Willie vra:
Aan die iemand wat bereid is om na my te luister – as kind, ek was nog baie klein, het ek eenmaal amper verdrink. Ek het afgesak bodem toe en myself opgeskop met my voete en sodra my kop bo die water was het ek probeer roep maar geen geluid het uitgekom nie want my mond was vol water. Met hierdie hele worsteling voel dit net so, ek roep om hulp maar weet u, niemand hoor nie.
My geloofslewe is besig om totaal uitmekaar uit te val. Ek het soveel vrae in my kop en het niemand om dit mee te bespreek nie. Miskien is my Godsbegrip verkeerd. Miskien is dit Satan se werk maar die lewe, my lewe was nog nooit so sinloos, so sonder rede soos nou nie en daar is soveel dinge wat net doodeenvoudig nie sin maak nie. Dit voel vir my ek is besig om hierdie stryd stoksielalleen te baklei. Gister in die erediens het die beeld in my kop opgekom van iemand wat buite die kerk staan en deur die vensters binne toe kyk na al die mense wat God se guns het, wie se lewens een groot fees is en met niks worstel nie. Die mense wat al die regte keuses gemaak het en hulle lewens het uitgewerk. Ek staan buite en kan nie ingaan nie, want ek is die teenoorgestelde. Dit laat my twyfel of ek wel gered is en of ek wel iets vir God beteken – of is ek maar net ‘n oorlas vir Hom.
- Bekering. Is dit nie die proses waar God my lei om die evangelie van Jesus Christus te hoor, te glo en waar die wedergeboorte deur HOM begin word nie? As iemand (‘n predikant) dan vra, het jy al tot bekering gekom, dan klink dit so ek moes iets doen, wat ek dalk nog nie gedoen het nie – solus Christus? Of besluit ek, ek hoor die boodskap en ek besluit of ek dit gaan glo of nie? Ek besef hoe groot my sonde is, ek gaan na Jesus toe. M a w, wedergeboorte kan nie begin voordat ek die besluit geneem het nie? Hoe kan solus Christus dan waar wees?
- Heiligmaking. Hoe help God my? Ek lees Bybel, ek verstaan hoe ek moet lewe maar ek sukkel om dit reg te kry. Hoe help Hy my? Is dit ‘n geval van ek het die Bybel, volg die riglyne en kom self reg. Moenie iets ekstra verwag nie, want ek het mos die Bybel. Die beeld wat ek hier bo gebruik het is ter sprake – die ouens binne het dit reg gekry of God het iets spesiaals in hulle lewens gedoen, maar ek staan buite omdat ek nog niks reggekry het nie.
- Krag van God. Wat is dit en hoe kry ek dit of hoe en wanneer gee God dit? Weereens, dit voel vir my ek baklei alleen teen die sonde, want ek het geen idee hoe dit werk nie. Moet ek dit net glo, of as ek in gebed daarvoor vra, wat kry ek en hoe? God weet, alleen gaan ek ten gronde gaan, maar al bid en vra ek daarvoor dink ek nie ek kry juis iets wat my gaan help nie.
- Blydskap. Paulus sê wees bly in die Here. Wat beteken dit en hoe doen ek dit? Dit is seker nie ‘n emosie nie, dus, wat is dit dan? Tans meet ek my lewensvreugde, of gebrek daaraan, aan dié begrip, en die slotsom is: ek het dit nie, dus ‘n miserabele, sinlose bestaan.
- Gebed. Nodeloos om te sê is dit tans nie wat dit moet wees nie. Ek het onlangs met ‘n dominee gesels en gesê God sê 99% van die tyd nee, sou ‘n mens iets vra. En hy sê ek is besig met welvaartsteologie, en miskien is hy reg. Maar is dit wat van dag tot dag met my gebeur nie ook belangrik nie? Vrae soos: Kan U ons help om ons tonnel se dak reg te maak (die wind het ons groentetonnels oor die laaste 7 jaar totaal vernietig); kan dit nou asb ophou! Geen versekering dek teen wind nie en om R80 000,00 in die hande te kry om dit te herstel is nie moontlik nie. Verlede week weer ‘n buitegebou se dak afgewaai. Die wind hou net aan verwoesting saai, en ja, dit is nou maar ek, ek ervaar dit baie, baie sleg.
Ek weet van mense wat bitter swaar kry en vir my gesê het hulle kan doodeenvoudig net nie meer nie. Hier onder is twee gevalle van mense wat ek vir baie jare ken.
- Ek het saam met haar gewerk vir baie jare. So ‘n paar jaar gelede het sy borskanker ontwikkel. Beide haar borste verloor. Sy het weer begin werk en haar firma maak toe na 4 maande wat sy daar begin het. Dit is nou die 4e keer wat dit met haar gebeur. Sy sê vir my sy weet nie meer nie. Sy is ook al in haar 50s en seker een van die skitterendste werkers met ongelooflike kennis en vaardighede in ons bedryf en wat lang ure kan insit. Die Bybel sê ons sal nie bo ons kragte beproef word nie, maar dié vrou word ver bo haar kragte beproef en dit word net donkerder. Sy is op ‘n ouderdom waar sy bitter moeilik gaan werk kry. Wat hou die toekoms vir haar in?
- Hy werk ook tans by bg firma wat gaan toemaak. Ken Deon en sy vrou sedert 1980. So ‘n paar jaar gelede het sy vrou ‘n gewas in haar brein ontwikkel. Sy is geopereer. Sy het weer ‘n gewas ontwikkel en is weer geopereer. Vroeër die jaar weer ‘n gewas in die brein maar op so ‘n plek dat hulle nie kan opereer nie. Toe nog bo op dit ‘n gewas in haar nier. Sy ken net siekwees die afgelope klompie jare. Deon het vir my gesê hulle het
God gevra vir ‘n wonderwerk om sy vrou gesond te maak. Sy word net sieker en sieker – lang uitgerekte lyding.
My oudste seun is gebore as ‘n spastiese kwadrupleeg en vir 26 jaar het Kobus net swaarkry geken (siekwees, rugpyn, wurg aan jellie, kon nooit net doodgewoon lekkers eet soos ander kinders nie, kon nie praat nie, kon nie self regop sit nie). Totdat sy aorta geskeur het en hy inwendig dood gebloei het – letterlik dood gebloei het
- Ek weet die Bybel sê ons gaan swaar kry en dat alles nie maanskyn en rose gaan wees nie. Beteken dit dan dit gaan ook nooit ophou nie? God gaan geen verligting vir sulke mense bring nie en hulle maar aan die swaarkry oorlaat, want wonderwerke gaan nie gebeur nie, maak nie saak hoe hard Deon hulle daarvoor smeek nie? Die antwoord gaan “nee” wees. Die antwoord van “God dra hulle deur die situasie” is ek ook maar baie skepties oor, want om sy vrou te moet sien stadig maar seker doodgaan en die vooruitsig te hê om teen die einde van die maand sonder werk te sit, dus ook sonder ‘n mediese fonds, beteken sy gaan met ‘n helse klomp pyn en lyding doodgaan. Ek het onlangs die stelling gemaak dat as dit so is, dan is God ‘n tiran wat behae daarin skep dat sy kinders deur hierdie verskrikking moet gaan om sogenaamd mense se geloof te toets. Hoekom, hoekom, hoekom?
- My gevolgtrekking is dat die lewe op aarde is sinloos, dien geen doel nie want daar is geen vreugde nie – niks om na uit te sien nie, net swaarkry en preke waarvan die predikers self nie alles mooi verstaan nie en sodra ‘n mens hulle uitvra, is dit vae antwoorde of geen antwoorde nie.
Soos ek ten aanvang gesê het, is my Godsbegrip dalk heeltemal verkeerd. Dít is wat ek glo:
- Ek glo sonder twyfel dat Jesus Christus vir my gesterf het – geen vrae daaroor nie.
- Ek glo Hy het opgestaan, sonder die geringste twyfel – geen vrae nie.
- Ek glo Hy kom terug – geen vrae nie.
- Ek sukkel om te glo dat Hy elke dag by ons is om ons by te staan. Ek dink Hy het ons sy Woord gegee en ons moet self regkom.
- Ek sukkel om te glo dat ek Hom kan vra om my te help met daaglikse menslike probleme wat ek bitter, bitter erg ervaar.
- Ek dink die “krag” waarvan die Bybel praat, is net vir sekere Christene waar, maar nie vir mense soos ek nie. Ek dink daar is bitter min mense (teoloë ingesluit) wat weet wat dié krag werklik is.
- Ek dink die bly wees waarvan Paulus praat, is net vir sekere Christene waar, maar nie vir mense soos ek nie. Daar is net te veel mense wat kinders van God is wat net die bitter van die lewe ken, niks anders nie. My lewe van 60 jaar is ‘n bewys hiervan.
- As ek verkeerd is, hoop ek die God teen wie ek rebelleer, sal my genadig wees soos met die tollenaar en my help om reg te verstaan sodat ek kan seker wees van sy liefde, dat dit vir my ook bedoel is en dat Hy vir mense soos hierbo beskryf, wel omgee. Tans beleef ek Hom as dat Hy nie omgee vir my nie, net soos wat my pa bitter min in my belang gestel het.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
In wat volg kan ek nie op al die vrae van die korrespondent ingaan nie; dit sal ‘n te uitgebreide antwoord verg. Ek probeer eerder sy grondgedagte peil en daarop antwoord.
Ek wil graag reg aan die begin die korrespondent verseker dat daar baie gelowiges is wat – een of ander tyd in hulle lewe – soos hy voel. Hy hoef dus nie skuldig te voel oor sy “ongelowige” gedagtes oor God en geloof nie; gedagtes soos: Wat help dit om in God te glo, al die regte dinge te doen, tot Hom te bid, en tog lyk dit nie of God antwoord nie. Want niks in jou lewe verander ten goede nie. Alles bly net soos dit was. En, moet mens eers wag tot ná jou dood voordat dinge met jou goed sal gaan? Is hierdie lewe nie ook bedoel om as kind van God die guns en gawes van God te geniet nie?
Laat my dadelik sê dat daar nie eenvoudige en maklike antwoorde op hierdie vrae is nie (iets wat die korrespondent waarskynlik al dikwels gehoor het). Maar hoewel ‘n cliché, bly dit nogtans waar. Die lewe in die algemeen en spesifiek die verhouding met God is net te kompleks om in sy omvang en diepgang volledig te deurgrond. Nie al ons vrae word aan die duskant van die graf beantwoord nie. Dit is iets waarmee mens – in die geloof – moet vrede maak. Verder, God loop ook met elkeen ‘n unieke pad. Wat geld vir die een, is nie net so oordraagbaar op die ander nie. Dit is dus nie altyd wys om jou lewe met dié van ander te vergelyk nie, want dan spoel die twyfelvrae nog sterker oor ‘n mens, veral as dit oënskynlik met ander beter gaan as met jou.
Die dilemma dat God skynbaar nie ingryp in ons lewens om dit beter te maak nie, is nie ‘n onlangse probleem nie. Dis so oud soos die mens se verhouding met God. Die bladsye van die Bybel is vol hiervan. Dink maar aan die klassieke verhaal van Job. Sy lewe beweeg van ryklik geseënd, tot alles verloor, tot weer ryklik geseënd. Was dit werklik nodig dat sy geloof op so ‘n (verskriklike) manier getoets word, in so ‘n mate dat selfs sy vrou vir hom die raad gee om God te vloek en te sterwe (Job 2:9)? Het God een of ander behae geskep in Job se lyding? Kon Hy Job nie op ‘n ander manier sterker aan die ander kant laat uitkom het nie? Want dis nie asof Job ‘n ongelowige was nie – inteendeel. So ook die digter van Ps 73. Hy worstel daarmee dat dit so voorspoedig gaan met die goddeloses terwyl hy wat die Here met oorgawe dien, terugslag op terugslag beleef (Ps 73:13-14; vgl ook Ps 37). En Paulus, die groot apostel van die Here Jesus, se geloofspad was ook glad nie met rose besaai nie. In 1 Kor 4:10-13 en 2 Kor 11:16-31 vertel hy van al die verskriklike ontberings wat hy ondergaan het in diens van die Here. En dis nie asof hy ‘n masochistiese genot geput het uit hierdie lyding nie. Nee, hy sou wat wou gee om daarvan ontslae te raak; hy praat daarvan as ‘n doring in die vlees wat hom teister (2 Kor 12:7-10). Daarom dat hy die Here drie maal (beteken eintlik “herhaaldelik”) gevra het om dit weg te neem, maar die Here het gesê dat sy genade vir hom genoeg is. Geen wonder nie dat Paulus in Gal 6:17 sê dat niemand hom moeite moet aandoen nie aangesien hy in sy liggaam die littekens van Christus dra. Hiermee wil hy sê: ek ken die weg van Christus; dis geen maklike pad nie, ek dra die bewyse daarvan aan my lyf.
Met bogenoemde oorsig oor Bybelse gelowiges se lyding wil ek nie mense soos ons korrespondent se persoonlike worsteling met God probeer afmaak as onbelangrik nie, as iets waarmee ons maar almal worstel nie. Ek wil maar net die punt vanuit die Skrif maak dat geloof in God geen vrywaring is teen die aanslae van die lewe nie. Gelowiges is net so blootgestel aan die gevare en teisterings van die lewe as hulle wat nie in God glo nie. Ook ongelowiges moet leer om die teenslae en teleurstellings van die lewe die hoof te bied. Ons is immers almal mense met dieselfde emosies, behoeftes, vrese en ideale. Ons verlang almal na geluk en ‘n rustige lewe.
Maar wat is dan die verskil tussen die gelowige en ongelowige? Dit lê daarin dat gelowiges die teenslae van die lewe doelbewus, op ‘n manier wat alle verstand te bowe gaan, in verband bring met hulle lewe saam met God. Hulle vind troos in die wete dat hulle naby God lewe (Ps 73:21-28), dat niks en niemand hulle van die liefde van God in Christus kan skei nie (Rom 8:35-39), dat God se genade vir hulle genoeg is en dat sy krag losgelaat word juis wanneer hulle swak is (2 Kor 12:9), en dat op een of ander manier alles tog ten goede meewerk vir dié wat vir God liefhet (Rom 8:28). Hulle lewensvreugde is dus nie primêr afhanklik van omstandighede nie, maar is diep gesetel in hulle verhouding met God. Al bot die vyeboom nie, al misluk die druiweoes, al word die vee minder, nogtans juig hulle in God, hulle Redder (Hab 3:17-18).
Die rede hoekom dit moontlik is, is omdat die gelowige weet dat sy of haar lewe vir ewig geborge is in God, nie net vir hierdie lewe nie. Daarom dat Paulus vanuit die opstanding van Christus redeneer as hy sê dat as mens net vir hierdie lewe op Christus hoop, ons die bejammerenswaardigste van alle mense is (1 Kor 15:19). God het in Christus ‘n nuwe lewe begin wat tot in alle ewigheid duur. Ons beleef op aarde nog maar net die begin hiervan; deur die Heilige Gees proe-proe ons nog net daaraan. Ons hoop lê in Christus wat die bose en die dood oorwin het. In die mate wat ons aan Christus verbind is deur die geloof (geloof as lewenswyse van vertroue in Christus), in daardie mate word ons getroos met die wete dat ons deel het aan die ewige lewe en dat God eendag die trane van ons oë sal afvee, eendag wanneer lyding, hartseer en dood, wat so deel is van hierdie wêreld, geen houvas meer op ons sal hê nie (Op 21:4). Hoe onwerklik God se nuwe wêreld ook al klink wanneer ons daagliks moet worstel met die onbeantwoorde vrae van die lewe, was hierdie wete en vaste geloof nog altyd die troos en krag van die gelowige. Vreemd, onlogies, maar waar.
Verder, omdat ons vanuit hierdie ewigheidsperspektief lewe, kan ons ook in geloof na die wêreld rondom ons kyk en nou reeds daarvan ‘n beter plek probeer maak. Ons weet immers dat elke daad wat in liefde gedoen word, tot in ewigheid standhou (1 Kor 13:8), dat ons so belê in die hemelse skatte wat nie deur mot en roes verniel kan word nie (Matt 6:19-21). Ja, geloof vrywaar ons nie van aardse ellendes nie, maar dit open ‘n hemelse perspektief (Heb 11:1) van waaruit ons elke dag se uitdagings aanpak. En presies dit gee moed, krag en vreugde in die lewe.
Verder, ons put ook krag en vreugde uit die geloofsverhale van ander. Die Bybel is vol hiervan, maar ons word ook daagliks omring deur mense wat dieselfde stryd as ons stry. So word ons verryk en versterk, en dra ons mekaar se laste (Gal 6:2). Ons moet ons dus nie onttrek van die geloofsgemeenskap nie. Die Hebreërbrief vertel byvoorbeeld van so ‘n groepie gelowiges wat klaarblyklik weens die talle aanslae van die wêreld geloofsmoeg geword het, tot op die punt dat hulle afvallig wou raak. Maar dan bemoedig die skrywer hulle met allerlei aansporings om te volhard. Hy spoor hulle aan om die gemeenskap met ander gelowiges te beoefen (Heb 10:25), hy herinner hulle aan die geloofshelde uit die OT wat God se onsigbare (maar werklike) wêreld in die oog gehou het (die hele Heb 11, veral vv13-16). Hulle word herinner daaraan dat hulle op aarde pelgrims is sonder ‘n vaste woonplek en so Christus se smaad moet dra (13:13-14). Hulle word dus aangemoedig deur die medegelowiges wat klaar die aardse stryd voltooi het, terwyl hulle die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (12:1-3).
Ek is maar te bewus daarvan dat al bogenoemde, hoe waar ook al, deur elke gelowige in sy of haar persoonlike omstandighede geïnternaliseer moet word. Niemand anders kan dit vir jou doen nie. Party vind dit “makliker” as ander; sommige se omstandighede is net soveel moeiliker as ander s’n. Maar elkeen kan daaraan vashou dat God ons nie alleen laat nie, al voel dit so. (Ook Christus het geworstel met Godverlatenheid [“My God, my God, waarom het U My verlaat, Matt 27:46].)
My hartewens is dat ons korrespondent op die een of ander manier krag sal ontvang vir sy persoonlike geloofspad op aarde.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl