Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(5) – JP Louw

Sentrale burg

In sommige stede is ‘n sentrale burg of fort gebou wat as die woning van die leier of heerser gedien het, en ook as ‘n laaste vesting vir die inwoners as die poort of die muur die vyand nie kon keer nie. Soms is ‘n tempel ook in ‘n stad gebou wat dieselfde veiligheid kon bied. Die toring van Sigem (Migdol-Sigem in Rigters 9:46) was moontlik ook ‘n tipe vesting. Toe Jerusalem in 70 n. C. deur die Romeine verower is, het die Tempel as laaste toevlugsoord gedien. Soms is om die burg of tempel ook ‘n muur gebou wat ‘n tipe bo-stad en onder-stad gevorm het.

Herodestoring

Die vesting van Jerusalem. Die laer deel van hierdie toring kom uit Herodes se tyd en was deel van sy paleis.

Watervoorsiening

Nie net in vredestyd nie, maar veral in oorlog was watervoorsiening ‘n baie kritieke item, veral in die droë dele van Palestina. Sommige stede het maklik toeganklike water gehad. Jerigo het ‘n fontein gehad, so ook Nasaret waar dit vandag nog vloei. Baie stede het egter groot probleme gehad om beveiligde water to voorsien. Soms is diep putte gegrawe. Dit is aanvanklik in Jerusalem gedoen. Ook Megiddo en Hasor het diep putte gehad. Hierdie putte is dan deur middel van ‘n ondergrondse tonnel met ‘n waterbron buite die stad verbind. Putte het die meeste van die algemene watervoorraad gelewer-veral vir huislike gebruik. Daar is vandag nog so ‘n put in die graftuin in Jerusalem wat in die tyd van Jesus in die noordelike deel van die stad was. Hierdie put voorsien nog steeds al die water vir die tuin selfs in droë tye. Die waterputte van Betlehem was bekend vir hulle koel water. Toe kalkpleister uitgevind is, kon baie putte hulle water nog langer gehou het.

watertoevoerhasor

Die ingang tot die watertoevoer by Hasor wat uit die tyd van koning Agab dateer

Dan was daar ook enkele damme. Die Gibeondam (2 Samuel 2:13) is in moderne tye opgegrawe. Eintlik was daar twee damme by Gibeon: een langwerpig, 18 by 12 meter; die ander rond met ‘n deursnee van 10 meter en 20 meter diep. In Samaria was daar ‘n dam (1 Konings 22:38) en ook in Jerusalem (2 Konings 18:17, Jesaja 22:11). Een van die bekendste en merkwaardigste waterwerke van destyds wat vandag nog bestaan is die driekwart kilometer lange tonnel wat Hiskia in die rots laat grawe het (2 Konings 20:20, 2 Kronieke 32:30, Nehemia 3:15) om van ‘n ondergrondse fontein (Gihonfontein) deur ‘n heuwelrif water tot binne in Jerusalem te bring. Die tonnel beet Siloam en die waterpoel waar dit diep onder die grond in die stad uitkom word die Siloamdam genoem (Johannes 9:7 Siloambad). In Jesaja 8:6 heet dit Siloag. Die woord hou verband met die betekenis “uitstuur” of “uitstort’. In 1880 is daar tydens opgrawings ‘n inskripsie in ou Hebreeuse skrif gevind waar die grawers wat van die twee eindpunte of gegrawe het mekaar ontmoet het-nog ‘n merkwaardige prestasie as ons in gedagte hou dat die tonnel kronkelend geloop het. By die Siloamdam is ook die fondamente gevind van ‘n toring waarna Lukas 13:4 verwys. Met so ‘n ondergrondse waterleiding kon die vyand Jerusalem nie van water ontneem nie.

jerusalembaddens 

Salomo se baddens by Betlehem gebruik as opgaardamme vir Jerusalem.

Die ontwikkeling van die stad Jerusalem

Jerusalem gee ons ‘n goeie idee van ‘n stad se ontwikkeling in Bybeltye. ‘n Kanaänitiese stam, die Jebusiete, het in die berge van Judea ‘n vesting gebou vir beskerming. Dit was ook op die noord-suid handelsroete geleë op die waterskeiding tussen die Jordaanvallei en riviere wat weswaarts na die Middellandse See vloei. Die eerste dele van hierdie vesting was op die heuwel Otel teen die suidelike rif van ‘n steil helling geleë by die Kedronvallei. Net ‘n sterk noordelike muur was nodig om dit to beveilig.

ofelrif

Die Ofelrif. Oorblyfsels van die Jebusiete stad en Dawid se Jerusalem is duidelik te sien.

Al was die vesting op ‘n handelsroete, was die gebrek aan voldoende nabygeleë water ‘n groot probleem wat aanvanklik die ontwikkeling teëgehou het. Die vesting is eers Jebus genoem (Rigters 19:10) waar Jebusiete en Israeliete saam gewoon het (Josua 15:63). Jerusalem het dus in Joodse oë ‘n twyfelagtige begin gehad soos Esegiël 16:3-5, en verder, aandui. Aanvanklik is die vesting ook Jarasalem genoem wat beteken het “gestig deur Salem”. Salem was ‘n Kanaänitiese god. Soms is die plek ook net Salem genoem (Psalm 76:3). In die tyd van Abraham is Salem deur ‘n koning (Hebreeus: “melek”) regeer wat beskou was as verteenwoordiger van die Allerhoogste God op aarde. In Genesis 14:18-20 word Melgisedek (“koning van geregtigheid”) as koning van Salem genoem. Toe die Israeliete omtrent 500 jaar later, na die Egiptiese uittog, Kanaän inval, het Adoni-Sedek oor Jerusalem regeer. Ook in sy naam blyk iets van die ou priester-koning behoue to wees (Josua 10:1).

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(4) – JP Louw

Die markplek

Die markplek het gewoonlik vanaf die poort gestrek. Hier het ook die owerhede hulle sittings gehad (Handelinge 16:19). Die inwoners het hier hulle ware verkoop en koopmanne van ver was hier bedrywig. Die mark was elke dag van die week oop (Nehemia 10:31), want sonder yskaste moes elke dag inkopies gedoen word.

Wanneer ‘n karavaan handelaars aankom, was so ‘n markdag baie spesiaal-byna ‘n fees. Baie poorte se werklike ingang was te klein om waens of selfs kamele in te laat. Die goedere moes per hand ingedra word. Dit is moontlik dat Jesus in Lukas 11:46 die vragte wat gedra moes word, as beeld van die Fariseërs se baie voorskrifte gebruik het. Miskien het Paulus ook hierby aangesluit toe by in Galasiërs 6:2 gesê het dat ons mekaar se laste moet dra. Hoe dit ook al sy: in die antieke wêreld is baie vragte maar oral op die skouers gedra.

Die markplek was ‘n besige bedryf met baie mense wat daar doenig was. In Athene het Paulus elke dag op die stadsplein, die mark dus, met verbygangers gepraat (Handelinge 17:17). Die mark was ook ‘n plek waar kinders gespeel het (Matteus 11:16-17). Werkloses het daar gaan staan in die hoop om gehuur te word (Matteus 20:3).

Strate

In die Ou Testamentiese tye het die strate vanaf die mark uitgeloop. Dikwels was die strate maar baie smal sodat mens skaars twee langs mekaar kon loop. Die huise is baie na aan mekaar gebou en die strate was soms weinig meer as ‘n laning tussen die huise. Vandag nog is daar in Jerusalem baie van hierdie ou strate te sien. Uit die strate het dikwels nog kleiner lanings na agterdele van huise geloop. Dit was nogal moeilik om jou weg te vind as jy vreemd was. Die eerste strate was net van grond en is sommer ook gebruik om enigiets op weg te gooi. In Jesaja 5:25 word die gesneuweldes vergelyk met die vuilgoed op die strate. Dikwels lees ons in die Ou Testament van modder in die strate (Psalm 18:43, Jesaja 10:6, Miga 7:10, Sagaria 9:3, 10:5), want almal het enige water daar uitgegooi en as dit gereën het, was die modder nog erger. Omdat strate so modderig geword het, is later plaveisel aangebring wat ‘n groot verbetering was. Strate het soms name gehad (Jeremia 37:21, Handelinge 9:11), maar die was aanvanklik min.

smalstraat

 ‘n Smal straat in die ou deel van Jerusalem

Omdat die strate smal en donker was, veral snags, was hulle ook gevaarlik. In die antieke wêreld was honde meestal op die strate aangewese vir kos en het so bygedra tot die gevaar. Psalm 59:7 vergelyk die ongeregtiges met honde wat snags op straat ronddwaal. Honde was nie hoog geag nie en was simbool van onsedelike mense (Openbaring 22:15). Eers ten tye van die Nuwe Testament is honde ook as huisdiere gebruik.

Stede wat deur die Grieke en Romeine gebou was, het heelwat anders gelyk. Hulle was beplan en die strate het plaveisel gehad. Voor groot geboue was oop pleine en waar groot strate kruis, is dikwels ook oop pleine gemaak. Sesarea wat deur Herodes gebou is as hawestad om die Romeine na Judea to bring, het ‘n hoofstraat gehad met winkels aan beide kante en met baddens en teaters. Huise is in Sesarea in blokke van vier gebou en daar was groter administratiewe geboue. Die ouer Ou Testamentiese stede was egter meestal maar redelik primitiewe woonplekke. Daarteenoor het Antiogië, waar Paulus dikwels vertoef het, selfs straatligte gehad. Die verskil is basies een van tyd. Dit het lank geduur voordat samelewings ‘n geordende geheel met beplanning en toesig geword het. Die oudste stede het meer spontaan ontwikkel.

Skrywer: Prof JP Louw




Gemengde Huwelike – Hermie van Zyl

Celesté vra:

My vraag is, waar staan dit in die Bybel dat wit mense met swart mense mag trou of nie? Ek hou nogal van Pastoor Robert Morris se preke, en ek het toevallig gesien sy dogter is met ‘n swart man getroud. Dit maak nou nie dat ek minder van Pastoor Robert hou nie, dit verwar my net. Vir jare wil ek graag weet wat God daaroor sê omdat ek grootgeword het dat ras by ras bly en ons nie meng nie. Verskeie mense glo ook so en so ook pastore met wie ek al gepraat het. Maar nogtans sien ek meer en meer wit en swart mense met mekaar trou. Ek myself is nie ‘n rassis nie. Ek glo dat ons almal God se eiendom is en wat God vir een ou wil hê, wil Hy vir ‘n ander een ook hê. Ek weet dat kleur ons nie bind nie, want ons almal is deur God geskape. Wat is God se siening oor die gemengde trouery en is dit ‘n sonde?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Vir Suid-Afrikaners wat in die “ou” Suid-Afrika grootgeword het waar huwelike tussen verskillende rasse deur die wet verbied is (die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike, 55 van 1949; en die sg Ontugwet, 21 van 1950), is dit uiteraard vreemd om vandag huwelike tussen mense van verskillende rasse te sien, of dat mense vrylik oor die rassegrense heen met mekaar verhoudings aanknoop. Hierdie wette was weliswaar tiperend van Apartheid Suid-Afrika van die 1950’s tot 1980’s, maar het ook vir periodes in ander lande soos die VSA (tot 1967) en Duitsland (tot 1945) voorgekom. (Die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike in SA, is reeds in 1985 geskrap, voordat die “nuwe” Suid-Afrika amptelik in 1994 tot stand gekom het.)

Die “ordening” van die samelewing deur ongeskrewe taboes en gebruike is so oud soos die mensdom self. Orals in die wêreld kom dit voor dat rasse of kulturele groepe wat dieselfde leefruimte deel, “apart” van mekaar lewe. Gewoonlik gebeur dit op ‘n spontane en natuurlike manier. Maar in SA is dit deur wetgewing afgedwing. Basies spruit sulke wette voort uit ‘n gevoel van rassemeerderwaardigheid van een groep teenoor ‘n ander. Die wette het dan ten doel om ‘n bepaalde ras (bv blankes) sogenaamd suiwer te hou, of om te keer dat in ‘n sekere konteks ‘n minderheidsgroep (bv blankes) deur ‘n meerderheidsgroep (bv swartes) ingesluk of gedestabiliseer word. Die apartheids-huwelikswet was net nóg ‘n poging om swart en wit uit mekaar te hou en rasvermenging te keer. Vóór hierdie wet het rasgemengde huwelike wel voorgekom, hoewel nie baie nie.

Die Bybel is egter duidelik daaroor dat alle mense van een voorvader af stam (Hand 17:26) en dat ons in daardie sin van die woord almal tot dieselfde “ras” – die menslike ras – behoort. Die feit dat ons nie almal dieselfde lyk of optree nie (en mekaar daarom wantrou), het niks te make met ewige Goddelike skeppingsordeninge wat ons van mekaar skei nie, maar het oor tyd heen ontstaan as gevolg van allerlei omgewingsfaktore en genetiese aanpassings en veranderings. Alles natuurlik, so glo ons, onder die voorsienige hand van God. Die punt is egter dat daar geen beletsel vanuit die Bybel bestaan dat mense van verskillende rasse met mekaar mag trou nie. So lees ons bv van Moses wat met ‘n Kussitiese vrou getroud was (Num 12:1). Sy was waarskynlik afkomstig uit Etiopië in Afrika en donkerder van kleur as die Semiete (Israeliete). Die punt is dat sy ‘n nie-Israeliet was en dat dít waarskynlik die aanleiding was vir Aäron en Miriam (veral lg) se afgunstigheid op haar – dat sy as nie-Israeliet meer invloed by Moses sou hê as hulle. Onmiddellik moet mens egter byvoeg dat daar onder die antieke volke rondom die Middellandse See-gebied nie groot rasseverskille was nie. Almal het min of meer dieselfde velkleur gehad. Uiteraard was daar wel kulturele en godsdienstige verskille, maar dit het nie gekeer dat daar dikwels ondertrouery tussen die volke in Palestina was nie. Ook die Israeliete het hieraan meegedoen, dikwels tot groot ontsteltenis van die geestelike leiers – nie vanweë rassevooroordele nie, maar weens godsdienstige redes (Neh 13:23-27). Wat my by die volgende gedagte bring.

Die enigste verbod wat die Bybel wel het as dit by trou kom, is dat gelowiges nie met ongelowiges behoort te trou nie, vanweë die potensiële verleiding tot afgodediens (Gen 28:1; 1 Kon 11:1-13; Esra 9-10; Neh 13:23-27), en omdat die intieme lewensverbintenis in die huwelik dit moeilik maak vir man en vrou om in een juk saam te trek as daar groot geloofsverskille is (1 Kor 7:39; 2 Kor 6:14-7:1). Hierin was daar egter ook soepelheid, veral as een party ná die huweliksluiting gelowig geword het maar die ander party nie (vgl 1 Kor 7:12-16). In elk geval was daar niks wat verhoed het dat iemand uit ‘n ander volk met ‘n Israeliet trou nie, mits daardie persoon die Israelitiese/Joodse geloof aanvaar. In die Ou Testament is die klassieke voorbeeld dié van Rut, die Moabitiese skoondogter van Naomi, wat met Boas, die Israeliet, getroud is en so die voorouer van koning Dawid geword het. Ten grondslag van die Bybelse verbod op gemengde huwelike weens geloofsoortuigings lê die gedagte dat die huwelik nie net ‘n liggaamlike en sosiale eenheid is nie, maar eintlik die kerk in die kleine is. Dis hier waar die geloofsgemeenskap primêr begin en gebou word. En as daar nie oor geloof eenstemmigheid tussen man en vrou is nie, word die volk van God benadeel. Dit is dikwels so dat as man en vrou aan verskillende gelowe behoort, daar geen duidelike geestelike leiding aan die kinders gegee word nie “ter wille van die vrede”. En so eindig die volgende geslag sonder God.

Die feit dat daar geen beletsel in die Bybel is op huwelike tussen verskillende rasse nie, beteken nie dat dit altyd aan te beveel is nie, gewoon omdat die huwelik ‘n intieme lewensgemeenskap tussen twee persone is. Dit is al klaar “moeilik” om met iemand vanuit jou eie ras- en kultuurgroep, waar daar met die wegspring baie gemeenskaplikhede is, oor die weg te kom. Hoeveel te meer nog as dit met iemand uit ‘n ander kultuur- of rasgroep is. Tog is daar talle voorbeelde van sulke gemengde huwelike wat baie geslaagd is. Dit kan werk. Punt is: Rasgemengde huwelike is ‘n persoonlike keuse tussen twee individue. Daar is niks in die Bybel wat dit verbied nie. Hulle moet net die konsekwensies vooraf baie goed bereken en vir die regte redes trou, nie om een of ander punt te bewys nie. Maar waar daar opregte aangetrokkenheid en liefde is, is daar geen rede waarom so ‘n huwelik nie kan slaag nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Binding van Satan en demone – Hermie van Zyl

Mariana vra:

Kan Satan en demone “gebind” word? Kan gelowiges deur demone beïnvloed word? Die antwoord op demoniese beïnvloeding: “Onderwerp julle aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan…” (1 Pet. 5:8, My beklemtoning). “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:11). (Let wel, weereens word daar niks gesê van die duiwel of demone wat gebind moet word nie). Hoe onderwerp jy jou aan God en hoe weerstaan jy die duiwel? Wat van Matt. 18:18?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is twee sake ter sprake: 1. die binding van die duiwel/demone, en 2. die moontlike beïnvloeding van gelowiges deur die duiwel/demone.

Ek vermoed die agtergrond van die vrae is die hele verskynsel van duiwelbesetenheid en gevolglike “geestelike oorlogvoering” waar die duiwel “gebind” moet word, en nie maar net die algemene stryd wat elke gelowige daagliks teen die bose voer nie. My antwoord neem dus hierdie agtergrond in ag.

Eerstens die kwessie van die binding van die duiwel of demone. Ons lees net op een plek in die Nuwe Testament van die binding van die duiwel, naamlik Op 20:2 waar ‘n engel die duiwel bind en in die onderaardse diepte gooi, waar die duiwel vir ‘n duisend jaar opgesluit word, waarna hy vir ‘n kort rukkie vrygelaat word om sy verwoestingswerk aan te rig, net voordat hy en sy trawante finaal verslaan word (Op 20:10).

Ons moet onthou dat Openbaring ‘n apokaliptiese geskrif is wat oorvloedig van beeldspraak gebruik maak om sy boodskap oor te dra. Tradisioneel is daar ‘n verskeidenheid van interpretasies van Op 20, waarvan die chiliastiese interpretasie een is. Hiervolgens lê die duisendjarige vrederyk nog in die toekoms. Christus keer dan terug vir die eerste keer, bind die duiwel en heers letterlik vir ‘n 1000 jaar (die sg Messiaanse vrederyk), waarna die duiwel dan losgelaat word om vir ‘n kort rukkie “te heers”, net om by die tweede en finale wederkoms van Christus finaal in die poel van vuur, waar die draak en vals profeet reeds is, gegooi te word.

By verre die meerderheid van geleerdes lê Op 20 egter so uit dat die binding van Satan reeds plaasgevind het met die eerste koms van Christus 2000 jaar gelede, en dat ons nou in die simboliese duisendjarige vrederyk leef waar die werk van Satan, hoewel dit steeds voortgaan, beperk word deur die oorwinning wat Christus aan die kruis en deur sy opstanding en hemelvaart behaal het. Slegs “aan die einde van die tyd” (niemand weet wanneer nie) sal Satan sy “normale” verwoestingswerk intensiveer (hy word “losgelaat”), waarna die eindoordeel sal aanbreek. Volgens hierdie hoofstroominterpretasie – wat volle erkenning gee aan Openbaring as simboliese boek wat Christus se oorwinning oor Satan telkens in konsentriese sirkels regdeur die geskrif weergee – is Satan tans gebind (natuurlik relatief gesproke) en leef ons nou in die tyd van die wêreldwye verkondiging van die verlossing en oorwinning wat Christus gebring het met sy eerste koms. (Terloops, 1000 is ‘n simboliese getal – tien [volmaakte getal] tot die mag drie, wat dan die volkome mag van God oor die bose uitdruk.) Punt is: hierdie “binding” van Satan het die algemene betekenis dat die werk van Satan aan bande gelê is met die koms van Christus. Dit is dus slegs ‘n ander – simboliese – manier van beskrywing van wat ons in die Evangelies aantref waar ons lees dat Jesus die duiwels of demone uitgedryf het. So gesien is die binding van Satan saaklik gelyk aan die uitdrywing van die demone deur Jesus. En laasgenoemde het op sy beurt weer die betekenis dat met die koms van Christus die mag van die Bose gebreek is. Jesus is die sterker Een wat die koninkryk van God op aarde vestig en die greep wat die bose het op die mens, verbreek (vgl Luk 11:20).

Verder, Matt 18:18 (“wat julle op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees”) het niks te make met die binding van die duiwel nie. Dit handel hier oor die leer- en dissiplinêre gesag van die kerk. “Bind” en “ontbind” is tegniese terme wat met die gesagvolle optrede van die kerk te doen het. Wanneer die kerk optree teenoor lidmate wat volhardend sondig, en hierin volgens die liefdeswil van God optree, dan sal God die kerk se optrede in die hemel bevestig. Daar is dus ‘n korrelasie tussen wat die kerk op aarde “bind” en “ontbind” en God se optrede in die hemel. Die kerk is so die verteenwoordigers van God se wil op aarde. Maar dit is saak vir ‘n ander gesprek.

Oor die tweede vraag – of gelowiges deur die duiwel/demone beïnvloed kan word – is die kort antwoord “nee”. Gelowiges wat naby Christus leef, het niks te vrees vir die bose nie. Uiteraard hét ons in die algemeen ‘n stryd teen die bose wat altyd gereed staan om ons te verlei tot die kwaad, maar dit het niks te make met toevallige binding en beïnvloeding soos om aan ‘n “heidense” voorwerp te raak waardeur die bose téén die wil van die gelowige toegang tot sy/haar lewe verkry nie. Die enigste manier waarop die bose beslag kan lê op ‘n mens, is wanneer jy doelbewus van God se pad afdwaal en jou met die werk van die bose begin besig hou. Maar so ‘n beslaglegging volg eers na ‘n lang tydperk van volhardende afdwaling, en het ook nie noodwendig “duiwelbesetenheid” tot gevolg nie. Die gelowige wie se hartlike begeerte dit is om in liefde en toegewydheid teenoor God en die naaste te lewe, het niks te vrees vir die binding deur die duiwel of toevallig duiwelse beïnvloeding nie. Die tekste wat die vraagsteller hierbo aanhaal (Jak 4:7; 1 Pet 5:8; Ef 6:11) sê ook duidelik dat daar maniere is om met “duiwelse beïnvloeding” te handel in die normale gang van sake.

Die groot saak is dat ons nie duiwelgefokus of duiwelbehep moet lewe nie. En ek is bevrees dat die hele bedryf rondom “geestelike oorlogvoering” ‘n vorm van duiwelbeheptheid is. Ons fokus moet op Christus en God wees, nie op die duiwel nie. Die duiwel en sy trawante is slegs die donker skaduwees wat sigbaar word wanneer die helder lig van Christus se oorwinning oor alle vyandelike magte in die wêreld, daarop val. Solank ons op die Lig fokus, hoef ons ons nie te veel aan die skaduwees te steur nie. Die duiwel is nie ons aandag, kragte en energie werd nie. Dan bekom hy ‘n status wat hy nie verdien nie. Soos Paulus in Kol 3:2 sê, ons moet ons gedagtes rig op die dinge daarbo, nie op die dinge wat op die aarde is nie. (Met “dinge op die aarde” word bedoel alles wat ons hier kan betower en kan aftrek van ons lewe saam met Christus.) Natuurlik moet ons nie naïef wees oor die verwoestingswerk wat deur die bose aangerig kan word nie. Maar die manier waarop die bose beveg moet word, is nie deur op hom te fokus nie; fokus eerder op die Een wat sterker is. By Hóm skuil ons. En hoe langer en meer ons dit doen, hoe minder word die behoefte om notisie te neem van die bose.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl