Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(3) – JP Louw

Verblyf

Behalwe verblyf in ‘n herberg het mense ook op ander maniere as reisiger verblyf gevind. Die normale manier was om eers by die stadspoort te bly en te wag totdat jy genooi word om in te kom -dikwels deur iemand wat aan jou verblyf gee (Genesis 19:1-2, 24:25 en 31, Rigters 19:4 en 15). Wanneer ‘n persoon ingenooi is om by ‘n huis te oornag, moet ons nie bloot dink aan ‘n aparte gastekamer nie. Gewoonlik het ‘n gas saam met ander lede van die familie ‘n slaapplek gedeel. Die huise was immers maar meestal een vertrek groot met soms ‘n dak waarop ook geslaap is (1 Samuel 9:26). In die geval van ‘n tent het die reisiger saam met die mans by die ingang van die tent geslaap. Die vroue het in die agterdeel van die tent geslaap.

In later tye toe sommige huise groter begin word het, was dit wel moontlik dat ‘n kamer vir gaste afgesonder is. Elisa se situasie (2 Konings 4:8-10) was uitsonderlik deurdat die familie vir horn ‘n spesiale vertrek op die dak gebou het as gaste­kamer.

 

Etes

Om kos te voorsien was ‘n belangrike deel van gasvryheid. In die eentonige en redelik arm lewe van destyds was saam eet ‘n feesgeleentheid wat bietjie vrolikheid gebring het. Selfs al kom ‘n gas teen middernag aan, moes daar eers kos voorgesit word (Lukas 11:5). ‘n Maaltyd was teken van vriendskap en vrede tussen mense (Genesis 26:26-30, Lukas 24:29). In Genesis 24:33 praat Abraham se slaaf eers die saak uit voordat hulle eet en in Genesis 31:51-54 nooi Jakob die mense om te eet na ‘n ooreenkoms. Na Jesus se opstanding verskyn Hy aan sy dissipels en eet saam met hulle (Johannes 21:10-13).

Godsdienstige feeste was groot sosiale geleent­hede. By offerande is dele van die dier, veral die vet en ander dele, verbrand, maar groot dele is daarna deur die feesgangers geëet as teken van hulle deel­name aan die feesmaal van die Here (Deuteronomi­um 12:6-7). Wanneer Israel as volk saamgekom het en groot getalle diere geoffer is, het dit nie beteken dat alles verbrand is nie. Die eet was deel van die offer.

Soos reeds terloops gesê, is gaste by ‘n ete ook met verskeie hoflikheidsgebare vereer. Meer moet hieroor gesê word. Wanneer die gas aankom was daar by die deur ‘n slaaf, of die gasheer self, wat die voete van die gaste gewas het. Die sandale wat algemeen, gedra is en die droë, stowwerige klimaat het die voete, wat soms ver oor grondpaaie geloop redelik vuil gemaak. As die voete gewas is, het die gas ook sommer beter gevoel (Genesis 18:4-5). Soms egter is net die water voorsien, en die gaste het self gewas (Genesis 19:2, 24:32). Die was van voete het ook deelgenootskap gesimboliseer. So het Jesus sy dissipels se voete gewas (Johannes 13:3-4).

ete

By ‘n ete is veral ‘n bietjie reukolie op die gas se hoof gevryf om ‘n aangename reuk te gee, baie soos mense vandag ‘n blom aan iemand sou vassteek as eerbetoon. In die ou Afrikaanse vertaling van Psalm 23:5 lees ons “U maak my hoof vet met olie” wat na hierdie gebruik verwys, en omdat dit nie begryplik is vir mense van ons tyd nie het die nuwe vertaling dit weergegee met “U ontvang my soos ‘n eregas”.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(2) – JP Louw

Die groet

Om mense te groet het nie baie oor die eeue heen verander nie, behalwe in detail. Daar was veral drie tipe begroetinge in gebruik wat bepaal is deur die aard van die geleentheid. Die mees algemene groet was verbaal met geen fisiese kontak nie. Gewoonlik is die woorde “vrede vir jou” gebruik soos in Lukas 24:36 en Johannes 20:21 toe Jesus aan sy dissipels verskyn het. Hierdie groet is gebruik wanneer mense ietwat formeel groet of wanneer ‘n groep mense gegroet word. So ook die woorde “mag die Here met jou wees” (Rut 2:4) of “die Here seen jou” of “die Here sal jou genadig wees” (Genesis 43:29) of “gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit” (1 Samuel 25:6). Of ook net “wees gegroet” (Matteus 26:49, Lukas 1:28). Konings is soms gegroet met “mag die koning ewig lewe” (Nehemia 2:3).

Dikwels is ‘n persoon fisies gegroet met ‘n soen, of deur hom te omhels en te soen. Die manier van soen het egter meer as een vorm gehad. ‘n Soen op die mond het eintlik net tussen verliefdes gebeur. Die soen was op die wang, of deur die mond op die wang te druk of deur wang teen wang te druk ­dikwels herhaal op elke wang. Vandag nog is dit algemeen in die Midde-Ooste. In Romeine 16:16 se Paulus “groet mekaar met ‘n soen van Christe­like broederskap”. Hierdie groet is informeel en spreek van groter geneentheid. So het Samuel vir Saul gesoen (1 Samuel 10:1) toe hy hom as koning gesalf het. Simon die Fariseër het Jesus eintlik beledig toe hy hom in sy huis ontvang het maar nie gesoen het nie (Lukas 7:45). In hierdie gedeelte het ons ‘n meer intieme geleentheid met ‘n maaltyd saam en dan was nie net ‘n soen belangrik nie, maar ook moes die gas se voete afgespoel word wat natuurlik stowwerig was van die loop met sandale soos destyds op grondpaaie (Lukas 7:44). Verder moes ‘n bietjie reukolie ook op die hoof gevryf word (Lukas 7:46). ‘n Soen dui op vereenselwiging, agting, geneentheid en waardering. Daarom vra Jesus vir Judas (Lukas 22:48) “verraai jy die Seun van die mens met ‘n soen?”

‘n Derde manier van groet was baie formeel en is meestal net in besondere omstandighede gebruik. Abraham sien drie vreemde mans staan, gaan na hulle, buig voor hulle neer as groetgebaar (Genesis 18:2) en nooi hulle in sy huis in. In Genesis 23:12 buig Abraham voor die volksleiers. Nog meer eerbiedig is die neerval voor iemand (Matteus 18:26) wat veral by smekinge gebruik is. Al was dit ‘n daad van soebat, het dit ook die funksie van ‘n groet gedien. Hierby moet duidelik onderskei word die neerval voor God in aanbidding (Openbaring 19:10): op die knieë of plat op die maag uitgestrek. Hoewel die handeling ook as groet gebruik is, kan dit maklik verkeerd verstaan word as aanbidding. Wanneer Kornelius in Handelinge 10:25 voor Petrus neerbuig op sy knieë, is Petrus gou om te verhoed dat dit in aanbiddingsverering oorgaan en sê hy “staan op, ek is ook maar ‘n mens’. In Openbaring 3:9 is die kniel ‘n handeling van groot respek. Dit is net wanneer voor God gekniel word dat dit as aanbidding gedoen is (Jesaja 45:23, Romeine 14:11, Filippense 2:10-11).

Die groet het dikwels, veral wanneer mense mekaar langs die pad ontmoet het, heelwat tyd geneem want dit het ook nog ‘n gesels oor herkoms en welstand ingesluit. Reeds hierbo toe reise behan­del is, het ons gesien dat wanneer daar haas was, opdrag gegee is om niemand op die pad te groet nie.

Om iemand water te vra, was soms ook ‘n manier van groet en om daarmee saam ‘n gesprek aan te knoop. In Genesis 24:17 vra Abraham se slaaf vir Rebekka om hom water te gee en knoop so ‘n geselsie met haar am. Die Samaritaanse vrou in Johannes 4:9 is verbaas dat Jesus vir haar water vra aangesien Jode destyds nie met Samaritane gemeng het nie.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(1) – JP Louw

Om mense te ontvang, voedsel en verblyf te gee, was ‘n belangrike sosiale gebruik. Gasvryheid is in sowel die Ou as Nuwe Testamentiese tyd hoog geag. Die nomadiese wyse van leef, waar almal maar swerwers was soos in die vroegste Bybeltye, het sekerlik bygedra tot ‘n wedersydse gevoel vir mekaar. Nomadiese mense is goed bewus van die hardheid van ‘n dorre wêreld waar kos en water skaars is. Dit is merkwaardig dat in die geskiedenis van die mensheid rykdom en oorvloed gasvryheid gedemp het, maar dat wanneer mense min het hulle meer bewus is van ander se nood. In Romeine 12:20 skryf Paulus selfs “as jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as by dors is, gee hom iets om te drink.”

As iemand in die huis of tent van ‘n ander ‘n gas is, aanvaar die eienaar alle verantwoordelikheid (Genesis 19:2-8). Psalm 23:5 vertel dan ook van die hartlikheid waarmee ‘n eregas ontvang is. Hierdie deug is gewortel in God se troue sorg en liefde en het nog altyddeur by Christene ‘n belangrike kenmerk gebly. In die wette van Moses is baie bepalings ingebou om die vreemdeling te beskerm (Eksodus 22:21, Deuteronomium 10:18, 19; 14:29). Job 31:16-17 en Jesaja 58:7 wys hoe be­langrik dit beskou was om voedsel met ander te deel. In Deuteronomium 23:4 word die Ammoniete en Moabiete geban uit die gemeente van die Here omdat hulle kos en water geweier het toe Israel uit Egipte by hulle verby getrek het.

Die Jode het in gedagte gehou dat Abraham (Genesis 18:2-13) vreemdelinge ontvang het wat eintlik engele was. Ook Gideon (Rigters 6:11-23) het nie besef dat die vreemde man wat met hom gepraat het ‘n engel was nie. Daarom sê Hebreërs 13:2 “moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” Hierdie gedagtegang het by Christene voortgeleef in die raaksien van ‘n ander, veral as daar nood is, as iemand wat deur die Here op jou pad gebring is om iets aan die saak te doen.

Om ‘n maaltyd aan ander voor te sit was ‘n belangrike saak. Groot besluite en weldade was dikwels deel van ‘n maaltyd. In Sefanja 1:7 sit die Here self ‘n maaltyd voor. So ook in Psalm 23:5. In die gelykenis in Matteus 22:2-14 waarin Jesus praat oor die Koninkryk van God verduidelik Hy dit as ‘n maaltyd wat ‘n koning as bruilofsfees vir sy seun gee. Om by iemand te eet was dus ‘n groot saak, ‘n belangrike manier om eer aan iemand te betoon, en om baie nou met iemand te assosieer, om te se “ek is jou vriend” of “ons is ‘n broederskap”. Die nagmaal wat Christene vier is deels om die dood van die Here te gedenk, maar ook om jou ten volle met Hom te assosieer.

As gasvryheid geweier was, het dit sterk reaksie meegebring. In Matteus 10:14-15 word gesê dat selfs die stof van jou voete as oordeel teen so een afgeskud moet word. In Galasiërs 6:10 en 1 Petrus 4:9 word Christene vermaan om gasvry te wees.

In die verkondiging van die Evangelie het gasvryheid ‘n groot rol gespeel, want die eerste predikers het geen inkomste gehad nie en was geheel afhanklik van gasvryheid. 3 Johannes 5-8 sê dan ook dat dit die plig was van ander gelowiges om die predikers te versorg. Om te verhoed dat gasvry­heid misbruik is, het sekere voorskrifte gegeld. In een van die ou leerboeke van die vroeë kerk, die Didache (Leerstuk) van die Apostels, lees ons in hfst 11 dat as ‘n reisende prediker kom, moet by gasvry behandel word. Hy mag ‘n hele dag bly, en selfs ‘n tweede as dit nodig is; maar nie ‘n derde dag nie. Hy mag ook by vertrek niks anders as brood vir die reis van een enkele dag as padkos ontvang nie. Petrus se verblyf by Simon die leerlooier in Joppe, waarvan Handelinge 9:43 sê dat by geruime tyd gebly het, sou na alle waarskynlikheid ingehou het dat Petrus nie net bloot as gas vertoef het nie, maar ook dalk vir Simon gehelp het. Joppe was aan die see geleë en Petrus kon dalk nog deels vis gevang het.

Van die woorde in die Nuwe Testament wat gewoonlik met “gasvryheid” vertaal word, het ‘’n hele paar die element van ‘n “vreemdeling” as deel van die betekenis, byvoorbeeld om ‘n vreemdeling te ontvang, liefde aan ‘n vreemdeling te bewys, om ‘n vriend vir ‘n vreemdeling te wees, ens. In 1 Timoteus 3:2 en Titus 1:8 word van ‘n leier in die gemeente vereis om gasvry te wees.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Hoe verander ’n mens wat in ’n verhouding met God staan? – Francois Malan

Willie vra:

2 Petrus 1-
1. VERS 3-God het my alles gegee wat ek nodig het om te lewe en om Hom te dien – of Sy Godelike krag het ons alles laat kry om naby aan Hom te lewe
2. VERS 5 – Julle moet alles in julle vermoë doen om te wys dat die beloftes vir julle waar geword het .( Beloftes waarna in vers 4 verwys word .)
3. Vers 5 b – Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is
4. Dan , 1) Goeie leefstyl ek 2) Leer God beter ken- 3) myself dissiplineer – 4) kan uithou en aanhou-5) lewe naby aan God
5. VERS 9 – mense wie se lewens nie wys dat God se beloftes in hulel waar geword het nie is blind, kortsigtig.
6. Vers 10- Werk nog harder daaraan om met my leefstyl te bewys dat God my geroep/gekies het

Vraag 1- ek wil gaag verstaan wat God my gegee het om naby aan Hom te lewe.
Die verlange om naby aan Hom te wees is daar . Die begeerte om gehoorsaam te wees is daar.Ek doen moeite met my stiltetyd . Ek sukkel kwaai met die volgende ;
Ø Ek is baie oplvlieënd
Ø Ek het n kort humeur
Ø Ek kom as ongeskik oor
Ø Ek sukkel verskriklik as iets verkeerd gaan – bv, as ek n fout by die werk maak – ek moet bysê die genade is maar min en foute veroorsaak ‘n groot lawaai. Soms as iets breek by die huis – ek is ook geneig om myself vir dae aaneen oor die kop te slaan en somtyds is dit of my hele wêreld in duie stort
Ø Die voorbeelde wat ek hierbo noem is deel van hoe ek is , nog al my lewe lank – maar alles , ook my verhouding met God is ‘n integrale deel van my totaliteit- ek kan dus nie die twee in twee afsonderlike kompartemente deel nie
Vraag 2 – Hoekom kry ek dit nie reg om bogenoemde punte , wat my lewe so vergal , onder beheer te kry nie?Hoekom verander ek as mens dan nie? Dit is aspekte wat van my ‘n ongelukkige mens maak . Dan voel dit vir my Fil 4:4 is ook nie heeltemal deel van my lewe nie en dan raak die vrede waarna Fil 4:7 verwys ook vir my n vreemde begrip. Om weer terug te gaan na Petrus se 2e brief , vers 3-10- volgens die kommentaar in die Bybellenium word n mens juis minder oplvlieend. Hoe word vers 5 en vers 10 waar in my lewe?
Sal U my asseblief help om die beter te verstaan want ek smag daarna om n beter , meer intieme verhouding met God te hê , waar ek baie meer gehoorsaam is aan Sy wil . Tans voel dit vir my ek stel Hom net teleur .( vir 60 jaar al )

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die kreet het eintlik ‘n pastorale berader nodig wat geraadpleeg moet word. By die webwerf antwoord ons oor Bybelkennis. Dit probeer ek hieronder oor wat die Bybel oor geduld sê, maar ek sou Willie aanraai om meer gespesialiseerde hulp te kry.

Die verhouding met God is ‘n geloofsverhouding, om Hom te vertrou, dat Hy steeds met my besig is om my te vorm vir sy diens, en op sy tyd. Dit gaan nie oor my gevoelens van intimiteit met Hom nie. Geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van die dinge wat nie gesien of gevoel word nie (Hebr 11:1).

Die Bybel is vol oproepe om te wag op die Here (die 1983-vertaling vertaal gewoonlik die ‘wag’ met ‘vertrou’) vgl. bv. die hele Ps 27, veral vers 14; Ps 37 en veral vers 34; Ps 130 veral verse 5-7).

Geduld is een aspek van die vrug van die werking van die Heilige Gees in ons lewe (vgl. die nege aspekte van die vrug van die Gees in Gal. 5:22-23). Die Griekse woord vir geduld, makrothumia, beskryf ‘n toestand van emosionele kalmte te midde van provokasie/uittarting of ongeluk, om onder omstandighede kalm te bly sonder om te kla of geïrriteerd te word.

Ons word gewoonlik kwaad as ons, of iemand na aan ons, te na gekom word volgens ons oordeel. In Romeine 12:19-20 sê Paulus: Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van die Here. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.

Die oorgee aan die Here in sulke omstandighede, is so belangrik. Dat ek nie self my, en ander, se sake wil reël en regstel nie, maar dit aan die Here oorlaat en my daarin berus dat Hy sal sorg, en dat Hy daarmee ‘n plan het, ook vir my lewe. Dit geld vir elke oomblik van die dag. In Jesaja 30:15 sê die Heilige van Israel: Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Die woord ‘heilig’ het ook die element van toewyding. Die Heilige van Israel beteken dat die Here aan Israel as sy volk toegewy is, ten spyte van hulle swakhede en sonde. So sê Romeine 8:31: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Romeine 8 sê verder dat ons deur Hom wat ons liefhet, meer as oorwinnaars is in lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard. Want niks kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie (8:35-39).

As God ons dan só lief het, in ons kom woon het met sy Heilige Gees van die liefde (8:9-11) waarom sal ons dan kwaad word oor dinge en mense?

Kolossense 3:8 sê: Maar nou moet julle ook van al hierdie dinge ontslae raak: toorn, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom.

Kol 3:12-15 sê: omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigeen ‘n klagte teen enigiemand het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Bo en behalwe al hierdie dinge moet julle julle beklee met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer…’

Soos ‘n ou stuk klere wat jy uittrek en weggooi, so moet ons bewustelik ons elke dag daarop toe te lê om op te hou om kwaad te word, selfs op pad nie kwaad word vir die ander motoris wat ‘n verkeerde ding doen nie, of vir iemand by die werk of by die huis wat my te na kom nie.

Dit kan ons slegs regkry as ons elke oomblik van die dag ons daarop toelê om vriendelik en goed, nederig, sagmoedig en geduldig te wees teenoor almal.

Oor die nederigheid sê Filippense 2:3-4: Moenie iets uit selfsug of ydelheid doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van ander. En dan gaan Filippense voort om te sê dat ons dieselfde gesindheid onder mekaar moet openbaar as wat in Chirstus Jesus was, wat Homself en sy goddelike gestalte prysgegee het en aan ons mense gelyk geword het en Homself verneder het tot die dood aan die kruis toe – ter wille van ons!

Laat die vrede van Christus (wat Hy vir ons bewerk het deur ons verhouding met God reg te maak toe Hy al ons sonde en sondeskuld op Hom geneem het) in julle harte regeer – die hart as simbool vir die sentrum van ons beslissings. Die vrede met God beteken ook dat ons in vrede met mekaar lewe as kinders van God se groot gesin van gelowiges. En die vrede begin by my wat die ander persoon vergewe en verdra (Kol 3:13.15).

Kom tot stilstand, wees stil, laat die vrede van Christus deur jou vloei na ander, en vertrou op God.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan