Finansies
Die koning se huishouding het uiteraard baie geld gekos. Uitgawes is destyds anders as in moderne regerings beheer. Die volk moes belasting aan die koning betaal. In Oosterse terme word dit in 2 Kronieke 17:5 geskenke genoem. Die koning se skatkis het weer alles betaal-ook die leër. Die tempel se skatkis was eintlik maar net deel daarvan. Koning Asa het, byvoorbeeld, vir ‘n veldtog al die silwer en goud in die paleis en die tempel geneem vir sy uitgawes (1 Konings 15:18) en so het Joas ook vir die koning van Aram betaal met geld uit sy huis en uit die tempel (2 Konings 12:18).
Die regspraak
Uit die destydse Nabye-Ooste waar die Bybelse geskiedenis ook afspeel, is verskeie regskodes bekend. Sumeriese tablette is opgegrawe waarvan sommige meer as ‘n duisend jaar ouer is as die uittog uit Egipte. ‘n Baie bekende wettekodeks is die van Hammoerabi, ‘n Babiloniese koning, wat omtrent vyf- tot seshonderd jaar voor Israel se uittog uit Egipte dateer. Dit is op klip uitgekap en op die lang regop klipsuil is daar heel bo ‘n uitbeelding van die Babiloniese songod wat die voorskrifte aan Hammoerabi gee. Die kodes bestaan uit ongeveer 300 voorskrifte en sê uitdruklik dat dit moet dien om te verhoed dat die swakke onderdruk word en die weduwee en wees veronreg word. Dan was daar ook Hetitiese wette wat meer menslik was as die Semitiese wette, waaronder die Assiriese wette baie wreed was. Die Semitiese wette van die Babiloniërs, Sumeriërs, Assiriërs en die Ou Testament was soms baie strenger as die Hetitiese wette en is veral gekenmerk deur vergelding. In Matteus 5:38 verwys Jesus na sodanige wette as Hy sê ` julle het gehoor dat daar gesê is: oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand”. Vergelyk ook Eksodus 21:23-25.
“Die Ou Testamentiese wette waarvan die meeste in Deuteronomium versamel is, en dus herhaal wat in dele van Eksodus, Numeri en Levitikus voorkom, het oor ‘n lang tydperk ontstaan. Sommige kom uit die tyd van Moses, ander is eers tydens die Babiloniese ballingskap op skrif gestel. Veral in die ballingskap was die wetboeke vir die Jode die riglyn om hulle as ‘n eenheid te bewaar en het dit; soos tot op die huidige dag, die sentrale punt van die Joodse godsdiens gevorm.
Die Joodse regstelsel, gebaseer op die Ou Testamentiese wette, was uniek in die opsig dat ook die konings en leiers daaraan onderhewig was. Immers, die koning het nie in Israel wette afgeskaf en ingestel soos hy wou nie. Die wetboek was van die Here en is as onderrig vir die volk gebruik (2 Kronieke17:9, 19:5-7).
Die wette was veral van tweërlei aard. Sommige was oorsaak-gevolg wette, byvoorbeeld, “as iemand sy slaaf of slavin met ‘n stok slaan dat hy of sy onmiddellik doodgaan, moet dit gewreek word” (Eksodus 21:20), m. a. w. “as jy dit doen, dan sal/moet”: Hierdie tipe wette vind ons ook by al die ander volke van destyds: Die wette van die Ou Testament was direk van aard: “jy mag nie steel nie, jy mag nie valse getuienis lewer nie, Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou”.
As ons die tien gebooie goed bekyk, is dit opmerklik dat dit eers begin met “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte bevry het“ (Eksodus 20:2) gevolg deur seëninge en vervloekinge (Eksodus 23:20-33). Die wette van Israel was tegelyk godsdienstig en onderwysend. Dikwels gee dit ook redes vir die bepalings. In Eksodus 23:9 word ‘n bepaling oor vreemdelinge gemotiveer met “want julle was vreemdelinge in Egipte”. Eksodus 20:5 se “jy mag nie ander gode dien nie, want Ek eis onverdeelde trou”.
Dan is daar bepalings met baie harde strawwe-veral as dit gaan oor sake soos afgodediens, laster, ontug ens. wat direkte verhoudings tussen God en mense en tussen mense onderling raak. ‘n Besondere eienskap was die sogenaamde- vrystede, ook genoem asielstede, waarheen iemand kon vlug om vergelding vry te spring en geleentheid te kry om sy saak voor die oudstes te stel sodat ‘n regverdige verhoor kon plaasvind (Numeri 35:9-34, Deuteronomium 4:41-43, 19:1-13).
In die antieke Nabye-Ooste was daar wette vir lone en pryse wat soms in besonderhede sake gereël het. Opvallend was dat vir lenings en skuld reeds toe al rente gevra is. Uit bronne van ander volkere se wette is dit bekend dat rentekoerse dikwels buitensporig was-tot 30%-en dat veral die armes so onderdruk is. In die Ou Testament word woekerwins meermale verbied-so streng dat in Deuteronomium 23:19-20; soos ook op ander plekke, gesê word “,jy mag niks teen rente aan jou volksgenote uitleen nie, net aan ‘n nie-Israeliet mag jy teen rente leen”. Wanneer iemand sy skuld nie kan terugbetaal nie is by gewoonlik as ‘n slaaf verkoop. In Eksodus 21:2, byvoorbeeld, word egter bepaal dat die slawediens nie langer as ses jaar mag duur nie. Om horn weer op die been te help moes daar selfs by vrylating goedere aan so ‘n persoon gegee word our ‘n nuwe begin te kon maak (Deuteronomium 15:14).
Koning Jehu van Israel betaal tribuut aan Salmaneser III van Assirie, uitgebeeld op die swart obelisk van Salmaneser.
Hoewel die Ou Testamentiese: wette dikwels ooreenkomste vertoon met wette van ander volkere van destyds, was daar egter ‘n diepgaande verskil vir sover die wet vir die Jode nie net ‘n stel reëls was wat nagekom moes word vir goeie orde soos dit vandag ook in ons tyd die geval is nie. Vir die Jode was die wette veel meer: dit was die Wet-God se wet. Dit was deel van hulle hele lewens- en wêreldbeskouing. Dit was nagekom in gehoorsaamheid aan God meer as maar net gehoorsaamheid ter wille van orde. Om die wet uit te leef was dus nie bloot ‘n saak van dwang ter wille van orde nie, ‘n orde wat jouself dikwels ongelukkig nie pas nie en daarom maar brom-brom nagekom word. Nee, die Wet was teken van opregte lewenswandel voor God. Dit het dus ‘n hoë morele motief gehad en was teken van die persoon wie se lewe reg was. Dit was ‘n saak van eer, eerder as dwang. Hierdie houding is nog verder verfyn deur Christus wat geleer het dat by nie gekom het om die Wet ongeldig te maak nie, maar om volle betekenis daaraan te gee (Matteus 5:17)-‘n betekenis wat in nog ‘n hoër mate bepaal word deur ‘n persoonlike verhouding van ‘n aardse kind tot sy hemelse Vader waarin liefde die grondslag is (Johannes 15:9-12) en deur Paulus verwoord is in Filippense 2:3 as “die een moet die ander hoër ag as homself”.
Skrywer: JP Louw