Jesaja – Die koms van die koninkryk van God (33:1-24) – Francois Malan

Die hoofstuk handel oor ‘n wêreldmag wat deur die Here verbreek sal word; in plaas daarvan sal die Here ‘n nuwe regering van welwese vestig wat vreugde en veiligheid vir God se volk sal bring. Die vyand en die omstandighede word egter nie geïdentifiseer nie en ‘n aantal los ou spreuke word gebruik wat nie ‘n duidelike verband het nie.

33:1-6 Die Here red Sion

Die hoofstuk begin weer met ‘n ‘wee!’ uitspraak van verlies en dood oor Juda se verwoestende vyand. Vers 1 van die gedig gebruik albei die woorde ‘verwoes’ en ‘ontrou’ vier maal, om die skelm optrede van die ongenoemde  vyand te beklemtoon en dat hy sal ontvang wat hy aan ander doen (hoewel Assirië Juda se twee vyande Israel en Sirië verslaan het nadat Agas die koning van Assirië daarvoor omgekoop het, 2 Kon 16:8-9, het Assirië voortgegaan en amper die hele Juda ook ingeneem.

33:2 Juda wag in gebed op die genade van die Here om hulle te beskerm met sy magtige arm.

33:3- 6 Die Here se majesteit word besing. In die verlede kon geen vyand standhou teen sy magte arm nie. Die verwagting dat Hy weer so vir Juda sal optree is die rede vir die verwysing na die verlede. en dat Hy hulle sal vul met sy heerskappy van reg en geregtigheid. Die Here se verlossingsdade, sy wysheid, sy kennis en die vrees vir die Here is die skat wat Hy gee – ‘n skat wat geen plunderaar kan buit nie.  Die nuwe koninryk vervang die ou regering van verwoesting en ontrou. Die kenmerke van die Here se nuwe regering word in 33:5-6 besing. Die Here is dwarsdeur die geskiedenis teenwoordig en Hy bepaal die kritiese veranderings daarin.

Die gedeelte kan toegepas word op Hiskia, die nuwe koning van Juda, wat sy goddelose pa Agas opgevolg het, en op Assirië ,die verwoestende vyand van Juda wat deur die Here verslaan is (hoofstuk 37). Eintlik is dit ‘n gedeelte wat op enige tyd deur die eeue toegepas kan word, veral op Jesus en die koningkryk van die hemel wat Hy kom verkondig het (vgl, 1 Petr 1:10-12). Met sy wederkoms sal God se koningskap volmaak  wees.

33:7-16 ’n Aanbod aan hulle wat die verbond hou.

Die gedeelte begin met ‘n klag waarin die heersende nood  bekla word in 33:7-9:’Kyk!   hulle helde roep klaend om hulp daar buite in die strate; die boodskappers  wat vrede aangekondig het en by Assirië vrede gaan beding het, huil bitterlik oor die toestand in die land. Verkeer en die ekonomie het tot stilstand gekom want die paaie is nie meer veilig met die Arssiriese soldate daarop nie. Die verdrae wat hulle met Assirië gesluit het, is deur Sanherib verbreek deur sy minagting van stede (arim; die Dooie See rolle lees: van getuies adim – van die verdrag), en geen mens word ontsien nie. Die land treur oor die droogte; Lebanon se pronkbosse is kaal en verdroog; die vrugbare Saronvlakte het  ‘n woestyn geword; die bome op Basan en Karmel skud hulle blare af.

Die hele land wys die jammerlike toestand: handel, landbou, selfs die natuur staan stil. Die gedig aanvaar dat die sosiale krisis en die krisis in die natuur die gevolg is van die mens se verkragting van reg en geregtigheid. Juda het nou geen ander helper as die Here nie.

Die Here reageer daarop in 33:10:’ Nou sal Ek opstaan, nou sal Ek myself verheerlik, nou sal Ek myself oprig’ – drie maal vir bevestiging. Die tyd vir sy ingryping het gekom, en nou gaan die Here duidelik verheerlik word deur sy herstel van die goeie orde in die sosiale lewe en in die natuur, waarvoor in 33:2 gevra is: om hulle daaglikse hulp en hulle verlossing uit moeilikheid

Die Here se ingryping het twee gevolge: sy oordeel oor die Assiriërs word uitgespreek, en dien as ‘n les vir Juda.

33:11-12 ‘julle is swanger met strooi en julle bring kaf voort’  – Assirië se baie planne en strategieë is niks werd nie;

‘julle asem is ‘n vuur wat julleself gaan verteer,’  deur die kaf aan die brand te steek – die Here gaan hulle aan hulle eie planne oorgee om hulleself te vernietig – die volke waaruit die Assiriese leër opgebou is, sal tot kalk verbrand word (soos die bene/lyk van Edom se koning in Amos 2:1). Mense sal sonder respek vir menselewens soos doringtakke in die vuur brand.

33:13 Ook Israel word aangespreek. Toeskouers van vér en naby word opgeroep as getuies van die Here se optrede. Dit kan verwys na Israeliete in die verstrooiing en dié in Jerusalem, of, in die lig van vers 14, na mense wat naby die Here lewe en op Hom vertrou, en ander wat nog vér van Hom af lewe om tot inkeer te kom.

33:14 Die sondaars in Sion bewe en vra, soos in Ps 15:1 en 24:3, wie kan die Here se toorn (die huidige vuur en die ewige straf) ontvlug.

33:15 Die vereistes om saam met die Here te kan lewe is: ‘n regte lewenswandel, eerlike woorde, verwerp onregverdige wins, weier omkoopgeskenke, ore wat nie na moordplanne luister nie en  oë gesluit vir misdaadsgeleenthede. Vir hulle word die versekering gegee in 33:16: hulle sal in die hoogte, by die Here, woon (vgl. 33:5), onder sy rotsvaste beskerming, verseker van lewensmidele, kos en water. In 33:5 vul die Here Sion met reg en geregtigheid. Wat die Here gee, eis Hy van sy volgelinge om dit uit te lewe.

33:17-24 die koning  kom

33:17-19 Die profeet sê: ‘Jou oë sal die koning in sy skoonheid aanskou ’ – met sy koninklike kleed aan, indien dit verwys na ‘n koning van Juda; of die skoonheid van die Here se optrede; ‘en jy sal verre lande sien’ – dit kan verwys na die uitbreiding van Juda se grense deur Josia, of na die Here wat heers oor die groot gebied wat veilig is, waar al die vyandelike magte uitgeskakel is, soos vers 19 met drie retoriese vrae terugdink aan die tereur van die besettingsmag: waar is die teller (sensusopnemer om getalle en belasting te bepaal), waar die een wat weeg (wat die belasting wat inbetaal word, weeg), wat die torings tel (die militêre opsigter oor die forte). Vers 19 gee die triomfantelike antwoord: ‘Nêrens!” die arrogante besetters met hulle vreemde taal wat jou intimideer sal jy nie weer sien nie.

33:20-22 ‘Kyk Sion, stad van ons bepaalde feestye (Lev 23; Dt 16),  jou oë sal Jerusalem sien as ‘n blywende/ewige ongestoorde veilige oord,’ wat die Here in 30:15 aangebied het, maar toe deur hulle verwerp is. Die stad sal bekend wees as die stad van die Here se magtige teenwoordigheid, ‘n plek met riviere sonder die bedreiging van galeiskepe daarop, ‘want die HERE is ons regter, die HERE is ons heerser, die HERE is ons koning en Hy sal ons red’ – soos voor die tyd van Saul (1 Sam 8:5-7; 12:12). Drie maal word die HERE by sy verbondsnaam  genoem en sy ampte uitgespel waarmee Hy Jerusalem se lewe nuut sal orden om met reg en geregtigheid in vrede te lewe, gered uit die bedreigings van buite, maar veral in hulle onderlinge verhoudings.

33:23 Die gedig kyk weer na die verslane vyand (Assirië?) en die grootte van die buit dat selfs die lammes in Juda ‘n deel kry (in 33:4 het die Here reeds die onderdrukker se goed as buit vir die mense gegee).

33:24 In die stad waar die HERE regeer sal ook niemand sê ‘Ek is siek’ nie. Onder die nuwe koningskap van die HERE is daar volmaakte gesondheid, uiterste vergifnis, met volle versoening en totale rehabilitasie – egte sjaloom soos die Skepper dit bedoel het.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die nuwe bedeling (32:1-20) – Francois Malan

Tussen hoofstukke 28-31 en 33, wat telkens met ‘n ‘wee’ (ellende) begin, open hoofstuk 32 met ‘Kyk!’ wat aandag vra vir ’n belangrike aankondiging, vir die Here se nuwe begin: verse 1-8 met ‘n nuwe koning en daarmee ‘n nuwe sosiale lewe, verse 15-20 met die Gees van die Here wat ‘n vredevolle gemeenskap skep met God se geregtigheid. Tussenin is verse 9-14 ‘n ernstige waarskuwing dat die nuwe bedeling geen plek het vir die ou lewenswyse nie, en dat hulle die oue moet los.

32:1-8 ‘n Nuwe gemeenskap gekenmerk deur reg en geregtigheid

Die eerste twee sinne kondig aan wat die inhoud van die ware hoop van die volk is, ’n nuwe koning in Jerusalem wat soos Dawid met reg en geregtigheid sal regeer. Slegs daardeur kan ‘n nuwe wêreld van sjaloom (vrede en welwese) geskep word, soos reeds uitgespel is in Jes 5:7 en 9:6. Elke amptenaar (die koning en die amptenare onder sy bevel) sal vir die samelewing ‘n beskutting wees, soos vers 2 dit met met 4 beelde skets: ‘n skerm teen die wind en ’n skuiling teen die storm, twee beelde vir enige gevaar wat die samelewing bedreig, stroompies water wat laaf in dor streke, die skadu van ‘n rots in ‘n warm moeë wêreld. Na die slegte koning Agas, wat die beskerming van Assirië verkies het bo die Here se verlossing (Jes 7) verteenwoordig sy seun Hiskia ‘n goeie koning wat die Here dien (vgl  hoofstukke 36-39). Hiskia is ’n skadubeeld van Christus, wat die hoop op ’n nuwe wêreld ten volle kom vervul.

Mense se oë en ore sal dan kan onderskei tussen slegtes en goeies en nie meer volgelinge wees van dwase hartelose leiers nie, wat boosheid verkondig, onreg bedink, skynheilig optree, teen die Here praat, en behoeftiges uitbuit; korrupte skurkagtige leiers wat, vir eie gewin, eenvoudiges en armes met leuens en bedrog ten onder laat gaan, ook in die hof. Eerbare en verantwoordelike mense en leiers eer egter die Here en hulle medemense en tree op met reg en geregtigheid wat met barmhartigheid toegepas word (vgl. Ps 112:4,5,8,9 se werke van die Here).

32:9-14 ‘n Waarskuwing aan ‘n bedwelmde gemeenskap

Die vroue en dogters, as verteenwoordigers van die welvarende gedeelte van die gemeenskap, wat veilig en gerieflik in weelde lewe, word aangespreek oor hulle selfversekerde onbesorgdheid met hulle ou lewe onder hartelose korrupte leiers (soos in Jes 3:16). Hulle dink nie hulle lewenswyse kan in ’n katastrofe verander nie. Waar Jes 3 oordeel oor hulle aankondig, is hierdie gedeelte ‘n oproep tot berou soos in ‘n roudiens: gee aandag, luister, bewe verskrik met rouklere aan oor die komende verval van die wingerde tot doringbosse, die paleis en die stad tot ruïnes, julle huise van julle vreugde tot vreugde van wildedonkies.

32:15-20 ‘n Nuutheid deur die gawe van die Gees

Die oproep tot rou word skielik onderbreek met ‘totdat,’ wat alles wonderlik positief verander. Daar  is nie meer verlies en rou nie want ‘van Bo word ‘n gees op ons uitgestort,’ wat ‘n nuutheid bewerk – Johannes 14:26 noem die gees van Bo  die Heilige Gees; in Genesis 1:2 is dit die Gees van God wat aan elke skepsel lewe gee. In Jes 32:15 verander die Gees van Bo die woestyn tot ‘n karmel ‘n ‘vrugte boord’ en die vrugteboord word so dig soos ‘n bos – om die oorvloed van lewe en vrug te beklemtoon, ‘n stad en land vol lewe, met reg, geregtigheid, vrede en veiligheid, die lewe van sjaloom, vrede en welwese van 5:7 en 9:6 waarna verlang  is in 32:1 en wat die Here in 30:15-16 aangebied het, maar deur Juda verwerp is. Hier word dit egter nie deur die koning bewerk nie, maar is die nuutheid van die lewe ‘n geskenk van die Here self.

Vers 19 van die gedig is moeilik verstaanbaar of dit positief of negatief bedoel is. Dit kan nog verwys na die vroeëre verwoesting van die bos en die stad deur Assirië; letterlik staan daar: ‘die bos sal heeltemal verdwyn en die stad totaal afgebreek word’ of kan positief vertaal word as ‘dit (die huise in die nuwe stad) sal uitstrek tot in die diepte van die bos en vér af in die valleie.’

Vers 20 beskryf ‘n eenvoudige en gelukkige landelike bestaan met ‘n landjie langs elke stroom en ‘n os en ‘n donkie wat vry rondloop, soos in Ps 1:3 en 23:2 sonder die bedreiging deur wilde diere en rowers, sonder dat ’n groot leërmag nodig is om die stad en die mense se groot rykdom te beskerm (vgl. Jesus se woorde oor rykdom teenoor God se sorg, in Mat 6:19-34).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Ware en valse hulp (31:1-9) – Francois Malan

Die hoofgedagtes van hoofstuk 30 word in hoofstuk 31 kort weergegee: Egipte is ’n onbetroubare bondgenoot, Assirië se dae is getel, die enigste ware hoop is die HERE, keer terug na die HERE – dit gaan oor valse en ware hulp. Die woord ‘help’ word vier maal gebruik in verse 1-3 as die leidende tema van die hoofstuk.

31:1-3 Jesaja waarsku weer, ‘wee!’ hulle wat teen die dreiging van Assirië, eerder hulp soek by Egipte met sy weermag van  sterk ruiters, baie perde en oorlogswaens, en nie op die wyse HERE nie, wat as die Heilige van Israel aan Israel toegewy is, wat deurvoer wat Hy besluit, en optree teen kwaaddoeners en teen die helpers van die kwaaddoeners. As Hy sy hand uitsteek val Juda se helper Egipte en Juda vir wie Egipte help, en saam gaan hulle te gronde. Egiptenaars is (feilbare) mense – nie God nie, hulle perde is van vleis wat vergaan – nie die magtige Gees van God nie. Met die vertroue op perde en oorlogstuig kritiseer die profeet ook die mens se idee en vertroue op militêre mag as ’n illusie wat net die dood meebring.

31:4-5  Anders as die hulp van Egipte, skilder die HERE vir Jesaja sy beskerming oor Jerusalem met twee metafore: die HERE is soos  ‘n onverskrokke leeu, wat nie deur veewagters (Assirië) van sy prooi (Jerusalem) af weggejaag word nie.  Die Here sal Juda se vyand aanval, en soos ‘n voël wat beskermend oor sy kleintjies vlieg, sal die HERE hulle beskerm en uitred.

31:6-7 Israel het in hulle nood vergeefs hulle vertroue gestel het op militêre hulp (perde), en ekonomiese beveiliging (goud en silwer). Hulle vertroue op militêre mag en geldmag word beskryf as ’n diepe rebellie teen die HERE, ’n verwerping van sy hulp en van Hom as hulle God. Daarom word hulle opgeroep om terug te draai na Hom toe, op wie hulle vroeër vertrou het en Hom uit liefde gedien het. Dit vereis ’n radikale verskuiwing van hulle denke en vertroue, weg van hulle afgode wat met hulle eie hande gemaak is, na Hom wat hulle met sy eie hande gemaak het.  Hulle militêre sekuriteit en ekonomiese beheer is ten nouste verbind aan hulle godsdiens wat ’n vertroue op hulleself is, op afgode wat hulle kan beheer.

31:8-9 Die verse word aangebied as ’n woord van die HERE, wat ’n vuur en ’n oond in Sion/Jerusalem het. waar offers aan Hom gebring word. As hulle egter hulle afgode weggooi, op die Here vertrou, gaan die HERE Assirië se leiers en bevolking uitwis en verkneg met vrees vir die vuur van die Here, wat nie die swaard van ‘n mens is nie. In Jes 37:36 word vertel hoe ’n engel (boodskapper) van die HERE die leër van die Assiriërs in een nag uitgewis het. Daarna het die militêre mag van Assirië getaan totdat hulle deur die Babiloniërs oorrompel is. Jesus het gekom om die vuur van God op die aarde aan te steek (Lukas 3:17; 12:49), naamlik God self, die Heilige Gees, wat in elke gelowige kom woon (Handelinge 2:3; Johannes 14:23-26).

Die hoofstuk roep elke mens op om in sy denke en geloof om te draai van ’n lewe van vertroue op mensgemaakte mag met geweld en besittings om jouself te dien in plaas van die Heilige (die Toegewyde) van/aan Israel, die HERE (die Ek is persoonlik aktiewe teenwoordige God) wat in en deur ons wil werk.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Abba – Francois Malan

Anna vra:

Is dit reg om Bybel figure ook as Abba ……… aan te spreek? Bv Abba Moses.

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die Hebreeuse woord ab beteken ‘vader/pa;’ en abi  ‘my Vader;’ die Aramese vorm wat Jesus in Getsemane gebruik het vir ‘my Vader’ is abba (vgl. Markus 14:36).

In Galasiërs 4:6 sê Paulus dat God die Gees van sy Seun uitgestuur het tot in ons harte, die Gees wat roep: Abba, Vader!

In Romeine 8:15 sê Paulus: julle het die Gees van aanneming tot kindskap ontvang deur wie ons roep “Abba, Vader!’

Maar in Afrikaans hoef ons nie die Aramese aanspreekvorm van God te gebruik nie, maar soos Jesus ons geleer het om God aan te spreek in ons gebed as ‘Ons Vader’ (Matteus 6:9) wat Lukas weergegee het met ‘Vader’ (Luk 11:2). Met die ‘ons’ in Mat 6:9 beklemtoon Jesus dat die mense wat in Jesus as die Seun van God glo, die voorreg het om deel van God se groot gesin te wees (soos Romeine 8:14-17 uitgespel het) en kan ons ook soos sy Seun, en soos die Gees in ons, God aanspreek as ‘Ons Vader.’

Maar om Bybelfigure as abba aan te spreek dien geen doel nie omdat hulle ons nie te hulp kom nie, en nie God se plek kan inneem nie.

Jesus het in Matt 23:9 gewaarsku: Moet niemand op die aarde as ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is.

Skrywer:  Prof Francois Malan