Jesaja – Die Skepper se grootheid teenoor die afgode se nietigheid (Hoofstuk 40:12-24) – Francois Malan

40:12-14 Die retoriese vrae is bedoel om Israel se oë oop te maak vir die grootheid van die Here. Dit prys sy grootheid en vernietig die gewaande grootheid van die mens. Die eerste reeks in 40:12 gaan oor die grootheid van die Here as die Skepper van die seë, die hemelliggame, die majestieuse berge en golwende heuwels. Hoeveel groter is hulle Skepper nie as sy skepping nie?

Die tweede reeks vrae (40:13-14) wys nie slegs na sy grootheid en almag wat oneindig groter as die mens is nie, maar na sy onvergelyklike wysheid. Dit skakel alle ander sogenaamde gode uit, wat slegs afbeeldings van gewaande gode is,  veral die gode wat deur die Babiloniërs so hoog vereer is en die mense met vrees vir hulle vervul het.  Dit gaan hier veral oor die Here se beheer oor die geskiedenis, oor sy insig, oor die pad van reg en geregtigheid, sy kennis, sy begrip (40:14). Die mens kan die wysheid van God nie deurgrond nie, maar slegs biddend bewonder. Die Gees van die Here gaan oor die Here se gedagtes, sy doel en planne, sy motiewe en die toepassing daarvan. Geen menslike wysheid kan dit begryp nie, wat nog te sê die stomme beelde wat deur die Babiloniërs aanbid word?

Vers 13 word aangehaal in Romeine 11:34 en 1 Korintiërs 2:16.

40:15-17 Vers 16 onderbreek die gedagtegang oor die nasies se nietigheid van vers 15, wat in vers 17 voortgaan.

Verse 15 en 17 Die Here se grootheid word gestel teenoor die nasies met hulle mag waarop hulle vertrou, hulle meesleurende nasionalisme en skrikwekkende wapengeweld. In vergelyking met die Here, sy werkwyse en sy mag,  is die nasies soos ‘n druppel aan ‘n emmer, ‘n stoffie op ‘n weegskaal. Die eilande in die Middellandse See, wat vir Israel die verre Weste was, is soos stof wat rondwaai. Vir die Here is die nasies geen bedreiginging nie, maar is so nietig asof hulle nie bestaan nie.

Vers 16 Ook Israel se offers aan die Here verdwerg teenoor die Here se rykdom aan brandhout en diere. Hy het hulle offers nie nodig nie, soos hulle offers reeds in Jes 1:10-11 afgewys is.

40:18  ‘Met wie kan julle (die nasies en Israel) God (el) dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? Op grond van die  Here se grootheid (40:12-17) word die dwaasheid van Babel en die ander nasies se indrukwekkende beeldediens aangetoon, sodat Israel slegs op die lewende God sal vertrou (40:27-31).

40:19-20 Die kunswerk van ‘n gegote afgod, met goud oortrek en met silwerkettings geanker (1983: versier), bly mensewerk! Ook so die armes se houtbeelde; almal ‘gode’ wat nie self kan beweeg of staan as hulle nie stewig geanker word nie. En dan dink mense dat die afgod! (fêsêl) wat deur mense gemaak is, hulle kan seën en red. Eintlik word hier gespot met die afgode van dié volke wat vir Israel onderdruk het; hulle gode kan nie met die God van Israel vergelyk word nie.

40:21 Die lofsang oor God begin met retoriese vrae; Israel word met vier vrae verwyt – weet julle nie?  het julle nie gehoor nie?  is dit nie aan julle bekendgemaak nie? het julle nie begrip nie?  Hulle onthou nie wat aan hulle in die tempel geleer is oor die Skepper van die ganse skepping nie; en die nasies word verwyt dat hulle nie die Skepper van hierdie skepping waarin hulle lewe, kon herken nie (letterlik: verstaan julle nie die fondamente van die aarde nie? – fondamente teenoor die mensegemaakte ankers vir die afgode; vgl. Rom 1:20).

40:22-24 Teenoor die nietigheid van die afgode word die ware God geloof vir sy skepping en onderhoud van die  heelal. Hy sit bo die hemelgewelf om te heers, span die gewelf oop as ‘n tent vir die mens om in te lewe, maak vernames tot niks, sy wind waai oor die gras en dit verdor – sy Gees is aktief oor die lewe van mense en plante om lewe te gee en te onderhou, so anders as die stomme afgode wat nie eers self kan sit nie. Vanuit die geweldige afstand tussen God en die mens, lyk die mens (wat dink hy kan self vir hom ‘n god maak) so klein soos ‘n sprinkaan. Onder die hemelruim se koepel het die Here lewe op aarde vir die mens moontlik te maak – teenoor die goudsmid wat die lewelose afgod se beeld met goud moet versier.

Soos God se handewerk in die skepping gesien kan word (v22), kan sy grootheid ook in die bestuur van die wêreld gesien word. Aardse prinse en maghebbers wat hoë aansien geniet, word met plante wat pas opgekom het, vergelyk. Hulle verdor deur ‘n versengende wind en word weggewaai deur ‘n stormwind – so onttrek die Here hulle lewensasem  en die vername leiers word tot niks, leeg/waardeloos (tohu, Gen 1:2).  So het Hanna ook gesing (1 Sam 2:7-8) en Paulus beaam dit in 1 Kor 1:28.

Die gevestigde strukture wat die Judese ballinge in Babilon ontwikkel het, en hulle magtige onderdrukkers met hulle afgode, word alles as waardeloos en tot niet verklaar. Daar is geen lewensbron op aarde behalwe die Here wat lewe gee, onderhou en beëindig nie. Enigiets anders waarop vertrou word is ‘n dwaasheid wat gou sal verdwyn.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die Here het besluit om Israel se ballingskap te beëindig! (Jesaja 40:1-11) – Francois Malan

40:1 Juda is besig om as volk te sterf in die ballingskap in Babel (Eseg 37 sien net baie droë bene in die laagte). Juda kla: daar is niemand om haar te troos nie, niemand wat haar gehelp het nie, niemand wat haar bystaan nie (soos in Klaagl. 1:2,7,9,17,21).  Maar onverwags kondig God aan dat Hy hulle kom red en hulle, as sy kudde, na hulle land gaan terug lei. Ongenoemde profete moet die Here se liefdeswoord aan sy verbondsvolk bring: ‘Troos, Troos my volk sê julle God’ vir sy volk wat besig is om uit te sterf na 70 jaar in ballingskap en vir die tien stamme wat reeds 200 jaar in ballingskap is. Die een ding wat die Here bereik het is dat die 12 stamme in die onderdrukking en lyding van die ballingskap weer een volk Israel geword het, wat in 931 v.C. verdeel is in Istrael met 10 stamme en Juda met 2 stamme (1 Kon 12).

Soos die Here in Jes 6:1-13 aan Jesaja opdrag gegee het om sy oordeel oor Juda te verkondig, begin Jes 40-55 met die Here se opdrag aan sy boodskappers om sy nuwe besluit van redding aan te kondig – en as die Here besluit, wie sal dit kan verydel? (Jes 14:27). Met sy woord verbreek Hy Juda se wanhoop, troosteloosheid en vertwyfeling, en ook die krag van Babilon.

40:2 ‘Spreek na die hart van Jerusalem…’ Jerusalem verteenwoordig die hele volk wat oorgebly het. Om na die hart te praat beteken om vriendelik simpatiek met hulle te praat om hulle te bemoedig en te vertroos. ‘Roep (hard) uit: ‘Haar swaar slawediens is volbring’ – die maat wat God daarvoor bepaal het, het vol geloop; ‘haar skuld is betaal’ – die straf wat die Here deur die profete aangekondig het word nou beëindig; ‘sy het uit die hand van die Here dubbel ontvang vir al haar sonde’ – digterlik word aangekondig dat die Here besluit het dat dit meer as genoeg is, sodat die lyding kan beëindig word en sy genadige liefde kan seëvier.

40:3-5 Die Here se vergifnis lei tot ‘n terugkeer vir die ballinge, want die Here stel die Assiriërs en Babiloniërs se beleid om van oorwonne volke ballinge te maak, ter syde, met Kores se beleid om mense die keuse te gee om terug te gaan na hulle lande van herkoms. ‘n Stem roep uit om ‘n grootpad deur die woestyn tussen Babilon en Jerusalem te maak vir ‘n maklike tuiskoms – paaie is gemaak vir ‘n oorwinnende koning met sy afgod en sy leër se triomtog. Nou is dit die Here en sy volk wat die triomftog na Jerusalem onderneem. Dit sal deur die skares langs die pad gesien word. Al wat leef,  heidene en mense deur al die eeue (letterlik: alle vlees) sal die Here se heerlikheid sien, hoe Hy sy volk terugbring.

Soos die Here verheerlik is deur die uittog uit Egipte (Eks 14:4,18), word Hy nou verheerlik deur die uittog uit die hele Babiloniese ryk, wat die Assiriese ryk, waarheen die 10 stamme verdryf was, in hom opgeneem het. Volgens Jes 49:12 kom die Here se volk uit die hele Persiese ryk wat weer die Babiloniese ryk oorgeneem het (vgl. Jes 52:12).

Verse 3-5 word aangehaal in Mat 3:3; Mk 1:2-3; Lk 3:4-6; Jn 1:23, waar die woord toegepas word op die koms van Jesus as vervulling van Jesaja se profesie, van die blye tuiskoms vir dié wat vervreemd geword het van God. Johannes die Doper se prediking word ook gesien as gereedmaak van die pad vir die Here (Lk 1:76). Al wat leef sal Jesus se eerste koms kan sien as die verheerlikking van die Here, en met sy tweede koms sal elke knie voor Hom buig (Jes 45:23; Rom 14:11).

Die Here self het dit gesê (letterlik: die mond van die Here het dit gesê): sy woord waarborg en bewerk al die gebeurtenisse (Jes 55:11).

40:6-8 ‘n Ander stem roep hard sodat almal dit kan hoor. ‘En ek antwoord…’ blykbaar die profeet wat die woord van die Here moet gaan verkondig. Soos Jesaja in 6:5 geprotesteer het weens sy onreinheid en onwaardigheid, maak hierdie profeet ook beswaar omdat die volk soos gras is wat verdroog, verbygaande, onvertroubaar. Die boodskap van troos sal gemors wees op hulle en dit is nie die moeite werd om die Here se nuwe besluit aan hulle te verkondig nie.

Die profeet se teenstand word in vers 8 weerlê soos Jesaja s’n in Jes 6:6-7. ’n Ander stem as in vers 6 (volgens die Hebreeuse sinsbou) antwoord skynbaar op die beswaar. Hy erken dat die mens, soos gras en blomme, gou verwelk, maar die woord van God bly vir ewig. Die troos-aanbod is nie gebaseer op die kwalifikasies van die mens nie, maar alleen op die besluit van God, soos in 40:1-2 opgeteken is. Verse 6-8 word aangehaal in 1 Petr 1:24 en toegepas op die evangelie.

40:9 Die stem van  40:8 praat verder. Hy het ‘n langer boodskap, wat begin met ‘n reeks bevele wat volg op 40:3 se twee bevele van ‘ berei ‘n pad!, maak ‘n reguit pad!’ Hier lui dit: klim op ‘n hoë berg! roep die goeie tyding hard uit! roep hard! moenie bang wees nie! sê vir die stede van Juda! Kyk, jou God is hier! Sion/Jerusalem word opgeroep as aankondiger van ‘n goeie boodskap  aan die stede van Juda – dit is die eerste keer dat die woord ‘evangelie’ (goeie nuus) in die OT voorkom in die Griekse vertaling van die Hebreeuse besorah, nuus. Jerusalem sien reeds die prosessie van terugkerende ballinge en kondig die goeie nuus aan: Julle God is hier (letterlik: Kyk! julle God). ‘Julle’ onderstreep die Here se verbondenheid aan sy volk (Gen 17:7-8).

40:11 Wat die teenwoordigheid van God behels word in vv10-11 uitgespel: ‘Kyk! die Here HERE (Die Ek is, die persoonlik teenwoordige God van Gen 3:14) kom met krag en sy arm heers vir Hom en sy beloning is met Hom, en sy loon voor sy aangesig is soos ‘n herder wat sy deel van die kudde, wat in die gemeenskaplike kraal oornag het, as sy eiendom (eder) uitlei om hulle te laat wei. ‘Met sy arm maak hy die lammers bymekaar en dra hulle aan sy bors, en ooie wat nog lammers voed, sal Hy saggies lei.’ Die Here word geteken as ‘n magtige herder wat sy skape bevry en die swakkes dra (v11; vgl. Jn 10:11-16). Die twee skilderings van die HERE as die sterke en as die herder beklemtoon sy majesteit en genade, sterk genoeg om te verlos, sagmoedig en sterk genoeg om te sorg vir alle behoeftiges, soos die Here in Deutr 1:30-31 gesê het toe Israel in die beloofde land kon ingaan. Nou sê Hy dit weer voordat die oorblyfsel van Israel terugkeer na die beloofde land. Sy genadeloon vir die oorblyfsel wat getrou aan Hom gebly het, is by Hom en gaan voor Hom uit soos ‘n herder agter sy skape wat die swakkes optel en dra, en vooruit loop om vir die lammerooie die pad met ‘n stadige pas aan te dui. Dit is nie ‘n triomfantelike skare wat terugkeer nie, maar ‘n triomfantlike Here wat die oorblyfsel wat op Hom vertrou stadig en geduldig teruglei om sy eiendomsvolk te wees.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja 40-55 – Francois Malan

(ook genoem Deutero-Jesaja – Tweede Jesaja)

Hoofstukke 1-39 van Jesaja handel oor Juda en Israel tydens die lewe van die profeet Jesaja. Volgens hoofstukke 40-55 is Israel en Juda in die Babiloniese ballingskap en word die val van Babel asook die bevryding, terugkeer en herstel van die hele Israel aangekondig. Israel word opgeroep om terug te keer na die Here en na Jerusalem.

Jesaja het op sy laatse ongeveer in 686 v.C. gesterf (die sterfjaar van Hiskia; vgl. Jes 1:1). Die tien stamme van Israel is reeds in 722 v.C. in ballingskap na Assirië weggevoer (vgl. 2 Kon 17:23).  In 701 v.C. is Sanherib terug na sy land volgens Jesaja 37:37. Die Assiriese ryk het in 612 v.C. tot ‘n val gekom voor die uitbreidende Babiloniese ryk. In 597 v.C. word die eerste groep van Juda in ballingskap na Babel weggevoer (vgl. 2 Kon 24:10-17). In 587 v.C. val Jerusalem en vind die laaste wegvoering van Juda na Babel plaas, minstens ’n honderd jaar na Jesaja se dood.

[Jesaja 1-39 eindig met die dood van Hiskia. Sy goddelose seun Manasse neem oor (685-641 v.C. vgl. 2 Kon 21:1-18);  Nahum tree op as profeet (650 v.C.); Amon (640-639 v.C.; 2 Kon 21:19-25) volg sy pa se afgodsdiens;  Josia (639-609 v.C. 2 Kon 22:1-23:30) het met sy hele hart die Here gedien en die afgodery bestry; in 626 v.C. begin Jeremia in Jerusalem as profeet optree (Jer 1:1-3); Sefanja vanaf 625 v.C. (Sef 1:1); Josia se seun Joahas regeer net drie maande toe Egipte se farao hom met sy broer Jojakim vervang. Jojakin se seun Jojagin volg hom na 11 jaar op, maar gee Jerusalem na drie maande  oor aan Nebukadneser van Babel, wat vir Jojagin en al die leiers in ballingskap na Babel toe wegvoer in 597 v.C.  en Sedekia as regent in Jerusalem aanstel. In die tyd waarsku Jeremia vir Sedekia en sy regering telkens teen hulle opstand teen Babel, totdat die Babiloniërs die stad Jerusalem vernietig en die res van die bevolking in ballingskap wegvoer in 587 v.C. (2 Kon 24:18-25:21). In 593 v.C. het die priester Esegiël in ballingskap in Babel begin optree as profeet (Eseg 1:1-3).]

In 539 v.C. word Babel deur die Perse onder Kores ingeneem. Tweede Jesaja gaan oor die verwagting rondom die Persiese koning Kores wat die eerste groep van Israel in 538 v.C., onder leiding van Sesbassar en Serubbabel, laat terugkeer na Jerusalem, ongeveer 150 jaar ná Jesaja se dood (2 Kron 36:22-23; Esra 1:1-4)  Die tweede groep onder Esra keer in 458 v.C. terug na Jerusalem, 80 jaar na die eerste groep (Esra 7-8).

Hoofstukke 40-48 verkondig dat die Here die Persiese koning Kores as sy dienaar gaan gebruik om sy verbondsvolk te bevry; Hoofstukke 49-55 handel oor die herstel van die volk en die stad Jerusalem, met klem daarop dat Israel die dienaar van die Here is. Hulle gaan nie meer oor hulleself regeer nie, maar as dienaar van die Here in vrede met mekaar lewe as voorbeeld vir die nasies om sodoende die nasies na die Here toe te trek.

[Hoofstukke 56-66 bevat verskillende profesieë lank ná die terugkeer uit Babel, met oproepe tot bekering van sondes, van afvalligheid en van vals godsdiens, wat onder God se oordeel val,  en met verkondiging van God se wêreldwye verlossende genade, wat alle volke omvat, om in geregtigheid en barmhartigheid te lewe. Die Here bring ‘n nuwe bedeling, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, wat baie teenstand van die Jode kry.]

Terwyl 1-39 hoofsaaklik oor die Here se oordeel en die aanstaande ballingskap van Juda praat, praat hoofstukke 40-55 oor Israel se wonderlike verlossing deur die Here en hulle terugkeer. Die dubbele tema ‘oordeel en verlossing’ word deur die hele boek Jesaja telkens uitgebrei, en word herhaal in die verhaal van Jesus se kruisiging en opstanding, om die straf en smet van ons sonde te dra en ons te laat opstaan uit die sonde. Tweede Jesaja word waarskynlik teen die einde van die ballingskap deur ’n ander digter-profeet  as Jesaja geskryf as ’n vervolg op hoofstukke 1-39 in die gees van die visoen van Jesaja (Jes 1:1).

Die Here se doel met Israel as sy dienaar is dat hulle in reg, geregtigheid en barmhartigheid moet saamlewe en so die vrede van die Here ondervind (Jes 9:6) sodat die nasies hulle goeie lewe sal sien en na Jerusalem toe sal stroom om die Here te leer ken (Jes 2:2-3; 52:15; 61:11; 66:18-21). So het die Here reeds in 1750 v.C. aan Abraham belowe, dat in hom al die volke van die aarde geseën sal wees (Gen 12:3). Maar Israel wil hulleself regeer en bid dat die Here die nasies met mag sal oorwin, soos hulle destyds, al in 1020 v.C., vir Samuel gesê het, toe hulle ’n koning oor hulle begeer het om hulle in hulle oorloë te lei (1 Sam 8:5,20).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Gee God om? – Hermie van Zyl

Mike vra:

My vraag is: Het God al ooit vir die mens omgegee? Hy sê Hy doen dit, maar dwarsdeur die Bybel, deur die eeue daarna en tot vandag toe is dit duidelik dat dit nie so is nie. Ek het in 1999 my alles op die altaar geplaas en op elke moontlike manier alles verloor, so dat die lewe geen sin meer maak nie. Ek kyk na die Psalmskrywers, na Job, na soveel ander in die Bybel – hulle lewens was hel. Toe die Christene aan houtpale vasgespyker is en deur die Romeinse keiser aan die brand gesteek is vir lig snags, as kinders of meisies verkrag word, dan wonder ek of God nog daar is, of nog omgee. Ek ken nie eers ‘n mens wat sulke goed sal toelaat nie, waarom God? Daar is tog geen sin daarin nie. Dit voel of ek, toe ek vir God my alles gegee het, my lewe voor die varke in die modder gegooi het. Satan se werke is duidelik sigbaar, God s’n glad nie. En laaste vraag: Is die tiende gebod Skriftuurlik? Want dit het my net verarm en my kerk verryk.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Om te begin, wil ek in ‘n mate saamstem met die vraagsteller: As mens oppervlakkig waarneem wat in die wêreld gebeur, is dit inderdaad ‘n vraag of daar ‘n God is. Of, as daar wel ‘n God is, of Hy omgee. Want daar gebeur die allerverskriklikste dinge wat mens nie met ‘n liefdevolle en regverdige God kan rym nie. Dis asof net die duiwel se werke sigbaar is, soos die vraagsteller sê.

Maar dit is nou presies op hierdie punt dat geloof in die spel kom. Geloof kyk op ‘n ander manier na die werklikheid; dit sien ‘n dimensie van die lewe raak wat nie oppervlakkig waarneembaar is nie. Dit sien dat God inderdaad liefdevol is en vir ons omgee, te midde van onreg, geweld en liefdeloosheid. Dis waarvan Hebreërs 11:1 praat: “om te glo, is om … oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Geloof open ‘n mens se oë vir die onsigbare wêreld van God – dit wat God vermag in die skepping in die algemeen, maar dan in die besonder in mense se lewens. Ons is maar te geneig om net te glo wat voor oë is. Vandaar die gesegde: Sien is glo. Maar die Bybelse visie is anders: Glo is sien. Dis vanuit hierdie visie van die onsigbare dat die geloofshelde uit die Ou Testament die vreemde in agter God aan beweeg het, altyd op soek en op weg na die ewige dinge wat die ander mense nie raaksien nie (Heb 11:8-10). Andersom, wat ander mens juis raaksien en op versot raak, het hulle van die hand gewys (Heb 11:25-26). Wanneer God eenmaal jou oë geopen het vir sy wêreld, besef jy dat die wêreld nie deur fisiese kragte gedryf word nie, maar deur die geestelike. As Christene glo ons in ‘n geestelike universum, nie net ‘n bloot fisiese een nie. Vanuit die onsigbare wêreld van God het die kosmos en alles daarin – ook die mens – tot stand gekom, en dit word steeds vanuit hierdie dimensie regeer. Tot hierdie werklikheid verkry gelowiges toegang, al is dit nog baie voorlopig, en al sien ons soos in ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor 13:12). Eers eendag sal ons sien hoe alles in mekaar steek. Maar intussen het God vir ons die misterie voldoende bekendgemaak dat ons hier getroos kan lewe en sterwe.

Met hierdie verwysing na God se onsigbare dimensie wat vir gelowiges ‘n werklikheid word, probeer ek sê dat daar verskillende maniere van kyk na die wêreld is. Daar is ‘n kyk wat jou laat wanhoop aan alles, en daar is ‘n kyk wat jou laat rus in God se liefde, goedheid, sorg, nabyheid en beloftes. Laasgenoemde is die perspektief wat die Bybel vir ons open en waaraan ons moet vashou, te midde van al die ellendes van die lewe.

Hierdie (geloofs)perspektief beantwoord egter nie al ons vrae en verklaar nie al die misteries nie. Een van die groot kwelvrae van die lewe is juis dit wat onderliggend aan ons vraagsteller se opmerkings en vrae lê. Teoloë noem dit die teodisee-vraagstuk (regverdiging van God) . Dit beteken: Hoe regverdig ons God se bestuur van die wêreld in die lig van God se wese as liefde, maar ook die feit dat daar baie dinge gebeur wat mens nie met God se wese kan versoen nie. Hoe bring ons die verskriklike goed wat in die wêreld gebeur in verband met die Godsregering van ‘n liefdevolle God? Hoe regverdig ons God en sy regering van die skepping in die lig van hierdie gebeure? Meer pertinent gestel: As God almagtig en liefdevol is, kan Hy dan nie en is Hy nie “moreel verplig” om te verhoed dat sulke wreedhede gebeur nie? En selfs al aanvaar mens dat God een of ander verhewe doel het met ongeluk, pyn en lyding, kan Hy – juis as die liefdevolle – dan nie ander maniere gebruik om hierdie verhewe doel te bereik nie?

Daar is ongelukkig nie eenvoudige antwoorde op hierdie vrae nie. In die verlede was daar allerlei pogings gewees om God se bestuur van die lewe te regverdig, waarvan die twee gewildstes is om te sê (a) dat ons alles uit God se hand moet aanvaar as sy wil (Calvyn), of (b) die sagter opsie dat God nie alles wil nie, veral nie die kwade nie, maar dat laasgenoemde ook nie buite sy wil om gebeur nie; Hy laat dit daarom wel toe (Arminius). By beide hierdie oplossings is die kwelvraag egter altyd waarom ons God dan nog as liefdevolle Vader kan vertrou as Hy hierdie dinge kán keer maar dit nie dóén nie? (By Calvyn is hierdie kwelvraag net meer prominent teenwoordig as by Arminius.)

Die antwoord wat deesdae as die mees gangbare deur teoloë aanvaar word, is dat ons nie die wreedhede en lyding van die lewe op enige manier voor God se deur kan lê nie, nie direk nie (Calvyn), ook nie indirek nie (Arminius). God is nie verantwoordelik daarvoor nie. Ja, Hy is magtig, en Hy bewys sy almag – en liefde – daarin dat Hy die skepping uit niks tot stand gebring het en dit steeds onderhou. Feit is, hoe onvolkome die lewe ook al is, sonder God se skeppings- en onderhoudingswerk sou daar niks gewees het nie. En in die geskiedenis, soos in die Bybel beskryf, bewys Hy sy trou en liefde deur sy doel met Israel te bereik ten spyte van hulle weerstand en ongehoorsaamheid. Daarom kan ons glo dat Hy ook sy uiteindelike doel van ‘n nuwe hemel en aarde, waar daar geen trane en droefheid sal wees nie (Openbaring 21:1-5), sal bereik. Daaraan kan ons onwrikbaar vashou en ons geloof op bou. Maar intussen het God die skepping so gemaak, of dit het so geword (hoekom weet ons nie, dis ‘n misterie), dat daar ook dinge gebeur wat téén sy wil is en al die ellendes tot gevolg het. Daar is met name ook ander rolspelers in die wêreld teenwoordig, elk met sy “eie agenda”, naamlik die mens, die bose en “die natuur” wat ook téén God kan werk en dit inderdaad doen. En om een of ander rede kies God om sy almag nie so te gebruik dat Hy in elke moontlike geval van onreg of lyding ingryp en dit keer nie. Veral wat die mens betref, verkies Hy om eerder sy sagte, oorredende mag, die mag van die liefde en vrywillige lyding, te gebruik ten einde die mens te oortuig van sy goedheid, barmhartigheid en liefde. En dis op hierdie punt dat Hy die mens betrek by die koms van sy koninkryk. Hy roep ons om sy liefde en versorging uit te dra na ‘n lydende mensdom, op so ‘n manier dat gelowiges deel kry aan die lyding van Christus in die wêreld.

Van twee dinge kan ons egter seker wees: (a) God sál sy uiteindelik doel bereik, soos hierbo beskryf, omdat Hy God is, en (b) wanneer die ongeluk ons tref, is Hy by ons teenwoordig om ons te omvou met sy liefde (Matt 10:29), en is Hy só teenwoordig dat daar selfs iets goeds uit die pyn en lyding kan voortspruit (Rom 8:28). En selfs al gebeur die ergste, is Hy steeds daar om ons in sy ewige woning te ontvang en verder te begelei tot by die totale vernuwing van die skepping aan die einde.

Ek weet dat bogenoemde miskien nie ons vraagsteller se kwellinge tot rus sal bring nie (geen mens kan dit in elk geval doen nie), maar dit is werklik die enigste voorlopige antwoorde wat daar is en waarmee ons moet vrede maak. Ons word geroep as gelowiges om voortdurend die Onsienlike in sy liefde en trou te sien. Dit vra geloofsmoed om teen alle “harde getuienis” in vas te hou aan ‘n liefdevolle God wat dit goed met ons bedoel. Hierdie liefdesbedoeling het Hy immers aan ons geopenbaar in Jesus se kruisdood-ter-wille-van-ons, asook in sy opstanding-ter-wille-van-ons.

(Die vraagsteller se laaste vraag: “Is die tiende gebod Skriftuurlik? Want dit het my net verarm en my kerk verryk”, laat ek daar want ek is nie seker of dit ‘n ernstige vraag of ‘n tong in die kies-een is nie.)

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl