Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(5) – JP Louw

Nasaret

Gaan ons wes van die See van Galilea, kom ons by Kana waar die water in wyn verander is. En suid van Kana is Nasaret, ‘n woelige en lawaaierige dorp. Dit word oorheers deur die Kerk van die Aankondiging. Dit word gesê dat die kerk gebou is oor die grot onder die huis van Josef en Maria. Hier is ook ‘n baie ou sinagoge en waterputte to sien.

Naby Nasaret is die berg Tabor wat herinner aan Debora en Barak in Rigters 4. Omdat die berg so op sy eie lê het baie geglo dat die verheerliking van Jesus op die berg hier plaasgevind het. Die kerk wat op sy kruin gebou is, het ook ‘n pragtige goue mosaïek wat mense aan die verheerliking herinner as die son deur die westelike vensters daarop skyn.

 

Megiddo en Akre

Verder suid-wes is Megiddo. Hier kan besoekers deur Salomo se hek loop, die oorblyfsels van sy stalle sien asook die hoogtes waar die Kanaänitiese godsdiens sy offers gebring het. Dan is daar ook ‘n tonnel waardeur water na die stad in die antieke tyd gebring is. Onder die stad lê die prag­tige vallei van Armageddon.

En daar naby is Bet-Searim, ‘n Joodse heiligdom. Die Sanhedrin is hierheen verban na die finale verwoesting van Jerusalem deur die Romeine. Hier is ook katakombes in die sagte rots uitgegrawe. Verder is daar oorblyfsels van ‘n ou oliepers in ‘n sinagoge.

katekombes

Ingang na die katakombes van Bet-Searim.

Noord-oos verby die berg Karmel aan die kus is die stad Akre, die Bybelse Akko waar die kruis­vaarders geland en versamel het. Die kruisvaarders het ‘n groot invloed op Palestina uitgeoefen en baie kastele nagelaat in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea en by die berg Hermon.

 

Noord van Galilea

Noord-wes van Kapernaum le Safad (Zefat) waar die Jode, veral na vervolging in Europa, hulle terugkeer na Palestina begin het. Hier is ou sinagoges to sien en die mooi stad op die heuwels is ‘n mekka vir kunstenaars.

Verder noord is Hasor wat die grootste stad in die Kanaänitiese tyd was. Argeologies is Hasor van groot belang. Dit was een van die bes beplande stede in oud Israel. Daar is ‘n goeie museum wat baie aspekte van die Kanaänitiese tyd uitbeeld. Verder noord by Banias is ook een van die bronne van die Jordaan en hier sou, volgens oorlewering, Petrus sy geloofsbelydenis gemaak het: “U is die Seun van God”. Nog verder noord is die berg Hermon wat ook deur ander as die berg van die verheerliking beskou word.

nisse

Nisse in die rots te Sesarea Filippi waar ons beelde van Pan was.




Die raad van God – Herrie van Rooy

Jan vra:
Amos 3: 7: Want die Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.
In ander skrifte word die raad van God ook vermeld:
Jes 46: 10: … wat sê My raad sal bestaan en al wat my behaag, sal Ek doen.
Jer 23: 18: Wie het in die raad van die Here gestaan?
Luk 7: 30 Die Fariseërs het die raad v an God verwerp.
Heb 6: 17: Die onveranderlikheid van Sy raad.
As die Here steeds dinge doen in die teenwoordige tyd wie sou die bevoorregte profete nou wees. Waaruit bestaan die Raad van God?.  Wat word bedoel met die raad soos vermeld in die ander skrifte?
Antwoord
Prof Herrie van Rooy antwoord:

Die raad van God verwys gewoonlik na besluite wat God geneem het oor wat Hy gaan doen en wat gaan gebeur. Sommige van sy besluite het Hy geopenbaar en sommige van die dinge wat Hy geopenbaar het, is in die Bybel opgeneem. Dit raak besluite oor bv die skeppig, die mens, die beheer van die geskiedenis, die verlossongswerk van Christus, die tyd van die wederkoms, ens. Wat Hy vir ons saligheid nodig geag het, is in die Bybel opgeneem. Hierdie bepalende besluite van God kom uit die ewigheid en staan vas.

Die profete waarna hier verwys word, is spesifiek die Ou-Testamentiese profete, soos Elia, Jesaja, Jeremia, ens. As gelowiges moet ons optrede deur God se Woord (die Bybel) bepaal word. Die besondere openbaring van God, soos in die Bybel opgesluit, is voltooi en afgehandel, sodat daar nie meer vandag profete is aan wie Hy sy raad nuut bekend maak nie.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(3) – JP Louw

Die Wes-oewer

Noord van Jerusalem gaan ‘n mens deur Samaria na Galilea in die noorde. In Nablus, die Bybelse Sigem, word Jakob se put in ‘n Russies-Ortodokse kerk aan toeriste gewys. Die water is drinkbaar. Die kerk self is onvoltooid omdat dit in 1917, die jaar van die Russiese rewolusie, gebou is. Vanuit die kerktuin sien ‘n mens die berg Gerisim en ook die berg Ebal. Dit laat mens terugdink aan die verbond van God met Israel en Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou.

romeinsemark

Die Romeinse mark in Samaria.

Verder noord-wes is Samaria waar die oorblyfsels van die Romeinse stad te sien is met sy groot markplek en teater. Van die mure van Samaria uit Agab se tyd is nog te sien. Nou gaan ons na die suidelike deel van Galilea waar daar baie plekke uit die tyd van die Rigters, Saul en Dawid te sien is. Hier, by die berg Gilboa, is die Put van Harod, nie te ver van Jisreël nie, waar Gideon voor die geveg teen die Midianiete halt geroep het. Die water is vol bloedsuierwurms en moet versigtig geskep word. Die berg Gilboa laat ‘n mens die laaste geveg van Saul en Jonatan onthou. Hier naby is ook Bet-San waar die liggame van Saul en sy seuns teen die muur gespyker was (1 Samuel 31).




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Toerisme in Moderne Israel(2) – JP Louw

Hebron en Berseba

As ‘n mens effens suid-wes van Jerusalem verby Betlehem reis, kom die pad eindelik by Hebron en later by Berseba uit. By Hebron is Abraham en Sara begrawe. Onder ‘n gebou wat tans ‘n moskee is, maar reeds al in die tyd van Herodes begin bou is, word ‘n grot aangewys-die grot van Magpela. Berseba is ‘n moderne stad in ‘n groen omgewing. Die landbou aldaar laat ‘n mens dink aan die Bybelse belofte dat die woestyn sal blom.

grotmagpela

Die grot van Magpela word deur ‘n bouwerk van Herodes to Hebron omring.

Verder suid in die woestyn is die oeroue stede Avdat en Shirta met heelwat oorblyfsels uit die verre verlede. Terug naby Betlehem word Filippus se put gewys waar hy die kamerling van Etiopië sou gedoop het. Daar naby is ook die oorblyfsels van Salomo se damme wat water aan Jerusalem voorsien het.

 

Die Middellandse See

Van Jerusalem na die kus van die Middellandse See kom ‘n mens gou by Kirjat-Jearim en word ‘n plek aangewys waar die verbondsark lank gebly het voor dit terug is Jerusalem toe na voltooiing van die Tempel. Daar is ook ‘n paar plekke waar die dorpie Emmaus kon gelê het. Dan kom ‘n mens by die vallei van Ela waar Dawid teen Goliat geveg het. By die kus is die oorblyfsels van Askelon uit die Romeinse tyd, maar dit laat ‘n mens terugdink aan Askelon van die Filistyne. Verder noord is Jaffa, die Bybelse Joppe waar mens aan die verhaal van Kornelius in Handelinge kan dink.

Kerkapostelpetrus

Die kerk van Apostel Petrus in Jaffa, die bybelse Joppe

‘n Ent verder is Tel Aviv-‘n moderne stad met geen Bybelse voorgeskiedenis nie, maar wat teken is van die nuwe staat Israel. Heelwat verder noord is Sesarea, ‘n Romeinse stad toe Rome Palestina oorheers het.