Jesaja – Die Here spreek sy volk aan (9:7-10:4) – Francois Malan

9:7-8 Na die wonderlike verwagting van ‘n nuwe lewe van 7:1-6, volg ‘n lang oordeelsuitspraak teen Israel/Jakob, die tien stammeryk, waar Efraim die leidende stam is met hulle hoofstad Samaria. Die uitspraak is simmetries opgebou met vier afdelings wat elkeen afsluit met dieselfde refein/keervers: 11,16,20; 10:4: ‘Ondanks dit alles word sy toorn nie weggedraai nie’ (1983-vertaling: bedaar die toorn van die Here nie); sy hand bly uitgesteek (teen hulle). Dit alles verwys na Israel se weiering om hulle lewe in te stem op die Here se bedoeling met hulle. Sy toorn bly op hulle omdat die Here nie verdra dat van sy alleenheerskappy ‘n bespotting gemaak word nie. Sy hand wat uitgestrek bly is dieselfde hand wat hulle uit Egipte gelei het (Eks 6:6 letterlik: Ek sal julle red met ‘n uitgestrekte arm, met groot oordele). In weerwil van al sy oordele, die tien plae oor Egipte as bewys van sy uitredding, en later Israel se 40 jaar in die woestyn, het die volk hulle nie tot die Here bekeer nie. Die aanleiding tot die Here se oordeel is: Die hele volk is trots-arrogant en selfversekerd (letterlik: praat met grootheid van hart).

9:9 Jesaja 26:9 sê: ‘Wanneer U die aarde straf leer sy inwoners wat geregtigheid is;’ maar die Here se eie volk verstaan nie die Here se woorde wat Jesaja aankondig nie. Ten spyte van die Here se oordeel, met huise wat val en bome wat afgekap is deur die Assiriërs, sê die volk, hulle sal self hulle eie herstel behartig. Daarom volg daar nog oordele.

9:10 Peka was wel Israel se koning, maar Resin van Damaskus het eintlik die seggenskap ook oor Israel gehad. Nou sê die Here, omdat Israel so trots en selfversekerd nie sy oordele ter harte neem nie, gaan Hy Resin versterk om dit vir Israel nog moeiliker te maak en dele van Israel laat oorneem waar hy met gekapte klip wil bou en seders plant.

9:11-12 Israel word bedreig deur sy vroeëre vriende, die Arameërs onder Resin (7:4) uit die noord-ooste, en die Filistyne uit die suid-weste. Van weerskante af, word Israel met een hap verslind. Maar selfs daarna bly die Here se straffende hand teen Israel uitgesteek omdat hulle nie nederig terugdraai na Hom toe nie. Hulle vra nie eers na die wil van die Here (Jahweh die Ek is aktief teenwoordige) van die leërskare (ook van Aram en Filistia se leërs) nie, Hy wat die volke bestier en gebruik as sy instrumente, ook om te straf.

9:13-16 Daarom sal die Here op een dag Israel se kop en stert (leiers en valse profete), palmtak en biesie (jongmense en weduwees en wese) van hom afsny (deur die brutaliteit van die oorlog). Die leiers het die volkmislei, en die volk het hulle laat mislei. Die jongmense is nie meer vir die Here ‘n vreugde nie, en die vaderloses en weduwees geniet nie meer sy barmhartigheid nie (soos blyk uit die optrede van die soldate se optrede teen hulle), want elkeen neig weg van die regte verhouding met God, is sleg/’n kwaaddoener, en elke mond praat dwase/skandelike/bose/ongoddelike woorde. Daarom bly die toorn en die straffende hand van die Here teen hulle uitgestrek.

In 9:17-20 word ‘n ooreenkoms geskilder tussen die sonde van die volk en die straf van die Here.

9:17 Die gooddeloosheid van die volk word voorgestel as ‘n vuur wat in hulle brand. Dit begin by dorings en dissels (7:24) wat maklik brand, en versprei soos ‘n bosbrand in die digte takke, tot alles in rook ‘opgaan’ (dieselfde woord ‘opgaan’ word ook vir trots/arrogansie gebruik). Dit is die resultaat van goddeloosheid wat al verder brand en harte verhard, wat nie deur bekering gestuit word nie (1:18-20).

9:18 Die oordeel van die Here is ‘n vuur wat die volk verwoes, deurdat hulle goddeloosheid die vuur is wat hulle lewens verwoes. So word die weduwees en wese in die steek gelaat deur die hardheid van die mense se harte wat hulle nie oor ander bekommmer nie. Die volk, wat God se instrumente moet wees om die weduwees en wese te versorg (1:17,23), het hulle roeping versaak en word gedryf deur die vuur van hulle goddeloosheid (vol silwer en goud, vol perde, vol afgode, 2:7-8).

9:19-20 Die lede van die Here se volk veg teen mekaar in ‘n orgie van selfvernietiging, en die samestelling van die sosiale en politieke lewe word gedompel in die chaos van geweld (vol perde). Niemand kry genoeg nie (vol silwer en goud), verslind mekaar en verteeer sy eie krag (letterlik: hy gryp aan die regterkant en is honger, hy eet aan die linkerkant en word nie versadig nie. Elkeen sal die vleis van sy eie arm eet – sommige verander ‘sy eie arm’ na ‘sy naaste’ deur een Hebreeuse konsonant uit te laat: re‘wo i..p.v. zero‘wo). Efraim en Manasse, Josef se twee kinders se stamme, was die grootste van die 10 stammeryk en verteenwoordig al tien se bevolking wat nou teen mekaar veg en ook vir Juda bykom. So lyk ‘n samelewing wat sy rug op die Here gedraai het en vir wie die Here in sy toorn aan hulle eie begeertes oorgee om hulleself te vernietig (Rom 1:18,23-24,28).

10:1-4 is ‘n reaksie op die donker prentjie van Israel se toestand, en kla oor die slegte leierskap, wat die huidige toestand veroorsaak het. Onderdrukkende wette teen die swakkes om daardeur ‘n onregverdige voordeel te verkry het die samestelling van die gemeenskap verswak en kan nie druk van buite weerstaan nie. Die uitbuiters sal soos die ander ly. Soos in 5:8-23 se ses weeklagte van ‘ellende’ is daar noodlottige gevolge in die dwaasheid van die oortredings teen die Here se aanwysings. ‘n Verkeerde lewenswyse bring sy eie ondergang.

10:1-2 ‘n Klaagsang word aangehef teen die wetgewers wat met hulle dwase selfsugtige wette die armes laat ly (vgl. Jer 8:8) en so ‘n gesonde en vredevolle samelewing ondermyn en vernietig. Die staat is dood, die rouklaershuil, en die leiers is vasgevang in hulle eie strik. Die Here roep leiers om as sy diensknegte die volk met reg en geregtigheid te lei en die gemeenskap te dien (1:17; 5:7). Maar as hulle deur eersug en hebsug gedryf word tree hulle reëlreg teen die Here se wil en wet op. Die misleiers van die volk (9:15) verdraai die reg en staan onder die oordeel van die Here (Eks 22:22-24). Hulle sien nie, en wil nie verstaan nie, hoe ‘n dienskneg van die Here moet optree nie (Jes 11:3-5), maar buit die swakkes uit en plunder dié wat magteloos staan onder hulle wette, waarmee hulle hulle probeer regverdig.

10:3-4 Die digter-profeet skilder die prentjie van die lot van die uitbuiters op die dag van afrekening (letterlik: dag van besoeking/straf). Die dag is nog vér maar die Assiriërs is aan die kom en daarmee die volk se ballingskap, wanneer niks van hulle besittings saamgaan, of vir die Assiriese soldate weggesteek kan word nie. Die keuse is tussen ‘n lewe as slaaf in ballingskap of die dood vir dié wat weerstand bied teen die aankomende leërs (2 Kon 17:6,23). Die profeet probeer met die baie beelde wat hy skilder om sy tydgenote in staat te stel om hulle lewens in te rig soos die Here dit wil hê. Hy wys daarop dat die Here aktief teenwoordig is as die fokus vir ons lewe. Sonder die Here as ons fokus, is die openbare lewe en samelewing van die volk verkeerd saamgestel, word dit vals verstaan en aangepak, en word gelewe sonder geloof en ‘n vaste hoop. Maar so’n siening op die werklikheid, met die Here in die sentrum, word deur die samelewing grondig misverstaan en vir hulle lyk dit asof dit nooit sekerheid, welsyn of vreugde kan bring nie. Daarom jaag hulle na hulle eie vernietiging.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Bloedlynvloeke – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek het ‘n navraag in die Mediasentrum gekry oor “Generational Curses”. Ek weet nie eintlik hoe om dit te vertaal nie – Oorgeërfde vervloeking? Vraag: As alles die heeltyd verkeerd loop en niks ooit wil uitwerk nie – kan daar so ‘n vloek op ‘n gesin/persoon wees? Wat is dit en hoe spreek mens dit aan?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Vir iets soos die sogenaamde bloedlynvloeke sal mense altyd tekste in die Bybel kry om hulle standpunt te regverdig. Maar dit beteken nie dat daardie tekste dan na hulle bedoeling aangewend word nie. Gewoonlik word tekste slegs “op die klank af” gebruik omdat hulle oënskynlik toepaslik is. In verband met bloedlynvloeke is ‘n gewilde teks altyd Eks 20:5, wat sê dat God die sondes toereken tot in die derde en vierde geslag. Maar dan word gerieflik vergeet dat hierdie vers spesifiek handel oor die sonde om afgode te dien en/of om van God afbeeldinge te maak wat neerkom op afgodery. (Eks 20:5 is naamlik ‘n uitbreiding van die tweede gebod wat in vers 4 begin – jy mag vir jou geen beeld of afbeelding maak nie.) Mense wat afgode dien of God deur beelde dien, se hele bestaan word besoedel – ook dié van hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders (derde tot vierde geslag). Die agtergrond hiervan is die destydse opset waar uitgebreide families binne een kommune saamgewoon het. As die ouers afgode aanbid, of God met afbeeldings probeer dien (soos die omringende heidennasies), het dit almal wat in noue kontak met hulle geleef het – kinders, kleinkinders, ens – negatief beïnvloed. Die gevolge van so ‘n verkeerde godsdiens was dan sigbaar in die doen en late van almal wat afhanklik was van die familiehoof. Dit is wat “haat” hier beteken: solank as wat die ouers volhard in afgodery het dit ‘n slegte uitwerking gehad op almal in daardie familie. Sonde is immers nie net ‘n persoonlike saak nie; dit het ook bo-persoonlike gevolge omdat mense interafhanklik is van mekaar en by mekaar “afkyk” hoe om te lewe. En so brei die sonde uit na ander en “reken God die sonde toe” aan die derde en vierde geslag. God se “vloek” is dus direk gekoppel aan hoe mense in die praktyk leef – téén sy wil. Hierdie situasie is egter slegs van toepassing solank as wat daardie familie voortgaan om God op dié manier “te haat”. Sodra hulle daarmee ophou en tot inkeer kom, verander die situasie ten goede.

Daarom praat dieselfde Eks 20 ook van die liefde van God – dat Hy sy liefde betoon tot in die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou (20:6). God is dus nie haatdraend nie. Hy is baie meer daarop ingestel om mense te seën as om hulle te vervloek. Dit is wat Hy die graagste doen – om sy liefde aan mense te bewys. Sy verbondstrou hou daarom tot in die duisendste geslag. Eintlik is dit maar net ‘n manier om te sê dat dit nooit ophou nie. As mense Hom liefhet en sy gebooie onderhou – d w s, Hom dien volgens sy wil – dan is daar geen einde aan sy trou en liefde nie. God se seën is dus – net soos by die sonde – direk gekoppel aan hoe mense daadwerklik leef, naamlik volgens sy wil. Daarom sê Ps 103:8-18 dat Hy nie ons oortredinge teen ons hou nie; Hy bly nie vir ewig toornig nie en sal nie ons sondes bly toereken nie.

Ek het doelbewus by die uitleg van Eks 20:5-6 begin om in die lig hiervan verdere opmerkings te maak oor hoe ons die hart van God moet verstaan soos dit in die bladsye van die Bybel ontvou. Want in Eks 20:5-6 word eintlik ál die belangrike lyne sigbaar wat in die res van die Bybel in groter besonderhede uitgewerk word rondom ‘n onderwerp soos bloedlynvloeke. In die lig van hierdie totaalperspektief behoort mens te besef hoe vreemd dit is dat mense hulle hoegenaamd steur aan aansprake dat vloeke van mense of van God langs bloedlyne loop en dat dít die rede is waarom mense ongelukkig is.

Ek bespreek die onderwerp verder aan die hand van die volgende hofies:

 

Sonde is nie net persoonlik nie

Ons dink dikwels dat sonde net ‘n persoonlike aangeleentheid is. Maar die menslike geskiedenis vertel iets anders. Die sonde het nie net by Adam en Eva gebly nie, maar alle mense in die kern van hulle menswees aangetas. Dit is wat die leer oor die sogenaamde erfsonde ook wil sê. Ons dra naamlik swaar aan die las van die eerste mens se sonde. Ons word daarom in sonde ontvang en gebore. Sonde is nie net ‘n paar misstappies of verkeerde dinge wat ons doen nie, maar is veral ‘n bo-persoonlike mag wat oor ons heers. Ons is slawe van die sonde. En dit manifesteer dikwels binne families op bepaalde maniere. Kinders en kleinkinders ly onder die swak gedrag van hulle ouers, op meer as een manier. Mense wat as kinders mishandel en gemolesteer is, word dikwels self molesteerders as volwassenes. Die lewenspatrone wat hulle as kinders ervaar het, sit hulle dikwels as volwassenes voort. Dit is wat Eks 20:5 bedoel: die gevolge van die sonde is tot selfs in die derde en vierde geslag sigbaar. Maar dit het niks te doen met ‘n “vloek” wat in bloedlyne loop en waaruit jy nie kan breek nie. Daarom die volgende punt.

Mense kan tot inkeer kom

Dis een van die wonderlike temas in die Bybel – ‘n mens is nie so ‘n gevangene van jou verlede dat jy nie daaruit kan breek nie. Jy het keuses in die lewe; jy kan besluit om te breek met jou verlede en God en jou naaste lief te hê en te dien. Daarvan is die Bybel vol. Trouens, as dit nie so was nie, dan was daar geen kans vir enigiemand van ons nie. Elkeen kan en moet daarom self besluit hoe hy sy lewe gaan voer – as ‘n slaaf van die sondige verlede, of as ‘n vry mens om God te dien. God hou ons nie verantwoordelik vir die sondes van ons voorouers nie, maar beoordeel elkeen volgens sy/haar eie keuses. Dít is wat ‘n teks soos Eseg 18, veral vers 19-23 sê: Die seun sal nie weens sy pa se sondes sterf nie, en die pa nie weens sy seun s’n nie. Elkeen sal self aan God rekenskap gee van hoe hy lewe. God wil nie hê dat die goddelose moet sterf nie, maar dat hy hom bekeer en lewe.

Daar bestaan dus nie so-iets soos bloedlynvloeke waaruit jy nie kan ontsnap nie. Jy is self verantwoordelik vir hoe jy lewe. Elke mens het ‘n eie verantwoordelikheid. Jy kan nie jou lewe toeskryf aan jou ouers nie, al het jy hoe ‘n agterstand. Die Here gaan jou nie verskoon omdat jou ouers jou swak opgevoed het of aan jou ‘n slegte voorbeeld gestel het nie; Hy gaan vir jou vra watter keuses jy gemaak het, en op grond dáárvan gaan jy geoordeel word. Soos Eseg 18:30 sê: “Ek gaan julle oordeel, Israel, elkeen volgens sy eie optrede” (vgl ook Deut 24:16). Anders is ons voortdurend besig om die blaam vir ons eie sondes te verskuif na ander – my ouers, (slegte) vriende, die duiwel. Adam was die eerste een wat dit probeer doen het toe hy die blaam vir sy ongehoorsaamheid op Eva wou afskuif. Maar dit werk nie so by God nie. Jy kan kies om God te haat (soos Eks 20:5 sê) of jy kan kies om God lief te hê en Hom te dien (Eks 20:6). Dit is jóú keuse. Wat dus in jou lewe gebeur, het niks te make met een of ander vloek wat in jou bloedlyn loop nie, maar alles met jou keuse vír of téén God. So lees ons van koning Hiskia van Juda dat hoewel hy ‘n slegte agterstand gehad het met ‘n vorige koning (sy pa Agas) wat gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, hy besluit het om te doen wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 18:3; vgl met 2 Kon 16:2-3). Hiskia was dus nie ‘n gevangene van ‘n bloedlynvloek waardeur hy gedoem is om te doen wat verkeerd is nie.

God se genade is groot

Die rede hoekom mense kan verander, is omdat God se genade baie groter is as die ellende waarin ons onsself dompel. Hy heers oor die bose en skep daarom die ruimte om uit die mag van die bose en sonde los te kom. Dit het Jesus bewys toe Hy duiwels uit mense gedryf het. Een wat sterker is, het op die toneel verskyn. Dit wys Eks 20:5-6 ook reeds: God se verbondsliefde is baie sterker as die mag van sonde. Dit mag lyk asof ons nooit aan hierdie bo-persoonlike mag van sonde en boosheid kan ontkom nie, maar dis nie waar nie. Die genade van God is groter en sterker. Die sonde kan wel voortwoeker tot in die derde en vierde geslag, maar God se liefde strek tot in alle ewigheid. ‘n Gedeelte soos Rom 5 beskryf volledig hoe die sonde wel deur die ongehoorsaamheid van een mens (Adam) in die wêreld gekom en almal verkneg het, maar ook hoe die genade en redding deur die nuwe Mens (Jesus Christus) veel kragtiger was en nou oorvloedig teenwoordig is. Dit het die mag van sonde gebreek en die genade van God na die hele wêreld uitgebrei. Christus het ons vrygemaak van die vloek van die sonde (Gal 3:13: “die vloek wat die wet meebring” is niks anders nie as dat die wet ons aankla vanweë ons sonde). Elkeen kan nou drink uit hierdie oseaan van liefde en genade wat deur Christus tot stand gekom het.

Ons mag ons dus nie laat verkneg deur ‘n dwaalleer dat daar een of ander bonatuurlike vloek in ons bloedlyn is en dat dit die rede is hoekom dit met ons sleg gaan nie. Slegte dinge kan ook met goeie, gelowige mense gebeur. Dink aan wat met Job gebeur het. Al die ellendes in sy lewe het niks te make gehad met ‘n vloek in sy bloedlyn nie, maar met God wat ‘n groter doel met sy lewe gehad het.

Samevatting: Die siening dat daar so-iets is soos bloedlynvloeke wat veroorsaak dat ons vir geslagte lank vasgevang sit in allerlei ellendes is ‘n vals teologie. In Christus het God ons finaal verlos van die enigste vloek wat oor ons heers, naamlik die sonde. Elke mens is dus vry om God te dien en hoef nie te vrees dat sy bloedlynverlede hom sal inhaal en verhoed dat hy/sy voluit vir Christus kan lewe nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die uitverkiesing – Francois Malan

‘n Leser vra:

Is dit net die Vader wat weet wie se name opgeteken is in die Boek van die lewe of weet Christus ook? Hulle is mos een? Ek stoei daarmee dat as God ons uitverkies het in Christus, God die Vader alleen weet wie uitverkies is. Help my asb reg? Hulle is mos een.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Joh 10:30 het Jesus gesê: Ek en die Vader is een (vgl 17:11,21: net soos U, Vader, in My is en Ek  in U; in Joh 14:11 sê Jesus: Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is. In Joh 5:19-20 sê Jesus: wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen.

Die uitverkiesing is die gesamentlike besluit van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en word ook uitgevoer deur die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Jeremia 23:18 verwys na die raadskamer van die Here, letterlik die Raad, die groep wat die besluite neem, wat in die Nuwe Testament duidelik word dat dit die Vader en die Seun en die Heilige Gees is wat die Raad vorm wat die besluite neem).  As iemand uitverkies is, is hy/sy aan Christus verbind. Efesiërs 1:4-5 sê: ‘God die Vader het ons voor die skepping in Hom (in Christus Jesus) uitgekies sodat ons heilig en onberispelik in  liefde voor Hom sou leef, voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word…’ Ef 1:11: In Hom is ons ook uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur. Joh 5:26: die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen. In Joh 16:14-15 sê Jesus van die Heilige Gees: Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal bekend maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy (die Heilige Gees) van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekendmaak.

Die Vader gee die uitverkorenes aan die Seun en trek hulle na die Seun toe.  In Johannes 6:37 sê Jesus: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom…’ In 6:39 die wil van die Vader is dat Jesus van almal wat die Vader aan Hom gegee het, nie ‘n enkele een sal laat verlore gaan nie; 6:44 Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na my toe trek nie…’  en 6:65 Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.

En hoe word die uitverkorenes aan Christus gegee en na Hom toe getrek? Deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees oortuig ons dat Jesus God is wat die sonde van die hele wêreld (van die Ou Testament se tyd af) op Hom geneem het, ons straf gedra het en ons van sonde kom verlos het (Johannes die Doper sê van Jesus volgens Joh 1:29: Kyk, daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem; in Joh 16:8 sê Jesus: Die Heilige  Gees sal die wêreld oortuig van sonde, en geregtigheid – dat Jesus ons in die regte verhouding met God bring – en van oordeel oor die wat nie in Jesus glo nie). Die Heilige Gees oortuig ons deur die woord van God wat ons hoor of lees, sodat ons glo in Jesus as my Verlosser, die Here van my lewe, en my God. Efesiërs 2:8 sê: Want uit genade is julle verlos deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie, dit is die gawe van God.  Joh 3:36 sê: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.

In Mt 24:31 sê Jesus: as die Seun van die mens op die wolke van die hemel kom ‘sal Hy sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak…’ (so ook in Mk 13:27)

In Joh 13:18 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy weet wie Hy uitgekies het; en in Joh 15:16: Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies…’ (vgl. ook Joh 15:19; Hand 1:2)

Lk 18:7, Romeine 8:33 en  Titus 1:1;  praat weer van God se uitvekorenes; vgl. ook Mk 13:20; 1 Kor 1:27).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Matteus 24 – Francois Malan

Jan vra:

Mattheus se boek is vir die Jode geskryf op ‘n tydstip toe die heidene volgens Efesiërs 2: 12 nog uitgesluit was, soos Paulus dit stel: vervreemd van die burgerskap van Isarael en vreemdelinge ten aansien van die verbonde sonder hoop en sonder God in die wêreld — alhoewel ons insluiting in die liggaam van Christus ‘n “verborgenheid” was.
As Jesus dinge vir Sy dissipels voorhou praat Hy van “julle sal dit en dat ondervind”. Dit lyk vir my asof al die aspekte waarvan Jesus melding maak reeds gebeur het ofskoon daar steeds van hierdie dinge voorkom verwysende na aardbewings, pessiektes valse profete, ens.
Daar sal vir hulle, die Jode, groot verdrukking wees (ons in bekend daarmee).
Paulus sê iewers dat hy die evangelie tot aan die “eindes van die aarde” verkondig het wat vers 14 vervul?
Dan volg nog ‘n groter verdrukking met ‘n ongekende intensiteit, sodat God die dae verkort het om minstens nog vlees te red.
Dan volg besonderhede van wat na die verdrukking sal gebeur onder andere die teken van die Seun van die mens, die stamme (die Jode?) van die aarde wat rou bedryf en hulle sien Sy koms op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. Die engele wat uitgestuur word om die uitverkorenes (die Jode?) te versamel. Niks word gesê wat gebeur na die
versameling nie behalwe die gelykenis van die vyeboom.
Drie vrae: 1. Vers 34: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag (julle met wie Ek nou praat?) sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Wie is hierdie geslag?
2. Wat is die betekenis van die gelykenis van die vyeboom in die voorafgaande verband?
3 Hoe word die heiden (ons) geraak deur die inhoud van hierdie hoofstuk?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

  1. Vers 34: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag (julle met wie Ek nou praat?) sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Wie is hierdie geslag?

Vers 33 se ‘wanneer julle al hierdie dinge sien…’ verwys in die eerste plek na vers 15 se ‘wanneer julle…die ding…sien’ wat o.a. verwys na die verwoesting van Jerusalem deur die Romeine in die jaar 70 n.C., wat in vers 2 voorspel is, toe baie van die geslag se Joode-Christene betyds uit die stad gevlug het na die nie-Joodse stad Pella oos van die Jordaan, in die lig van die waarskuwing in verse 15-16. Maar oor die tyd van Jesus se wederkoms om te oordeel sê vers 36 dat niemand van die engele in die hemel weet nie, nie eers die Seun nie, maar net die Vader.

  1. Wat is die betekenis van die gelykenis van die vyeboom in die voorafgaande verband?

Wanneer die takke van die vyeboom, wat een van die min bome in Israel is wat sy blare in die winter verloor, begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook weet, wanneer julle al hierdie dinge sien wat in verse 4-26 genoem is, dat die tyd naby is, voor die deur, vir die wederkoms en oordeel, wat in verse 27-31 beskryf word. Wanneer die botsels begin wys op die takke van die vyeboom het die somer nog nie gekom nie, maar is dit naby, voor die deur. So moet gelowiges weet dat die wederkoms van Christus naby is, voor die deur, en altyd gereed wees daarvoor – soos in die volgende gelykenis van die sondvloed in die tyd van Noag, toe mense nie besef het wat aan die gang was tot die sondvloed gekom het nie (v39), en soos in die voorafgaande gelykenis in vers 27 van die koms van die Seun van die Mens soos ‘n weerligstraal, wat skielik en onverwags gebeur, maar waarvan die onweerswolke ‘n teken is van ‘n weerligstraal wat enige oomblik kan kom. Al die uitsprake in hoofstukke 24-25 dring by die gelowiges aan om elke oomblik van die dag gereed te maak en gereed te wees vir die Jesus se wederkoms. So ook die gelykenis van die vyeboom.

 

3 Hoe word die heiden (ons) geraak deur die inhoud van hierdie hoofstuk?

Alle ongelowige heidene en Jode, en alle Christus-gelowiges (Jode en nie-Jode) word deur hierdie hoofstuk gewaarsku om te enige tyd gereed te wees vir die koms van die Seun van die mens om te oordeel – vgl. ‘geen mens’ in vers 22 en telkens word van mense gepraat v5, 10, 11, nasies v7, al die nasies wat die getuienis moet hoor v14, die volke in v 30, die uitverkorenes uit elke uithoek van die aarde v31. Jesus se laaste opdrag aan die dissipels in Matteus 28:16-20 is om na alle nasies toe te gaan en die mense dissipels/leerlinge/volgelinge, van Jesus te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy die dissipels beveel het.

Die boek Matteus is nie uitsluitlik vir Jode geskryf nie, maar vir gemeentes wat bestaan uit Jodechristene en heidenchristene in ‘n Griekse omgewing, waarskynlik in Sirië, en waarskynlik ongveer die jaar 85 n.C. Die Evangelie is oorspronklik in Grieks geskryf, Joodse gebruike word as bekend voorgestel, maar Matteus gebruik Markus as bron en party van Markus se tipiese Semitiese vorme het hy vergrieks, en sy aanhalings uit die Ou Testament word gemaak uit die Griekse vertaling van die Ou Testament. Daarby word verwys na ‘hulle skrifgeleerdes’ en ‘hulle sinagoge (7:29; 9:35; 23:34) en nie na ‘ons skrifgeleerdes/sinagoge nie.

Paulus sê iewers dat hy die evangelie tot aan die “eindes van die aarde” verkondig het wat vers 14 vervul?

Die stelling is nie korrek nie. In Romeine 15:19 sê hy: En so kon ek van Jerusalem af verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer. Daarmee het hy sy werk in die Ooste van die Romeinse ryk afgehandel en wou hy na Rome en die Weste tot by Spanje begin werk (Rom 15:23-24).

Mat 24:14 word ook nie deur Paulus alleen vervul nie. En die einde het nog nie gekom met sy verkondiging nie, soos vers 14 dit aandui nie: ‘En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. En dan sal die einde kom.’

Maar oor die vertraging van die wederkoms sê 2 Petrus  3:8-9: ‘vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.’

Skrywer:  Prof Francois Malan