Die Openbaring aan Johannes – Die vrou en die draak (2) (12:13-17) – Francois Malan

12:13-14 Die konflik tussen goed en kwaad op aarde word al hewiger. Die vrou as simbool van die kerk gaan egter op ‘n woestyntog, soos Israel se eksodus. Soos die Israeliete die Egiptenaars ontsnap het op die Here se ‘arendsvlerke’ (Eks 19:4; Deutr 32:11-12; Jes 40:31), so word aan die vrou twee arendsvlerke gegee om die agtervolgende Farao van hierdie verhaal te ontvlug. Soos die Israeliete gevoed is met manna, kwartels en water in hulle woestyn-toevlugsoord, word die vrou versorg vir ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd (die aanduiding in Openbaring van die tyd van vervolging van die gelowiges; in 11:2 word hulle vir 42 maande vertrap; in 13:5 tree die dier uit die see vir 42 maande met volmag op; in 11:3 getuig die twee getuies, wat die hele kerk verteenwoordig, in sak geklee, vir 1,260 dae lank; so ook die 1260 dae vir die vrou in die woestyn, 12:6). Die tyd van getuienis en verdrukking word skielik afgebreek. In die ry van: ‘n dag, twee dae, drie dae…verwag ‘n mens vier dae. Maar onverwags breek die eindtyd aan, na ‘n halfvoltooide tyd. Dit lyk of boosheid ongehinderd voortgaan, maar word dan onverwags deur God gestop metdie koms van Christus as die Regter (vgl. Openb 3:3; 16:15; Mat 24:44; Luk 12:40; 1 Kor 15:52; 1Tes 5:2-3).

 

12:15-16 Die slang (na aanleiding van die verleier in die tuin van Eden) spoeg ‘n stroom lewe-vernietigende water (‘n vloedgolf van vervolging en slinksheid) om die vrou mee te sleur na haar dood. Dit staan teenoor die water van die lewe wat uit die troon van God en van die Lam stroom (22:1). Dood en vernietiging kenmerk die slang se rivier. God se rivier voed lewe, met vrugte en genesing (22:2).

Die aarde (Grieks: ge, ‘n vroulike woord) kom die vrou te hulp en sluk die draak se rivier van versoekings en vervolgings in, soos Israel droogvoets deur die Rietsee getrek het, en die aarde die agtervolgende Egiptenaars ingesluk het (Eks 15:12); soos die aarde die rebelse groep onder Korag tydens die woestyntog ingesluk het (Num 16:32). God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur (1 Kor 10:13).

 

12:17 Die gesig van Bo af sien God se beskerming van die kerk, wat ontasbaar in die hemel veranker is (1 Petrus 1:3-5; 2 Petrus 1:4). Die prentjie van onder gesien lyk egter anders. Die kerk word vervolg, onderwerp aan die toorn van die draak en sy trawante. Die gelowige is blootgestel aan fisiese leed deur die draak, die twee diere en die sedelose groot stad Babilon met sy goddelose en afgodiese kultuur. Geestelik word die gelowiges beskerm as burgers van die hemel, maar fisies ly hulle verdrukking in die aardse Babilon, waar mag en geweld en selfsug regeer. Maar al lewe die kerk in Babilon is hulle nie deel van Babilon nie; afhanklik van God moet hulle daarteen stry om nie by Babilon aan te pas of verswelg te word nie. Dit is hulle wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het. Kerkwees beteken om God se gebooie te gehoorsaam, saamgevat in Jesus se nuwe gebod vir sy volgelinge, om mekaar lief te hê soos Jesus ons liefgehad het, en te getuig oor wat Jesus gesê het; almal sal weet dat ons sy dissipels is as ons liefde teenoor mekaar het (Joh 12:34-35); en selfs ons vyande liefhê, soos ons Vader in die hemel se liefde vir die wêreld (Mat 5:43-48; Joh 3:16).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Migael en die draak (12:7-12) – Francois Malan

Die gedeelte oor die oorlog in die hemelruim word hier ingevoeg tussen die twee gedeeltes oor die vrou en die draak se stryd (12:1-6 en 12:13-18). Dit verskaf die perspektief op die kerk se stryd op aarde van Bo af gesien. Geweldstaal beklemtoon die konflik tussen goeie en slegte karakters. Die woord ‘oorlog’ kom hier 4x voor: 3x in 12:7; 1x in 12:17. Vier maal word gesê ‘hy is neergegooi,’ (12:9 2x, 10,13) ‘n passiewe werkwoord wat aandui dat dit God is wat die Satan verslaan het. Die draak en sy engele het nie meer ‘plek’ in die hemel nie (12:8), en sonder sy plek verloor die Satan (teenstander/aanklaer) sy reg om ‘n ‘aanklaer’ te wees (12:10). Die woord ‘aanklaer,’ soos in ‘n hof, kom net hier in die Nuwe Testament voor.

 

12:7-9 Die draak en sy engele is oorwin en uit die hemel gegooi – soos sy stert ‘n derde van die engele op die aarde neergegooi het. Jesus sê aan sy dissipels, wat bly is dat die demone hulle aan hulle onderwerp het op grond van sy Naam: Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val…maar wees liewer bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is (Lk 10:17-20). Satan het nou slegs beperkte mag op die aarde.

(Volgens die Joodse oorlewering is die Satan in die oertyd uit die hemel uitgegooi en het God se magte hom oorwin). Al is die Satan die ‘god van hierdie wêreld’ (2 Kor 4:4), is hy ‘n verslane god. Volgens Openbaring is Satan by drie geleenthede verslaan: (i) in die oertyd is hy uit die hemel uitgeskop, (ii) met Jesus se kruisiging en opstanding is sy geleentheid om die gelowiges aan te kla afgesny want Jeus het reeds hulle straf gedra; (iii) met sy finale vernietiging wanneer hy en sy volgelinge in die ewige vuurpoel gegooi word (Openb 20:10).

In Daniël 10:13,21; 12:1 is Migael (‘wie is soos God’) die hoofprins van die hemelse leër, wat Israel altyd teen sy vyande beskerm. In Judas vers 9 veg hy teen die Satan oor die liggaam van Moses. Judas 9 stel die nederigheid van die hoof-engel Migael teenoor die selfverheffing van die dwaalleraars wat die heerskappy van die Here Jesus Christus verwerp (v4), en alles wat hulle nie ken nie, belaster (v10). Die insident waarna v9 verwys kom uit die Joodse oorlewering wat in die apokriewe boek die Hemelvaart van Moses beskryf word. Daarvolgens moes Migael ‘n stryd gevoer het met Satan oor die liggaam van Moses (volgens Deutr. 34:5 het die Here egter vir Moses begrawe en niemand het die graf gevind nie). Die Joodse oorlewering het geglo dat as ‘n vrome sterf kom die engele hom/haar haal, en as ‘n sondaar sterf kom die duiwel se handlangers hom/haar haal. Satan sou gesê het Moses behoort aan hulle omdat hy die Egiptenaar doodgeslaan het en dus ‘n moordenaar is (Eks 2:12). Migael het egter die Satan weerstaan en nie die oordeel van God vooruitgeloop nie, maar dieselfde woorde gebruik waarmee die Here die Satan bestraf het in Sagaria 3:2. Daarmee het Migael die eer aan God gegee.

 

Satan se name beskryf sy aard: die groot draak (wat Johanes in die lugruim gesien het, 12:3), die slang van weleer (wat vir Eva en Adam verlei het, Gen 3), duiwel (lasteraar), satan (teenstander/aanklaer), die verleier van die hele wêreld – ‘verleier’ beskryf die duiwel (20:3,8,10) en ander bose karakters: Isebel wat die Here se diensknegte in Tiatira verlei (2:20), die dier wat die bewoners van die aarde verlei (13:14; 19:20), die onsedelike stad Babel se afgodediens wat deur haar betowering die nasies mislei (18:23).

 

12:10-12 die loflied van ‘n harde stem in die hemel interpreteer die betekenis van die oorlog in die hemel. Die oorwinning van die oorlog tussen Migael en die Satan word behaal aan die kruis en deur almal wat deur geloof aan die dood en opstanding van Jesus Christus deel het en van sy oorwinning getuig deur hulle lewe en woorde en selfs hulle dood. Die loflied word in drie dele aangebied: v10 verkondig God en sy Christus se oorwinning en die aanbreek (‘nou’) van die nuwe tyd van verlossing. Die aanklaer van die gelowiges kan hulle nie langer voor God aankla nie, hulle lewe nou onder God se heerskappy, oorgegee aan Christus se volmag oor hulle lewe; v11 verduidelik hoe die oorlog gewen is – deur Christus se offer van sy lewe aan die kruis, waarvan die gelowiges getuig deur hulle lewens, selfs tot die dood toe; v12 die reaksie op Christus se oorwinning en die val van die duiwel.

 

Die hemel juig dat die aanklaer die gelowiges nie meer by God kan aankla nie (soos in 1 Kon 22:19-23; 1 Kron 21:1; Job 1:6-12; 2:1-6; Sag 3:1), maar, omdat die duiwel en sy trawante nou die stryd in die hemel verloor het, is die duiwel woedend en sit sy stryd voort op die aarde en op die see (waar die twee diere van Hfs 13 vandaan kom) , en is daar ellende (die derde ‘o,wee!’). Die eerste twee ‘o,wee!’s was teen dié mense wat teen God gerebelleer het. Die derde ‘o,wee!’ raak die hele aarde, ongelowiges en gelowiges. Teenoor die ewigheid van die koninkryk van God is die duiwel se tyd van versoeking en misleiding egter kort. Dit strek slegs van Chistus se kruisdood tot die einde van die tyd van Satan se verleiding, wanneer hy en almal wat aan hom verbind is in die ewige straf beland (20:10,15).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Wedergeboorte en Nikodemus – Hermie van Zyl

Jan vra:

Jesus sê vir Nikodemus (Joh 3:3): “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie SIEN nie.”
As Nikodemus dit dan soos ‘n natuurlike geboorte verstaan, sê Jesus (v5): “As iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie INGAAN nie.”
Vers 10: Jesus sê vir hom: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?”

Hoekom sou Jesus eers sê “sien” en dan “nie ingaan nie”?
Hoe sou Nikodemus kon weet van wedergeboorte?

Antwoord

Prof. Hermie van Zyl antwoord:

Daar is nie regtig ‘n verskil in betekenis tussen Joh 3:3 se “sien” van die koninkryk van God en 3:5 se “ingaan” in die koninkryk nie. Kenners is dit eens dat die twee verse parallelle vir mekaar vorm. Vers 5 verduidelik eintlik net verder wat met vers 3 bedoel word. Om die koninkryk “te sien”, beteken om dit te ervaar, te beleef, daaraan deel te hê (kyk Joh 3:36; Luk 9:27 vir ‘n soortgelyke gebruik van “sien”). En dit is dieselfde as om in die koninkryk “in te gaan”.

Bloot taalkundig gesproke is daar uiteraard ‘n betekenisverskil tussen sien en ingaan. Moses het bv die beloofde land gesien, maar dit nie ingegaan nie (Deut 34:4). En so sien die ryk man die “hemel” of “koninkryk van God” waar Abraham en Lasarus is, maar hy het nie deel daaraan nie (kan daar nie ingaan nie) (Luk 16:23,26). Hierdie verskil in betekenis is egter nie die bedoeling van Joh 3:3, 5 nie. Hier word “sien” en “ingaan” as sinonieme gebruik. Mens sou hoogstens kon sê dat “sien” die gedagte tuisbring dat mens die verband tussen die koninkryk van God en die openbaring daarvan in die persoon van Jesus Christus moet kan sien, d w s begryp, aanvaar. Maar dit is in wese dieselfde as om deur Christus die koninkryk in te gaan.

Hierbo is gesê dat v5 eintlik net verder verduidelik wat dit beteken om “weer gebore” te word (v3). Vers 5 sê dat om “weer gebore te word” beteken om “uit water en Gees” gebore te word. Om die verband tussen hierdie twee verse te verstaan, moet ons eers iets sê oor die “weer” van weer gebore. Die Griekse woord (anōthen) wat in v3 met “weer” gebore (1933/53 Vertaling) of met “opnuut” gebore (1983 Vertaling) vertaal word, is dubbelsinnig en kan ook met “van bo-af” gebore vertaal word. Die Johannesevangelie is bekend daarvoor dat dit soms doelbewus begrippe gebruik wat dubbele betekenisse het. Beide die betekenisse van “weer” en “van bo-af” is dus moontlik en waar: as jy “weer” gebore word, word jy terselfdertyd “van Bo-af” gebore, d w s deur God se Gees nuut gemaak. Dan is dit asof jy weer soos ‘n kind van vooraf moet leer dink, praat en loop; jy moet leer hoe om te leef in God se koninkryk. En dit is dieselfde as wat Matt 18:3 sê: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” Wedergeboorte is dus ‘n begrip wat dui op die werk van God se Gees wat mense nuut maak sodat hulle soos God kan begin dink en kan verstaan hoe God se koninkryk werk.

Vervolgens moet ons iets sê oor Nikodemus se onkunde oor die wedergeboorte. Hoe is dit dat hy as leermeester van Israel nie kon weet wat Jesus bedoel nie? Eerstens moet ons hierdie vermeende onkunde van Nikodemus sien as ‘n literêre tegniek van die Johannesevangelie om van letterlike na figuurlike betekenis, of van ‘n aardse na ‘n geestelike werklikheid te beweeg. Dit is ‘n bekende tegniek in die Johannesevangelie. Byvoorbeeld, in 13:36-14:14 is die dissipels onkundig oor waarheen Jesus gaan en wat presies sy verhouding met die Vader is. Daarom vra/versoek hulle: Waarheen gaan U?; toon ons die Vader. Maar eintlik is hierdie (onkundige) vrae net ‘n tegniek van Johannes om Jesus aan die woord te stel oor sy herkoms (naamlik sy hemelse tuiste), oor sy verhouding met die Vader, en oor die dissipels se eintlike woning en toekoms. Hulle onkunde lei dus tot dieper onderrig van Jesus oor sy – en hulle! – ware identiteit. In Joh 3 gebruik Johannes gevolglik Nikodemus se onkunde om hom te lei van letterlike geboorte na die geestelike geboorte wat God deur sy Gees bewerkstellig.

Tweedens, na regte moes Nikodemus nie so onkundig gewees het nie. As geestelike leermeester van Israel moes hy geweet het van die Ou-Testamentiese tradisie dat in die laaste dae God deur sy Gees sy volk sal nuut maak. Jes 32:15 en Joël 2:28-32 vertel van die Gees wat in die eindtyd van Bo uitgestort sal word. En in Eseg 36:25-27 word die verband tussen die reinigende krag van water en God se Gees gelê: Hy sal sy volk reinig met suiwerende water, ‘n nuwe gees in hulle binneste gee wat gewillig is om God se gebooie te doen, en sy Gees in hulle gee. Die gedagte vervat in Joh 3:5 dat iemand uit water en Gees gebore moet word, is dus nie onbekend vanuit die OT nie. Ook die gedagte van kinders van God te wees, d w s om deur God “verwek” te word, kom in die OT voor. Israel word God se seun genoem (Eks 4:22; Deut 32:6; Hos 11:1) en in die huis van Dawid word die konings ook seuns van God genoem wat deur God “verwek” is (Ps 2:7). Dus, hoewel Nikodemus miskien nie kennis sou gehad het van die spesifieke manier waarop Jesus oor ‘n geestelike hergeboorte praat nie, sou en moes hy vanuit sy kennis van die OT tog ten minste verstaan het waarop Jesus dui toe Hy begin praat het oor die wedergeboorte deur water en Gees, naamlik die nuwe bestaan waar God jou deur sy Gees sy kind maak, en reinig en geskik maak vir sy koninkryk.

Jesus se verbasing oor Nikodemus se onkunde is dus nie misplaas nie, en is gesien binne die groter geheel van die Johannesevangelie ook ‘n aanklag teen die Joodse geestelike leiers van Jesus se tyd, waarvan Nikodemus ‘n verteenwoordiger was, dat hulle nie die tyd van Israel se vernuwing deur Jesus se werk kon herken nie.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Moslem Advertensies – Hermie van Zyl

Gaby vra:

Ek stap gister in ‘n Woolworths winkel in en sien in hulle vertoonvenster ‘n kennisgewing: “We welcome all our Muslim clients and employees”.
Hoe reageer ek as Christen ? Vermy ek die winkel? Ons Christene is volgens my mening altyd stil en laat sulke opmerkings veels te maklik nou maar net verbygaan.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Ons het hier waarskynlik met ‘n amptelike beleidsbesluit by Woolworths te doen, want hierdie advertensies het ook al by takke in SA verskyn. Ek weet nie of die besluit dalk te make het met veranderinge in die bestuur of direksie van Woolworths nie. Dalk is daar nou Moslems onder hulle wat op hierdie strategie aandring. Of dalk het dit gewoon net te make met groter inklusiwiteit ter wille van goeie besigheid. Maar waarom dan Moslems spesifiek uitsonder vir verwelkoming? Het hulle gekla dat hulle nie welkom voel nie? Of was daar nie (genoeg) halaal-kos in die winkels nie?

Indien hierdie advertensies spruit uit doelbewuste propaganda vir die Islam-geloof (wat ek betwyfel), sal mens uiteraard die saak met die plaaslike Woolworthstak of met hulle hoofbestuur moet opneem. Ons leef immers in SA (én Namibië) in ‘n sogenaamd oorwegend Christelike gemeenskap, al is die staat in SA formeel sekulêr wat geen spesifieke godsdiens bevoordeel nie. Vanuit hierdie agtergrond kan mens dus ‘n saak daarvoor uitmaak dat sulke advertensies, wat Islam-aanhangers bevoordeel, aanstoot gee aan die sentimente van Christenkliënte.

Aan die ander kant moet mens nie oorboord gaan in jou reaksie nie. Nie net leef ons in ‘n land en in tye waar godsdiensvryheid en -verdraagsaamheid – om goeie redes – toenemend belangrik word nie, maar ons aanbid na alles ook ‘n God wat sy son laat skyn oor goeies en slegtes. En as dít waar is, kan ons seker ook die son, by wyse van spreke, bietjie laat skyn oor die aanhangers van ander godsdienste, al is hulle min in getal in SA/Namibië? Op hierdie manier sal ons waarskynlik meer wen as verloor. Mens wen nie harte deur “bloedige kruistogte” te voer nie, maar eerder deur die genadige en liefdeshart van God in jou optrede bekend te stel.

Maar dit is inderdaad ‘n sensitiewe aangeleentheid wat met omsigtigheid, wysheid en Christelike liefde hanteer moet word. Ek sou sê dat mens eers die feite op die tafel moet kry. Wat sit agter hierdie advertensies? Is hulle relatief onskuldig, of is daar ‘n verskuilde godsdienstige agenda? En dan moet mens met Woolworths in gesprek tree en die Christelike kant van die saak stel. Dis nie dat ons die aanhangers van die Islam-geloof nie ook alles gun wat ons vir onsself opeis nie, maar die speelveld moet net gelyk gemaak word. Woolworths sal dan ook pertinente Christelike advertensies moet toelaat, of die praktyk heeltemal staak. (Hulle sal waarskynlik sê dat hulle tydens die Christelike feesdae genoeg “propaganda” gee aan die Christelike geloof.) Feit van die saak is, Woolworths is ‘n openbare besigheid en hulle moet al hulle kliënte se sentimente in ag neem. Ons hoef dus nie skaam te wees om ons stem te verhef nie, maar ons moet net die “stryd” op ‘n manier voer wat die Naam van Christus nie in oneer bring nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl