lewe. Ek sal met julle die ewige verbond van my liefde vir Dawid sluit, ‘n betroubare reëling!’ Hierdie verbond word gratis aangebied sonder voorwaarde. Anders as Moses se verbond wat met die gehoorsaming van wette verbind is, is die Here se verbond met Dawid op die Here se onwankelbare liefde vir Dawid gegrond. Daardie verbond word nou aangebied aan almal wat wil luister en na die Here toe kom.

55:4-5 Die skaapwagtertjie vir wie Samuel as koning moes salf (1 Sam 16:11-13) moes later vlug vir sy lewe totdat hy as koning sy volk kon lei, hulle verenig, en van Israel ‘n getuie vir die Here onder die nasies gemaak het. So word Israel nou uit die ballingskap geroep om vir die nasies ‘n getuie van die Here se liefdesverbond te word, deur hulle wonderbaarlike uitredding en ‘n lewe wat in ere herstel is saam met die HERE, die altyd teenwoordige EK is, as die Heilige van Israel (aan Israel toegewy), want Hy het jou verheerlik – daarom sal die nasies na Israel toe hardloop om die Here te leer ken as hulle sien hoe Israel in vrede met mekaar lewe onder die seënende hand van die Here. Daarom is vers 1 se uitnodiging aan almal wat dors is, nie tot Israel beperk nie, maar word tot al die nasies gerig.

55:6 Die oproep tot Israel is oop vir enigiemand: ‘soek die Here terwyl Hy Hom  laat vind; roep Hom aan terwyl Hy naby is.’ Kom met Hom tot ‘n vergelyk in sy liefdesverbond wat Hy aanbied, reageer op sy uitnodiging om na Hom toe te kom, vertrou op Hom vir ‘n ander soort toekoms. Die gratis aanbod van die Here is alles uit sy genade. Al wat Hy vra is dat  die mens na Hom toe terugkom. Dit is die diepste doel en betekenis van die terugkeer uit die ballingskap.

55:7 ‘n Spesifieke groep het besondere aanmoediging nodig om Babel te verlaat. Hulle lewenswyse en hulle oortuigings staan in die pad van terugkeer na die Here en Jerusalem toe. Hulle het so diep in die kultuur van Babel ingesak dat hulle die Here se aankondigings en uitnodigings teenstaan. Die Here se aanbod bly egter staan. As hulle omdraai na die Here ons God toe en die nuwe soort lewe wat Hy aanbied, sal Hy hulle in liefde ontvang en sy vergiffenis nog groter maak om hulle in te sluit. Dié vers is ‘n klassieke uitdrukking van  die Here se oop uitnodiging aan die mense wat volhard in hulle eie denke en lewenswyse weg van die Here af en weier om dit agter te laat.

55:8-9 Die Here se gedagtes en planne staan reg teenoor die mense van vers 7 se gedagtes en planne. Die Here se planne vir Israel se toekoms en roeping is nie ‘n weerklank van die mens se begeertes en planne nie, maar is onafhanklik van die mens se begeertes en gewoontes, van hoër orde as die mens s’n, met ‘n ewige hemelse doel (in 52:7 word dit uitgespel as die pad van vrede). Toe die Here Abraham geroep het om te gaan waarheen Hy hom sou lei (Gen 12:1; 800 km. vér na Kanaän toe), moes Abraham in geloof die Here se radikale belofte en oproep tot ‘n nuwe lewe onder die Here se leiding aanvaar, en sy ou lewe as maan-aanbidder prysgee.

55:10-11  Die krag van God word gesien in die reën en sneeu wat lewe, groei en ‘n toekoms bring op die aarde. Die reën en sneeu voed die aarde, die skepping word in stand gehou, en die voedselkring word onderhou. So is die woord van die Here se belofte en opdrag (40:8). Dit is nie leë woorde nie, maar ‘n krag in die lewe van mense en volke, en gee sekerheid. Vir Israel in ballingskap het dit ‘n nuwe toekoms en lewe gebring, teenoor die geld wat hulle afweeg vir dit wat geen brood is nie en nie kan versadig nie (55:2), teenoor diegene in Israel wat op hulle eie banale gedagtes en lewenswyse vertrou (55:8).

55:12-13 Die uitkoms vir Israel in ballingskap is ‘n vreugdevolle tuiskoms. Anders as die uittog uit Egipte is hierdie tweede uittog nie in vrees of haas nie, maar in vreugde en vrede (sjalom welwese en kalmte);’n triomftog van Jode op pad huis toe, met die Here vooraan wat juig oor sy volk se terugkoms agter Hom aan. Die liriese slot van die ballingskapsgedig beskrywe die tog asof dit reeds aan die gebeur is. Israel is op pad onder ‘n nuwe regeerder na ‘n wonderlike nuwe toekoms.

Die prosessie word hier voorgestel as ‘n sigbare kosmiese gebeure. In 40:5 is reeds verwag dat alle mense getuies sal wees van die wonderlike terugtog van Israel. Die digter sien alles en alle skepsels vergader langs die hoofweg, selfs heuwels en berge en bome kom kyk na die wonderlike gesig wat ‘n nuwe begin vir die hele skepping voorspel. Dit is ook ‘n bewys van ‘n beslissende neerlaag vir geweld, vernietiging en tirannie, wat die bosse kaal gestroop het en die skepping permanent beskadig het. Onder die Here se beskermende regering sal mens en dier en skepping veilig wees.

Dorings en distels in die wildernis (God se straf op die sonde van die mens, Gen 3:18;  Jes 5:6; 7:23-25; 32:12-13) is nie meer nodig nie. In die plek van hierdie tekens van nietigheid en negatiwiteit kom nou tekens van groei en lewe en prag – sipresse en mirtebome as tekens van God se nuwe heerskappy waarin sy liefde regeer.

Skrywer:  Prof Francois Malan