Jesaja – Oordeel en versekering (8:9-22) – Francois Malan

8:9-10 Dié digterlike verse is ‘n tussenspel in die vernietigende boodskap. Driemaal word gesê: Julle sal vernietig word/met vrees vervul word, want die nasies se aanslag op die Here se heerskappy sal tot niks lei nie, soos Ps 2 sê; want God is by ons! In 8:8 is ‘God is met ons’ ironies gesê aan Agas en Juda as ‘n bestraffing; maar hier, is ‘God is met ons’ ‘n bevestiging van God se oordeel oor Juda se vyande. Terwyl 8:7-8 ‘n massiewe neerlaag vir Jerusalem aankondig met die massas water wat die land gaan oorstroom met Assiriese soldate, bied 8:9-10 ‘n sterk kontras met ‘n massiewe versekering dat dit met Jerusalem sal goed gaan – moontlik verwys dit na die wonderbaarlike uitredding van Jerusalem, wat in hoofstuk 37 vertel word. God is hier en bepaal wat op aarde gebeur met Assirië en met Jerusalem. Die vér plekke verwys na Assirië wat ‘n klomp volke oorgeneem het en opgeneem het in sy leërs (vgl. 5:26).

8:11 Die vers knoop by ‘God met ons’ aan, met ‘want so het die Here vir my met ‘n sterk hand gesê, en my gewaarsku om nie te loop op die pad van hierdie volk nie, en gesê (Eseg 1:3; 3:14 praat ook van die hand van die Here op hom – 1983-vertaling: die mag van die Here was op my; hier in Jes 8:11: in sy groot mag) – die Here dring daarop aan dat Jesaja homself sal onderskei van ‘hierdie volk.’

8:12 Jesaja en sy volgelinge (‘julle’) moenie vir die Here se oordele terugdeins nie en nie bang wees waarvoor die volk bang is nie, en nie bewe van angs nie – dieselfde wat Jesaja vir Agas moes sê in 7:4, sê die Here nou vir dié wat op die Here vertou. Die sameswering verwys na Sirië en Israel se sameswering teen Assirië waarvoor Agas bang is, omdat hy nie bewus is van die Here se hand oor die leërs van die wêreld nie.

8:13 Die Here van die leërskare – wat beheer het oor alle leërmagte – moet julle as heilig/toegewyd beskou. Hom moet julle vrees en vir Hom bewe (vgl. Mt 10:28).

8:14 Die Here sal hulle beskutting wees, daarom hoef hulle nie te vrees nie. Die rots waarop die gelowiges vir sekerheid, beskerming en redding vertrou (Ps 18:3; 19:15) het nou teen die volk gedraai as ‘n rots waaroor hulle struikel; die beskermer teen die strik (Ps 141:9) en redder uit die strik van die voëlvanger (Ps 91:3) het ‘n vangnet en ‘n strik vir hulle geword, omdat hulle verstrik geraak het in die diens van afgode (Ps 106:36; vgl. 2 Kon 16:3-4,10-12).

8:15 Baie van hulle (nie almal nie!) sal in groot moeilikheid beland, want die Here is ‘n magtige teenstander. Die woorde, wat die moeilikheid omskryf, word opgestapel: struikel, val, gebreek, gevang (in ‘n strik), gevang (deur die vyand). Die skrywer sien duidelik Juda se dodelike afdraende pad in die hande van die Assiriërs, dan in die hande van die Babiloniërs, en die heel tyd in die hande van die Here.

8:16 De volgende verse is prosa. ‘Bind die getuienis eers vas, verseël die lering onder my dissipels.’ Omdat die volk as geheel die prediking van die profeet verwerp het, word dit as ‘n kosbare saak vir sy volgelinge vasgemaak om nie verlore te raak nie (vasbind en verseël). Die vers verwys na ‘n groep leerlinge, dissipels van Jesaja. Onder hulle los hy getuienisse van sy ander siening van die werklikheid. Hierdie getuienisse wat in die eerste persoon geskryf is (8:1-8,11-15), is moontlik die begin van die boek wat Jesaja opgeteken het en nou verseker dat dit behoue sal bly.

8:17 Die boodskap is dat Juda nie in ‘n selfvernietigende paniek hoef te lewe nie. Daar is ‘n ander denk- en lewenswyse, met baie risiko’s daaraan verbonde, nl. die weg van die geloof, wat vir ander na dwaasheid lyk, nl. van vertroue op die Here (letterlik: wag en hoop op die Here) in plaas van vrees, omdat die Here Hom verberg vir die nageslag van Jakob, die tienstammeryk, wat Hom tydens Jesaja se leefstyd verwerp het, en die twee stammeryk wat Hom gedurende die volgende 120 jaar al meer verwerp (vgl. Eseg 39:23 – 1983-vertaling: ‘Ek hulle verwerp het’ vir: ‘Ek het my gesig vir hulle verberg’). Waar die Here sy gesig verberg is dodelike moeilikheid te wagte. Jesaja skool sy volgelinge in vertroue en hoop op die Here. In die krisissituasie is die Here die lewensdraad waaraan hulle moet vashou, in die stellige verwagting dat die Here ‘n uitweg, ‘n nuwe en ander deur sal voorsien. Te midde van die rokende stomp van die buurlande se vuur, en die vloedwaters wat tot aan die nek raak, van die Assiriese leërmag, van elke eeu, die gejaag na besittings, en die verwarring oor wie god is, is die draadjie van hoop die naam van die profeet, Jesaja, ‘die Hére is redding’ (1:1; 7:3) en drie kindername: Sear-Jasub, ’n-Oorblyfsel-sal-terugkeer’ (7:3), Immanuel, ‘Gód is met ons’ (7:14-16) en Makeer-Sjalal-gaz-baz, ’Plunder-en-Roof-is-naby’ vir Resin en Peka (8:3-4).

8:18 Die afdeling van 7:1-9:7 is vol verwysings na tekens en simbole. ‘n Hele paar van hulle gaan oor die name van kinders. Hierdie vers bevestig die vorige verwysings. Dié kinders se teenwoordigheid in Jerusalem sal die inwoners herinner aan die uitspra e van die Here wat deur hulle name verkondig word, van die Here se teenwoordigheid en besluite ook gedurende die ‘stil jare’ wat gaan volg ná die tien stamme se wegvoering na Assirië 722 v.C. en tot die twee stamme se wegvoering na Babel 125 jaar later in 597 en 587 v.C. Die name is gegee as tekens en seëls in Israel, en kom van die Here van die leërskare wat op berg Sinai woon. Dit voorspel die ondergang van Israel en die Here se ondersteuning vir Jerusalem.

8:19 Verse 19 tot 22 is die antwoord van die inwoners van Jerusalem en die volk van Juda op Jesaja se profesië, so ook die grootste dele van hoofstukke 9-12. In hierdie verse is daar opvallende alliterasies in Hebreeus. Toe Saul ongehoorsaam geword het aan die Here en die Here sy rug op hom gedraai het, en die nood hom begin druk het, het hy die heks van Endor gaan raadpleeg (1 Sam 28). Die mense (hierdie volk) sê nou, hulle moet mediums en spiritiste gaan raadpleeg – iets wat die Here juis verbied het toe hulle die land ingekom het (Deutr

18:9-14). Dit is die heidene se pogings om verborge kennis oor die toekoms te bekom. Die volk wil nie slegs op die Here wag en hoop en vertrou nie. Hulle wil iets doen aan hulle toekoms en wil daarom mediums en spiritiste raadpleeg om te weet wat om te doen (wat sterrebeelde of teeblare sou voorspel). Maar die raadgewers fluister net in die geheim aan ingewydes, en mompel onverstaanbare woorde, terwyl die Here se woorde hard en duidelik uitbasuin word deur die profete (9:7), op kennisgewingsborde bekendgemaak word (30:8), en met die name van kinders herinner die Here hulle aan sy uitsprake oor die toekoms (8:18). Waarom raadpleeg lewendes die dooies en nie die lewende God, hulle God nie?

8:20 Terug na die torah onderwysing/wet van die Here, wat die priesters aan die kinders leer, en terug na die getuienis van die profete, dit is die maatstaf waarmee die valse profete getoets moet word. Die oproep is in die vorm van ‘n oorlogskreet (vgl. Rigters 7:18) en sluit aan by Jes 8:16 (vgl. Luk 16:29).

8:21-22 As die volk en die koning egter nie na die Here se wet en getuienis toe terugkeer nie, sal hulle sonder ‘n toekoms wees. Na die vernietiging en plundering deur die Assiriërs sal die volk verdruk en honger deur die land trek, en sê dit is die koning en die Here se skuld dat dit so sleg met hulle gaan, sonder dat dit iets sal help. Hulle moet maar net rondom hulle kyk hoe die Assiriërs reeds al die dorpe en landerye om Jerusalem oorgeneem het en verwoes het.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die oordeel van die Here (8:1-22) – Francois Malan

Die hoofstuk het frases en beelde wat onduidelik is en moeilik met sekerheid uitgelê kan word. Sommige metafore is dubbelsinnig sodat dit nie altyd seker is of dit oordeel of hoop simboliseer nie. Die hoofsaak is egter geloof in die Here, en hier en daar skemer daar ‘n gedagte van ‘n oorblyfsel deur, wat anders leef as die volk in die algemeen.

Die oordeel oor Damaskus en Samaria (8:1-8).

8:1-2 Die boodskap met ‘n groot inskripsie op ‘n groot skryftablet, lui: Lemaheer sjalal gas baz (Plunder en roof is naby) – dit is die misdade wat gepleeg word wanneer ‘n stad of land ingeneem en verwoes word. Volgens 8:4 verwys dit na die oordeel wat Damaskus, die hoofstad van Sirië van koning Resin, en Samaria, die hoofstad van Israel van koning Peka gaan tref. Die boodskap word bevestig deur twee geloofwaardige getuies vir die Here, soos deur Deutr 17:6 vereis vir ‘n doodsvonnis en Deutr 19:15 vir alle hofsake. Urjia die hoëpriester, wat die afgodsaltaar volgens Agas se opdrag gebou en bedien het (2 Kon 16:11) en Sagaria, uit die Asaf-sanggroep (2 Kron 29:13), ook genoem die seun van Jeberekja, wat volgens 2 Kron 29:1 die oupa aan moederskant was van koning Hiskia, wat sy pa Agas as koning opgevolg het. Die twee getuies kom uit die leiers in Jerusalem, die hoëpriester en koning Agas se skoonvader. Hulle name bevat verwysings na die naam Jahweh in: Urija ‘die Here is lig,’ Sagaria ‘die Here het onthou,’ en Jeberegja ‘mag die Here seën.’

8:3-4 ‘En ek het by die profetes gekom (naby kom – eufemisme vir geslagsgemeenskap met die profetes, Jesaja se eie vrou).’ Die naam van Jesaja se derde seun bevestig die boodskap op die inskripsie as ‘n lewende getuie daarvan: Maheer- Sjalal-gas-baz (Die Le vooraan die inskripsie kondig die saak aan). Die tyd wanneer die ‘plunder en roof’-oordeel sal uitbreek oor die twee volke kom nader, voor die seuntjie kan begin praat (tussen 9 maande en 1 jaar). In 7:14,16 is nog na die tyd van onderskeiding tussen goed en kwaad verwys, hier na die onderskeiding tussen pa en ma. Die rykdom van Damaskus en die buit (sjalal beteken ‘roof’ en die ‘buit’ wat geroof is) van Samaria sal weggedra word tot voor die koning van Samaria, soos met die mense as slawe en hulle besittings as oorlogsbuit in ‘n triomftog ná ‘n oorwinning gespog word en hulle God so bespot word. Die bedreiging deur die twee volke sal binne 9 maande na die geboorte van die seun verdamp. Daarom hoef Agas nie vir hulle te vrees nie. In ‘n inskripsie spog Tiglat-Pileser III : Israel met al sy inwoners en goedere het ek na Assirë toe gelei. Hulle het hulle koning Peka omvergewerp en ek het Hosea as koning oor hulle gekroon. Israel het toe ‘n Assiriese provinsie geword (2 Kon 15:29-30).

 

Die oordeel oor Juda (8:5-22)

8:5-8 Uit vrees vir die twee buurstate wat groot dele van Juda binnegedring het en Jerusalem omring het (2 Kon 16:5-6), het Agas onder die druk van Assirië geswig (2 Kon 16:7-8). Die noodlottige besluit word in hierdie verse ontbloot as dwaas en vernietigend. Hulle kon vir die kalm waters van Siloag in Jerusalem gekies het, wat deur die berg met die ou tonnel van die Gihonfontein af gevoed kon word, maar die gees van rebellie en opstand is haastig en het nie tyd vir kalm vertroue op die Here nie. Die Jebusiete, wat voor Dawid in Jerusalem gewoon het (voor 1,000 v.C.), het al ‘n tonnel van die Gihonfontein af tot binne die mure van Jerusalem gehad (2 Sam 5:8), voor die tonnel van Hiskia gegrawe is (700 v.C.; 2 Kron 32:30). Die Siloagbad was ‘n opgaarplek wat tydens ‘n aanval water kon verskaf aan die stad. Maar weens hulle keuse van Assirië laat die Here die waters van die Eufraat oorstroom, ’n simbool vir Assirië met sy hoofstad Nineve aan die Eufraat. Wanneer die sneeu op die berge begin smelt, oorstroom die waters die walle van die Eufraat en sy kanale. Jesaja gebruik die beeld in digterlike taal: So sal die magtige vloedwaters, nl. Assirië se leërs, Juda oorstroom en daardeur vloei tot skouerhoogte (leterlik: tot by die nek), om die hulpeloosheid van Juda teen die magtige ‘waters’ te skilder (vgl. 30:28).

Die tweede beeld van die besetting van Juda deur die Assiriese leërs is van ‘n roofvoël wat sy prooi vaskeer sonder ‘n uitkomkans wanneer hy sy vlerke bo-oor hom uitsprei. Agas en Juda word hier ironies Immanuel, God met ons, genoem. Die Here wat die leërs beheer en lei, is by hulle; dit is sy land en sy volk en sy koning, maar hulle het hulle rug op Hom en sy aanbod gedraai. Daarom het Hy hulle aan Assirië, hulle gekose verlosser, oorgegee.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die Immanuel-teken (7:14-25)- Francois Malan

7:14-16 Jesaja gaan voort met die konfontasie wat nou die hele volk insluit. Die Here sal self vir Israel/Juda ‘n teken gee, wat Agas nie gevra het en nie wou hê nie. Die sigbare teken maak die uitnodiging tot geloof in die Here konkreet en onontwykbaar. ‘Kyk! (let mooi op hier kom ‘n belangrike aankondiging van die Here) ‘n Jong vrou (Hebreeuse ‘almah – enige hubare vrou word so genoem tot by die geboorte van haar eersteling) word swanger en gee geboorte aan ‘n seun’. In Jesaja is die aandag nie op die vrou nie, maar op die naam en ouderdom van die seun as die teken van die Here. Die Griekse woord parthenos waarmee Matteus 1:23 die teks aanhaal en waaroor Lukas 1:27 skryf, verwys na ‘n ongetroude persoon, wat ook nie noodwendig ‘n maagd is nie. Die Latynse vertaling het dit met virgo vertaal, wat veral ‘n maagd aandui, maar ook ‘n jongvrou, en so is parthenos/virgo ‘maagd’ in die geloofsbelydenis opgeneem in 217 n.C. Soos die name van Jesaja se seuns ‘n duidelike boodskap vir Juda/Israel van die Here dra, sal hierdie vrou se seun ‘n belangrike bevestiging deur die Here wees, aan Agas, aan Juda/Israel en tot in die Nuwe Testament. Immanuel = ‘God met ons’ bevestig die hele teologie en geloof van Israel oor koning Dawid se koningskap wat altyd sal voortbestaan (2 Sam 7:12-16) en die Here se selfbenaming aan Moses as ‘die Ek is’ persoonlik teenwoodig, in Eks 3:14-15, en sy verbond met Abraham in Gen 12:3: Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees. Ps 46:1-2,6,8 wat al voor Jesaja se tyd gesing is, verkondig dieselfde boodskap.: Die HERE, die Almagtige, is by ons. Die kind monitor ook die duur van die huidige bedreiging deur die twee noordelike bure van Juda, bereken van die dag van dié teken af (7:16). Voordat die kindjie twee jaar oud is, die tyd waarop gereken is dat ‘n kind kan onderskei tussen goed en kwaad, reg en verkeerd, sal die twee lande versaak wees (deur die Here) – dit wil sê oorgegee in die hande van die wrede Assiriërs (vgl. 2 Kon 15:30 vir Peka se dood en 2 Kon 16:9 vir Resin se dood). Agas vrees dié twee mindere magte, en sy vrees laat hom verkeerde besluite neem. As hy sou glo dat ‘God met ons’ is, kon sy vrees bedaar en kon hy rustig volgens die vier opdragte in 7:4 goeie besluite neem. Maar deur sy verwerping van die Here, word ‘God met ons’ vir hom ‘n bedreiging, en gee God hom oor aan sy gevaarlike ‘vriend’ Assirië.’ Die plasing van vers 15 tussen vers 14 se Immanuelteken en vers 16 se twee jaar van die seun is eienaardig. In 7:3 verwys Sear-Jashub (‘n oorblyfsel kom terug’) na die terugkeer ná die ballingskap. In 7:21-22 voorsien die oorvloed van melk uit een koei en twee ooie vir ‘n arme wat agterbly tydens die ballingskap. Hier in 7:15 word voorsien dat die seun tot sy tweede jaar ryklik met melk en heuning gevoed sal word tydens die bedreiging deur Resin en Peka.

7:17 Agas se besluit om die Here se Immanuelteken, dat God teenwoordig is, te ignoreer en voort te gaan met sy planne om Assirië se hulp in te roep teen sy twee buurvolke, bring moeilikheid. Die Here bring oor Agas en sy volk Juda, en die huis van sy vader (Dawid, van wie hy die koningskap oorgeërf het volgens die Here se belofte aan Dawid in 2 Sam 7) dae (moeilikheid) wat nog nie beleef is sedert die skeuring van die ryk in 922 v.C., na die dood van Salomo nie. Toe is die ryk verdeel tussen Juda (2 stamme) en Efraim (10 stamme van Israel) 200 jaar voor Agas. Dieselfde Assiriese koning in wie Agas sy vertroue gestel het (2 Kon 16:5-9), sal die oordeel van die Here oor Agas en sy volk voltrek. Die eintlike gevaar wat Agas nog nie raaksien nie, laat die digter sy sin in Hebreeus onderbreek met ‘n uitroep: die koning van Assirië! Met die aanwysing van Assirië, die groot brutale supermag, werp die boek Jesaja die hopelose koning Agas en sy hopelose volk Juda saam met hom in die kookpot van Assirië se roofsug en brutaliteit. Die verwerping van ‘God met ons’ veroorsaak ‘God teen ons’ in die vorm van die verwoesting deur Assirië. Vertroue versus Vrees is ’n politieke saak. Geloof in ‘God met ons’ maak die verskil tussen lewe en dood, vrede en oorlog, voorspoed en vernietiging, in die konkrete besluite van die daaglikse lewe, ook in politiese, sosioekonomiese, militêre besluite. 7:9 het gesê: geen geloof – geen toekoms.

7:18-25 Die konfrontasie tussen die profeet en die koning word hier opgevolg met ‘n byvoegsel met vier verwagtings oor die toekoms van Juda, wat alvier ingelei word met ‘op die dag’ (1983-vertaling: in dié tyd) in 7:18-19, 20, 21-22, 23-25 – die term word gebruik vir die dag van oordeel. Die koning se besluite het drastiese gevolge vir die koning se stad en sy volk. 7:17 se oordeel word uitgespel.

7:18-19 Die eerste uitspraak is ‘n lewendige beeld van die inval van Egipte uit die suide en Assirië uit die noorde op die land van Juda. Die swerms vlieë en bye is beelde van die leërs van dié twee lande (vgl. Deutr. 1:44; Ps 118:12).

7:20 Die tweede uitspraak se skeermes vertel ook van die vernietiging deur Assirië, met sy hoofstad Nineve oorkant die Eufraatrivier (letterlik net: rivier). Veroweraars het hulle gevangenes se koppe kaalgeskeer om hulle te verneder en sigbaar tot slawe te maak (vgl. 3:17). Die hare op julle liggame (letterlik ‘op julle voete’ as eufemisme vir die hare om die geslagsorgane) is ‘n aanduiding dat hulle kaal na hulle ballingskap sal stap. En dit nadat Agas die tempel en die paleis gestroop het van al die goud en silwer as omkoopgeskenk aan die koning van Assirië met die woorde: Ek is u dienskneg/slaaf en seun (wat aan u behoort; 2 Kon 16:7-8).

7:21-22 Die derde uitspraak verwys blykbaar na ‘n oorvloed van melk van een koei en twee ooie vir die verarmde res wat agterbly. Die slegte nuus is dat dit net ‘n oorblyfsel sal wees wat met min sal agterbly. Die glansende kommersiële stadslewe sal verruil word vir die karige voedsel van ‘n herderskultuur. Die goeie nuus is dat daar wel ‘n oorblyfsel sal wees met die ryke seën van die Here op elkeen wat agterbly se min wat hy het (vgl. 4:2-3; 6:13).

7:23-25 Na die vorige drie wat oor die mense van die land gepraat het, voltooi die vierde uitspraak die prentjie van verwoesting wat Agas oor die land gebring het. Driemaal word verwys na dorings en distels (vgl. Gen. 3:18). Welvarende, voorspoedige en vrugbare landbougrond word vervang met dorings en distels sonder oeste op ‘n land. Daar sal gejag word, maar geen bewerking van die ryk wingerde nie; die lande teen die heuwels word weiveld vir die diere. Die beloofde land word aan die elemente en wilde en mak diere oorgegee.

Die hoofstuk se boodskap was vir die 8e eeuse Juda geskryf, wat deur hulle vrees en hulle koning Agas se vrees vir die leeu gevlug het tot in die bek van die beer van Amos 5:19, die pad wat hulle ongeloof gevolg het tot in hulle vernietiging, deurdat die Here hulle prysgegee het om ballinge van hulle ‘redders’ te word. Maar die Nuwe Testament verbind die Immanuelteken met die koms van die nederige God van Betlehem en die kruis (Mt 1:23) vir elke eeu se keuse tussen geloof en vertroue op ‘God met ons’ en ‘n nederige lewe saam met .Hom op sy kruisweg, teenoor die wêreld se glans wat gebou word met mag en geweld uit ongeloof en vrees.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Agas se keuse (7:7-13)- Francois Malan

7:7-9 Die profeet sê: ‘So het die Here HERE gesê: Dit sal nie gebeur nie en dit sal nie wees nie.’

Die wêreld lyk baie anders as jy nie deur vrees verteer word nie (7:2). Maar daar is ‘n voorwaarde wat in die vorm van woordspel gegee word: as julle nie glo nie – nie op die Here vertrou nie – sal julle nie standhou nie. In die oorspronklike gedig word twee vorms van dieselfde Hebreeuse werkwoord ‘aman hier langs mekaar gebruik, albei met ’n negatief: as julle nie glo/vertrou nie; sal julle nie standvastig wees/betroubaar wees nie (ons woord ‘amen,’ ‘laat dit so wees,’ kom van aman af): die kousatiewe vorm van aman word hier gebruik vir vertroue – as julle nie op die Here vertrou nie; die refleksiewe vorm van aman beteken: standhou – sal julle nie op julle eie kan standhou nie. Dieselfde woord word gebruik in die Dawidsbelofte in 2 Sam 7:16 Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vasstaan. In Ps 89:25 word dieselfde woord gebruik: My trou en my liefde sal met hom (die koning) wees; deur My sal hy oorwin. Ps 89:34: Maar my liefde sal Ek van hom nie terughou nie en my trou nie verbreek nie. Op die kripiese woord van die Here volg ‘n ontleding van die politieke situasie: Die konings met hulle hoofstede en ryke, sal niks beteken nie. Agas word herinner aan die belofte wat die Here 300 jaar gelede al aan Dawid en sy nageslag en sy ryk gemaak het (2 Sam 7:16-19). Die koning moet nou sy vrees en planne laat vaar om Assirië se twyfelagtige hulp teen Resin en Peka in te roep. Hy moet op die enigste bron van sekerheid en beskerming vertrou, naamlik op die HERE. Hierdie teks word beskou as die belangrikste uitspraak oor die rol van geloof in Jesaja en in die hele Ou Testamernt. Om vas te staan in geloof beteken prakties om op die Here te vertrou onder enige dreiging; om jou veiligheid en jou toekoms aan die Here toe te vertrou, aan Hom wat altyd aktief en opmerksaam teenwoordig is (vgl. Jes 28:16; 30:15; Ps 62:2-3, 16; Flp 4:6-7). En dit word juis gesê te midde van die dreigende woede van die aanval van Agas se bure op Jerusalem. Die krisis draai om die Here, op wie die hele koninkryk van Juda en Jerusalem gebou is, om te alle tye op Hom te vertrou, veral as die storms losbars. So het Dawid, voor Goliat se swaard, op die Here vertrou, ook voor Saul se vervolging, en voor sy seun Absalom se aanslag op hom. Agas word geroep om goed te dink en soos sy voorvader Dawid op te tree met ‘n ander denkwyse en lewe wat deur hierdie betroubare God regeer word. Die hele koninkryk van Juda word opgeroep om terug te keer na die Here, na die oorspong van hulle bestaan.

7:10-11 Die konfrontasie tussen die profeet en die koning gaan voort, die stryd tussen vertroue en vrees, en die twee wêrelde wat uit vertroue of vrees voortvloei. Uit die volgende verse blyk dit dat Agas die radikale oproep tot geloof verwerp het. Maar die Here bied self aan Agas ‘n onbeperkte keuse (in die diepte of hoog op boontoe) vir ‘n (wonder) teken, om hom tot geloof en vertroue op die Here alleen te oortuig (vgl. Gideon wat drie maal ‘n teken van die Here gevra het, Rigt 6:17,36-37,39).

7:12 Op die oog af lyk dit of Agas se vrome weiering om ‘n teken van die Here te vra ooreenstem met die Here se opdrag in Deutr. 6:17 ‘julle mag nie die geduld van die Here HERE op die proef stel nie. Maar in werklikheid is dit die vrug van ongeloof, soos uit die res van die hoofstuk blyk. Agas het klaar besluit om Assirië se hulp in te roep teen Resin en Peka (2 Kon 16:7-9) en nie op die Here en sy woord te vertrou nie.

7:13 Die profeet berispe die koning omdat hy die aanbod van die Here verwerp: Luister huis/geslag van Dawid! Daarmee doen Jesaja ‘n beroep op Agas se posisie en verantwoordelikheid in ooreenstemmming met die Here se belofte aan Dawid wat die koningskap aan die nageslag van Dawid verbind het (2 Sam 7). Agas sê hy wil nie die Here toets nie. Jesaja sê hulle maak sy God moeg met hulle vroom praatjies. Dit kom op dieselfde neer as ‘n toets vir of teen die Here. Volgens 2 Kon 1:10-15 het Agas afgode gedien en ‘n deurtjie oopgelaat na die Here toe (vgl. 2 Kron 28:22-25). Hy het ook mense moeg gemaak – waarskynlik het die volk gedink hy behoort saam met Resin en Peka in opstand teen Assirië te kom.

Skrywer:  Prof Francois Malan