Moet jy jou baba inseën of doop – Hermie van Zyl

Alexandria vra:

Ek wil graag weet wat die verskil is tussen jou baba inseën en jou baba doop, want wat ek lees in die Bybel is dat kinders reeds aan die Here behoort, en vir my beteken dit wanneer jy self as persoon besluit jy wil weer gebore word deur die bloed van Jesus dat jy jouself moet groot doop?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Ek verstaan die vraagsteller se gedagtegang soos volg: Kinders van gelowige ouers behoort reeds aan die Here, dit is dus nie nodig om sulke kinders deur een of ander kerklike handeling – doop of inseëning – aan die Here te verbind nie. Verder, die doop is blykbaar vir die vraagsteller per definisie iets wat eers kan volg nadat die persoon self tot sy/haar verstand gekom het, en self glo, en dan aanmeld vir die doop. Die doop is dan ‘n teken van die dopeling se persoonlike wedergeboorte en geloof.

Ek hoop dat ek hiermee die vraag reg vertolk. Maar ten minste kan ek op grond van my “rekonstruksie” ‘n paar opmerkings maak oor doop, inseëning, grootdoop en kleindoop waardeur hopelik groter duidelikheid mag kom.

Kerke wat die kinderdoop beoefen, doop nie kinders voor die voet nie, maar wel kinders van gelowige ouers. Dit bevestig die gedagte wat reeds in die Ou Testament (OT) geld, dat God van sy kant ‘n verbond met die vader van die gelowiges, Abraham, en sy nageslag aangegaan het om vir hulle ‘n God te wees en dat hulle vir Hom ‘n volk moet wees. As teken van hierdie verbond is die besnydenis aan babaseuntjies bedien (Gen 17:9-12). In die Nuwe Testament (NT) word die verbond voortgesit, want die God van die OT is ook die God van die NT. Nou word die verbond egter gevestig in Jesus Christus. Die redenasie is dan soos volg: Die God wat in die NT handel, is nie minder genadig en barmhartig as die Een wat in die OT gewerk het nie. Daarom, so redeneer die voorstanders van die kinderdoop, het die doop in die plek van die besnydenis as verbondsteken gekom (vgl Kol 2:11-12). Die doop is deur Christus self ingestel (Matt 28:19-20) en is ‘n ryker teken as die besnydenis, want dit kan ook aan dogtertjies bedien word. Net soos wat ‘n seuntjie op agt dae in die OT besny is, so behoort kinders van gelowige ouers ook so gou moontlik die teken van die verbond – die doop – te ontvang.

So gesien is die doop nie in die eerste plek ‘n teken van die kind se geloof nie, maar – net soos in die OT – ‘n teken van God se genade en trou wat Hy aan die kind beloof. Daarom is die doop ‘n sakrament, ‘n heilige teken en verseëling van God se trou aan sy beloftes. En soos wat die kind grootword en deur sy ouers tot geloofsvertroue in Christus gelei word, moet die kind ook deur persoonlike bekering en geloof in Christus sy/haar aandeel aan die verbond gestand doen, naamlik om in gehoorsaamheid ‘n navolger van Christus te wees. Want ‘n verbond het twee kante: God se kant, en die mens se kant. Die doop wys weliswaar primêr heen na wat God doen, maar dit omvat ook reeds en herinner die mens voortdurend aan sy/haar persoonlike geloofsantwoord.

Die punt wat ek probeer maak, is dat die vraagsteller se aanname – dat kinders van gelowige ouers reeds aan God behoort – presies die rede is waarom klein kindertjies gedoop word.

Daar is egter kerke wat die kinderdoop verwerp. Dit is nie hier die plek om volledig op al die argumente in te gaan waarom die kinderdoop nie aanvaar word nie. Genoeg net om te noem dat die vernaamste argument gewoonlik is dat mens nêrens in die NT lees van babas/kinders wat gedoop word nie, maar wel net van volwassenes wat ná hulle tot geloof gekom het, gedoop is. (Behalwe as mens by tekste soos Hand 16:31 en 1 Kor 1:16 by die terme “al sy mense” en “huisgesin” ook klein kindertjies insluit.) Dit is ook nie nou van pas om op die teenargumente in te gaan nie, want dis ‘n onderwerp op sy eie. Genoeg net om te sê dat bg argument die rede is waarom kerke wat die kinderdoop verwerp gewoonlik een of ander vorm van inseëning het. Hiervolgens word klein kindertjies van gelowige ouers nie gedoop nie, maar wel ingeseën by die gemeente, sodat hulle van kleins af in die kerk kan grootword en gelei word tot persoonlike geloof, en dan gedoop word. Vanuit die standpunt van die kerke wat die kleindoop aanvaar, word gewoonlik gesê dat so ‘n grootdoop van mense wat in die kerk grootgeword het, eintlik net ‘n “uitgestelde kinderdoop” is, of dat die inseëningseremonie niks anders is nie as ‘n “droë doop”.

Maar dit nou daar gelaat. Ek wou net die argumente noem waarom sommige kerke klein kindertjies doop en ander hulle net inseën.

Net ‘n laaste opmerking: die vraagsteller praat van ‘n “besluit om weer gebore te word”. Ek verstaan wat daarmee bedoel word, maar tegnies is dit nie heeltemal korrek nie. Net so min as wat ‘n mens kan kies om gebore te word, net so min kan jy besluit om “weer gebore” te word. Laat ek verduidelik: Daar is ‘n hele paar terme in die Bybel wat die heilsweg beskryf. Almal belig dieselfde gebeure, net van verskillende kante af. Sommige van hierdie terme lê meer klem op wat die mens doen, soos bekering en geloof. Ander beklemtoon meer wat God doen, soos regverdigmaking, verlossing en – wedergeboorte! Wedergeboorte druk veral die gedagte uit dat God ons deur sy Gees nuut maak, ons as ‘t ware van vooraf mens maak, ons opnuut gebore laat word sodat ons kan begin dink en leef soos God wil hê. So gesien is wedergeboorte nie iets wat óns kan doen nie; dis iets wat God bewerkstellig deur die werking van sy Gees om ons sy kinders te maak (Joh 3:3-8). Eintlik is daar niks wat ons uit onsself kan doen om gered te word nie, dis volledig God se werk. Tog sluit God ons as mense in by sy reddingswerk, en buig Hy ons wil om sodat ons in Hom kan glo en tot bekering kan kom. Maar selfs wanneer óns glo en óns tot bekering kom, is alles eintlik sy nuutmakende of wederbarende werk in ons waardeur ons sy kinders gemaak word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die sewe geeste – Francois Malan

‘n Leser vra:
Verduidelik vir my asb die sewe geeste.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord
In Openbaring 1:4; 3:1; 4:5; 5:6 word verwys na die sewe Geeste as die benaming van die Heilige Gees in sy veelvuldige en omvattende werking.

In 1:4 is hulle voor die troon van die Here, sy werktuie om sy opdragte uit te voer; in 3:1 is dit Jesus wat die sewe Geeste van God het om sy werke uit te voer; in 4:5 is hulle 7 vuurfakkels wat brand; in 5:6 is hulle die Lam se sewe horings (wat sy mag aandui) en sewe oë (sy alwetenheid) wat oor die hele aarde heen gestuur is.

Die dinamiese beelde van die sewe Geeste beklemtoon die aktiewe teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees in die wêreld. In Jesaja 11:2 word van die Gees van die Here gesê dat Hy die Gees is wat wysheid en insig gee, wat raad en sterkte gee, wat kennis verleen en eerbied vir die Here.

Die getal sewe is in Openbaring ’n aanduiding van volledigheid of volkomenheid wat toegepas word op die 7 gemeentes, lampe, sterre, Geeste, seëls, trompete, bakke, plae, horings, engele, donderslae, koppe van die dier, krone, oë, berge en konings.

In Sagaria 4:2 is reeds gepraat van die kandelaar bo-op ’n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen, wat in Sagaria 4:10 uitgebrei word met die sewe oë op die klip voor Jesua as die sewe oë van die Here wat oor die hele wêreld kyk. Dit word verduidelik met die woord van die Here aan Serubbabel wat die tempel moet herbou na die ballingskap: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige (Sag 4:6).

In Johannes 14:16-17 sê Jesus: ‘Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander helper/trooster/voorspraak gee sodat Hy ewig by julle kan wees, Hy is die Gees van die waarheid….Julle ken Hom omdat hy by julle bly en in julle sal wees.’ In Joh 15:26 ‘wanneer die Gees van waarheid van die Vader af kom, sal Hy oor My getuig.’ Joh 16:8: Hy sal die wêreld oortuig van sonde (omdat hulle nie in My glo nie), en van geregtigheid (dat Jesus deur sy offer aan die kruis dié wat in Hom glo se verhouding met God reggemaak het), en van oordeel (oor dié wat nie in Jesus glo nie).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(4) – JP Louw

Die Egiptiese godsdiens

Ons gegewens oor die invloed van die Egiptiese godedom op Israel is baie min en daaruit lyk dit of daar weinig oorname van Egiptiese gebruike deur die Jode was. Tog kon dit misleidend wees aangesien die Jode geslagte lank (430 jaar volgens Eksodus 12:40-41) in Egipte gewoon het voor die Uittog en Josef volgens Genesis 41:50 met Asenat, die dogter van ‘n priester van die Egiptiese god On, getroud was. Josef het twee seuns by Asenat gehad, Manasse en Efraim, wat deur sy vader Jakob in Genesis 48:5-6 sonder meer as deel van die volk Israel aanvaar is. Hoeveel ons hieruit kan aflei is nie seker nie, maar die hele geskiedenis van Israel in Egipte gee nie blyke van vermenging met Egipte nie. Daar is in die Bybelse geskrifte, anders as oor die Assiriese, Babiloniese en Kanaänitiese gode, geen vermelding van die Egiptiese Re, die songod nie. Ook nie van Yeb, die aarde, of Thoth, die maan nie. Hapi, die Nyl, en Amon, die god van krag, word nêrens genoem nie.

Die Egiptiese godebeelde is as lewende wesens beskou. In die groot tempels waar hulle gehuisves was en waar die gewone mens nie toegelaat was nie, het die priesters hulle gewas, geklee en voedsel gegee en hulle net op feesdae na buite gebring. Dit kon moontlik gemaak het dat die Jode wat apart in Egipte in die landstreek Gosen (Genesis 45:10, 28-34) gewoon het feitlik geen kontak met die Egiptiese godsdiens gehad het nie. Tog is Josef gebalsem en as ‘n mummie in ‘n kis gesit (Genesis 50:26).

 

Die Kanaänitiese godsdienste

In die lig van die voorgaande is dit opmerklik dat toe die Jode hul eers in Kanaän gevestig het, dit ‘n heel ander prentjie opgelewer het. In Kanaän was hulle baie aangetrokke tot die heidense gode en het hulle, soos reeds i v m Salomo hierbo gesê is, baie ander gode van tyd tot tyd begin dien wat die volk telkens onder God se oordele gebring het. Miskien was een van die aantreklikhede van die Kanaänitiese gode vir Israel die feit dat in die droë klimaat die meeste gode met die landbou te doen gehad het. Onder hierdie gode was Baäl seker die belangrikste. Hy is meestal met storms, fonteine en waterstrome verbind.

Toe Israel in Kanaän aangekom het, het hulle op verskillende plekke Baäls aangetref, want die woord Baäl, wat moontlik “beer” of “besitter” beteken, het, is toegepas op baie lokale gode. In Numeri 25:5 word Baäl-Peor genoem, d w s die heer of besitter van die berg Peor (Numeri 23:28). In Rigters 3:3 lees ons van die Baäl-Hermonberg, en in 8:33 van Baäl-Berit, in Josua 11:17 is Baäl-Gad ‘n pleknaam waar daar baie water was en van oudsher af ‘n plek van aanbidding was. In Hooglied 8:11 word nog ‘n plek, Baäl-Hamon, genoem en in 2 Samuel 13:23 lees ons van ‘n ander plek met die naam Baäl-Gasor. In al hierdie plekke was daar waarskynlik heiligdomme vir Baäl. Of anders gestel: iedere Baäl het waarskynlik sy eie plek van aanbidding gehad. Die naam Baäl is ‘n soort van versamelnaam vir gode. So lees ons in Rigters 2:11 dat die Israeliete die Baäls (meervoud) gedien het, d w s die gode (van die areas). In Rigters 3:7 word die Baäls saam genoem met die gewyde pale wat aanbid is. Dan weer vind ons dat die naam dikwels in die enkelvoud voorkom soos hierbo aangetoon in die name, en soos ook blyk uit Rigters 6:25 en verder, waar net van Baäl se altaar gepraat word. So ook in 2 Konings 3:2, 10:18, en op baie ander plekke. Die Baäldiens was seker die mees algemene afgodsdiens onder Israel. Agab het selfs in Samaria (1 Konings 16:32) ‘n tempel vir Baäl gebou en in 2 Konings 10:18-27 word baie Baälpriesters deur Jehu gedood. In die tekste wat by Ras Sjamra aan die kus van Sirië teenoor Siprus gevind is, word Dagon, die god van die Filistyne (Rigters 16:23, 1 Samuel 5:2-7), die vader van Baäl genoem. Die Baäldiens het lank geduur. Nieteenstaande felle optrede kry ons byna regdeur die Ou Testament met Baäl te doen.

‘n Ander god wat net soos Baal met die vrugbaarheid van die natuur geassosieer is, was Tammus, ‘n Babiloniese god wat ook soos Baäl verbind is met die somer en winter en die koms van die reën. In Esegiël 8:14 sit die vrouens en huil oor Tammus – ‘n rite wat veronderstel was om die god te help om die reën terug te bring.

Baie van die Kanaänitiese gode was, soos reeds gesê, met die vrugbaarheid van die natuur verbind en so het daar om hulle diens ook baie prostitusie in die tempels, veral die Baältempels, plaasgevind. Die pale waarvan hierbo ook reeds melding gemaak is en die klippilare wat vir Baäl opgerig is, het ook gedien as tekens van manlike seksualiteit.

Die Kanaäniete het geglo dat die gode omgepraat kon word deur rituele, selfs so erg as kinderofferandes. Altare en tempels is meestal op hoë plekke gebou – die hoogtes waarop geoffer is (2 Konings 16:4, Hosea 4:13) – omdat dit dan makliker is om die gode te bereik of vir die gode om af te kom.

In die tyd van Elia hoor ons sy klaagtoon in 1 Konings 19:10 as hy sê dat God se volk sy verbond verbreek en sy profete doodgemaak het en dat Elia alleen oorgebly het. Die aantrekkingskrag van die Kanaänitiese gode moet gesien word in die feit dat toe Israel as swerwende nomades in Kanaän aangekom het, die hoër Kanaänitiese kultuur hulle maklik verlei het. Die Israeliete het toe ook met die landbou kennis gemaak en geleer hoe om die grond te bewerk. Die Kanaäniete het “geweet” hoe om die aarde te laat uitspruit en in die leerproses het Israel baie Kanaänitiese praktyke oorgeneem.

Skrywer:  JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(3) – JP Louw

Voorts kan ons nou na enkele van die belangrikste godsdienste van die ou wêreld kyk en met inagneming van die voorgaande paragrawe beter verstaan hoe die mens telkens gesukkel het om die essensie van die uiterlike praktyk te skei. Daarom kon die Israeliete dikwels praktyke van ander godsdienste so maklik oorneem omdat die praktyk so dieselfde gelyk het. Hierdie ander godsdienste gaan egter nie hier in besonderhede behandel word nie, maar net aangehaal word ten einde gebruike en gewoontes op te helder.

Die Assiriese en Babiloniese godsdienste

Daar was baie min verband tussen die godsdiens van oud Israel en die antieke godsdienste van Assirië – waar Abraham se familie vandaan gekom het uit Ur van die Chaldeërs. Die Chaldeërs was ‘n Aramese stam uit wat later as Babilonië bekend gestaan het in die landstreek Mesopotamia en waar ook meer na die noorde te Assur die eerste nedersetting van die latere Assiriërs (Genesis 2:14 en 10:10) gewoon het. Die Babiloniese, en by name Assiriese, godsdiens het die wêreld gevorm waar die Israelitiese volk sy oorsprong het. In hierdie wêreld was klein . huisgodjies bekend wat ‘n rol gespeel het as beskermers en gelukbringers. In Genesis 31:19 lees ons dat Ragel haar vader Laban se afgodsbeeldjies gesteel het toe sy saam met Jakob weg is. Laban het in Haran in Assirië gewoon waarheen Abraham getrek het toe by uit Ur weg is. Op verskeie plekke in die Ou Testament lees ons nog lank na die tyd van Ragel van huisgode, want talle ander ou volke het ook die soort .gode aangehou. Dit is merkwaardig dat al het die Here aan Abraham verskyn en hom geroep, sy kinders en kleinkinders nog die praktyk van afgodsbeeldjies voortgesit het – maar selfs in moderne tye vind ons nog “gelukbringers” wat mense oral ophang, ook aan hulle lywe, sodat ons besef dat die mens maar deur die eeue essensie en praktyk nie kon skei nie al sê hulle ook dat hulle met sekere praktyke nie veel bedoel nie. In Genesis 35:2-4 lees ons dat Jakob vir sy hele huis gesê het om die afgodsbeeldjies na vore te bring. Daar was dus meer as net dié wat Ragel gesteel het. Jakob het dit toe onder ‘n boom begrawe.

Gedurig het afgodsbeelde onder Israel opgeduik en kon hulle hul nie volkome van die heidense wêreld waarin hulle geleef het, ontkoppel nie. In Rigters 17:5 lees ons selfs dat Miga nie net afgode gehad het nie, maar ook ‘n tempel vir sy beelde gehad het. Mikal, die dogter van Saul en vrou van Dawid, het self ook ‘n afgodsbeeld gehad wat sy in die bed toegemaak het om voor te gee dat dit Dawid is (1 Samuel 19:13). En so kan ons deur die Ou Testament heen die spoor volg. In 2 Konings 23:24 reinig Josua die volk van afgodsbeelde en in Sagaria 10:2 waarsku die profeet nogeens teen afgodsbeelde. Hier in Sagaria 10 word die afgodsbeelde in verband gebring met waarsêery wat ‘n belangrike faset van die Assiriese en Babiloniese godsdienste was soos o.a. Esegiël 21:21 wat noem dat die koning van Babel by die kruispad eers sy afgodsbeelde raadpleeg.

In antieke Mesopotamia het die mens in gode-families geglo. Die godedom was deur die primitiewe mens op voetspoor van sy eie wêreld gemoduleer. So was Anu die koning van die hemel genoem – ver verhewe en verwyder bo die aarde. Sy seun Enlil het oor die aarde regeer. Anu se vrou was Ishtar en sy was die godin van oorlog in Assirië en van liefde in Kanaän. Sy word dikwels in die Ou Testament as Astarte aangetref. Haar dubbele rol t o v oorlog en liefde hou moontlik verband met haar identifisering met die môre- en aandster as benaminge vir die planeet Venus. In Jeremia 7:18 word sy die hemelkoningin genoem. Astarte was in Palestina veral as godin van die Sidoniërs (Fenisiërs) bekend (1 Konings 11:5, 33). Soms kom die naam in die meervoud voor wat moontlik kan wees na aanleiding van die baie beelde van Astarte (Rigters 2:13, 10:6). Dit is bedroewend om so dikwels in die Ou Testament te lees dat Israel keer op keer agter afgode aan afgedwaal het. Veral ook as ons besef dat die verhale rondom die gode so lewensvreemd aan Israel was. So byvoorbeeld word in die Babiloniese skeppingsverhaal vertel van Tiamat, die oer-oseaan wat geboorte gegee het aan Ki, die droë land en aan Anu, die hemel – en van Ki en Anu het alle gode afgestam. Tiamat (die oseaan) het toe besluit om almal te dood, maar is eindelik deur die jong god Marduk verslaan wat van Tiamat se liggaam die aarde en lug gemaak het. In die stryd is Tiamat se helper Kingu verslaan en van sy bloed, met klei gemeng, is die mens gemaak. Dat selfs Salomo agter Astarte aan geloop het, het saamgehang met sy baie uitlandse vroue, want Salomo het volgens 1 Konings 11 baie vreemde gode nagevolg. In 1 Konings 11:8 lees ons dat Salomo vir sy uitlandse vroue rook laat opgaan het en ook aan hulle gode geoffer het.

Daar was in die antieke tyd volgens nie-Bybelse geskrifte dikwels by die mense die opvatting dat al die baie gode elkeen sy eie standplaas en invloedsfeer gehad het en om alle gode tevrede te hou, verseker ‘n mens oral veiligheid. Hierdie geloof by die antieke mens verklaar enigsins hoe mense maklik onversoenbare gode saam kon vereer het.

Skrywer:  Prof JP Louw