Die Openbaring aan Johannes – Die nuwe hemel en die nuwe aarde (21:1-4) – Francois Malan

Die ontknoping van die verhaal van Openbaring (21:1-22:5) is die veilige aankoms van die pelgrims in die nuwe beloofde land, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die skepping is herstel, orde is uit die chaos geskep en elke ding is op sy regte plek. Die karakters van vernietiging is in hulle regte plek, die poel van vuur, en dié wie se name in die boek van die lewe geskryf is, is in hulle regte plek, die Nuwe Jerusalem.

21:1-4 Johannes sien die nuwe hemel en die nuwe aarde wat die ou hemel en die ou aarde vervang, en die see wat skei bestaan nie meer nie. Die see is gesien as die oorsprong van die bose (12:18-13:1) – die oorsprong en blyplek van die bose het geen plek in die nuwe hemel en nuwe aarde nie. Die huidige aarde wat verkrag is, en beroof, en verskeur is, gevul met woede en vergelding, met seerkry en pyn, kan nie bly nie, en hoort ook nie voort te bestaan nie. Die aarde was die woonplek van die dier en sy makkers uit die see en uit die aarde (hoofstuk 13). Die ou aarde was die troon van Babilon, die groot prostituut (hoofstuk 18). Daarom moet die ou aarde weg.

Die nuwe skepping is anders as die eerste skepping. Johannes gebruik telkens die woord kainos ‘nuut,’ iets wat nog nie tevore bekend was nie, en die kwaliteit van die nuwe aandui (2:17 ‘n nuwe naam; 3:12 ‘n nuwe Jerusalem en ‘n nuwe naam; 5:9 en 14:3 ‘n nuwe lied; 21:1’n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde; 21:2 die nuwe Jerusalem; 21:5 Ek maak alles nuut).

Die andersheid van die nuwe word in negatiewe terme beskryf deur te noem wat nie meer deel is van die nuwe aarde nie: die see (21:1), die opgaarplek van boosheid en chaos (13:1; vgl. 11:7); dood bestaan nie meer nie, ook nie rou of gehuil of pyn nie (21:4; vgl. Jes 25:8; 65:19); niks wat vervloek is nie (22:3); nag, lamplig, die son bestaan nie meer nie (22:5,23); die beperkings van die ou skepping is verwyder want die eerste dinge het verbygegaan (21:4).

Die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde begin reeds in Jesaja 65:17-19 (vgl. Jes 2:1-5; 18:7; 59:20), met sy profesie oor die terugkeer van die ballinge uit Babel na ‘n nuwe Jerusalem, wat hier in Openbaring sy finale vervulling kry in die kerk van Jesus Christus as die nuwe Jerusalem, wat gereedgemaak is soos ‘n bruid vir die Lam, en waar God self by sy volke sal woon. Die nuwe hemel en die nuwe aarde word een in die nuwe Jerusalem waar God en sy dienaars woon. Die nuwe Jerusalem is ‘n simbool vir God en sy mense se ewige woning, maar die stad van God is ook ‘n simbool vir die gelowiges as volk van God, burgers van God se koninkryk waarin die God van liefde alleen regeer soos ‘n goeie herder.

Johannes sien die oorsprong van die nuwe skepping: dit daal neer ‘van God af uit die hemel’ (vgl. 3:12). Dit is ‘n gawe wat van God kom. Johannes beklemtoon dit deur dit tweemaal van die nuwe Jerusalem te skryf (21:2,10). Dit is in kontras met Babilon wat hemelwaarts reik op ‘sewe berge’ (17:9). Die nuwe Jersalem daal neer op ‘n groot en hoë berg (21:10; Jes 2:2-3 die berg van die Here; Eseg 40:1-2 in ‘n visioen word Esegiël op ‘n baie hoë berg neergesit waar die nuwe tempelkompleks staan in die glorie van die onverdiende genade van die magtige teenwoordigheid van die Here (Eseg 43:7,12) om Israel skaam te maak oor hulle oortredings (Eseg 43:10); Miga 4:1-2 gebruik die simbool van die hoë berg van die Here wat seën bring vir al die nasies. Die nuwe hemel en nuwe aarde wat God geskep het en uit die hemel neerdaal as die woonplek van God beteken dat die skeiding tussen hemel en aarde en God en mens verdwyn, om plek te maak vir een wêreld waar God saam met sy dienaars lewe, en hulle almal as volgelinge van die Lam saam lewe in die selfopofferende liefde van die Lam.

Johannes hoor toe ‘n harde stem van die troon (van God en die Lam) af, wat die neerdaling van die nuwe hemel en die nuwe aarde wat hy gesien het verklaar, soos dit wat hy sien telkens verklaar word met wat hy hoor. Driemaal word gesê: by die mense, by hulle, by hulle (21:3):

Kyk, God se woonplek (letterlik: sy skene, tent, tabernakel) is by die mense – soos met die uittog

Hy sal by hulle woon (letterlik: skenoosei Hy sal tentopslaan) – dieselfde woord as in Jn 1:14 ‘die Woord het mens geword en onder ons kom woon (tentopslaan).’

hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.

Die verbond wat God by Sinai gesluit het, word nou vervul: Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees (Lev 26:11-12; Jer 31:33; Eseg 37:27). Met die koms van Jesus as Immanuel, God by ons, is dit reeds vervul, en met die Heilige Gees wat in ons kom woon, word dit uitgewerk. Maar die verhouding tussen God en sy volgelinge, wat nou reeds bestaan en geglo word, en iets daarvan beleef word, sal in die ewigheid gesien en ten volle uitgeleef word soos God wil (vgl. 1 Kor 15:28 God sal alles in almal wees).

Daar sal geen trane meer wees nie (7:17; Jes 25:8) – geen leed, smart of pyn meer nie

Die dood sal nie meer daar wees nie – dood, die oorsaak van al die leed, het met die sonde van die mens begin (Gn 2:17).

Want, die eerste dinge het verbygegaan – alles wat herinner aan die ou hemel en die ou aarde.

Skrywer:  Prof Francois Mlan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die laaste oordeel (20:11-15) – Francois Malan

Die laaste oordeel word baie kort beskryf (bv. in vergelyking met Matteus 24-25), maar die finaliteit daarvan word beklemtoon. Alle boosheid word beëindig, alle opstand teen God uit die weg geruim, en die pad skoongemaak vir die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die laaste gedeelte van die boek, vanaf hoofstuk 14, het telkemale na die finale oordeel van God verwys (vgl. 14:7 die uur van sy oordeel het aangebreek).

20:11 Johannes sien ‘n groot wit troon en dat die aarde en die hemel wegvlug sonder om ‘n wegkruipplek vir die teenwoordigheid van die Een wat op die troon sit te vind. Vir die ou skepping, wat saam met die mens aan ‘n sinlose bestaan onderwerp was, as slawe van vernietiging (Rom. 8:20-22) is daar geen plek meer te vind nie. Die ou aarde en hemel word vervang met die nuwe hemel en die nuwe aarde (vgl. 2 Petr 3:7). Al wat oorbly is die onvergelyklike onbesmette (groot in majesteit en suiwer wit) troon en die blywende teenwoordigheid van die Een wat daarop sit, wat Johannes in hoofstuk 4 gesien het. Alles wat skeiding gemaak het tussen God en die mens en die skepping word verwyder.

20:12 Die oordeel geskied volgens wat elke mens self in sy lewensboek geskryf het met elke woord en daad en gesindheid (vgl. Dan 7:10 se boek met die aanklagte). Dit weerspieël elke skrywer se keuses, òf uit gehoorsaamheid en toewyding aan God, en sy/haar liefde tot hulle medemens, òf aan die dier en sy wêreld van betowering en verleiding, en sy/haar liefde vir hulleself.

Die boek van die lewe is die register van die Lam wat Hý opteken ( Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3). Terwyl die eerste boek die mens se verantwoordelikheid boekstaaf, word God se genade in die boek van die lewe opgeteken. Die name in die boek van die lewe berus alleen op die Lam se geregtigheid waarmee Hy die gelowiges vrygekoop het met sy liefdesoffer (vgl. Openb. 13:8 se Lam wat geslag is). Volgens 17:8 is hulle name deur die eeue in die boek opgeskryf, van die skepping van die wêreld af (vgl. Daniel 12:1-2); Openb 3:5 sê: wie oorwin oor die versoekings van die bose, se name sal nie uit die boekrol van die lewe geskrap word nie. Dwarsdeur Openbaring word beklemtoon dat gelowiges moet volhard in hulle geloof in Jesus en in die liefdesgebooie van God (bv. 14:12); dit gaan oor ons getuienis oor Jesus, met woorde en met ons lewe, waarin die Heilige Gees ons lei en in ons werk (19:10).

20:13-15 Die dood en die doderyk word in hulle regte plek, die ewige vuur, gegooi, nadat almal teruggegee is, wat reeds in die doderyk was. Dood bestaan nie meer nie, ook nie die doderyk as ‘n wegkruipplek vir die toorn van God nie (vgl. Ps 139:8). Saam met die dood en die doderyk word dié mense wie se name nie in die boek van die lewe opgeteken is nie, in hulle bestemde plek, in die vuurpoel gegooi as simbool vir God se ewige straf (vgl. Openb 19:21; Joh 3:36).

Die ‘tuin van Eden’ in 22:1-5 met sy breë rivier met water van die lewe en bome wat deur die jaar vrugte dra, met God en die Lam altyd teenwoordig, is ‘n simbool van die ewige hemelse volmaakte lewe saam met God en die Lam en met mekaar. So is die ewige vuur die simbool van die ewige straf en algehele godverlatenheid. Romeine 1:18,24,28 sê die toorn van God word geopenbaar deurdat Hy hulle oorgee aan hulle self, hulle eie begeertes, aan ‘n verderflike denkwyse sodat hulle onbetaamlik teen mekaar optree.

Dit gaan hier nie oor ‘n nuwe hofsitting nie, maar slegs oor die bekendmaking van God se oordeel, wat in Jesus klaar gevel is (Johannes 5:22: Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee. Jn 3:36: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op hom. Met die bekendmaking van die oordeel op die laaste dag is die Vader en die Seun betrokke (22:1).

Elkeen word op sy regte plek gesit. Uit die chaos in die ganse skepping word weer orde geskep deur die koms van die nuwe skepping met sy nuutheid en skoonheid, wat in hoofstukke 21-22 beskryf word.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Satan losgelaat en oorwin (20:7-10) – Francois Malan

Satan se ‘tweede koms,’ in nabootsing van Christus se wederkoms, word met ‘n passiewe werkwoord beskryf as ‘losgelaat word’ uit sy gevangenskap. Dit veronderstel dat God Hom vry stel om die nasies van die aarde op ’n dwaalspoor te lei. Daarmee word sy ware kleure duidelik as ‘verleier van die hele bewoonde aarde’ (12:9). Hy oorreed die nasies om hom te volg in ‘n oorlog teen God en sy kinders. Die nasies word gesimboliseer deur Gog en Magog.

In Esegiël 38-39 is Gog van die land Magog die leier van ‘n aantal volke rondom Israel wat teen Israel optrek, lank nadat die Jode, onder leierskap van Serubbaäl in 538 v.C. en 458 v.C onder Esra, uit die ellende van die Babiloniese ballingskap teruggekeer het. Gog en sy hordes word deur die Here verslaan (39:1-6) as teken vir die volke van die wêreld dat die Here vir Israel in ballingskap laat gaan het omdat hulle van die Here afgedwaal het (39:23-24), en dat die Here in beheer is van die hele wêreld (38:23; 39:7). Die profesie oor Gog is vervul in die optrede van die Griekse heersers oor die Jode, en die Grieke se onderlinge stryd tussen Sirië se Seleuside en Egipte se Ptolomeërs, en veral vervul in Antiogus Epifanes wat die Jode gedwing het om Zeus te vereer (Daniël 11:31-32,36). Maar toe die Parte in167 v.C. Antiogus se roete na die Ooste afsny moes hy hulle eers gaan aanval en in 164 v.C. sterf Antiogus in Persië aan ‘n skielike siekte wat hom oorval (Dan 11:45).

Die natuurrampe en onderlinge gevegte (v21) wat in Eseg 38:18-22 voorspel word, word in Openbaring 16:21; 17:16;19:8-9, 18-21gebruik as simbole vir die finale vernietiging van die bose magte wat vanoor die hele wêreld opruk teen die heiliges en Jerusalem, waar die tempel van die Here was en waar Jesus aan die kruis gesterf het. Dit is simbole vir die aanvalle van die bose en ongelowiges teen God en die Lam en teen almal wat in hulle geloof in Jesus volhard. Openbaring gebruik verskillende oorloë as beelde van God se oorwinning oor die bose (16:14-16 Armageddon), die oorwinning oor die dier se leër (19:17-21) en hier oor Gog en die hele wêreld se magte teen die heiliges se laer (‘laer’ verwys na die uittog uit Egipte, Eksodus 14:19-20; 16:13) en teen ‘die geliefde stad’ (die benaming word net hier in die Bybel gebruik vir die nuwe Jerusalem waarheen gelowiges oppad is). Elke oorwinning beskryf ‘n ander aspek van die konflik tussen goed en kwaad. Die gelowiges word beskerm teen die magtige leër wat teen hulle optrek deur die vuur uit die hemel wat die bose verteer, soos by Karmel toe Elia alleen teen die 400 priesters van Baäl en 50 van Asjera gestaan het (1Kon 18:22; Eseg 38:22).

Die Satan (teenstander, aanklaer) word nou genoem ‘die duiwel’ (lasteraar, verleier). Hy word in die poel van vuur en swael (beeld vir ewige foltering) gegooi, waar sy trawante reeds is (Openb19:20); vgl. Eseg 38:22 se brandende swael, en Gen. 19:24 vir die straf op Sodom en Gomorra waar ‘n deel van die skepping met vuur en swael vernietig word – in Jesaja 34:9 word Edom, as verteenwoordiger van die nasies, met swael en vuur vernietig en Jes 39:11 sê dat die land ‘woes/onbewoonbaar en leeg (Hebreeus tohoe wa bohoe) sal word, soos die chaos voor die skepping, in Gen. 1:2. In Deutr 29:23 waarsku die Here vir Israel voor hulle Kanaän intrek dat hulle land soos Sodom en Gomorra met swael en vuur verbrand sal word as hulle sy verbond verbreek. Ps 11:6 verwys na vuur en swael as straf op die goddeloses. Maar hoe die hel werklik sal wees, weet ons nie. Die foltering in vuur en swawel is ‘n beeld wat ‘n idee wil gee van die ellende van die tweede dood.

Die dood en die doderyk word ook in die vuurpoel gegooi en ook almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeteken is nie (20:14-15), soos 14:10 se foltering met swael en vuur vir iemand met die merk van die dier. Die dood en doderyk is nie meer ‘n toevlugsoord nie, want daar is nie meer ‘n beëindiging van bestaan nie. Die poel van vuur en swawel word die tweede dood genoem (21:8), en dit is ewig, met ‘n ewige foltering (20:10).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die Ryk van 1,000 jaar (20:4-6) – Francois Malan

Die duisend jaar dui die volle tydperk aan van Christus se huidige geestelike heerskappy in die lewe van die gelowiges wat nog op aarde is en van dié wat gesterf het en reeds in die hemel by Hom is (vgl. 2:26 se mag oor die nasies; 3:21 saam met Christus op sy troon; en 2:10,11 se oorwinnarskrans).

Die drie standpunte oor die 1,000 jaar is ook van toepassing op die gelowiges wat saam met Christus regeer vir 1,000 jaar (20:4). Millenialiste vertolkdit letterlik, maar Openbaring gebruik getalle en beelde sinnebeelding.

Pre-millenialiste glo Christus sal terugkeer na Jerusalem en Israel as sy volk en groot getalle gelowiges uit die nie-Joodse volke by hulle aansluit. Gelowiges sal uit die dood opstaan en dié wat nog lewe sal verander word om 1,000 jaar saam met Hom op aarde te regeer. Vrede en regverdigheid sal dan op die aarde heers. Die antichris en sy helpers word verslaan. Na die 1,000 jaar sal die ongelowiges wat gesterf het opgewek word vir die finale oordeel. Gelowiges word deel van die nuwe hemel en die nuwe aarde, maar ongelowiges gaan die ewige straf in.

Die dispensialiste verwag dat Christus twee maal sal kom, sewe jaar na mekaar. Die gelowiges sal saam met Christus in die hemel regeer. Na sewe jaar kom Chrstus saam met sy volgelinge terug om te oordeel; dié wat deur die verdrukking van die sewe jaar tot bekering gekom het, word aangeneem, en dan begin die duisendjarige vrederyk op die aarde, terwyl die duiwel gebind is..

Post-millenialiste interpreteer die 1,000 jarige ryk as ‘n aardse koninkryk wat deur Christus uit die hemel regeer word, en sy volgelinge in vrede regeer op aarde deur die verkondiging van die evangelie, en deur onderrig en dissiplinering van die nasies, terwyl die Satan gebind is. Die latere vorm van pre-millenialisme verwag dat die mens self die vrederyk moet bewerk deur ontwikkeling en ewolusie om die mense te wen vir Christus. Die huidige tyd sal ontwikkel tot die nuwe tyd van vrede.

A-millenialiste sien die 1,000 jaar as simbolies vir die volle tydperk van die nuwe verbond van Jesus se menswording tot sy wederkoms; of as ‘n simbool vir die tyd wat Jesus op aarde was van sy geboorte tot sy sterwe aan die kruis waarin Hy die Satan gebind het met sy optrede deur die duiwel te weerstaan, sondaars te genees, siekes te genees as tekens van sy verlossing van die mens, en aan die kruis te sterwe vir die sonde van die wêreld .

20:4-10 word aangebied as een visioen (20:4 begin met ‘En ek het gesien;’ gevolg deur 20:11 ‘En ek het gesien;’).

20:4 God gee aan dié wat op die trone sit die mag om te regeer – aan alle getroue gelowiges wat nog op aarde lewe en dié wat reeds gesterf het, almal sonder die merk van die dier (13:16), die ‘144,000’ met die Naam van die Lam en die Vader op hulle voorkoppe/in hulle denke (14:1). Deur hulle verbondenheid aan Christus het hulle almal lewend geword om vir God te lewe en saam met Christus oor verleiding en sonde te regeer vir die volle tydperk (‘1000-jaar’) van Christus se opstanding tot sy wederkoms.

20:5a Terloops word gemeld dat die ander wat nie deur geloof aan Christus verbind is nie, nie lewend geword het nie totdat die tussentyd van Christus se opstanding tot sy wederkoms (‘1,000-jaar’) voltooi is nie (vgl. ook Luk. 16:23-23). Vir hulle wag die tweede dood van 20:14-15.

20:5b-6 Almal wat egter deur geloof aan die opgestane Christus verbonde is, het deur sy opstanding uit die dood deel aan die eerste opstanding (vgl. Romeine 6:3-11). Hulle is deur God geseën as sy kinders vir wie Hy sorg, en is daarom heilig deur saam met Jesus aan God toegewy te lewe. Oor hulle het die tweede dood van 20:14-15 nie mag nie. Met priesterlike bewoëndheid regeer hulle in liefde saam met Christus op aarde en in die hemel vir die volle tydperk (‘1,000-jaar’) van sy opstanding tot sy wederkoms.

Skrywer:  Prof Francois Malan