Luister na die dienaar van die Here! (50:1-11) – Francois Malan
50:1 ‘So sê die Here…’ Die derde uitspraak van die Here begin met twee retoriese vrae wat volg op Israel se klag in 49:14 dat die Here hulle verlaat en vergeet het, soos ‘n man wat van sy vrou geskei is en sy kinders vergeet het. Die Here vra waar is die bewys, die skeibrief (volgens Deutr 24:1-4), wat Hy aan sy vrou Israel sou gegee het? Dit bestaan nie! En waar is die skuldeisers aan wie Hy sy kinders as slawe sou verkoop het? Hulle bestaan nie! Dat hulle in ballingskap sit is nie die Here se skuld nie, maar Israel se sonde het hulle verkoop (aan die afgode) en hulle oortredings van die Here se riglyne het hulle as slawe verkoop aan Babel se afgodedienaars – so het die Here hulle aan hulle eie begeertes oorgegee (Rom 1:24,28).
50:2-3 Die denkbeeldige hofsitting gaan voort met die Here se uitdaging dat Hy tydens die ballingskap telkens opgedaag het vir die sitting, maar daar was niemand van Israel om hulle saak te stel nie. Hy het hulle deur die profete tot bekering geroep (vgl. bv. Jeremia se boodskappe, Daniël se voorbeeld, Ester se voorspraak) maar niemand het geantwoord nie – nie in volstrekte sin nie, maar die volk as ‘n eenheid, daar was egter nog altyd ‘n oorblyfsel. Sy pogings om Israel se band met Hom te herstel was tevergeefs.
Maar die Here se belofte van verlossing was geen leë belofte nie. Sy mag is nie te klein (letterlik sy hand is nie te kort nie) en Hy is nie kragteloos om hulle te bevry nie. Onthou wat Hy met die Rietsee gedoen het (Eks 14:27; Hand 7:36; Ps 106:9) en met die Nyl (Eks 7:21) en die Jordaanrivier (Josua 3:17), met die duisternis (Eks 10:22). So kan die Here Babel se mag verbreek. Die Here se mag word gesien in sy magtige skepping. Die rouklere vir die son (letterlik: sak) wys iets van die smart van die Here oor sy volk Israel.
50:4-11 Dit is die derde van die vier gedeeltes oor die dienaar van die Here (hoofstukke 42,49,50,52-53). Hierdie gedeelte kan miskien na ‘n leier van die teruggekeerdes in Jerusalem verwys, soos bv. Serubbabel (vgl. Haggai 2:23) wat ná Sesbassar, die teruggekeerde ballinge se politieke leier was, wat veral hulle leier was met die herbou van die tempel. Maar daar is trekke van die beskrywing wat slegs deur Christus ten volle vervul word.
Viermaal kom die titel ‘Here HERE’ voor (vv4,5,7,9) elk met ‘n werkwoord wat die Here aanwys as Gewer en sy dienaar as ontvanger: die Here HERE het vir my ‘n tong gegee (4a), my oor geopen (4b,5), help my, 2x (7-9). Die dienaar is aan die woord maar hy draai telkens die fokus van sy roeping van homself af weg en fokus op die Here. Sy werk is eintlik die Here se werk, en hy is slegs ‘n gehoorsame en vertroubare respondent/instrument.
50:4 Die Here HERE het my die tong van ‘n onderwyser gegee dat ek weet hoe om die vermoeides met woorde te ondersteun/versterk (vgl. Mt 11:28). Die vermoeides is waarskynlik die ballinge wat afgemat is deur die Babiloniese slawerny, wat verward was deur die afgodediens van Babel, en nou tot verhaal moet kom om as vry mense verantwoordelik te lewe, as dienaars op die Here se nuwe pad vir hulle, en begin bou aan die tempel vir die Here.
Elke môre maak die Here hierdie dienaar-onderwyser van Hom wakker en Hy maak die dienaar se oor wakker om aandagtig te luister, soos ‘n dissipel/leerder – om elke môre deur die Here toegerus te word vir sy dagtaak as leier, ook by die tempelbou. Om ander te leer, moet die onderwyser homself voorberei deur eers self te leer, as dienaar van die Here moet hy by die Here leer. Om te leer vereis motivering en dissipline, en die Here voorsien dit.
50:5-6 Vir elke môre se onderwysing het die Here sy oor oopgemaak sodat hy die lering nie kon weerstaan nie, en hom so versterk dat hy nie terugdeins vir die diens van die Here nie.
Vir sy teenstanders het hy nie ‘n duim gewyk nie, nie vir dié wat hom met swepe op die rug geslaan het nie, of wat sy baard uit sy wange uitgepluk het nie, of wat hom in sy gesig gespuug het nie (wat baie laat dink aan die soldate se geselhoue op Jesus se rug met die doringkroon op sy kop, en die owerpriesters en soldate wat in sy gesig gespuug en Hom met die vuis geslaan en geklap het (Mt 26:67; 27:26,29,30).
So het hierdie dienaar, moontlik Serubbabel, wat die tempel kom herbou in opdrag van Kores, die felle teenstand ondervind van die gemengde bevolking wat in Israel agtergebly het en van sy ongelowige volksgenote wat teen hom was omdat hulle hom beskou het as die onaanvaarbare verteenwoordiger van Kores en daarom ook as as dienaar van die Here verwerp het (Haggai 2:23), hy wat juis die opdrag van die Here uitvoer (vgl. Haggai 1:1-2; 2:4; en 49:7 vir hulle teenstand).
50:7 Omdat die dienaar weet dat die Here sy God is wat hom help (Ps 121:2) gaan hy voort met die werk wat die Here aan hom opgedra het, in die vaste vertroue dat dit sal slaag (vgl Sag 4:6-10). Vgl. die teenstand teen die bouwerk en hoe dit eindelik voltooi is, (Esra 4:4-6,23; 6:14).
50:8 Die digter gebruik weer die beeld van ‘n hofsaak. Die teenstanders wil die dienaar aankla, soos hulle wel gedoen het en aan Kores se opvolger Artasasta geskryf het oor Israel en Jerusalem se sogenaamde rebellie teen die Persiese koning (Esra 4:11-16). So het die Joodse leiers Jesus valslik by Pilatus, die Romeinse goewerneur, aangekla. Maar die dienaar roep uit: Hy wat my regverdig is naby – sy ingryping kan enige oomblik verwag word. En die teenstanders durf nie saam met hom voor die hoogste Regter gaan staan nie.
50:9 Kyk! die Here HERE help my. Daarom kan geen mens of aardse regter hom skuldig vind nie (Romeine 8:33-34). Sy beskuldigers sal soos ‘n motgevrete lap wees – van alle krag en heerlikheid beroof, nutteloos en besig om te vergaan.
50:10 Ná die woorde van die dienaar volg twee slotwoorde deur die profeet in vers 10 aan die vromes, en in vers 11 aan die goddelose.
Wie van julle…? met ‘n vraag soek die profeet wie in Israel nog die Here vrees/dien en dus ook luister na die stem van sy dienaar. Ook die oorblyfsel lewe in die duisternis, sonder om lig te sien, omring deur die ongeloof en afgodsdiens rondom hulle en word hulle op baie maniere verdruk. Maar soos die dienaar van die Here moet hulle vertrou op die Naam van die Here, dit beteken op die Here self soos Hy Hom in sy Naam HERE (die Ek is persoonlik teenwoordige) geopenbaar het (aan Moses en deur die geskiedenis van Israel).
50:11 Aan dié wat die boodskap van die Here wat die dienaar bring, verwerp, word die oordeel van die Here aangekondig: die vuur wat hulle aangesteek het, gaan hulleself tref. Hulle vyandskap, wat die dienaar van die Here se ondergang wou bewerk, gaan hulle eie ondergang beteken. Hulle sal moet lewe in die vlamme wat hulle aangesteek het. Die kwaad wat hulle beplan het, kom op hulle eie koppe neer (Ps 7:16-17). Dit word bewerk deur die Here wat sy geregtigheid bewys. Hy gee hulle oor aan hulle eie bitterheid en vyandskap, nl. die pyn wat hulle wou uitdeel word hulle deel, die vuur van God se oordeel wat aan jou gegee word is dit wat jy aan ander wou gee. Die vertaling van 1983 ‘julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie’ brei uit op die letterlike: in pyn sal julle gaan lê. Gaan lê staan teenoor wandel/lewe/doen (Jes 33:15).
Skrywer: Prof Francois Malan