Anna vra:
As ‘n kerk ‘n “supernatural” of bonatuurlike diens aanbied, wat beteken dit? Is dit volgens die Bybel?
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Verskillende kerke het verskillende tradisies waarbinne hulle opereer. Daar is byvoorbeeld die kerke van die Gereformeerde tradisie waar dit heel stemmig en sober daaraan toegaan omdat die klem hoofsaaklik op die Woordverkondiging val. Sulke dienste kan deur sommige mense as baie “intellektueel” beleef word, omdat dit meer gaan oor die kerkleer en oor kopkennis as oor die belewing van die Christelike geloof.
Ander kerke is weer meer sakramenteel ingestel, soos die Rooms Katolieke Kerk, waar bepaalde rituele die erediens bepaal. Dis amper asof die Christelike geloof in ‘n drama opgevoer word en die gemeente, hoewel passief, tog deel het aan hierdie drama, veral deur middel van vaste formules, gebede, simboliese handelinge en die sakramente. Die gemeente word as ‘t ware deur die voorganger (priester) begelei en kry so deel aan die “Christelike drama”.
Ander kerke, soos die sogenaamde charismatiese kerke, is weer meer op belewing ingestel. Hoewel Woordverkondiging ‘n rol speel, is die klem op die vrye werking van die Gees in lidmate se lewens. Daarom word mense aangemoedig om vrye uiting te gee aan hoe die Gees hulle in die erediens lei. Uiteraard is daar binne charismatiese kerke ook verskille, en dis veral gemeentes waar baie klem gelê word op die Gees se bonatuurlike werking waar hierdie “bonatuurlike” dienste aangebied word. Wat tipies gebeur, is dat mense tydens die diens in tale sal spreek, met hande in die lug die Here sal prys, “neergevel” word deur die Gees, en waar wonderbaarlike genesing ook mag voorkom. Ek vermoed dat die vraagsteller veral na laasgenoemde gebeure verwys in haar vraag na “bonatuurlike” dienste, want alle klem word geplaas op die bonatuurlike gawes van die Heilige Gees wat binne die diens tot uiting kom.
Mens kan nie sê dat die een tradisie beter of meer reg is as die ander nie, want al hierdie tradisies het hulle wortels in die Bybel. Neem byvoorbeeld waar Paulus raad gee aan die Korintiërs in 1 Kor 12,14 oor die beoefening van die geestesgawes. Daar was duidelik ‘n mate van “onordelikheid” in hierdie gemeente se eredienste. Mense het blykbaar geprofeteer en in tale gespreek. Paulus sê nie hulle moet ophou daarmee nie, maar sê wel dat alles ook ordelik daaraan moet toegaan (1 Kor 14:39-40). Daar is plek vir beide die beoefening van die bonatuurlike geestesgawes én die verstaanbare prediking, solank alles tot opbou van die gemeente geskied (1 Kor 14:26).
Dit is ook so dat mense in hulle godsdiensbelewing verskil. Sommige hou meer van stemmige en “verstaanbare” dienste, ander hou weer meer van dramatiese gebeure waar hulle die werking van die Gees kan erváár. Dit is een van die redes waarom daar verskillende kerklike tradisies rondom die erediens ontwikkel het. Maar mens kan nie sê dat die een tradisie beter, of meer Bybels, of meer reg in die oë van God is as die ander nie. Mens moet daar gaan kerk bywoon waar jy tuis voel en waar jy ervaar dat jy in jou verhouding met die Here die beste gevoed word. Solank ons net nie sê dat dit in die kerke waar daar opsigtelik meer opsienbare dinge voorkom, meer geestelik daaraan toegaan as in kerke waar die erediens stemmiger verloop nie. En solank alle tradisies vashou aan die kernwaarhede van die evangelie van Jesus Christus, kan ons mekaar ruimte gee vir verskillende belewinge van ons verhouding met Christus.
Laastens moet mens ook opmerk dat daar ongelukkig baie bedrog in die Naam van Christus plaasvind. En wanneer mens vermoed dat sekere gebeure nie eg is nie, geforseerd voorkom of opgeblaas word vir blote sensasie en vir mense se bevrediging, dan begin die gevaarligte aangaan. Mens moet dus ook voortdurend die “geeste ondersoek” en onderskei of dit eg is.
Saamgevat: die verskillende maniere waarop kerke hulle eredienste inrig, lê ingebed in die tradisies waaruit daardie kerke kom. Elkeen kan aanspraak maak op egtheid en op Bybelse begronding. Maar elkeen moet ook voortdurend selfondersoek instel of dit wat by hulle gebeur werklik tot eer van die Here is, en of dit bloot menseverheerliking is. Dit is waarskynlik beter dat daar in elke erediens ‘n gesonde mengsel is van lering uit die Woord én belewing van die verhouding met God, deur gebed, sang, simboliese handelinge en selfs “bonatuurlike” gebeure, as dit binne daardie kerk se tradisie val. Solank mens net besef dat “bonatuurlik” nie net in bepaalde opspraakwekkende gebeure manifesteer nie, maar ook voorkom wanneer die Gees stilweg sy oortuigingswerk in ‘n mens se hart doen.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl