Jok Lukas of Paulus? – Kobus Kok

Die teenstelling in Handelinge 9:7 en Handelinge 22:9

Dit is vir my so lekker om te sien dat mense die Bybel so fyn lees. Dit beteken iemand het met hulle hele hart en met passie die Bybel gelees en op ʼn baie interessante teenstelling afgekom wat 90% van ander mense nooit eers gesien of oor gedink het nie. Kom ons begin eers om so bietjie meer te vertel van die skrywer van Handelinge. Daar is verskillende perspektiewe, maar die meeste mense dink dat dit dieselfde skrywer was wat Lukas geskryf het. Daar is op baie vlakke ʼn onderlinge verband tussen Lukas en Handelinge. Dit veronderstel ook die moontlikheid dat dit geskryf is deur iemand wat baie nou aan Paulus gekoppel was en wat self betrokke kon gewees het by die sendingreise van Paulus (vgl. Die “ons” uitsprake” Sien Hand 16:10–17; 20:5–15; 21:1–18; 27:1–28). Baie geleerdes is van mening dat dit ʼn lang tyd ná die dood van Paulus op skrif gestel is.

Die gedeeltes wat ons gaan bestudeer handel oor die bekering van Paulus op die pad na Damaskus. Dit vertel van die dag toe Paulus se ganse lewe tot stilstand geruk is en God deur Sy Gees Paulus se lewe kom aanraak het. Dit kom egter voor asof die verhaal op belangrike punte kontrasterende informasie bied.

Daar is ooglopend, indien mens fyn kyk, ʼn verskil of selfs teenstelling in die bewoording in Handelinge 9:7 en Handelinge 22:9. Kom ons kyk in detail wat die verskille is:

kobusartikel

 

In Handelinge 9:7 vertel die skrywer van Lukas oor die gebeure in die derde persoon. In Handelinge 22:9 plaas die skrywer van Lukas woorde in die mond van Paulus self, of rappoerteer die woorde wat Paulus gespreek het.

In die oorspronklike Grieks is daar duidelike verskille in die woorde wat gebruik word. In Handelinge 9:7 word die woorde ἀκούοντες μὲν τῆς φωνῆς (akoe-ontes [horende] men tes fonês [die stem]) teegekom. In Handelinge 22:9 vind ons die woorde οὐκ ἤκουσαν τοῦ λαλοῦντός μοι (ouk [nie] ekoesan (hulle het gehoor] toe laoentos moi [die een wat pratende was met my]). Die woorde ἀκούοντες (akoe-ontes [horende] en οὐκ ἤκουσαν (ouk ekoesan [nie gehoor]) is ‘n duidelike kontradiksie of teenstelling.

Tog moet mens vra wat die onderliggende betekenis is wat die skrywer van Lukas wil kommunikeer. Lukas het tog die hele boek geskryf en sou mos baie goed geweet het indien hy so ‘n skynbare teenstelling gemaak het. Inteendeel, die Bybel is keer op keer deur die eerste paar eeue oorgeskryf deur verskillende mense en selfs hulle het nie probeer om die teks te korrigeer nie. Ons het baie voorbeelde in die Bybel waar latere scribes probeer het om foute te korrigeer. Vir die antieke mense was hierdie skynbare teenstelling nie ‘n teenstelling nie. Die rede daarvoor was dat hulle almal geweet het wat Lukas wou kommunikeer, naamlik dat die mense wat rondom Paulus gestaan het nie verstaan of begryp het wat gesê word nie. Ons sal vandag nog in ons eie spreektaal sê dat iemand my gehoor het maar dat iemand my nie verstaan het nie. Ons sal ook vir iemand sê dat hulle na ons moet “luister” as ons praat. Hulle “hoor” ons dus, maar hulle “begryp” of verstaan ons nie. Dus, die skynbare teenstelling kan opgelos word indien ons die woorde “hoor”, “begryp”, “verstaan” en “luister” meer genuanseerd gebruik. Die punt wat die skrywer van Lukas wil maak dat die mense wat daar was dalk die lig “gesien” het en die stem “gehoor” het, maar dat niemand van hulle dit “begryp” het nie. Alleen Paulus het geweet wat daar gebeur het, want Paulus het ‘n besondere Openbaring gehad. Almal wat daar teenwoordig was, sou getuig van die feit dat daar wel “iets” gebeur het, maar self het hulle nie presies besef wat aan die gang was nie. Hulle het wel almal besef dat God daar ingegryp het.

Dus, Paulus en/of Lukas het nie gejok nie. Hulle het almal dieselfde punt gekommunikeer.

Juis om hierdie rede is dit vir ons as ernstige Bybellesers wat erns maak met ons Bybelkennis om verskillende vertalings te raadpleeg en ook om te sien hoe die verskillende vertalings met moeilike interpretatiewe sake soos hierdie omgegaan het. Een van die vertalings het die probleem probeer oplos deur nie die Grieks letterlik te vertaal nie maar die saak aan die hand mooi uit te druk:

Die New International Version (1983) het dit soos volg vertaal:

“My companions saw the light, but they did not understand the voice of him who was speaking to me.”

Myns insiens het die vertalers die skynbare kontras tussen die twee vertalings mooi opgelos. Doen gerus jouself ‘n guns en vergelyk verskillende vertalings om te sien hoe hulle die probleem opgelos het. En aan u wat die teks so fyn gelees het: “Doe zo voort..!”

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Die Openbaring aan Johannes – Die Nuwe Jerusalem word beskryf (21:18-27) – Francois Malan

21:18-21 Johannes bespreek die materiaal waarvan die stad gebou is in besonderhede. Die bruid se uiterlike versierings reflekteer haar innerlike karakter, nl. die gelowiges se regverdige dade (19:8). So vertoon die stad, die Lam se bruid ‘n ryke suiwer en rein oorvloed, as embleme van haar suiwer geloof in die Lam en reine morele lewe, wat positief gestel word teenoor die negatiewe in 21:1,4. Die positiewe materiaal is ‘n verskeidenheid van edelstene, pêrels en goud; die negatiewe is al die onsuiwerhede wat nie in die nuwe Jerusalem te vind is nie. Die hele lys word omsluit deur die woorde ‘suiwer,’ ‘rein,’ ‘deurskynende kristal’ in 21:18 en 21 wat die nuwe Jerusalem se onbevlekte aard beskryf – soos van ‘n bruid vir haar man (21:2; vgl. ook die beskrywings van die drag van die leërs van die hemel, in 19:14). Die geweldige ryk stad met sy skoon strate vertoon sy kwaliteit, in elke opsig suiwer, rein, deursigtig: moreel, geestelik en ideologies – so totaal anders as die ou aarde se Babilon. (17:2-6).

Die 12 edelstene wat die fondamente van die stad versier, herinner aan die 12 steentjies in die borssak van die hoëpriester se kleed, waarop die name van die 12 stamme gegraveer was (Eks 28:17-20; 39:10-13). Die getal 12 simboliseer die volheid van God se plan met die bruid se versierings – daar skort niks nie en niks hoef nog bygevoeg te word nie. Saam met die perfekte afmetings van die stad is die bruid perfek versier met elke soort kosbare steen.

Die 12 poorte, wat Jesus se 12 apostels en hulle boodskap simboliseer, is elk van ‘n enkele edelsteen gemaak. Dit rym met reuse fondamente, wat soos die 12 stamme van Israel op die hoëpriester se borssak, die ou verbond simboliseer. Daarmee word alle gelowiges van die ou en die nuwe verbond aangedui. Die strate is van suiwer goud soos die stad self (21:18).

Die prosituut is versier met goud en kosbare stene wat nooit as suiwer of rein beskryf is nie (17:4). Beide stede se versierings verteenwoordig hulle karakter: Babel se korrupte waardes, norms en gelowe van ‘n onderdrukkende sisteem van oorheersing; die nuwe Jerusalem se reine geloof en norms en waardes van ‘n skepping wat gered en verlos is deur die bloed van die Lam (vgl. Jes 54:11-14).

21:22-22:5 ‘n Toer deur die stad beskryf haar unieke karakter.

21:22 Ook hier is ‘n negatiewe verslag: daar is geen tempel wat die simbool van die teenwoordigheid van God in die wêreld was. Die hele stad is egter heilige gebied want die Here God, die Almagtige, en die Lam is self teenwoordig in die nuwe hemel op die nuwe aarde en in die stad, die bruid van die Lam. Die skeiding tussen God en sy volk op die ou aarde is weg. Die godheid is hier nie bemiddel deur ‘n geboue-kompleks nie, maar Hy is direk aktief teenwoordig vir al sy inwoners. Met God en die Lam volmaak teenwoordig is ‘n tempel nie meer nodig nie (vgl. Jesus se liggaam wat die tempel vervang in Joh 2:19-22). Die Lam het sy plek op die troon langs God ingeneem.

21:23-24 ‘n Negatiewe stelling beskryf ook hier die ontoereikendheid van die ou skepping en die nuutheid van die nuwe skepping. Saam met al die vorms van vervreemding is duisternis ook verban uit die nuwe skepping (vgl. Gen 1:2). Die ou aarde se ligte, son en maan, is dinge van die verlede wat onnodig geword het, want die goddelike teenwoordigheid is die enigste lig wat nodig is vir hierdie skepping. God en die Lam is nie slegs die tempel van die nuwe skepping nie, maar ook die bron van die beligting van die ewige stad. Die skynende heerlikheid van God het haar verlig en haar lamp is die Lam (vgl. Jn 1:4-5; Jes 60:19-20).

Die ontelbare skare uit die nasies, wat die Lam losgekoop het met sy bloed (5:9; 7:9), leef in die lig van die skynende heerlikheid van God in die nuwe Jerusalem, en die konings van 5:10 wat deur God as priesters aangestel is om oor die aarde te heers, sal hulle heerlikheid na die stad toe bring (Jes 55:9; 60:1,3; vir sy volgelinge het Jesus al gesê: Julle is die lig vir die wêreld…om ons Vader te verheerlik, Mt 5:14,16).

21:25-26 Die stadspoorte sal ook nie bedags gesluit word nie, as simbool dat daar geen boosheid is wat die stad en sy inwoners bedreig nie; die nag is uitgewis, dit is altyd dag. Deurentyd staan die poorte oop vir nasies wat hulle heerlikheid en eer na die nuwe stad toe bring (Jes 60:11), as teenpool van die nasies en die konings van die ou bedeling wat na Babilon toe gestroom het (Openb 18:3).

21:27 Met nog ‘n negatief word duidelik gestel dat niks wat besoedel is (met die afskuwelikhede van Babilon, 17:5) ooit toegang tot die nuwe Jerusalem sal verkry nie. Die onrein dinge word verder verduidelik as gruwelik en vals, albei karaktertrekke van Babilon en die dier (17:4-5; 19:20).    Die uitsondering wat wel tot die stad toegelaat word, is hulle wie se name in die boekrol van die lewe van die Lam opgeskryf is.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die nuwe Jerusalem is die bruid, die vrou van die Lam (21:9-22:5) – Francois Malan

21:9-11 Een van die sewe engele van 15:1 met die laaste plae (7 bakke) wat die einde van God se toorn kom aankondig, het Johannes deur die Gees vergesél na ‘n groot en hoë berg se uitsig op die neerdalende heilige stad Jerusalem, om die versierings van die bruid te sien (vgl. die berg Sinai met Moses by God, Eks 19:3; 34:4,5; berg Nebo vanwaar Moses die hele Kanaän gesien het, Deutr 34:1; Eseg 40:1 vanwaar Esegiël afgekyk het na Jerusalem).

Die versierings van die bruid Jerusalem is die teenpool van die prostituut Babilon se uiterlike versierings om mense daarmee te verlei en na haar toe te trek. Die bruid word die vrou van die Lam genoem (Jes 54:5-6), wat Hy deur sy selfopofferende liefdesoffer na Hom toe trek (Jn 12:32-33; Openb 1:5: aan Hom wat ons liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het…kom die heerlikheid toe vir ewig; 3:9 ongelowige Jode sal erken dat Ek, die Seun van die mens, jou liefhet). Sy vrou word deur Hom beklee met sy liefde (Jes 61:10 soos ‘n bruid met haar juwele). Die vrou Jerusalem was vol van die heerlikheid van God wat daarin kom woon het. Sy heerlikheid het deur haar na buite gestraal met ‘n glans wat net soos dié van ‘n baie kosbare edelsteen gelyk het, soos kristalhelder jaspis (diamant). So is ook die Een op die troon in 4:3 beskryf. Die liefde van die God van liefde, wat in die gelowiges kom woon het, straal deur hulle uit. Hulle het mekaar lief soos Jesus hulle liefgehad het (Jn 13:34).

Die vrou van die Lam, sy kerk, wie se name in God se boekrol opgeskryf is, vertoon die karaktertrekke van die Lam wat uit liefde vir ons geslag is, en die onderlinge liefde van gelowiges straal uit (Op 12:11 hulle wat die aanklaer oorwin het op grond van die bloed van die Lam…het nie hulle eie lewens liefgehad nie, selfs nie in die aangesig van die dood nie). Die nuwe Jerusalem, die nuwe hemel op die nuwe aarde, waarin die God van liefde woon, word gekenmerk deur die liefde (in 20:9 word sy die geliefde stad genoem, wat die Lam as sy bruid so liefgehad dat Hy vir haar gesterf het, en dié liefde werk nou in en deur hulle voort – volgens die voltooide deelwoord vir liefhê). Dit is die heerlikheid van God (vgl. Jn 1:14 sy heerlikheid is vol van sy onverdiende genade oor mense en van die waarheid oor God se liefde vir die wêreld, wat in sy Seun gestalte gekry het, Jn 3:16).

21:12-14 Die perfekte ekstragroot mure en poorte verskaf ‘n veilige plek vir sy inwoners, en sy reusagtige grootte verseker dat niemand uitgesluit word nie. Veelvoude van die goddelike getal 3 x die skepping se getal 4 = 12 dui op die volheid en insluiting van die nuwe skepping.

By die 12 poorte staan 12 engele wag om te keer dat enige onreinheid daar inkom, soos die gerubs wat die tuin van Eden bewaak (Gen 3:24). Op die poorte is die name van die 12 stamme van Israel geskryf om die gelowiges van die Ou-Testamentiese-bedeling te verteenwoordig (soos in Eseg 48:30-35), en op die 12 fondamente van die stadsmuur die name van die 12 apostels van die Lam wat die gelowiges van die Nuwe-Testamentiese-bedeling simboliseer – die kerk is gebou op die fondamente van die apostels (Ef 2:20, die eerste getuies oor Jesus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, Jn 1:29; vgl. ook 1 Kor 3:10-11). Met die 3 poorte aan elk van die 4 kante van die stad het reisigers gelyke toegang tot die stad uit al vier rigtings van die aarde, Oos, Noord, Suid, Wes,

21:15-17 In Openb 11:1 het Johannes ‘n gewone meetstok soos ‘n staf gekry om die tempel te meet om daarmee aan te dui dat die stad aan God behoort. Die spesiale nuwe Jerusalem word deur ‘n engel gemeet met ‘n spesiale goue meetstok om die stad van suiwer goud te meet (21:21). Die stad is ‘n volmaakte kubus met 12,000 stadia (ongeveer2,200 km) in lengte, breedte en hoogte, om haar volmaaktheid te simboliseer. Ook die muur is 12×12=144 el hoog wat die OT en NT-gelowiges aandui, en dat hulle aan God gewy is (Eseg 42:20; Jer 31:39-40). ‘n Volmaakte kubus-stad is simbool vir die ideale ewige verblyf van God met sy volk. Die afstande is nie van belang nie maar hulle is simboliese getalle wat die volledige getal van die gelowiges van God en die ewige volmaakte saamwees van God en sy volk simboliseer,.

(Vgl die kubieke mate van die allerheiligste waarin die ark van die verbond staan, 1 Kon 6:20; as afbeeldings van die hemelse dinge, Hebr 9:23,28; as skaduwees van die toekomstige dinge, Hebr 10:1,14, van ‘n volmaakte bruid vir die Lam, Hebr 10:14).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Vir ewig saam met God (21:5-8) – Francois Malan

In 21:5-8 is God self aan die woord (Hy wat op die troon sit):

21:5-7 God se aankondiging dat Hy alles nuut maak, word versterk met die finale uitspraak: Dit is gedoen/afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega (1:8; die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet), die Begin en die Einde (Jes 44:6; 48:12) – Hy is self die bron en sin van die lewe en die doel van alle bestaan. Johannes moet die woorde neerskryf vir elke tyd, ook vir ons tyd, om dit te lees en te weet dit is God se woorde en daarom getrou en waaragtig.

Aan die einde van hulle pelgrimstog na die nuwe beloofde land voorsien God presies waarna die volhardende reisigers smag: Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water, verniet (doorean ‘n vrye gawe; Openb 22:17; Jes 55:1; Jn 4:14: in die gelowige word dit ‘n fontein wat opborrel tot die ewige lewe). Die belofte aan dié wat volhard in hulle geloof en gehoorsaamheid aan Christus in die 7 gemeentes, word vervul

(2:7: hy sal eet van die boom van die lewe wat in God se paradys staan; 2:11 hy sal nie skade ly deur die tweede dood nie; 2:17 aan hom sal Ek van die verborge manna gee; 2:28 Ek sal aan hom die môrester gee – ‘n aandeel aan Christus se status as die blink môrester (22:16) wat die nuwe dag aankondig; 3:5 Ek sal sy naam nie uit die boekrol van die lewe skrap nie; 3:12 Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak wat nooit weer daar sal uitgaan nie; 3:21 sal Ek hom saam met my op my troon laat sit – alles beelde van die ewige lewe saam met God in die nuwe hemel op die nuwe aarde).

‘Water van die lewe’ wat God voorsien, gee lewe vir ewig, want Hy is die bron van alle lewe. ‘Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf’ – vir ewig as sy vrye erfporsie (Rom 8:17, ‘en Ek sal sy/haar God wees en hy/sy sal my seun/kind wees’ (soos in 2 Sam 7:14; Eseg 11:20; vgl. Lev 26:12; Sag 8:8).

21:8 Om die belofte van ewige geluk, saligheid, heil te beklemtoon word ‘n waarskuwing gegee aan dié wat nog huiwer en ’n kompromie met Babilon oorweeg. Dié wat kompromieë maak en nie die versoekings van die dier weerstaan nie, word uitgesluit uit die nuwe Jerusalem en vir ewig oorgelewer in die brandende poel van vuur en swawel – die lafhartiges wat swig voor die druk en geweld van die wêreld, ongelowiges wat nie die goeie nuus van Jesus Christus glo nie, losbandiges (perverte, veral seksuele perverte), moordenaars, onsedelikes/prostitute, towenaars, afgodedienaars, en alle leuenaars. Die sondes wat gelys word kom reeds voorheen voor, in 13:8 afgodsdienaars, 17:2 onsedelike gedrag, 17:6; 18:24 moordenaars, 18:3 losbandiges, 18:23 towenaars. Slegs die eerste twee van die sewe, lafhartiges en ongelowiges, is nie voorheen genoem nie, maar word hier bygevoeg om met die voltal 7, alle sonde te verteenwoordig, vgl. 21:27 niks wat besoedel is en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot die nuwe Jersalem kry nie, slegs diegene wat suiwer deur God se genade in sy boekrol van die lewe opgeteken is.

Skrywer: Prof Francois Malan