Jesaja – Geen uitweg vir Jerusalem nie (36:11-22) – Francois Malan

Jerusalem is heeltemal vasgespin in die web van Assirië, hulpeloos met geen uitweg nie!

36:11 Die eerste antwoord van die drie afgevaardigdes van Hiskia is geen antwoord nie, maar ‘n versoek om sagter te praat in die taal van Assirië wat Hiskia se drie amptenare verstaan, sodat die volk wat op die stadsmuur sit nie die uitdagings hoor en verstaan hoe ernstig die toestand is nie. Van hulle het uit hulle dorpe, waar Hiskia hulle afgodsaltare afgebreek het, na Jerusalem gevlug tydens Assirië se opmars.

36:12 Deel van Assirië se strategie is juis propaganda om die volk se vertroue op die Here en ondersteuning vir Hiskia af te breek (vgl. Deutr. 20:8). Die gevolge vir die volk word nou hard uitgespel sodat hulle kan hoor wat met hulle sal gebeur as hulle op die Here en Hiskia vertrou. Dit is sielkundige oorlogsvoering voor die slag.

36:13-15 Die tweede toespraak, 36:13-20, is teen die versoek van vers 11 met ‘n luide stem gerig aan die bevolking in Hebreeus, die ‘taal van die Judeërs,’ om ‘n wig in te dryf tussen die bevolking en hulle koning en sy vertroue op die Here. In die eerste toespraak het die hoofadjudant reeds gesê die Here kan hulle net so min help as Egipte. Nou wil hy hulle vertroue op Hiskia ondermyn.

Waar die tema van die eerste toespraak Jerusalem se  ‘vertroue’ is, is die tema van die tweede toespraak of die Here of enigiemand Jerusalem uit die hand van Assirië kan ‘red.’ Die woord ‘red’ word sewe keer gebruik (36: 14, 15, 18, 18, 19, 20, 20).

36:16-17 Ten tweede maak die Assiriese koning ‘n positiewe teen-aanbod:’ maak ‘n vredesverbond met my en kom uit na my toe…’ dit beteken gee oor aan my. Die eufemisme verberg nie die werklikheid nie. Die oorgawe word in twee dele aangebied: daar sal eers ‘n tussentyd van vrede wees met elkeen sy eie wingerdstok, vyeboom, put waarvandaan hulle gevlug het om in Jerusalem te kom skuil. Die ellendige situasie in oorvol Jerusalem sonder kos en water maak die aanbod baie aantreklik. Maar die langtermyn strategie is verbanning uit hulle eie land om te verhoed dat hulle teen Assirië sal rebelleer, na ‘n vrugbare ander land met koring en wyn, maar in ballingskap.

Soos Sanherib die doel van die Here met Assirië, as sy stok om Israel te slaan, misverstaan het (36:10), verstaan Sanherib ook nie dat geen ander land die Judese bevolking se land, wat die Here aan hulle gegee het, kan vervang nie.

36:18-20 Niemand kan tog dink dat die Here hulle uit die hand van die magtige Assirië kan red nie. Geen ander god van die lande, wat Assirië reeds ingeneem het op pad na Juda toe, kon hulle red uit Assirië se hand nie. Soos hy die betekenis van land van Juda misverstaan het, verstaan die Assiriër ook nie die God van Juda nie, die Here is anders as die ander gode.

Die gevolgtrekking van die tweede toespraak is dieselfde as van die eerste: Juda het geen opsie nie – nie ‘n militêre of ‘n godsdienstige nie. Almal moet buig voor die mag en wil van Assirië.

36:21-22 Die eerste reaksie van die Joodse leiers in verse 11-12 is kort en gedemp. Met die Assiriër se tweede toespraak daag hy Juda minagtend uit en minag hy selfs die Here wat hom sou gestuur het (36:10), en hulle reaksie kom in drie fases: eers bly hulle net stil omdat hulle niks te sê het om te bewys dat die Here anders is as die ander gode nie (volgens 2 Koning 18:36 is dit die manskappe op die mure wat stilbly). Verslae kom die drie koninklike gesante  met geskeurde klere by Hiskia aan met hulle verslag van die onderhandelings, as teken van hulle neerlaag en rou oor Jerusalem se sekere ondergang, aangesien die res van die hele Juda reeds deur Assirië ingeneem is.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die koningskap van Hiskia (36:1-39:8) – Francois Malan

Die vier hoofstukke vorm ‘n eenheid in die boek. Dit dek dieselfde geskiedenis as 2 Konings 18:13-20:19, met kleiner variasies en sonder die boete wat Hiskia aan Sanherib betaal het, 2 Kon 18:14-16.  Hiskia se lied in Jes 39:9-20 kom weer nie in 2 Konings voor nie. Dit gaan oor die bedreiging deur Assirië, die opkoms van Babilon as ‘n wêreldmag, en die ingewikkelde interaksie tussen die profeet Jesaja en die koning van Juda, Hiskia, die seun van Agas.

Die profeet Jesaja se werk is toegespits op sy eie tyd met die Assiriese bedreiging aan die begin van die 8e eeu v.C. Die drie uitdagende toesprake in 36:4-10; 13-20 en 37:6-13 toon die arrogansie van die Assiriese ryk en die profetiese wyse waarop die bedreigings aangebied word. Die klem lê op die kompetisie tussen die Here en die Assiriese gode, met die oppergesag van die Here. Daarom is die effektiewe reaksie op die arrogante bedreiging van Assirië die gebed van die vrome koning Hiskia (37:16-20) en die woord van die Here wat Jesaja gebring het, waarmee die bedreiging oorwin is (37:22-29). Die hoofstukke kulmineer in ‘n wonder-verlossing van ‘n magtelose Jerusalem (37:33-38), wat die spilpunt is van die opkomende Sion-tradisie as sou Jerusalem nie kan ingeneem word nie. ‘n Eeu later met die Babiloniese invalle, word hierdie vertroue van die Jode as ‘n groot fout bewys.

Die hele eenheid hfs 36-39 roep op tot vertroue op die Here in tye van nood, twyfel en vrees.

Die gedeelte is ook duidelik aangepas by die omstandighede van ‘n eeu na Jesaja, tydens die Babiloniese krisis, soos blyk uit die inbring van Babel in hoofstuk 39 en die profetiese woord van oordeel in 39:5-7. Daarop volg dan die Here se nuwe verlossing in 40:1-2. Dit is ‘n tweedelige boodskap van oordeel en genade, Jerusalem wat verwoes word en dan weer herstel word. Die boek Jesaja gaan oor die Here wat die vreemde, vir Hom uitsonderlike, taak het om sonde in toorn te straf (28:21), wat gevolg word deur sy eintlike werk van genade. So gaan die hele boek oor twee aspekte van God se handelinge: hoofstukke 1-39 fokus op sy oordeel en hoofstukke 40-66 op sy genade wat deur lyding tot openbaring kom.

Sanherib bedreig Jerusalem oor sy geloof (36:1-37:38)

Die Assiriese koningsdokumente ondersteun die Bybelse berig oor Sanherib se opmars en beleëring van Jerusalem in 701 v.C. toe die stad op wonderbaarlike wyse gered is. Die Bybel wil egter nie ‘n geskiedeniskroniek aanbied nie, maar is ‘n weergawe van God se handelinge wat ’n boodskap is, om die Here te alle tye te vertrou soos Hiskia, en nie soos sy vreesagtige pa Agas nie.

36:1 In die veertiende jaar van Hiskia se regering, nadat hy al ‘n hele aantal hervormings teweeg gebring het (2 Kon 18:4-6), is al die vestingstede van Juda reeds deur Assirië ingeneem, en net Jerusalem is nog oor, soos ‘n voëltjie in ‘n kou.

36:2 Lakis was die tweede belangrikste vestingstad in Juda. In Nineve is ‘n relief ontdek waarin die beleëring van Lakis geskets is, met grondwalle wat gebou is om oor die stad se muur te kom. Die hoofadjudannt (‘rabsake’) van die koning trek teen Jerusalem op met ‘n groot leër wat ook hier ‘n wal om die stad gooi sodat niemand kan in of uitkom nie en hongersnood in die stad veroorsaak. Die Assiriese leiers ontmoet vir Hiskia op dieselfde plek waar Jesaja vir Agas ontmoet het in Jes 7:3. Daarmee word die gelowig-vertrouende koning Hiskia teenoor die twyfelende ongelowige Agas gestel. Twee modelle van geloof/twyfel waartussen Israel altyd moet kies.

36:3 Van Sebna en Eljakim se latere geskiedenis is reeds in Jes 22 berig. Hiskia stuur sy drie hoogste amptenare om met die hoofadjudant van Assirië te praat.

36:4-6 Die eerste toespraak begin met ‘n vermetele eis waarmee die ‘groot koning’ van Assirië aan homself die gesag opeis, en  hom opstel teenoor die profetiese ‘So sê die Here.’ Die term ‘vertrou/vertroue kom ses maal in die gedeelte voor in spotvrae aan Hiskia en die volk (vv 4,5,6,6,7,9). Dit is juis wat Jesaja van Agas en Juda gevra het, dat hulle op die Here moet vertrou (7:9; 8:17; 10:20). Daarteenoor staan Assirië se ‘strategie en mag,’ waarop Assirië vertrou.

Met twee retoriese vrae daag die Assiriër vir Juda uit: waarop is jou vertroue gebou? Op woorde? Wat nie strategie of oorlogsmag kan vervang nie! Op wie vertrou jy? Op Egipte? Wat ‘n gebroke riet is wat in jou hand steek as jy daarop leun! (Die Here verbreek egter nie ‘n geknakte riet nie en sy dienskneg word nie geknak nie (43:2,3).

36:7 Soos met Egipte kan julle ook nie op die Here vertrou nie, want Hiskia het mos juis die Here se altare in Juda afgebreek sodat hulle net in Jerusalem sal aanbid (2 Kon 18:4). Sanherib het geen begrip daarvoor nie dat die Here die enigste ware God is op wie Hiskia vertrou (2 Kon 18:5), en dink die Here is beledig met Hiskia se afbreek van die afgode.

36:8-9 Die toespraak word spottend gerig teen Juda se militêre mag in vergelyking met die groot leër uit Lakis. Hulle word uitgedaag om genoeg soldate te voorsien vir 2,000 perde wat Assirië sal voorsien om ‘n bietjie sports te hê. Egipte sal nie strydwaens en perde aan Juda kan voorsien nie, want hulle is klaar oorwin.

36:10 Die laaste uitdaging aan Hiskia se vertroue op die Here wil die mat onder sy voete uitpluk. Soos Jesaja gesê het in 10:5-19, is dit die Here wat Assirië gestuur het as sy stok om Israel te straf vir sy verwerping van die Here




Genesis 20 – Herrie van Rooy

Jan vra:

Genesis 20 sluit af met die vers: Want die Here het die moederskoot van die huis van Abimeleg geheel en al toegesluit ter wille van Sara, die vrou van Abraham.
Abimeleg laat haal vir Sara om sy vrou te wees omdat sy dan die “suster” van Abraham sou wees. God laat dit egter nie toe nie en Abimeleg stuur haar terug met ‘n klomp vee en sy kry self 1000 sikkels silwer.
Op sigwaarde lyk die voorval met Sara kortstondig maar met in ag neming van die “geslote moederskote” ter wille van Sara moes die proses reeds ‘n geruime tyd geduur het.
Was beide Abraham en Sara nie al op afgeleefde ouderdomme tydens die gebeurtenis nie?

 

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Dit is ‘n interessante vraag, juis oor die probleem van die kronologie in Genesis. Dit mag bv wees dat die verhale in Genesis nie kronologies georden is nie, sodat hierdie episode nie noodwendig afspeel na dit wat daarvoor afgespeel het nie en ook nie noodwendig net voor die volgende hoofstuk met die geboorte van Isak nie. Dit gebeur ook dat gebeure so beskryf word dat dit lyk of dit vinnig gegaan het, terwyl dit inderdaad oor ‘n periode kon afgespeel het.

Daar is drie verhale in Genesis wat baie dieselfde besonderhede het. In Genesis 12 gaan Abraham na Egipte n speel ‘n soortgelyke toneel af, wel oor ‘n korter periode. Hier is dit Abraham in Gerar en in Genesis 26 Isak in Gerar, met dieselfde verhaal.

Dit lyk dus of daar drie sulke episodes was, twee met Abraham en een met Isak. Die een in Genesis 21 duur duidelik ‘n langer periode as die ander twee. Tensy dit iets is wat vroeër in Abraham se lewe gebeur het en om een of ander onbekende rede hier geplaas is in Genesis, is dit inderdaad volgens die beskrywing duidelik dat Abraham en Sara toe al oud was en dat die gebeure tog ‘n tydjie moes gebeur het, seker so drie tot ses maande, voordat die mense besef het dat geen vrou swanger  word nie. Dit hoef dus nie jare te wees nie, maar tog ‘n redelike tyd. Dat Sara op ‘n hoë ouderdom nog aantreklik was, is een van die dinge in Genesis wat nie so maklik verstaan kan word nie, behalwe as ‘n mens aanvaar dat die kronologie soms deurmekaar geraak het.

Dit sou ook kon wees dat die drie episodes se besonderhede vermeng geraak het, wat dit kronologies nog moeiliker maak.

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy

 




Jesaja – Toorn teen die nasies, redding vir sy volk (34-35) – Francois Malan

In hoofstuk 34 is die Here besig om die terrein skoon te maak van Israel se vyande, dié nasies wat Hom teenstaan. Hy gaan nie die wêreld los soos dit is, in ballingskappe, droogte en onderdrukking nie, maar dit eers reg maak. Hoofstuk 35 beskryf die herstel van ontwortelde Israel en dat Hy hulle gaan terugbring. Die oordeel-genade patroon van die twee hoofstukke is ‘n overture tot hoofstukke 40-55 waar Babilon uitgeskakel word as ‘n bedreiging (soos Edom in hfs 34), sodat God se volk na hulle land kan terugkom. Die oorwinning oor die bose en die koms van die koninkryk van God is ook beslissend vir die hoop van Christengelowiges in die Nuwe-Testamentiese bedeling. Die Christene se groot verwagting van die nuwe hemel op die nuwe aarde is op die lippe van die digter in Jesaja (vgl. 1 Petr 1:10-12).

34:1-17 Die dag van vergelding

34:1 Al die volke en nasies van die aarde word opgeroep tot ‘n hofsaak waarin die Here as regter oor sy hele skepping gaan oordeel.

34:2-4 Want oor al die volke van die aarde en hulle leërs is sy besluit: cherem ‘toegewy aan totale vernietiging’ en ‘oorgegee om geslag te word’ – die term cherem word gebruik vir die banoffer wat totaal verbrand moet word (vgl. Josua 7:1,25) ; die hemelliggame verdof,  son maan sterre en die uitspansel word opgerol soos ‘n boek; en droogte laat die aarde sterf soos die druif en vy verdroog. In die nuwe Jerusalem is daar nie meer son en maan nie, ’n oorvloed water (Openb 21:23; 22:1) en geen plek vir sondaars nie (22:15) .

34:5-15 Edom is simbool van die magte wat teen God saamspan en só ook Juda se vyand geword het (Edom, afstammelinge van Esau, se oordeel is reeds in 21:11-12 kortliks aangeraak). Benewens botsings met Juda in die verlede (Amos 1:11; Eseg 35:5), het Edom uit wraaksug (Eseg 25:12) Babilon ondersteun  en die dag toe Jerusalem ingeneem is het die Edomiete aangehou sê: ‘Breek af, breek af  die stad, tot op sy fondamente’ Ps 137:7;  Obadja 8-15; nadat meeste van Juda weggevoer is, het Edom dele van die land vir hulle gevat (Eseg 36:4-5)  Die uitwissing van Edom word voorgestel as ‘n offerfees in Bosra wat as ‘n groot slagting van mens en dier in Edom voorgestel word. Die hoofstad Bosra, ‘oninneembaar,’ was geleë op ‘n uitloper van die berg met hoë loodregte rotswande (Jer. 49:16). Die Here gaan hulle vergeld vir wat hulle Juda aangedoen het (Eseg 35:11). Die vergelding word voltrek soos ‘n brandoffer in ‘n vuur wat nie deur die nag gedoof mag word nie (vgl. Lev 6:8-13), ‘n stroom brandende swael en teer (soos in Sodom en Gomorra, Gen 19:24-25) waarvan die rook vir ewig opstyg. Die land word leeg (tohu soos Gen 1:2 se chaos/vormloosheid) en deur wilde onrein diere oorgeneem (o.a. veldgode/ die harige sondebok en naggees/naguil). Die skepper God regeer self oor sy skepping en breek af waar Hy straf (Mal 1:4).

33:16-17 Die gedeelte sluit met ‘n uitnodiging om in die boek van die Here te lees oor wat sy mond bepaal het oor die wilde diere wat deur sy Gees bymekaar gemaak is (soos Hy in die begin met sy Woord geskep het en met sy Gees lewe gegee het, Gen 1:2-3). Die veronderstelling is dat hierdie en latere geslagte die boek sal lees oor wat die Woord van die Here gesê het en wat sy Gees gedoen het en dit as sy woord aanvaar – die wilde diere se plek is afgemeet, is deur die lot aan hulle toegeken, en met die Here se hand aan hulle gegee.

 

Sion se land en sy mense jubel oor God se redding (35:1-10)

35:1-2 Die hele land, verteenwoordig deur die drie beskrywings van doodsheid: woestyn, droë land, waterlose gebied, sal juig oor die glorieryke optrede van die Here ons God, en soos affodille oorvloedig blom. Met drie beskrywings van vrugbaarheid word die Here se heropbou geskilder: vol bome soos die Lebanon, met wingerde teen Karmel, en weivelde in die Saronstreek langs die Middellandse See (vgl. die straf van die Here in 33:9, wat nou omgekeer word). Die herstel van die skepping is tekens van God se heerskappy oor die land en sy mense.

35:3-7 Aan God se mense wat deur die ballingskap moedeloos geword het: swak hande, knakkende knieë, verontruste harte, sodat hulle, soos die droë land, nie hulle godgegewe potensiaal kan uitlewe nie, kom die boodskap: versterk julle hande om te kan werk, maak julle knie weer sterk om te kan loop, versterk julle harte sodat julle nie meer vrees nie, want ‘kyk! julle God kom met wraak (om wat verkeerd is reg te maak, vgl. Rom 12:19) en met God se vergoeding (vir julle ontberings); Hy kom om julle te verlos (uit die ballingskap).’ Die gebrokenheid van hulle lewe in ballingskap word verbeeld met blindes, dowes, lammes, stommes (soos die straf van die Here in 6:9-10 aan hulle opgelê is). Nou kan hulle sien, hoor, spring, en sing (vgl. Luk 7:22); en die landskap verander in ‘n waterryke tuin (teenoor 34:13) – Want julle God is hier! (35:4).

35:8-10 Die terugtog na die beloofde land word ‘n veilige en vreugdevolle reis op die Gewyde Pad  vir die mense wat aan die Here toegewy is; ’n reis sonder onreines, dié wat nie deur die Here gereinig is nie (Jes 4:4), sonder dwase, wat nie na die Here luister nie. Slegs dié mense wat juig omdat die Here hulle verlos het van hulle sonde teen Hom, om weer aan Hom as sy volk te behoort (Jes 43:1), hulle wat deur Hom losgekoop is uit hulle slaweskap van Babilon en sy afgode.

In vers 1-2 juig die land met plantegroei, bosse en blomme, in vers 6 juig die blind-doof-lam-stommes, in v10 almal wat verlos en losgekoop is. Sion is deur die Here herstel tot ‘n plek van pure onverminderde ongekwalifiseerde welsyn en vreugde in die Here, ’n voorafskaduwing van die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Skrywer: Prof Francois Malan