Jesaja – Die Here se versekering aan Agas (7:1-6)- Francois Malan

Hoofstuk 7 begin met die koningskap van Agas van Juda (7:1). Die laaste paragraaf van hoofstuk 14 is ‘n uitspraak in die jaar van koning Agas se dood (14:28). Daarom word die agt hoofstukke van 7 tot 14 soms genoem die era van Agas. Daar is telkmale krisisse tydens sy regeringstyd. Terwyl die tien stamme van Israel in hierdie tyd in ballingskap weggevoer is, was dit deurentyd die vraag of Juda en Jerusalem dit sal oorleef. Hoofstukke 7-12 word ook ‘die boek van Immanuel’ genoem vanweë die belofte van ‘n seun met die aangrypende naam Immanuel, ‘God by ons,’ wat in mindere of meerdere mate die inhoud van dié hoofstukke bepaal. Jesaja se profetese uitsprake in hierdie hoofstukke sluit aan by die internasionale magstryd waarby die bondsvolk in hierdie tyd betrek is, maar het ook verdere perspektiewe op die koms en heerskappy van die Messias (9:1-6; 11:1-10; 12).

7:1-2 Agas regeer van 735-715 v.C. oor Juda. In 734 v.C. ruk die Assiriërs (van Nineve in die huidige Irak) op teen die state in die suide. Resin van Damaskus, in die huidige Sirië, probeer ‘n anti-Assiriese koalisie van Aramese state opgoep om die vloedgolf van die Assiriërs te keer. Peka koning van Israel in Samaria sluit daarby aan, en Resin en Peka val eers vir Agas van Juda aan, omdat hy nie saam met hulle teen Assirië wil veg nie. Agas stuur aan Assirië ‘n groot omkoopgeskenk om hom teen Resin en Peka te help (2 Kon 16:7-8) en verskuif selfs die bronsaltaar in die tempel om ‘n altaar vir die Assiriese god in sy plek te laat oprig (2 Kon 16:110-4). Assirië het Damaskus eers in 732 v.C. ingeneem. Maar toe die Assiriërs ook vir Israel begin verwoes, het Agas en die Judeërs uit vrees begin bewe soos bome in die wind (amper soos belowe in Lev 26:27,36). Dat ‘die huis van Dawid’ van angs bewe, getuig daarvan dat hulle nie op die Here vertrou soos Dawid nie, en dat die koningskap van die huis van Dawid uit vrees dwase besluite neem. Agas kies menslike mag teenoor vertroue op die Almagtige.

7:3 In die situasie van bedreiging, paniek en dwaasheid stuur die Here vir Jesaja na Agas. Agas is die verteenwoordiger van onbestendigheid en ongeloof (Agas het selfs sy seun verbrand vir Molog, die god van die heidense Kanaäniete, en diereoffers gebring op die rante en onder groen bome, 2 Kon 16:3-4). Jesaja moet sy seun saam neem. Die seun se naam Sear-Jasub voorspel: ‘n Oorblyfsel kom terug.’ Dit is tegelyk ‘n bedreiging dat daar net ‘n oorblyfsel sal wees, en ‘n sprankie hoop op die terugkoms uit ballingkap. Vir Agas moes die seun se naam dien om die erns van die situasie en van die Here se boodskap te beklemtoon. In die boonste dam is water uit ‘n fontein, êrens noord of noord-wes van Jerusalem opgegaar. Omdat die aanval uit die noorde verwag word, gee Agas eerste hieraan aandag (dit is nie die Siloagdam van Jes 8:6 nie, en word in 22:9 die onderste kanaal se opdamming genoem; vgl. 2 Sam 5:8. Hiskia verbeter later hierdie onderste kanaal, 2 Kon 20:20).

7:4-6 Jesaja se boodskap laat geen ruimte vir misverstand nie. Hy is bewus van Resin en Peka se planne en onderskat nie die gevaar daarvan nie. Die Here gee aan die profeet ‘n opdrag om sy verlossing aan te bied wat sekerheid aanbied met vier uitnodigende bevelswoorde om die koning uit sy paniek te bevry: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel nie! Die twee dreigende magte waarvoor Agas in angs bewe, wat sy en Juda se ondergang beplan, Resin en Peka is nie ‘n ernstige bedreiging nie. Hulle is rokende brandhoutstompe – meer rook as vuur (vgl. Jes 19:17-18). Die Here lag vir die bedreigings, en Agas sal dwaas wees om sy beleid deur hulle planne te laat bepaal. Op hierdie stadium was Sirië, Israel en Juda aldrie ondergeskik aan Assirië, en moes hulle belasting betaal vir sy ‘beskerming.’ In 742 en 738 v.C. is hulle reeds deur Assirië ingeneem (2 Kon 15:29). Resin en Peka beplan ‘n opstand teen Assirië en Agas wil nie saamspeel nie. Peka word nie op sy naam genoem nie, maar met sy pa se naam, omdat hy ‘n onwettige koning is wat die koningskap verkry het deur ‘n sameswering en deur koning Pekahia in die paleis te vermoor (2 Kon 15:25). Die seun van Tabeal, wat hulle in Agas se plek koning van Juda wil maak, ondersteun seker Peka en Resin se anti-Assiriese beleid, maar verder is niks oor hom bekend nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – ’n Verstommende boodskap (6: 9-13) – Francois Malan

6: 9-13 is ‘n fokuspunt en kort samevatting van die boodskap van die boek Jesaja. En wat ‘n boodskap is dit nie!

6:9-10 Hierdie sondige (6:5) en opstandige volk (1:3-4), Juda en Jerusalem, sal hoor en niks verstaan nie (van die waarkuwing teen hulle rykdom en mag en afgodsdiens nie), kyk en niks (verkeerds in hulle optrede) sien nie. Op bevel van die Here sal al die sintuie van die volk afstomp: verharde harte (soos Farao, Eks 10:1), dowe (swaar) ore en blinde (geslote) oë, ‘n ongeneeslike volk, en dit as die wil van God! Jesaja se prediking sal hulle in hulle onbekeerlikheid bevestig (vgl. Mt. 13:11-15). Hulle sal reageer soos hulle deurgaans was: mense sonder begrip of verstand (1:3; volgens Rom 1:18,23,24,28 is dit die toorn van die Here wanneer Hy ’n mens oorgee aan sy eie begeertes en dwaashede om te doen wat hy of sy self wil). Vgl. Paulus se uitspraak in 2 Kor 3:14-16. So is Jesaja se prediking ook ‘n doodsreuk vir die onbekeerlikes, maar ‘n lewensgeur vir gelowiges wat die boodskap aanvaar, hulle bekeer en genees word.

6:11 Die skok van die boodskap laat Jesaja reageer met ‘n protesvraag: ‘Tot wanneer, Here?’ (vgl. Ps 13:2 se vraag). Eintlik is dit meer as net ‘n vraag na die tyd van die Here se verwerping, met ‘n suggestie dat die Here onbillik is, en dat Jesaja ‘n beter boodskap van die Here verwag het om af te lewer. Die Here antwoord dadelik met ‘totdat’ wat wel ‘n sprankie hoop inhou dat dit wel sal ophou. Maar dit bied nie baie troos nie, want dit is die uiterste grens: Totdat stede verwoes (sonder inwoners), huise verlate (sonder ‘n mens ), die land in ‘n puinhoop omskep is (letterlik: die grond verwoes is tot ‘n wildernis)

6:12 En die Here die mense ver weg verwyder het en die ontvolking van die land (en die Here se verlating in die land) groot geword het.

6:13 En as daarin nog ‘n tiende oorgebly het sal dit verwoes (of: verbrand) word. Soos van die sterk terpentynbome en sterk denne (2:13), as hulle hulle blare afgooi, ‘n boomstomp oorbly, so sal vir die ‘heilige saad haar stomp/stam’ (oorbly). Die Here gaan hulle nie meer beskerm nie, maar aktief werk om hulle te laat verdwyn. Aan die einde van die hele gedeelte staan daar, soos die beskeie hoop van 4:3, drie raaiselagtige woorde: ‘n heilige-saad-haar stam,’

Dit is soos die onmoontlikheid van ‘n moontlike nuwe lewe vanuit ‘n totale mislukking. Soos daar later ‘n takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai (11:1), so sal die Here uit die stomp van afgekapte Israel ‘n takkie laat uitspruit in die gestalte van ‘n geslag (saad) wat aan Hom gewy (heilig) is. So gaan die Here die trotse selfvertroue van sy volk verbreek om van hulle sy nederige dienaar te maak wat net op Hom vertrou (44:1-2)

So eindig Jesaja telkens die verskriklike boodskap van vernietiging wat hy moet aankondig. Die eerste deel van die boek gaan oor die verwoesting van die heiligste plek in Israel, Jerusalem en sy tempel, waar Jesaja die visioen van God se teenwoordigheid ontvang het. Die harde boodskap van Jesaja weerklink in die Ou en Nuwe Testament. In al vier die Evangelies word Jes. 6:9-10 aangehaal met verwysing na Jesus. Die konings en die volk van ou Israel het nie ag geslaan op die woorde van die profete nie, en dit het gelei tot die verwerping van Israel as die volk van die Here. So is die persoon en boodskap van Jesus wyd verwerp, en die vroeë kerk het lank oor die verwerping getob. In Mt 13:14-15; Mk 4:12; Lk 8:10 word die verse aangehaal as ‘n oordeel oor die mens wat Jesus nie verstaan en aanvaar het nie. In Jn 12:37-43 word dit gebruik vir die negatiewe reaksie op die geestelik blindes wat Jesus nie na reg kon waardeer nie, oor wie Jesus is en wat Hy vereis nie. In Hand 28:26-27 open die Jode se weerstand teen Jesus die pad vir Paulus se sending na die heidene. Die vroeë kerk het die verwerping van Jesus gesien as parallel met die verwerping van die Ou Testament se profetiese woorde. In beide gevalle is daar ‘n bewussyn dat die teenkanting op ‘n vreemde manier van God af kom, wat mense aan hulle eie begeertes oorgee. God voer sy plan deur te midde van die mens se koppigheid. Daar is nie ‘n maklike evangelie of goedkoop genade nie. Daar is ‘n skrefie lig met die ‘heilige saad uit die stomp’. Maar eers die stomp van mislukking en vernietiging as gevolg van die volk se gevoelloosheid teenoor die verdruktes en hulle harde harte van hebsug, geweld en afgodery. Die boek Jesaja weet van die stomp toe alles verlore was vir Jerusalem in 587 v.C.. Die Evangelies ken die Vrydag-stomp van die kruis. Daar kan nie gejaag word na Jesaja se skrefie lig wat 200 jaar later eers ‘n werklikheid geword het nie, en die evangelie laat ons nie by Goeie Vrydag verby jaag na die oorwinning van die opstandings-Sondag nie (Mt 16:24; Rom 6:1-11). Eers die beproewings van die hede voor die heerlikheid van die ewigheid.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die gesag van die Here agter Jesaja se boodskap (6:1-8) – Francois Malan

6:1-4 Teenoor die sterflikheid van die menslike koning Ussia word die ewige Koning geskets, die Here, die Eienaar van die ganse skepping, wat op ‘n baie hoë troon sit, verhewe bo sy skepping, en slegs die onderste deel van sy kleed vul die tempel in Jerusalem (die Hebreeuse woord vir tempel kan ook verwys na die paleis of die troonsaal). Die hele aarde is vol van die magtige teenwoordigheid van die HERE van die leërskare (Jahweh die ‘Ek is’, wat oral aktief teenwoordig is en opdrag gee aan die leërs van die aarde; Die tempel het vol rook geword (v4) – ontoeganklik vir (sondige) mense (vgl. Eks 19:18,21-22; 40:34-35). Jesaja word egter tot die troonsaal van die regeerder oor die skepping toegelaat. Hy sien die sesvlerkige serafkoor voor die Here, met vreugde geheel aan Hom toegewy, met bedekte gesig en voete, en vleuels om sy opdragte uit te voer. Hulle besing sy heilige toewyding aan sy skepping met hulle skynbaar onafgebroke pryslied. Hulle sing van die heiligheid, heerlikheid, glorie en onuitspreeklike majesteit van die hemelse heerser wie se heerskappy oor die hele aarde strek (In Openb 4:8 herhaal hulle nog steeds dag en nag die drievoudige heiligheid van God). Hulle lied begin met die heiligheid van God en eindig met die glorie van God wat albei die oorweldigende onberekenbare andersheid van God erken, waaraan alles en almal hulle moet oorgee. Johannes 12:41 verwys na die heerlikheid van Jesus, wat Jesaja hier gesien het en oor Hom gepraat het, en die rede waarom die mense nie tot geloof in Jesus kon kom nie (Jn 12:37-40).

6:5 In die teenwoordigheid van God se oorweldigende heiligheid en grootsheid sien die profeet homself, sy sondigheid en nietigheid om in die heilige teenwoordigheid te wees. Hy sê: ‘O wee my (die klaagsang by ‘n dooie), want ek is verlore (letterlik: ek is stil/stom – hy wil saam prys, maar durf nie, want…), want ek is ‘n man met onrein lippe en ek woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is.’ Hy word ‘n nietigheid in sy eie oë; ‘en my oë het die Koning, die Here van die leërskare gesien’ – volgens Eks 33:20,23 beteken dit die dood, vgl. wat van die Here gesien word in 6:1 en in Eks 24:10. In 1:4 het Jesaja reeds die wee oor die volk uitgespreek. In die teenwoordigheid van die heilige God staan hy ook veroordeeld as deel van die veroordeelde gemeenskap.

6:6-7 Die seraf reinig Jesaja se onrein lippe met ‘n gloeiende kool van die altaar af – as simbool dat God ook die middel het om die onheiliges te reinig en nuut en bruikbaar vir Hom te maak (soos die ‘iets soos tonge van vuur’ op die Pinksterdag smet die uitstorting van die Heilige Gees op die dissipels, Hand 2:3 ). Volgens Jeremia 1:9 het die Here sy hand utgesteek en Jeremia se mond aangeraak as teken dat Hy sy woorde in Jeremia se mond gelê het. Hoewel Jesaja se mond aangeraak is, is die verklaring vir die simboliese gloeiende kool dat Jesaja se oortredinge deur die Here vergewe is en sy sonde versoen is, sodat hy in ‘n nuwe verhouding tot God staan, wat deur die Here herstel en reggemaak is (soos die bloed van Jesus ons versoening met God bewerk, Rom 3:25-26)

6:8 Die doel van die Here se magtige verskyning word hier uiteengesit. Dit is nie vir persoonlike genieting van die goddelike teenwoordigheid nie. Die troonsaal van God is die plek waar die beleid oor sy regering oor die wêreld bepaal word, en vanwaar boodskappe uitgestuur word. ‘Ons’ (wat in 6:3 besing word met ‘n drievoudige ‘heilig’) soek ‘n boodskapper. Die Here soek vrywilligers. Die doel van Jesaja se reining was om hom geskik en bekwaam te maak vir die Here se sending. Jesaja antwoord op die uitnodiging van die Here: ‘Hier is ek’ – teenwoordig, Hy reageer positief op die oproep. Hy kon weier, maar meld vrywillig aan: ‘Stuur my’ ek is beskikbaar vir die Here en sy boodskap. Met die aanvaarding van die uitnodiging word Jesaja se boodskap ook gelegitimeer, dit kom direk van die Here af en dra die gesag van die Here self.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die nasie uit die verte (5:25-30) – Francois Malan

5:25 Die tweede ‘daarom’ stel dit duideliker: Omdat Israel die Here verwerp gaan Hy aktief in toorn optree met ‘sy uitgestrekte hand teen hulle’ – dit is met direkte magsoptrede. Sy optrede is so sterk dat dit beelde van lyke en dood skilder. Hulle het kontak verloor met die bron van lewe en krag. Deur sy woord te verwerp het hulle hulle van sy lewenskrag afgesny. As Eienaar van die wingerd tree Hy op om die wingerstokke wat net stinkende druiwe voortgebring het te verwyder. Sy uitgestrekte hand verwyder die beskermende heining en die wagtoring; en sonder sy beskeming word die wingerd vertap (5:5-6). Die refrein van die laaste deel is: ‘met dit alles is sy toorn nie weggedraai nie, maar sy hand bly uitgestrek.’ Dit word herhaal in 9:12,17,29; 10:4. Die gebeure van hoofstuk 5 voor die dood van koning Ussia (6:1), word voortgesit in 9:8-10:23 tydens die regering van koning Agas, totdat Israel en die grootste deel van Juda vertrap is. Die toorn van die Here en sy verwerping van hulle is die rede vir die verlies aan politieke, sosiale en

ekonomiese orde en stabiliteit wat die laaste 32 jaar van die koninkryk van die tien stamme van Israel gekenmerk het: Sagaria regeer 18 maande (754-753v.C. 2 Kon 15:8), Sallum vermoor hóm, word koning en regeer ‘n maand en ‘n paar dae (753 v/C. 2 Kon 15:13), Menahem maak hóm dood en regeer 10 jaar in Samaria nadat hy almal in Tirsa doodgemaak het en die swanger vrouens laat oopsny het (751-742 v.C. 2 Kon 15:14), sy seun Pekahia volg hóm op en regeer 2 jaar (742-741 v.C. 2 Kon 15:23), sy adjudant Peka maak hóm dood en word koning vir 20 jaar (740-732 v.C. 2 Kor 15:27), Hosea maak hóm dood en word koning vir 9 jaar (731-723 v.C. 2 Kon 15:30; 17:1), sy laaste drie jaar was Samaria deur die Assiriërs beleër en Hosea in die tronk gestop. Daarna is Israel in ballingskap weggevoer na Assirië (722 v.C. 2 Kon 17:6) omdat hulle ander gode vereer het, en geleef het volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. (2 Kon 17:7-8).

5:26 Verse 26-30 onderstreep die dreiging in vers 25, om te verseker dat dit nie gemis word nie, en dat dit van die Here kom, wie se toorn nie bedaar het nie. Letterlik staan daar: ‘En Hy sal ‘n vaandel oprig vir die vér nasies – waar hulle kan bykaarkom vir die oorlog. – en Hy sal een van hulle roep van die eindes van die aarde af ; en kyk! (let op) met spoed, vinnig, kom hulle.’ Die dreiging van die Here word nou werklik, en sy straf op Israel word uitgevoer deur ‘n groot leër, wat Hy van vér af laat kom – die leër van Assirië was saamgestel deur baie nasies wat deur hulle oorgeneem was. In 5:19 het Israel gevra dat die Here moet gou maak dat hulle sy plan kan

sien. Maar hulle het nie die massiewe vinnige leër van Assirië verwag nie. Menahem het nog die leërs van Assirië gekeer deur 34 ton silwer aan hulle koning te betaal (2 Kon 15:19). Die Assiriërs het gespog oor die spoed en beweeglikheid van hulle leërs. Nineve het die eerste beroepsleër in die wêreldgeskiedenis gehad. Later sou Babilon netso toeslaan op Juda en Jerusalem. So gebruik die Here van tyd tot tyd instrumente in sy hand om die volke te straf wat nie lewe volgens sy woord en riglyne nie.

5:27-28 Die profeet teken die voortreflike uitrusting, moed en slaggereedheid van hierdie aanstormende leërmag. Hulle is magtig, sterk, goed toegerus, onweerstaanbaar, gedetermineerd. Met hulle metaalharnasse, swaar bewapende strydwaens, geoefende boogskutters en ruitery, was hulle inderdaad ‘n gedugte en gevreesde mag.

5:29 Die leër is soos sterk jong leeus wat brul, hulle prooi bespring en wegsleep sonder dat iemand dit kan afvat. So magteloos sal die Here se verbondsvolk wees teenoor die Here van die leërskare se instrument om hulle te straf (vgl. Amos 3:12).

5:30 Na die ballinge weg is, wat word dan van die land wat verlate agtergegelaat word? duister – ellende – lig word verduister deur die (onweers)wolke (8:22). Die brul van die leeu Assirië word op daardie dag van oordeel die brul van die Here, soos die aanhoudende gedreun van die see. Die lig van God se genade word ook uitgedoof (2:6; maar vgl. 60:2). Die aankondiging van oordeel, vyf hoofstukke lank, laat die hoorders en lesers in duister en ellende, sonder ‘n uitsig op hoop, soos die gedig bedoel was om die hoogmoed en selfvertroue van mense te breek.

Skrywer:  Prof Francois Malan