Jesaja – Die Here se tweede verlossingstoespraak: Deel 1 (Jesaja 41:14-16) – Francois Malan

41:14 Met die beskrywing van Jakob/Israel as ‘n klein wurmpie eggo die Here Israel en die profeet se moedelose woorde, dat alle mense soos gras verdor en soos blomme verwelk (40:6-8). Hy eggo ook sy versekering in 40:9-11 dat Hy hulle herder is wat die swakkes dra, hier as die Heilige wat aan Israel toegewy is, as hulle Helper en Losser. Die term ga’al verwys na die Losser wat volgens die familiereg help in nood (wat ‘n famielid se grond wat vervreemd geword het vir hulle terugkoop, Rut 2:20;  ‘n familielid wat ‘n slaaf geword het, vrykoop, Lev 25:48; ‘n familie se eer red deur die dood van ‘n familielid te wreek, Num 35:12; nakomelinge vir ‘n gestorwe familielid te verwek, Deutr 25:5). Hier gaan die Here vir Israel help, wat deur sy sonde en opstand teen die Here in die nood van die ballingskap verval het,  en Hy gaan as hulle Losser optree omdat Hy uit liefde aan Israel toegewy is. So het Jesus Homself as offer gegee om ons van al ons ongeregtigheid vry te maak  (Titus 2:14), die Here het Israel se bevryding/verlossing bewerk (lutroo, Luk 1:68), ons losgekoop van die vloek van die wet (Gal 3:13), vgl. Jesus wat sy lewe as losprys vir baie gee, Mt 20:28.

41:15-16 lewer verklaringsprobleme. Word Israel ‘n mag wat op Babel se rug ploeg en hulle soos kaf laat wegwaai? Of: kon die Here van hulle so ‘n mag gemaak het, en dit nie gedoen het nie, maar vir Kores gekry het om dit vir Hom te doen? Meer waarskynlik die tweede verklaring. Maar jy sal bly wees in (die gemeenskap van) die Here en jou beroem in (gemeenskap met) die Heilige van Israel. – Hy sal die rede vir jou blydskap en lofsang wees.

 

Deel 2 van die Here se tweede verlossingsgesprek (Jesaja 41:17-20)

41:17-19 Die gedig skilder eers die absolute nood, o.a. van die ballinge, met beelde van die uiterste droogte in die natuur en sterwensdors van die mens. Daarby gee die Here die versekering dat Hy sal, as die God van Israel, hulle noodroep beantwoord en hulle nie versaak nie. Die volksmenigte het destyds ook vir Moses verwyt dat hy hulle en hulle kinders en hulle vee van die dors laat omkom (Eks 17:3).

Die Skepper van berge en woestyne sal wys Hy kan riviere laat ontspring uit barre berge, en woestyne verander in waterpoele wat omsoom is met bome, soos Hy uit ‘n barre rots strome water laat uitloop het deur Moses se kierie en ook vir hulle ‘n droë pad  deur die see gemaak het (Eks 14:16; 17:6).

Die hiperboliese gedig belowe aan Israel dat die Here vir hulle terugtog deur die woestyn sal sorg soos met die uittog uit Egipte, maar Hy sal ook hulle geestelike droogte in ‘n oorvloed van vreugde verander. Die ‘hulpeloses en die armes’ van vers 17 sluit ook die nasies van die wêreld in, wat by die Here hulle hulp en vreugde kan vind.

2 Kor 12:8-9 sê dat die krag van Christus die beskutting is vir dié wat swak is en slegs op sy genade vertrou. En die uitsprake oor God se omskepping van die droë skepping wys heen na die nuwe hemel en die nuwe aarde van Jes. 65:17-19 en Openb 21:1; 22:1-2; ook na ons soeke na die toekomstige wêreld (Hebr 13:14); die saligheid waaraan ons nou reeds deel het, wat ons vervul met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap (1 Petr 1:8-9).

41:20 Die Here se doel met die omskepping in die natuur en in die gees van die mens is dat hulle sal sien, erken, begryp en insien dat die Here dit gedoen en geskep het – die wonder van die verandering wat Kores bring, wat hulle sosiale lewe verander,  terug in hulle eie land hoewel sonder vervulling van hulle politieke ideale van ‘n eie regering, maar as voorbeelde vir die wêreld om die Here in nederigheid te dien as sy dienaars en dienaars van mense, en hulle godsdiens verander sodat hulle vryelik die Here kan aanbid in ‘n tempel wat deur Kores vir hulle gebou sou word (Jes 44:28; 2 Kron 32:23).  Hulle sou nie die omringende nasies met geweld onderdruk soos in Dawid se tyd nie, maar die Here wil hê dat hulle lewe in reg, geregtigheid en barmhartgheid teenoor mekaar wat tot vrede lei, wat die nasies sal trek om ook die Here te kom dien.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – In die Here se hand hoef jy nie te vrees nie (Jesaja 41:8-13) – Francois Malan

Die beeld van ‘n hofsitting word onderbreek en gaan voort in vers 21, met twee ‘wees nie bevrees’-toesprake tussenin (8-13; 14-20).

41:8  Die name Israel/Jakob word gebruik vir die oorblyfsel uit al twaalf die stamme in die ballingskap. Hulle word direk aangespreek as bewys dat die Here hulle ken en op hulle behoefte let, soos blyk uit hulle geskiedenis wat teruggaan na Jakob se ‘worsteling met God’ (Isra-el) by Pniël (ek het die ‘aangesig van God’ gesien) die naam wat Jakob vir die plek gegee het (Gen 32:28) voor sy terugkeer na Kanaän met elf van die toekomstige stamvaders.

Die Here het die volk wat nou nog in ballingskap sit, lank reeds uitgekies as sy ‘ebed slaaf /dienaar en aanbidder – die Here se eiendom wat Hom in alles met toewyding moet dien; omdat hulle die saad (nakomelinge) is van Abraham (ab=vader, raham=menigte, Gen 17:2-7); met Abraham het die Here ‘n verbond gesluit, en hom ‘my vriend’ genoem (vgl. 2 Kron 20:7; die vorm van die woord ‘my vriend’ kan ook beteken: vir wie Ek liefhet, aan wie Hy sy planne bekendmaak (vgl. Gen 18:17-19; Joh 15:13-14). So deel die Here nou sy reddingsplan aan Israel mee. Die verbond is ook met Abraham se nageslag, ‘n blywende verbond, met die land Kanaän as ‘n blywende besitting, en die Here as hulle God (Gen 17:7-8) – hulle is in ballingskap juis omdat hulle hulle rug op die Here gedraai het en nie hulle verantwoordeliheid as die Here se eiendom nagekom het nie (Jes 1:4; 5:13; 29:13).

Die ballinge behoort voor die Here as sy nederige dienskneg te lewe en op te tree,  voor Hom wat hulle as sy eiendom versorg, in sy diens wil gebruik, en terugneem na die land wat Hy aan hulle as besitting gegee het. So het Jakob ‘n duisend jaar tevore  uit dieselfde Mesopotamië (tussen die Tigris en die Eufraatriviere) teruggekom as die mank dienskneg van die Here, die sterk man vir wie die Here op die heup geslaan het om van hom sy dienaar te maak (Gen 32:31-32, vgl Paulus se doring in die vlees sodat hy nie hoogmoedig mag word nie, 2 Kor 12:7).

41:9 Vanuit die hele bekende wêreld van destyds, waarheen die Here vir Israel en Juda verstrooi het vanweë hulle sonde teen die Here en teen mekaar, soos in hoofstukke 1-39 uitgespel is, het die Here hulle weer gaan roep, hulle vasgegryp en sterk gemaak. Hulle is sy uitverkore diensknegte wat aan Hom verbind  is met sy liefde, en geroep is om die Here met hulle hele lewe te verheerlik. Hy het hulle nie verwerp, soos hulle in Jes 40:27 gedink en gesê het nie! Die Here het Abraham, sy uitverkorene, ook geroep uit die verre land, uit Ur in die suide van die tweestroomgebied en later uit Haran in die noorde van Mesopotamië (meso-tussen  potamoi-riviere) waar hulle, 1200 jaar na Abraham, in ballingskap swoeg en kla by die riviere van Babilon (40:27; Ps 137).

41:10 As gevange ballinge, onsekere geïntimideerde vreemdelinge in ‘n verre vreemde land, het Israel elke dag in vrees gelewe oor die dag van môre. Vir hulle sê die Here: Moenie vrees nie! (vgl. 40:1: die uitkoms is hier!). Dié bemoedigende versekering kom ook voor in Jesaja 40:9,41:13,14; 43:1,5; 44:2,8; 51:7; 54:4. Die rede waarom hulle by hulle ellende en angs verby kan kyk, is die Here se versekering: want Ék is by jou! Ék is jou God! (beide kere word ‘Ek’ dubbeld beklemtoon). Ek versterk jou;  Ek help jou, Ek hou jou vas, met my regterhand (letterlik: my hand van geregtigheid, wat reg doen en die reg herstel). Die drie werkwoorde versterk, help, vashou, is voltooide werkwoorde oor die Here se voltooide werk in die verlede, hede en toekoms. Dit wat Hy nog altyd doen, selfs in die ballingskap, en nou met hulle uittog wat kom (vgl 41:4b Die HERE, Jahweh, die persoonlik aktiewe teenwoordige Ek is). Toe God vir Moses na Egipte en die farao teruggestuur het om Israel te bevry, het Hy ook gesê: Ek is met jou (Eks 3:12), en Jesus het vir sy klein groepie volgelinge, wat na al die nasies toe moet gaan met die evangelie, van sy teenwoordigheid verseker  (Mt 28:20). Ek is jou God, (vgl. Eks 20:2; Deutr 5:6) wat my verbond met Abraham en sy nageslag gemaak het, (Gen 17:7); die afgode van Babel is nie julle god nie.

41:11-12  Let goed op! Almal wat teen die Here en sy uitverkore volk te kere gaan, sal beskaam word en verneder word, tot niks word, uitgeskakel word uit die gang van die wêreldgeskiedenis. So skakel die Here vir Babel uit deur die Meders en die Perse onder Kores, en daarom hoef Israel nie te vrees nie.

41:13 Want Ek, die Here, jou God vat jou hand. Die Here se versekerings word hier herhaal onder sy Naam Jahweh, die Here. Sy versekering van sy liefderike hulp en versorging moet Israel se vrees vir mense met hulle afgode oorwin deur op die Here te vertrou. Die voornaamwoord ‘Ek’ vir die Here kom 52 keer in Jesaja 41-54 voor as direkte spreke van die Here tot sy volk, wat in dié boek opgeneem is. Hy identifiseer Homself aan Israel as die Here jou God en belowe sy persoonlike hulp vir die take waartoe Hy sy dienskneg Israel geroep het.

Skrywer:  Prod Francois Malan

 




Jesaja – Die Here se krag en genade (Jesaja 41:1-29) – Francois Malan

Die gedig het twee hoftoesprake, een aan die begin (41:1-7) en een aan die einde (41:21-29) wat konsentreer op die ander volke en hulle gode, wat vir Israel bedreig. Tussenin is ‘n reeks reddingsvisioene wat aan die ballinge verseker van die Here se aktiewe teenwoordigheid by hulle (41:8-13, 14-16, 17-20), en dat Hy fokus op Israel se interne behoeftes. Die hoftoepsprake en die verlossingsvisioene moet die oë van die ballinge oopmaak om te sien ‘Julle God is hier’ (40:9).  Die hoftoesprake vertoon God se mag en majesteit oor die skepping; die verlosingsvisioene sy herderlike aandag en sorg oor Israel. Die twee tipes uitsprake, in die hof en aan Israel, is bedoel om Israel te help om hulle lewe, tydens en ná die ballingskap se onderdrukkende eise, nuut in te rig met hulle oë op die Here en sy riglyne vir die lewe.

41:1-7 Die Here as die Eerste en die Laaste

41:1 Die Here roep die volke op vir ‘n hofsaak. Getuies word opgeroep vanaf die ‘kuslande,’ dit wil sê van die eindes van die aarde af, om kennis te neem van die grootsheid van die ware God, die Here, teenoor die ideologiese aansprake van die Babiloniërs met hulle mensgemaakte gode: ‘Stilte (in die hof) voor My, eilande/kuslande!’ – die wye wêreld moet aandag gee; ‘Laat die nasies nuwe krag kry’ – hulle moet hulle reg maak om die Here te ontmoet in die tweestryd wat die Here met hulle wil voer oor die vraag wie die ware God is. Hy, of die gode wat hulle vereer.

41:2-4 Assirië is in 612 v.C. finaal verslaan deur Babilon uit die Suide, Medië uit die Ooste en die Skiete uit die Noorde. Die oorwinnaar uit die Ooste is Cyrus II (Kores van Jes 44:28). Hy is in 558 v.C. gekroon as koning van Persië (huidige Iran) oos van Babilon (die huidige Irak). Hy het in opstand gekom teen die heersers van Medië (wat die hele gebied noord van Babilon ingepalm het, vgl. Jes 41:25) en hy het hulle hoofstad Ecbatana in 550 v.C. ingeneem. So het hy ook die heerser geword oor die uitgestrekte Mediese ryk. Kores se segetog deur die lande word hier beskryf. Nasies word aan hom oorgegee, konings word aan hom onderwerp. Deur sy swaard word hulle soos stof en deur sy boog word hulle soos dwarrelende stoppels.

Vers 3 beskryf die sukses en spoed van Kores se veldtog: hy agtervolg die konings en gaan veilig voort (letterlik: hy gaan voort in sjaloom, vrede en voorspoed) op ‘n pad wat sy voete nog nooit tevore geloop  het nie (1983: sy voete raak nie eers grond nie). Kores het dikwels gebiede ingeneem sonder ‘n veldslag as gevolg van die volk se ontevredenheid met Medië se regeerders. As bedrewe diplomaat het hy sensitief omgegaan met die godsdienstige en etniese verskille van sy onderdane.

In die gedig se denkbeeldige hofsaak vra die Here aan die nasies wat Kores se segetog aanskou het:  Wie het hom tot die segetog laat opstaan?  Wie gee telkens aan hom die oorwinning (letterlik: die geregtigheid – om die verkeerde van die verlede reg te stel)?

Die antwoord  word in vers 4 uitgespel: ‘Dit is Ek, die Here’ (Jahweh) en geen ander god nie, wat die segetog geïnisieer het en voortgedryf het van een plek na die ander.  Dit is Hy wat elke volk in die lewe geroep het en aan elkeen sy eie plek in die geskiedenis aangewys het. Hy, ‘wat die Eerste is, en by die laastes is Ek Hy’ (vgl. Eks 3:14 se Jahweh, die Ek is, die altyd persoonlik aktief teenwoordige God, vgl. Jesus as die ‘Ek is’ in Jn 4:26; 6:20; 8:24,28; 13:19; 18:5,6,8). Wanneer die laaste volke op aarde verskyn, is Hy nog God, wat met die inwoners van die aarde doen soos Hy wil, soos die verbasende verowerings van Kores ook sy werk is.

Daarmee wys die Here ook vir Israel watter betekenis die gebeure op die wêreldfront vir hulle het, sy aanbidders in die vreemde land Babilon. Hulle kry ‘n kykie in die komplekse wyses waarop God sy wil in die geskiedenis deurvoer, en die enigste ware slotsom waartoe die hof kan kom is om te beslis dat die Here (Jahweh) die ware God is.

41:5-7 Na die openingstoespreek van die Here in die hofsitting, waarin die nasies en hulle gode uitgedaag is om hulle saak te stel, beskryf die digter Babel en die nasies se reaksie om hulle gode te verdedig so floutjies en onoortuigend as moontlik. Dit is nie ‘n kragtige teeneis nie, maar ‘n reaksie van vrees en verwarring. Die hele wêreld van Babel tot in Griekeland bewe in onmag, swakheid en vrees vir die opmars van Kores, die Here se instrument, want hulle sien en weet van geen mag of god wat teenstand  kan bied nie.

In hulle vrees word hulle paniekerig: die volke kom gou bymekaar om mekaar te bemoedig en planne te beraam om teenstand te bied teen die aanrollende magte van Kores, maar al wat hulle klomp vreesbevangenes bewend vir mekaar kan sê is: ‘Staan sterk!’ – hou moed en wees sterk (vgl. 41:1). Dan probeer hulle sterker beelde maak om teen die Here te staan. Yster word gloeiend warm gemaak, uitgeklop en tot ‘n beeld gesmee; en as hulle klaar is, sê hulle vir mekaar: die beeld is goed. Maar dan moet hulle die beeld met spykers vasslaan dat hy nie omval nie. Dit is die ironie van afgodsdiens. Menslike krag moet ‘n afgod sterk maak en vasmaak. Lagwekkend om die nasies se ‘hou moed,’ ‘staan sterk,’ met sulke wankelrige gode te versterk! Die ‘tuisgemaakte’ gode het geen krag nie, kan nie teen Kores staan nie en kan vir seker nie die Here aanvat nie. Vasgespyker, het afgodsbeelde geen krag of mag of beweeglikheid nie en is daarom irrelevant (Ps 115:4-8).

Die doel van die gedig is om aan die ballinge te wys hoe belaglik dit is om op die Babilonies afgode te vertrou of te vrees. Omdat hulle op die Here vertrou word Israel genooi om op Kores te reken vir ‘n nuwe politieke bedeling. Al lyk dit of Babel die geskiedenis beheer, is die Here die eintlike regeerder, en Kores en sy vriendelike seëvierende optog, wat bannelinge na hulle lande laat terugkeer, is die Here se eerste bewysstuk in die hofsaak. In hoofstuk 42 word hy beskryf as die Here se dienaar.

Skrywer:  Prof Francoi Malan

 




Jesaja – Die Skepper word nie moeg nie (Jesaja 40:25-31)) – Francois Malan

40:25-26 Die vrae van 40:13 oor die Gees van die Here, en 40:18 oor God teenoor die afgode, word hier deur die Heilige self herhaal. Geen passende beeld of gelykenis kan van die majestueuse Skeppergod gemaak word nie, van Hom wat lewe gee en lewe neem! Sy heiligheid onderstreep sy verhewendheid bo sy skepsels, maar ook sy toewyding aan hulle. In 40:18 is na sy verhewenheid bo die afgode verwys. Hier in vers 25 sy verhewenheid bo die sterre, wat  deur die Babiloniërs en in Israel aanbid is (Amos 5:26). Met sy groot mag en krag het die Here ook die sterre geskep (barawat in Gen 1:1 gebruik word) en Hy bepaal ook die getal en die gang van elke ster. Die Babiloniërs bestudeer die gang van die sterre as aanduidings vir hulle lewensrigting. Hulle glo dat die mens se lewe deur die stand van die sterre bëinvloed word, en nie deur die Skepper wat hulle en die sterre gemaak het nie.

Die woord ‘skep’ (bara) word slegs in Gen 1-2, in ‘n paar Psalms en in Jes 40-66 gebruik: vir die skepping van die heelal (Jes 40:26,28; 42:5; 45:7,18), van vrede en geweld (45:7), van die mensdom (adam; 45:12; 54:16), van Israel  (43:1,7,15), van omstandighede vir die nuwe eksodus (41:20; 48:7), van die nuwe wêreldorde (65:17), van verlossing en vreugde (57:19; 65:18). Ander woorde in Jesaja wat oor skepping handel is: fundeer 7x, vorm 14x, maak 27x van God as maker;  3x as stabiliseerder/onderhouer. Al die woorde dui God aan as die Een wat die heelal en die sosiale orde aktief skep, vorm, stabiliseer/onderhou van die begin af tot die huidige tyd. God is in beheer! Hy is Israel se Redder en Verlosser wat wil hê dat Jeruselm herstel moet word.

40:27 Jakob/Israel (hier vir al twaalf stamme gebruik), die erfgename van die Here se belofte aan Abraham, kla in die 200 jaar vir die tien stamme en Juda se 70 jaar ballingskap waar hulle geen volk meer is nie, dat sy ‘pad’ van smarte vir die Here verberg is – teenoor die belofte van Ps 1:6 die Here ‘ken’ (lei?) die pad van die regverdiges. Israel kla dat sy regsaak (teen sy onderdrukkers) by die Here verbygaan.  In 40:6-7,17,23 is reeds gesê dat die mens sonder God niks is nie, maar as die Here se Gees hulle insluit in sy planne en sy woord hulle aanspreek kry hulle betekenis en egte lewe. Nou kla Israel ‘my pad’ en ‘my regsaak’ speel nie die rol by God wat hulle self wil hê nie, so asof hulle die reg het om te besluit wat hulle regte is, en verwag dat die Here daarby sal inval. Hulle aandrang op húlle wil en regte het juis Israel en Juda tot ‘n val gebring, soos die boeke Rigters tot 2 Konings vertel. Die klagte is die beginpunt vir die goeie nuus wat hierop volg.

40:28 Teenoor die mens se kortstondige lewe, soos gras of soos ‘n blom (40:6-7) is die Here die God van die eeue/ewigheid (’olam) – sy doel en plan met die wêreld strek oor duisende jare en is nie beperk tot die oomblik nie. Israel en die mens se begrip van tyd soek egter onmiddelike aksie en bevrediging. Hy is die Skepper (boree’) van die eindes van die aarde – sy skeppingswerk raak die ganse aarde, nie slegs ‘n beperkte gebied nie! Israel moes dit geweet het en in die tempel gehoor het. Israel is besig om te leer dat die Here planne het met Babel én Palestina. Maar hulle ‘pad’ en ‘regsaak’ (40:27) het nog hulle eng gesigsruimte, beperk tot Palestina en Samaria.

Die Here word nie moeg of mat vir die lang ‘pad’ deur die eeue nie. Sy voortgaande werk behels sy eindelose energieke aandag aan elke mens en dier en plant en ding in sy skepping (40:27; Mt 6:26-30; 10:30).

Die vraag van 40:14 word hier as ‘n waarheid gestel: niemand kan sy insig deurgrond nie! Israel het probeer om die onmoontlike te doen. God se pad en gedagtes is bo die mens se bevatlikheid (Rom 11:33-34).

40:29 Die Skeppergod is die onbeperkte Bron van krag wat die lewe aan sy skepsels gee en onderhou, aan sy skepsels wat geen krag vir die lewe in hulleself het nie. In hierdie konteks geld dit spesifiek van die ballinge wat nou swak en kragteloos is in die magtige Babiloniese ryk.

40:30-31 Die twee verse stel ‘n drastiese teenstelling, óf..óf: selfs die jeug, hulle wat die beste vooruitsig het om aan te hou, word moeg, struikel en val  (letterlik: hulle struikel ‘n struikeling), maar ‘n spesiale groep hardloop voort met  nuwe en groter krag as vantevore, nl. dié wat op die Here wag – met vertroue op Hom hoop. Israel se haas en ongeduld dat God nou en gou moet optree is juis hulle ondergang. ‘n Ingesteldheid wat kan wag vir die God van die eeue en sy plan, sal die krag kry om uit te styg bo die oomblik, om nie moeg of mat te word nie, maar aan te gaan en aan te gaan. Die swewende arend styg op, nie deur die krag van sy vlerke nie, maar deur die windstrome wat sy uitgestrekte vlerke laat opstyg. Dié wat op die Here wag is bereid om opgelig te word en gedra te word deur die Gees van God, op sy tyd en sy manier en rigting.

Die gedeelte (40:12-31) beskuldig die mense oor hulle gebrek aan vertroue op die Here, wat eintlik dieselfde is as afgodery. As jy eis dat God en sy woord vir jou moet sin maak, maak jy van jou eie gedagtes en begeertes jou afgod.  Hulle wil God oortuig om te luister na hulle plan deur Hom te vergelyk met die nasies en die regerings wat hulle ken of geken het (40:17-18). Hulle verwag dat God sy plan moet laat inpas by hulle planne. Hulle beoordeel die Here volgens hulle eie ondervinding van die oomblik (40:27). Beoordeel Hom liewers in die lig van ster-tyd of ster-afstande (40:26). Die tyd wat dit neem om die sterre in die ruimte te plaas, die afstande wat hulle aflê en nodig het vir hulle bestaan, gee ‘n beter idee oor God se tydsdimensie, van die God wat hulle gemaak het. Dit verdwerg alle gewone konsepte van menslike vergelyking. Die Here gee betekenis en krag aan ons lewe. Leer om te wag (vertrou en hoop) op God se tyd en sy pad met ons.