Paulus se brief aan die Filippense- Briefaanhef (1:1-2) – Francois Malan

Paulus se brief aan die Filippense Inleiding tot die brief Die stad Filippi in die noord-oostelike hoek van Macedonië dra die naam van Alexander die Grote se pa, koning Filippus II van Macedonië. In 398 v.C. het hy die stad opgebou en na homself vernoem. In 148 v.C. is Macedonië deur die Romeine oorgeneem wat afgetrede Romeinse soldate daar gevestig het. Die Via Egnatia, wat die Ooste met Rome verbind, is daarlangs gebou. In 30 v.C. het keiser Augustus van Filippi die sentrum van ’n Romeinse militêre kolonie gemaak. Op sy tweede sendingreis het Paulus die eerste gemeente op Europese bodem daar gestig nadat God hulle met ’n visioen daarheen gestuur het (Hand 16:6-40; vgl. ook 1 Thess 2:2). Paulus noem dit die begin sy evangelieverkondiging (Fil 4:15). Daar was so min Jode dat hulle nie ’n sinagoge gehad het nie, en die vroue het by die rivier vergader (Hand 16:13). Op sy derde sendingreis besoek Paulus weer die gemeente (1 Kor 16:5; 2 Kor 2:13; 7:5). Daarna het hy vir drie maande daar vertoef op pad na Jerusalem met die kollekte vir die gelowiges in Judea (Hand 20:1-6; 1 Kor 16:3-4; 2 Kor 8:4). Van tyd tot tyd het die gemeente geld gestuur om Paulus te help met sy onderhoud (vgl. 2 Kor 11:9; Fil 4:15-18). Hierdie brief word onder andere geskryf om hulle daarvoor te bedank. Volgens hoofstuk 3:2-3, 18-19 was daar Joodse dwaalleraars wat die gemeente verwar het. Daarom pleit Paulus ook by die gemeente om by die evangelie te bly en eensgesind te wees (vgl. 3:2-3; 2:2-4; 4:2-3). Filippense, Efesiërs, Kolossense en Filemon word Paulus se Gevangeniskapsbriewe genoem, wat hy uit die gevangenis geskryf het (vgl. Fil 1:7,13,14,17; Ef 4:1; Kol 4:10; Flm v9). 2 Timoteus word ook uit die gevangenis geskryf (2 Tim 1:8), maar word as een van die Pastorale Briewe beskou. Daar is van vroeg af gedink dat Paulus Filippense geskryf het tydens die twee jaar tussen 59-61 n.C. wat hy as gevangene in sy gehuurde huis in Rome onder konstante bewaking van ’n soldaat was (Hand 28:16,30). Sedert die 18e eeu was daar teoloë wat Efese en Caesarea as moontlike plekke vir die skrywe van die brief voorgestel het omdat dit nader aan Filippi is. Aangesien Paulus die moontlikheid van sy dood verwag wanneer hy voor die keiser, op wie hy hom beroep het (Hand 25:10,12), moet verskyn en hoop dat hy vrygelaat sal word (Fil 1:20-25), kon hy moontlik teen die einde van sy twee jaar gevangeniskap in Rome die brief geskryf het (vgl. Fil 2:24 ‘Ek vertrou op die Here dat ek ook self gou na julle toe sal kom ’). Die brief is die mees persoonlike van Paulus se briewe saam met Filemon. Die hoofsaak van die brief is die eenheid van die kerk wat deur Christus bewerk word deur nederige diens en waardering vir mekaar. Paulus vertel van sy omstandighede en planne en gee aandag aan die omstandighede van die gemeente. Daar is baie gedagtes in die brief, dankbaarheid, eensgesindheid, nederigheid na Jesus se voorbeeld, ens. maar die toon van die brief is deurgaans die vreugde in die Here, wat in elkeen van die vier hoofstukke voorkom. Die woord chará (vreugde, blydskap) kom vyf maal voor (1:4,25; 2:2,29; 4:1), chaírō (wees bly) sewe keer (1:18; 2:17,18,27; 3:1; 4:4,10) en sunchaírō (saam bly wees) twee maal (2:17,18). Gereeld dink hy met vreugde aan wat God vir en met elkeen van die gemeentelede doen en daarvoor dank hy God met ’n vreugdegebed. Briefaanhef (Flp 1:1-2) Paulus volg die briefvorm van sy tyd van ‘skrywer, ontvangers en ’n groete.’ Hy brei egter uit op elkeen van die dele met ’n ryk evangeliese inhoud wat by die gemeente se behoefte aanpas. 1:1 Terwyl Paulus sy roeping en apostelskap in die ander briewe aandui, maak hy hom so ‘klein’ moontlik in hierdie brief se aanhef (vgl. Fil 2:3 se nederigheid). Sy Latynse naam ‘Paulus’ beteken ook ‘klein, gering’ (vgl. 1 Kor 15:9). Hoewel hy die skrywer van die brief is, word Timoteus, sy betroubare geestelike kind (Fil 2:22; 1 Tim 1:2 en 2 Tim 1: 2), as medeskrywer genoem (vgl. twee getuies, Matt 18:16), moontlik ’n aanduiding dat hulle oor die inhoud van die brief gesels het – Timoteus beteken ‘tot die eer van God, die een wat vir God vereer.’ Van vers 3 af skryf Paulus egter in die eerste persoon, en in 2:19-23 word na Timoteus in die derde persoon verwys. Hulle twee is diensknegte (letterlik: slawe douloi) van Christus Jesus. Dit wys weg van hulle af na hulle Heer, hulle eienaar, wat hulle met sy bloed gekoop het (1 Kor 6:20) en hulle met sy boodskap stuur. Hulle is niemand anders se slawe nie. In die kerk is almal nederige slawe, geheel afhanklik en in diens van Jesus as hulle Heer (Fil 2:10-11,13). ‘aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is’ – Die gemeentelede word almal betrek om hulle tot eenheid onder mekaar te roep (vgl. ‘almal’ in Fi1:4,7,8,25; 2:17,26; 4:21; één gees, één siel in 1:27). Paulus vermaan die gemeente om eensgesind te wees (2:1-8), en in die besonder twee vroue wat by die naam genoem word (Fil 4:2). ‘Heiliges in Christus Jesus’ beteken hulle is deur God afgesonder om sy kinders te wees (Rom 8:14-16). Deur die werking van die Heilige Gees is hulle aan God toegewy om al meer sy beeld te vertoon (Kol 3:10; Rom 8:29) deur hulle verbondenheid aan sy Seun, Christus Jesus (2 Kor 3:18). Hulle verhouding met Christus Jesus is die kern van hulle afsondering en toewyding aan God. Jesus se nederige voorbeeld word as maatstaf voorgehou (Fil 2:5-8). ‘en ook die opsieners en diakens’ (episkopoi et diakonoi). Die opsieners word in Handelinge 20:17,28 ouderlinge genoem, wat die Heilige Gees as opsieners oor die gemeente aangestel het om hulle herderlik te versorg. Paulus het gewoonlik, nadat gemeentes gebid en gevas het, met die opsteek van hande, ouderlinge laat kies wat hy en die hele gemeente aan die Here opgedra het (Hand 14:23). Die vereistes vir opsieners word in Titus 1:6-9 bespreek en in 1 Timoteus 3:1-13 opsieners saam met diakens. Die diakens doen dienswerk in die gemeente, veral aan die armes en reël hulle versorging deur die gemeente (vgl. ook Handelinge 6:1-6). In 1 Korinthiërs 12:28 word verwys na lidmate in die gemeente wat God aangewys het met die vermoë om ander te lei (ouderlinge), en om ander te help en te ondersteun (diakens). Maar van almal word nederige diens aan mekaar verwag (Fil 2:3-4). 1:2 Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Paulus vervang die Westerse ‘groete!’ (chaírein) met ‘genade’ (cháris), God se vrye, spontane, onverdiende guns wat aan die gemeente gegee word om ook teenoor mekaar genadig te wees (2:3). Die Oosterse en Ou Testamentiese ‘vrede’ (Hebreeus: sjalōm; Grieks: eirênê) word bygevoeg as God se seën wat vrede en rus in hulle verhouding met God en met mekaar gee, verhoudings sonder stremminge en bekommernis (Fil 4:5-7). Die twee gawes, genade en vrede, kom van God, wat ‘ons Vader’ geword het deur ons geloofverbinding aan sy Seun Jesus Christus en aan sy offer aan die kruis vir ons sonde (Fil 3:9-11). Soos die brief deur twee skrywers opgestel is, kom die twee gawes ‘genade en vrede’ ook van ons Vader en Here, God en Jesus (Jesus is die Griekse vorm van Joshua, ‘Jahweh, die HERE, red’); die Christus (Gesalfde koning, priester, profeet). In Johannes 14:10-11 het Jesus gesê: ‘Ek is in die Vader en die Vader is in My.’ Soos Paulus en Timoteus diensknegte van Christus Jesus is, en die gemeente heiliges in hulle gemeenskap met Christus Jesus is, word genade en vrede deur God en Christus Jesus aan die gemeente geskenk. God het ‘ons Vader’ geword deur Jesus, en Jesus is deur God aangestel as die Here wat die seggenskap het oor alle lewe (Fil 2:10-11).




n Verheerlikte Liggaam – Jan van der Watt

Ronel vra:

Verheerlikte liggaam in die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Wat beteken die begrip: ‘n Verheerlikte liggaam? Beteken dit dat ons ‘n nuwe, JONG liggaam gaan hê? Verheerlikte liggaam in my oë is amper om die “perfekte liggaam” te hê, soos toe ek in die beste, gesondste toestand was, toe ek ongeveer op die piek van my lewe was in my vroeë dertigs. Ek was fisies fiks, gesond, sonder pyne en gebreke en het goed gevoel oor myself. As ek dit moet “meet” aan my “perfekte” liggaam, sou dit min of meer op dertig gewees het. Is ek verkeerd as ek dink aan ‘n verheerlikte liggaam as ‘n jong liggaam?

Die plek in die Bybel waar die verheerlikte liggaam die beste verduidelik word is 1 Kor 15 waar dit oor die opstanding en gevolglik die verheerlikte liggaam gaan. Enigiemand wat meer hieroor wil weet moet 1 Kor. 15 deeglik deurlees.

In 1 Kor. 15:35-38 staan: ‘35Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê? 36Dis ’n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. 37En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. 38Maar God gee ’n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ’n eie gestalte’.

Uit hierdie aanhaling (en daar is meer in 1 Kor. 15) is dit duidelik dat ons huidige liggame nie met ons verheerlikte liggame vergelyk moet word nie. Die verheerlikte liggame gaan heeltemal anders wees. Paulus gebruik die voorbeeld van saad wat ‘n plant word. Dus: as jy ‘n mieliepit met die groot uitgegroeide mielieplant vergelyk, verskil die twee heeltemal van mekaar. Dit is beide ‘mielie’ maar lyk tog nie eers meer na mekaar nie. Jy gaan dus nog ‘jy’ wees, maar nie die ‘jy’ wat hier op aarde rondgeloop het nie. Iets gaan dieselfde wees, maar baie gaan anders wees. Jy gaan heeltemal anders daar uitsien en wees. In 1 Kor 15:44 word die verheerlikte liggaam ook ‘n geestelike liggaam in kontras met ‘n ‘natuurlike’/fisiese liggaam genoem. In 1 Kor 15:50 gaan Paulus voort: ‘50Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie’. Hoe dit gaan wees, weet geen mens nie (vgl. ook 1 Joh. 3:2-3), maar dit gaan nie wees soos ons dit nou ken nie.

In Mk. 12:25 antwoord Jesus die Sadduseërs as hulle wil weet wat Hy dink oor hoe dit vir getroudes in die hemel gaan wees: ‘25Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.’ Dit bevestig wat Paulus sê naamlik dat ons hemels en nie aards gaan wees nie.

Daar is pogings in die teologie om na die opstandingsliggaam van Jesus te kyk en daaruit afleidings te maak (bv. Hy loop deur toe deure, ens.). Tog is die pogings meer verwarrend as wat dit die probleem oplos, byvoorbeeld, in sommige gevalle lyk dit of Jesus nie kos nodig het nie en in ander gevalle wel.

As ons dus sê dat ons weet hoe die verheerlikte liggaam daar gaan uitsien en hoe ons in die hemel gaan lyk, weet ons meer as wat die Bybel vir ons vertel. Ons moet dus maar nederig erken dat ons nou nog nie weet nie, maar dat dit baie anders (en beter) gaan wees as wat ons hier op aarde ken.

Tog kan mens seker droom oor hoe dit gaan wees…

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Poligamie – Hermie van Zyl

Vraag

Dawid was ’n groot Bybelse figuur en Godsman, soveel so dat Jesus uit sy nageslag gebore is. Waarom het hy en Salomo so baie vroue gehad ten spyte van die feit dat God vir Adam net Eva gegee het as vrou, en vir Noag en sy seuns elk net een vrou in die ark toegelaat het? Waar kom die reg vandaan om meer as een sielsverbintenis te mag hê?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag sny die hele aangeleentheid aan van veelwywery of poligamie in die Bybel; dit is waar een man gelyktydig met meer as een vrou getroud is. Die gegewens hieroor kom hoofsaaklik uit die Ou Testament (OT), hoewel die Nuwe Testament (NT) ’n belangrike bydrae lewer in die beoordeling hiervan.

Ons moet onderskei tussen die voorkoms van poligamie en die beoordeling hiervan. Eersgenoemde is net beskrywend van aard; dit beskryf bloot hoe die verskynsel van poligamie in die OT voorkom. Laasgenoemde is meer normerend van aard; dit sê hoe ons die gegewens moet beoordeel: Is dit aanvaarbaar; spreek die Bybel ’n oordeel oor die verskynsel uit na een of ander kant toe? In ons antwoord hier onder sal ons die twee aspekte kombineer, met meer klem op laasgenoemde.

Ons moet begryp dat poligamie algemeen in die ou nabye Ooste voorgekom het, soos vandag nog in sekere Afrika-gemeenskappe. Ons moet dus nie verbaas wees as die verskynsel ook in oud-Israel opduik nie. Net soos die afgodediens van die omringende volke oorgespoel het na Israel, het veelwywery dit ook gedoen. Die Israeliete was kinders van hulle tyd. Wat in jou bure se omgewing aangaan, kom kort voor lank ook by jou voor. Dit was destyds so, dis vandag ook so, veral waar die wêreld vandag ’n klein wêrelddorpie geword het. Mense kyk by mekaar af en neem mekaar se gewoontes oor, reg of verkeerd.

Die eerste wat ons van poligamie in die OT lees, is by Kain se nageslag. Lameg, die vyfde geslag na Kain, het twee vroue geneem (Gen 4:19). Hy was klaarblyklik ’n geweldenaar (Gen 4:23-24) en sy nageslag het waarskynlik in die groot vloed omgekom, en daarmee ook Kain se geslagslyn. Sommige verklaarders meen dat die Bybel daarmee wil aandui dat poligamie deel van die verdorwenheid van die mens was wat God so diep gegrief het dat Hy daarmee wou wegdoen met die sondvloed (Gen 6:6-7).

Die volgende wat ons van veelwywery lees, is by die aartsvader Abraham. Dié het twee vroue gehad, Sara en Ketura. Dis egter nie duidelik of Abraham eers met Ketura getroud is ná Sara se dood nie. Met die eerste oogopslag wil dit so lyk, want die beskrywing in Gen 25:1-6 volg ná die dood van Sara. Maar nou is daar in hierdie gedeelte ook sprake van ses kinders wat Abraham by Ketura verwek het, en dat hy nog byvroue ook gehad het. Dít kan weer op ’n vroeër tyd in Abraham se lewe dui, toe Sara nog geleef het. (Die geskiedskrywing in Genesis verloop nie altyd streng kronologies nie.) En dan is daar natuurlik die ongelukkige geskiedenis van Abraham se verbintenis met Sara (= Sarai) se slavin, Hagar, op Sara se aandrang (Gen 16). Dié loop daarop uit dat Sara vir Hagar wegjaag nadat daar onmin tussen hulle ontstaan het. Hagar is egter reeds swanger met Ismael en keer terug na Abraham se huishouding. Maar die prentjie wat deur die Bybel geteken word, is dat hierdie poligamiese verbintenisse van Abraham, hoewel dit nie uitdruklik veroordeel word nie, nie goeie gevolge gehad het nie. Byvoorbeeld, Ismael is uit Hagar gebore, en hy was in kompetisie met Isak, die seun van die belofte. Ismael se nageslag was by tye ook in konflik met Israel.

En dit is min of meer die trant wat mens ook by die ander gevalle van poligamie in die OT aantref (sonder om op almal in te gaan). Poligamie word nie pertinent veroordeel of verbied nie. Daar is selfs wetgewing wat problematiese gevalle probeer reguleer, byvoorbeeld waar die minder geliefde vrou se kinders moontlik benadeel kan word teenoor die meer geliefde een s’n (vgl Deut 21:15-17). Maar die blote feit dat so ’n reëling getref moes word, illustreer die probleem met poligamie, naamlik dat dit ’n resep is vir onmin, jaloesie en familietwiste. Afgesien van wat tussen Sara en Hagar gebeur het, is daar ook nog die geval van Hanna (die latere moeder van Samuel) en Peninna, die twee vroue van Elkana, waar die onvrugbare Hanna verag is deur die vrugbare Peninna (1 Sam 1:6). Omgekeerd het dit ook gebeur dat die onvrugbare vrou jaloers is op die vrugbare een, soos met Ragel en Lea, die vroue van Jakob (Gen 30:1). Die hele stryd van Jakob se vroue wat oorhoops lê met mekaar word treffend beskryf in Gen 30.

Wat in bogenoemde gevalle veral aanleiding gegee het tot poligamie was, enersyds, die onvrugbaarheid van een vrou en, andersyds, die begeerte by die man om baie kinders te hê. Want meer vroue en baie kinders help dat daar meer werkkragte in die huishouding is, wat lei tot groter welvaart en finansiële sekuriteit vir die man. Dit was dus dikwels gewoon ekonomiese faktore wat poligamie bevorder het.

’n Ietwat ander situasie is die poligamie wat ons by die konings aantref, veral by Dawid en Salomo. Hier word poligamie tot die oortreffende trap gevoer, met Dawid wat aanvanklik sewe vroue gehad het en toe nog meer byvroue geneem het (2 Sam 5:13). Dit alles téén die uitdruklike verbod van Deut 17:17 dat die koning nie “baie vroue” mag hê nie (dit word nie gespesifiseer hoeveel “baie” is nie), sodat hy nie aan die Here ontrou word nie. En dan praat mens nie eens van Salomo met sy sewe honderd vrouens en drie honderd byvroue nie (1 Kon 11:3). Kennelik gaan dit hier nie meer oor normale huwelike nie, maar oor koninklike harems waar mag, aansien en die sluit van politieke ooreenkomste tussen vorste en konings op die voorgrond is. En ons weet wat die uiteinde van Salomo was: Hy is deur sy vrouens verlei om ander gode te dien, waarop die toorn van die Here teen hom ontvlam het (1 Kon 11:4-9).

Poligamie was egter nie die gewone gang van sake in Israel nie. Die normale was dat mans slegs een vrou gehad het. Hulle kon in elk geval nie meer bekostig nie. En uit die manier waarop die OT die probleme en hartseer beskryf waarmee poligamie gepaard gegaan het, is dit duidelik dat dit nie die Godgewilde weg was nie. Hierby moet ook nog gevoeg word dat die monogame huwelik telkens as die aangewese weg voorgehou word. Die wysheidsgeskrifte (bv Prediker en Spreuke), waar baie alledaagse kwessies aangesny word, praat byvoorbeeld glad nie eens oor poligamie nie. Inteendeel, die talle plekke waar oor die vrou in die gesin gepraat word, is dit binne die konteks van die monogame huwelik (bv Spr 5:15-19; Pred 9:9). En die lof waarmee die ideale vrou van Spr 31:10-31 besing word, kan slegs binne die monogame huwelik verstaan word. Laasgenoemde word ook as uitgangspunt geneem deur die profete wanneer Israel as die enigste vrou voorgestel word wat God as sy bruid gekies het (bv Hos 2:1-4; Jer 2:2). En daardie pragtige liefdesliedere van Hooglied wat die liefde tussen man en vrou besing, maak slegs sin binne die konteks van die monogame verhouding.

Teen hierdie agtergrond is dit geen wonder nie dat wanneer Jesus oor die wese en bedoeling van die huwelik handel, binne die konteks van die debat oor egskeiding (Matt 19:4-6), Hy teruggryp na die skeppingsverhaal van Genesis, waar dit oor die skepping van een man en een vrou handel wat as vennote in die huwelik vir mekaar gegee word om mekaar in liefde en trou te dien en te ondersteun (Gen 1:27). Die monogame huwelik word ook deur Paulus in Ef 5:21-33 gebruik om die verhouding tussen Christus en sy kerk uit te beeld – Christus as die hemelse bruidegom wat alles vir sy bruid, die kerk, opoffer. Verder moet ook nog genoem word dat in ’n poligame huwelik die minderwaardige posisie van die vrou as volslae onderhorige en selfs net nog ’n besitting van die man, veel opvallender is as in ’n monogame huwelik. Dit is uiteindelik slegs in ’n monogame verhouding waar die gelyke posisie van man en vrou die beste na vore kom, soos wat in Gal 3:28 veronderstel word. Man en vrou is gelyke vennote en sielsgenote van mekaar, en die monogame huwelik bied die beste konteks vir hierdie gelykheid om te ontwikkel.

Om op te som: Hoewel daar ’n tyd in die Godsvolk se lewe was waar poligamie voorgekom het, soos beskryf in die OT, moet dit as ’n afbuiging en verwording van die wil van God verstaan word. Dit was ’n tyd waar die volk meer volgens die voorbeeld van die omringende nasies geleef het as volgens die wil van God, en ook die slegte gevolge daarvan moes dra. Die bedoeling van God was altyd dat die huwelik as ’n verhouding tussen een man en een vrou gesien sal word. Hierdie verhouding word ook veronderstel in die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.” Díe gebod is slegs goed verstaanbaar teen die agtergrond van die monogame huwelik. En waar die mens hierdie gebod verontagsaam, word die wese van die huwelik aangetas en ontstaan daar noodwendig allerlei probleme. Nogtans is dit treffend hoe die Here selfs waar sy wil oortree word, telkens genadig optree en maatreëls instel om ’n situasie wat streng gesproke teen sy wil is, te beredder. Wat weer eens wys dat ons ’n genadige God dien.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Geen jota of Tittel nie – Francois Malan

Vraag

Staan daar in die Bybel? ” Geen jota of tittel sal bygevoeg word….sonder dat die Woord sal vergaan nie…..?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesus se bergrede (Matteus 5:17-18) sê Hy: 17 ‘Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. 18 Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.’ Die jota is die kleinste letter van die Hebreeuse afabet en die tittel die kleinste vokaalteken. So staan dit in die oorspronklike Grieks (een iõta en een keraía), in die 1933 en 1953 en 2020 vertalings van die Afrikaanse Bybel, maar die 1983-vertaling het die betekenis daarvan gegee, nl. as ‘een letter of letterstrepie van die wet.’

Skrywer: Prof Francois Malan