54:9 Die beeld vir die ballingskap verander hier na dié van die sondvloed. Israel se ballingskap word vergelyk met die diepe chaos van die sondvloed wat die Here gestuur het oor die sonde van die mensdom (Gen 6:5-6), maar Israel se ballingskap kom nou tot ‘n end. En nou maak die Here ‘n belofte, soos aan Noag in Gen 9:11, dat daar nie weer ‘n oorstroming sal wees wat die wêreld sal oorweldig nie. So het die Here gesweer dat Hy nie weer toornig op Israel sal wees of hulle bestraf nie.
54:10 Die Here se trou teenoor Israel is groter as die skepping self: selfs berge en heuwels kan onstabiel word, maar nie my verbondenheid/solidariteit/lojaliteit aan jou nie, en sy verbond van sjaloom (vrede, welwese) sal nie wankel nie, sê Hy wat jou liefhet, die Here. Die Here se belofte, sy woord, is meer duursaam en vertroubaar as sy skepping (40:8).
54:11-12 Jerusalem word aangespreek as Geteisterde, Deur-storm-vernielde (soos met die sondvloed), Nie-vertroosde – die uiterste gevaar vir Jerusalem tydens die ballingskap word geskilder met die chaos wat die sondvloed oor die aarde gebring het. En daar was niemand om hulle te troos nie. Hulle bure, selfs hulle broedervolk Edom/Esau, het met Babel saamgespan teen Jerusalem (Obadja 10-16).
Die materiaal en dele van die stad wat herbou gaan word, word opgenoem: klippe, harde messelklei, fondamente, torings, poorte, mure. Elke deel word in die gedig vergelyk met ‘n kosbare steen. Die nuwe stad gaan skitter en floreer in prag, gepas vir ‘n koning (vgl. Openb 21:18-21). Die ekonomie van die hele wêreld word omgegooi. Al die nasies bring hulle rykdom na Jerusalem – laastes gaan eerste wees (Mt 19:30; 20:16). Die ballinge gaan in die pragtige stad bly, maar die profesie sal eers in die nuwe Jerusalem van Openbaring 21 vervul word (vgl. 1 Petr 1:10-12).
54:13 Al jou kinders sal deur die Here geleer word. Die teruggekeerdes sal die besondere onderrig van die Here self ontvang met groot sjalom (vrede, welwese) vir Jerusalem se inwoners. Die herstel van Jerusalem gaan verder as die opbou van sy geboue. Een van die besondere prestasies van die Jode wat teruggekeer het, was die opleiding van feitlik alle Joodse kinders in die taal en inhoud van die Torah (die eerste vyf boeke van die OT). In die ballingskap, sonder ‘n tempel, het die sinagoges ontstaan as leerhuise waar die Torah gelees is en die kinders geleer is om te lees en te skryf. En toe hulle terugekom het, is sinagoges in Jerusalem en in die stede gestig waar die kinders geleer is en die Woord van die Here elke week gelees en gehoor kon word (en nie slegs drie maal per jaar met die groot feeste by die tempel nie). Op die manier is die Here se doel met die ballingskap in 2:2-3 vervul. Die Hebreeuse woord sjalom word gebruik vir geestelike stabiliteit: vrede met God, verlossing; sosiale stabiliteit: vriendskap en vrede tussen mense; en politieke stabiliteit, ook voorspoed en gesondheid. Dit vloei voort uit die onderrig van die Woord van die Here.
54:14 Geregtigheid verwys na die regte verhouding tot God en tussen mense. Reg en geregtigheid sal in Jerusalem bevestig word. Teenoor die verdrukking tydens die ballingskap wil die Here dat Jerusalem se inwoners steeds billik en reg met mekaar sal saam lewe en mekaar vertrou. Dan hoef hulle nie in vrees te lewe soos in die ballingskap nie (vgl. Jesus se goue reël in Mt 7:12; Paulus se aanwysing in Flp 2:3-4 spel uit hoe ‘n lewe in vrede met mekaar gelewe kan word).
54:15 As daar ‘n moeilikheidmaker in Jerusalem sou opstaan, of ‘n vyand van buite hulle wil aanval, sal hy nie slaag nie, want die Here is toewy aan Israel en het sy waarborg aan Jerusalem gegee. Hy sal nie weer ‘n roede teen hulle stuur soos Hy Assirië (10:5) en Babel gestuur het nie.
54:16-17 Die Here beheer die maak en verspreiding van wapens, en Hy maak ook die verwoester. Maar Hy sal sorg dat dit nie teen Jersualem sal slaag nie, nie op die slagveld of in die hofsaal nie.
Hier word vir die eerste keer in die meervoud van ‘dienaars’ gepraat. Aan hulle sal die Here geregtigheid laat geskied. Dit raak blykbaar dié mense wat in 50:10 genoem word, dié wat die Here dien en na sy dienaar luister. Die geregtigheid word beskou as hulle erfdeel wat die Here vir hulle gee (1983: dit is hoe Ek vir my dienaars sorg). Volgens Romeine 8:17 is gelowiges erfgename van God saam met Christus. En volgens 1 Kor 1:30 is Christus ons regverdiging.
Met vers 17b sluit die gedeelte af en dit is ook ‘n inleiding tot hoofstuk 55 waarin ernstige aanbidders van die Here onderskei word van mense met bymotiewe, tussen die ou manier van lewe voor en tydens die ballingskap en die nuwe soort lewe waartoe die Here hulle verlos het, om dienaars van die Here te wees. In hoofstukke 55-57 word uitgebrei op die egte dienaars van die Here, terwyl hoofstukke 63-65 verwys na sommige in Israel wat hulleself uitskakel deurdat hulle weier om God se plan vir die nuwe bedeling te volg.
Skrywer: Prof Francois Malan