Die Openbaring aan Johannes – Wat van die gelowiges in dié tyd (7:1-17) – Francois Malan

Na die verskrikking deur die eerste ses seëls wat die Lam oopbreek om God se toorn aan te kondig oor die sonde en die sondaars wat sy liefde versmaai, en sy oordeel oor die hele skepping as gevolg daarvan, maar voor die oopbreek van die sewende seël in hoofstuk 8, antwoord hoofstuk 7 op die vraag van 6:17. Die oopbreek van die seëls word onderbreek met wat vir die leser van uiterste belang is: die verseëling van die gelowiges. Dit oriënteer die leser vir die ‘nog nie’ van die voltrekking van die oordeel. ‘Wat gou (en tachei) moet gebeur’ (in 1:1), word terug gehou tot die einde aanbreek in 22:20: ‘Ja, Ek kom gou (tachu).’ Ons lewe in hierdie voorlaaste tyd tussen die ‘alreeds’ van Jesus se eerste koms om te verlos, en die ‘nog nie’ van sy tweede koms om te oordeel. Hoe ons vanuit sy eerste koms se verlossing lewe, bepaal ons posisie op die dag van sy tweede koms. Die gelowiges sal kan staande bly (6:17), omdat hulle gemerk is as God se kosbare eiendom, vrygekoop uit die sondeslawerny deur Christus se liefdesoffer (1 Kor 6:20). Dit is noodsaaklik dat gelowiges die perspktief van Bo af behou. Johannes teken dit met twee tonele, elkeen ingelei met ‘hierna…’: 7:1-8 die gelowiges op aarde in hulle stryd teen die bose; 7:9-17 die oorwinnende gelowiges in die hemel voor die troon van God.

 

Die verseëling van God se eiendom op aarde (7:1-8)

7:1 Vier engele wat by die vier hoeke van die aarde staan om die vier winde van die aarde in bedwang te hou, sodat hulle nog nie die aarde vernietig nie, totdat die gelowiges eers met ‘n seël gemerk is. Die ophoping van die getal vier wys dat die totale vernietiging wêreldwyd gaan wees, maar dat dit eers moet wag. God se oordeel word nog nie finaal voltrek nie. Dit word kalm op die aarde en die storms op die see bedaar, die ritsel van die blare aan die bome word stil (vgl. Dan 7:2 waar die vier winde alles onstuimig laat word; en die wind wat simbool is van God se oordeel in Hos 13:15). Die spanning van die leser, wat opgelaai het tot by die oopbreek van die sesde seël, kry ‘n blaaskans, voordat die klimaks bereik word met die oopbreek van die sewende seël. Die winde van God se oordeel moet op sy bevel eers in bedwang gehou word,

7:2-3 Die woord ‘seël’ word ses maal in 7:1-8 ingeweef om die aandag van die leser daarop te vestig. In die taal van Openbaring dra elke mens ‘n teken: óf die seël van God, óf die merk van die dier (13:16). Die merke is nie letterlike tatoëermerke nie, maar simbole wat gesien kan word in die mense se lewenswyses, hulle norms, waardes en geloof. Die merke op die voorkop wys wat in die mense se koppe aangaan (vgl. Eseg. 9:4-6). Die afdruk van ‘n seëlring in klei of was, het eienaarskap aangedui (dokumente is met die seëlring van bv. die koning gewaarmerk, vgl. 1 Kon 21:8; Ester 3:10,12; 8:8; slawe is gemerk met die merktekens van hulle eienaars). Dié mense, wat met die seël van God verseël is, word beskerm teen die vernietiging van die plae (9:4), soos die Israeliete se bloed aan die kosyne hulle teen die tiende plaag , die dood van die eersgeborenes, beskerm het (Eks 12:12-13). Die bloed van die Lam (Op 7:14) gee aan die gelowiges hulle identiteit as God se eiendom, sy slawe, en dra die merkteken dat hulle navolgers van die Lam is.

7:4-7 Vanuit die aardse perspektief hoor Johannes die getal 144,000 wat met die seël gemerk is om hulle te beskerm teen die plae op die aarde tydens die vervolging. Vanuit die hemelse perspektief sien hy ‘n ontelbare skare voor die troon en die Lam. Waarskynlik word die groep van 144,000 wat nog lewe ingesluit by die ontelbare skare van alle gelowiges, dié wat reeds dood is en dié wat nog lewe. Die ontelbare skare wat Johannes sien (7:9), verklaar die getal wat hy gehoor het (7:4-8). Die 144,000 verteenwoordig al die gelowiges, almal wat aan God behoort, van voor en Christus. Die simoliese getal 144,000 word saamgestel uit 12x12x10x10x10. Dit verteenwoordig die gelowiges uit die 12 stamme van Israel (vgl. die 12 stamname van die 12 poorte van die nuwe Jerusalem 21:12) en die kerk, verteenwoordig deur die 12 apostels van die Lam, wie se name op die fondamente van die stadsmuur staan (21:14) – stamname en apostelname saam in die nuwe Jerusalem; die getal 10 vir afgerondheid, 3 as die getal vir God – 10x10x10 = 1,000×144= 144,000 as God se volle getal volgelinge van die begin van die skepping tot by die herskepping. In 7:1-8 hoor Johannes van hulle as God se weermag op aarde wat oorwin oor die sonde, en getuies is van God se verlossing deur die Lam en van sy liefde om mense tot bekering te roep; in 7:9-17 sien Johannes dieselfde volle getal van God se oorwinnaars wat in die hemel triomfeer (vgl. Luk 15:7,10). God vrywaar nie sy eiendom teen die vervolging en geweld op aarde nie, maar rus hulle met sy Gees toe om as oorwinnaars te volhard op grond van die Lam se offer en opstanding.

7:8 Johannes hoor van ‘n sensusopname, God se ‘roll call,’ van 12,000 uit elke stam van Israel, wat ingesluit word met die woord ‘verseëldes’ aan die begin van die lys by die Judastam en aan die einde by die Benjaminstam. Die welluidende herhaling van ‘verseëldes’ beklemtoon dat niemand van God se volk makeer nie. Die twaalf name verteenwoordig God se volle getal volgelinge op aarde met die simboliese merk op hulle voorkoppe. Die nuwe Israel sluit alle gelowiges van die Ou- en Nuwe Testamentiese tyd in onder die name van die stamvaders, soos uit 7:9 gesien word.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die vyfde tot die sewende seël word oopgebreek (6:9-17) – Francois Malan

6:9-11 Met die oopbreek van die vyfde seël word die tempo stadiger, en die toneel verskuif van die aarde na die hemelse altaar, vanwaar die ‘siele’ van dié wat geslag is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het, uitroep – die woord ‘siel’ wat vir die mens se innerlike wese, gedagtes en gevoelens, gebruik word, word dikwels in die Bybel vir ‘n persoon as ‘n lewende wese gebruik, soos hier. Hulle wag op ‘n antwoord vir hulle teologiese raaisel, wanneer die heilige en ware Alleenheerser hulle bloed sal wreek en die aardbewoners sal oordeel – daarmee erken hulle God se regverdigheid. Hulle vra hoe lank hulle nog moet wag totdat God hulle getroue getuienis bekendmaak as die regte weg, naamlik die kruisweg van God se liefde wat die bose oorwin en ook die onreg op aarde. Hulle moet daarvoor nog ‘n kort rukkie wag, totdat die volle getal gelowiges daar is. Hulle dra egter reeds ‘n wit stola, ‘n simbool van hemelse heerlikheid en van hulle oowinning oor die bose (vgl 3:5). Hulle is ‘wit gemaak in die bloed van die Lam’ (7:14).

Hier is die eerste van agt verwysings in Openbaring na die altaar, hier as ‘n toevlugsoord vir die martelare naby die troon van God, ‘n rusplek na hulle stryd – dit is die hemelse teenbeeld van die onbewoonde woestyn vir die vervolgde kerk op aarde, in 12:6,14. Hulle ‘rus ‘n bietjie’ is die gevolg van die gelowiges op aarde se volharding en uithou teen Babilon se verleidings (1:9; 2:2,3,19; 13:10; 14:12). Die gelowiges op aarde word genoem: mede-slawe (vir wie God gekoop het as sy eiendom) en broers (medegelowige kinders van God).

6:12-15 Die oopbreek van die sesde seël merk die laaste dag, die dag van die Here, wanneer die orde van die skepping aan die begin omgekeer word tot chaos (vgl. Jes 13:9-13; 24:19-23; Mark 13:24). Die hele aarde en die hele skepping word tot in elke onderdeel geskud. Dit is egter nog nie die einde nie, maar die voorlaaste tyd, voor die finale aanbreek daarvan met die oopbreek van die sewende seël. Terwyl die skepping in morele chaos verval as gevolg van die mens se weerstrewigheid en sondigheid, word die aankondiging van Christus se koms vertraag vir nog ‘n paar hoofstukke. Maar die verhoog is skoongewas vir die nuwe skepping bo-oor die morele chaos. Omdat die mense hoogmoedig is en weier om die Skepper te erken is daar chaos. Daarom moet die mensdom eers gebring word tot erkenning van God voordat die nuwe orde moontlik word met die koms van God en die Lam.

Die omwentelings in die hele skepping is ook simbole van wat in die samelewing plaasvind. Die groot aardbewing wat die aarde skeur, is die uiterlike teken dat die wêreldorde met die belange van menslike instellings en magte teen God, onherstelbaar in stukke gebreek is. Die son trek rouklere (harige sakmateriaal) aan as teken van rou oor die morele verval van die wêreld. Die maan se onnatuurlike rooi glans soos van ‘n sirkusnar is sinnebeeld van die onderstebo wêreld wat in chaos ontbind. Die sterre, wat soos vrugte in die winter afval, simboliseer die wêreld wat van God as sy anker losskeur (Mark 13:24). ‘n Hemelruim wat soos ‘n boekrol oprol (Jes 34:4) met stewig gevestigde berge en eilande wat begin dryf, is metafore vir die morele, geestelike en fisiese ontbinding van die aarde. Die korrupsie op aarde gaan saam met die verswakking en verplasing van die hemelliggame. Die gebroke skepping en sy gebroke mensdom het herstel deur Christus dringend nodig.

6:16-17 Die mense reageer wanhopig. Die ganse mensdom, van konings tot slawe (7 tipes word in 6:15 genoem om volheid aan te dui) soek ironies hulle toevlug in ‘n wêreld wat vinnig besig is om te ontbind. Uit vrees vlug hulle in grotte en onder kranse in (vgl. Jes 2:19,21); hulle roep na die berge en heuwels om hulle te bedek (vgl. Hosea 10:8). Almal, lewendes en die wat reeds dood is, moet voor die lewende God verskyn om die finale oordeel te hoor (Openb 20:11-14).

Die konings van die aarde het volgens Openb 17:12-13 hulle mag en gesag tot die antichris se beskikking gestel, en is daarom simbole vir die goddelose maghebbers; die uitvoerende amptenare voer die konings se bevele uit; die generaals verteenwoordig die miliêre gesag; die rykes regeer die Romeinse Ryk deur hulle invloed en middele; die magtiges wat die toon aangee, is ‘n samevatting van die eerste vier groepe; ‘elke slaaf en vrymens’ is die laer groepe in die samelewing. Alle sosiale onderskeidings val weg wanneer God se eindoordeel die goddeloses tref..

Soos Adam en Eva probeer hulle om hulle naaktheid vir God weg te steek (Genesis 3:8). Vir hulle is die Lam se oorwinning ‘n teken van God se toorn (v16). Die woord ‘toorn’ (wraak) druk God se regverdige toorn oor die goddelose wêreld uit (vgl. Op. 16:1,19; 19:15). Sy toorn is God en die Lam se ‘hartseer;’ hulle verwonde liefde vir die mense wat hulle rug op God en die Lam gedraai het (vgl. Joh 3:36). Die vraag is: wie kan die toorn van God weerstaan? (vgl. Maleagi 3:2 en Joël 2:11). Hoofstukke 2-3 het gewys wat gedoen moet word om dit vry te spring. Hoofstuk 7 sal wys wie sal stand hou op die groot dag van die Here se oordeel, en wat die kerk se rol is in die gebeure wat daartoe lei.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die seëls word oopgebreek (6:1-17) – Francois Malan

Die verhaal van die sewe seëls is verdeel in 4+3=7; vier, die getal van die aarde, vertel die verhaal van die verwoesting op die aarde deur die vier perderuiters (6:1-8); drie, die getal van die hemel, vertel van gebeure in die hemel (6:9-11; 8:1) en geweldige ontwrigtings op aarde (6:12-17). Hoofstuk 8 bring ‘n verposing in die verhaal van die verwoesting met die oopbreek van die sewe seëls (sfragida) deur die teenpool daarvan, met die verseëling (sfragizoo) van die gelowiges met die seël (sfragis) van God, en ‘n beskrywing van die plek waar Johannes en die gelowiges staan, tussen die oopmaak van die sesde en die sewende seël, die tussentyd, met verwagting, maar nog nie die voltooiing van die reis nie. Dit is soos die Israeliete se trek deur die woestyn, na die bevryding uit Egipte, maar nog nie in die beloofde land nie, tussen die chaos en verwoesting van hierdie tyd, en die kalmte en orde van die nuwe tyd. Dit is die tyd en plek van die ballingskap in ‘Babilon’ (simbool van die onderdrukking en dekadensie van Rome) aan die eenkant, en die reis na die nuwe Jerusalem, aan die anderkant. Die oopbreek van die seëls beskryf ook gebeure van ons dag wat wag op vervulling aan die einde. Johannes beskryf die vinnige disintegrasie tot wanorde wat hy sien, en hy hoor die belofte van die herstel van die gebroke skepping deur die Messias wat aan die kom is (22:17,20).

 

Vier ruiters (6:1-8)

6:1 Die Griekse woord ercho kan soms beteken ‘gaan,’ soos in die 1983-vertaling, as opdrag aan die ruiters – hoewel die opdrag om te straf van God af kom, en nie van die lewende wesens af nie; maar ercho word eintlik gebruik vir ‘kom’ en dikwels juis ‘kom’ teenoor ‘gaan,’ soos korrek in die 1933/53-vertaling, wat egter foutief daarby gesê het ‘kom kyk.’ Die 2014-vertaling het slegs ‘kom,’ soos in die Griekse teks. Die ‘kom’ word verskillend verklaar as ‘n opdrag aan Johannes wat moet kyk, of, in die betekenis van Openb. 20:17,20, as ‘n roep tot die Here Jesus om te kom verlos (en te oordeel). Dan is dit wat Johannes sien en wat hy hoor twee teenpole: hy sien die seëls word oopgebreek en die orde van die skepping disintegreer onder die oordeel van die Lam; maar hy hoor telkens een van die lewende wesens wat tot die Lam roep om die gebroke skepping te kom heelmaak. So word die mens se boosheid ingeweef in God se genade plan. Die oordeel kom uit God se almag en heiligheid waardeur Hy sonde en onreg nie ongestraf laat bly nie, maar vir die gelowiges het Christus reeds die straf gedra. So word ‘kom’ ook ‘n oproep aan die goddeloses om tot Christus te kom.

6:2 Johannes sê hy het gesien, en hy roep dringend: ‘kyk’ – kyk goed na die wit perd en sy ruiter met sy boog en oorwinnaarskroon, wat oorwinnend optrek om te oorwin. Op die oog af lyk dit soos die Woord van God wat op ‘n wit perd as regter kom oordeel (Openb 19:11-16), maar as jy mooi kyk, sal jy die valse christusse en valse profete van Markus 13:5,6,22 in hierdie ruiter raaksien. Pyl en boog is simbole van Apollo, die Griekse god van profesié en propaganda. Met sy kroon lyk hy soos Christus, maar dit is ‘n stefanos, ‘n oorwinnaarskroon van ‘n atleetvegter, en nie Openb 19:12 se baie konigskrone nie (diademata); met sy boog oorwin hierdie ruiter met geweld, Openb 19:15 se ruiter oorwin met die vlymskerp swaard van sy mond en sy getuienis aan die kruis. Hierdie ruiter kom eintlik met sy valse propaganda die sending van die ander drie ruiters voorberei deur die mense te verlei, met die wit perd van propaganda, verleiding en opstokery.

6:3-4 Die Lam breek die seëls waardeur die oordeel van God die mense aan hulle eie begeertes oorgee en hulle mekaar vernietig (Rom 1:18,24,26). Die vuurrooi perd bring bloed en vernietiging van lewens deur oorlog. Hy verteenwoordig Markus 13:7-9 se oorloë en gerugte van oorloë, nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Hy neem die vrede weg met die swaard (die groot swaard van Rome se simbool van hulle militêre mag); dit spel oorlog en geweld – letterlik staan daar: die mense sal mekaar slag (sfrazoo, genadeloos met geweld), soos die pax Romana (Rome se ‘soort’ vrede), wat 95% van die bevolking onderdruk met slawerny, kruisigings, veldslae, swaardgevegte en gevegte met diere in die arena. Rome se vrede vir sy 5% elite sal plek maak vir die ware vrede wat God en sy Christus uit gernade bring (Openb.1:4).

6:5-6 Toe die Lam die derde seël oopbreek het Johannes die derde engel hoor roep: ‘kom!’ En hy het gesien: ‘kyk! (gee aandag!): ‘n swart perd! (in 6:12 word die son so swart soos ‘n harige sak). Sy ruiter hou ‘n skaal vas om kos af te weeg in ‘n skaars tyd. Hy verteenwoordig hongersnood ná verowering en doodslag. Johannes hoor ‘n stem wat tussen die vier lewende wesens opklink wat die gevolge van die hongersnood aandui: vir ‘n arbeider se dagloon (‘n Romeinse denarius) kan hy slegs ‘n kwartmaat koring en ‘n driekwartmaat gars bekostig – koring en gars, die stapelkos in die Romeinse provinsies – genoeg vir een dag, maar baie duurder as gewoonlik vanweë die inflasie wat die pryse van produkte geweldig opstoot. Olyfolie is noodsaaklik vir lampe, offers, om kos mee te kook, en wyn die veilige alternatief vir besmette water en vir feesviering, dit moet nie beskadig word nie. Vir die hongersnood word ‘n grens gestel deur die stem vanuit die lewende wesens, sodat mense in die noodsituasie kan bly lewe met harde werk. In 8:7 en 16:3 word dit egter veel erger – in 8:7 verbrand ‘n derde van die aarde, in 16:3 gaan alles in die see dood. (Toe Domitianus in 92 n.C. beveel het dat die helfte van Palestina se wingerde uitgekap moes word om plek te maak vir graanlande was die reaksie so heftig dat hy sy bevel moes terugtrek).

6:7-8Toe die Lam die vierde seël oopbreek, roep die vierde lewende wese: ‘Kom!’ Sy ruiter, met die naam ‘Dood,’ ry op ‘n grys-groen perd, die kleur van ‘n lyk. Kort op sy hakke volg ‘Dood’ se metgesel Hades (doderyk) wat die dooies opslurp (in die Bybelse tyd het mense gedink die doderyk is ‘n plek onder die aarde waarheen mense afdaal as hulle sterf). Hulle twee word beperk tot ‘n kwart van die aarde, wat hulle op vier maniere uitwis: met die swaard, hongersnood, ‘n dodelike siekte, aardse wilde diere.

Die viertal word in 6:7-8 viermaal herhaal: die vierde seël, vierde lewende wese, vierde van die aarde, vier plae – om die aard en omvang van die plae op aarde te beklemtoon (vgl Eseg 14:21).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Let op die honde – Francois Malan

Jan vra:
Filippense 3:2 : Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. [Hierdie is die Ou Afrikaanse vertaling.]

Wie sou die honde wees waarna Paulus hier verwys?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Honde was in die ou tyd nie as huisdiere gebruik nie. In die Nuwe-Testamentiese tyd lees ons wel van ‘hondjies’ as huisdiere (Mat 15:27). In Egipte is honde al voor Moses se tyd geleer om te jag, en so ook deur die Bedoeïne in die suide van Palestina. Die meeste honde het egter los rondgeloop en orals kos gesoek, en veral snags in groepe deur die stede en dorpe getrek (Ps 59:7,15), alles opgeruim wat eetbaar was, en so ‘n reinigingsfunksie verrig. In die Ou Testament word nie veel goeds van honde gesê nie: Ps 22:17 praat van honde wat jou omsingel; Spr 26:11 van ‘n honde wat na sy eie braaksel terugkom – dit word in 2 Petr 2:22 aangehaal. Daarom het die Jode honde as onrein diere beskou (Eks 22:31 gooi verskeurde vleis vir die honde; 1 Sam 17:43 vra Goliat vir Dawid of hy dan ‘n hond is wat Dawid met kieries wil doodslaan; 1 Sam 24:15 vra Dawid vir Saul of hy agter ‘n dooie hond aan kom; 2 Sam 9:8 vra die kreupel Mefiboset vir Dawid waarom hy na ‘n dooie hond omsien; 2 Sam 16:9 vra Seruja waarom die lae hond Simeï toegelaat word om die vlugtende koning Dawid te vloek; ens.)

In Jesaja 56:10-12 noem die Here sy volk en hulle leiers, wat nie na Hom wil luister nie, gulsige honde wat nooit genoeg kry nie. In Mat 7:6 sê Jesus: moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie, hulle sal jou verskeur; Openb 22:15 praat van die honde (onreines) wat nie in die hemel opgeneem word nie (die 1983-vertaling verklaar honde as dwaalleraars).

Flp 3:2-3 handel oor die besnydenis, en is ontsteld oor Jode wat in die gemeente van Filippi begin verkondig dat niemand gered kan word, wat nie besny is nie. Die Jode het heidene (alle nie-Jode) as onrein mense beskou met wie jy nie omgegaan het as jy dit enigsinds kon vermy nie. Hier draai Paulus die orde om, en noem hy die Jode wat die besnydenis verkondig onrein honde, leraars wat dwaling verkondig – dwaalleraars.

Die Jode het daarop geroem dat hulle die wet van God het en daarvolgens lewe, en daarom het hulle hulleself beskou as ‘goeie werkers.’ Paulus noem hulle hier ‘slegte werkers’ (wat kwaad stig) omdat hulle vertrou op hulle goeie werke om die Here te behaag. So dink hulle dat hulle hulle self kan verlos met hulle goeie werke, en Jesus se offer vir die sonde van die wêreld nie nodig het nie.

Die Jode het die besnydenis, wat ‘n teken was van hulle verbond met God, verhoog tot iets wat waarde in sigself het, onmisbaar vir jou verhouding met God. In Romeine 2:28-29 sê Paulus ware besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie, maar innerlik, iets van die hart, geestelik. 1 Kor 7:19 besnydenis beteken nie iets nie…maar wel die gehoorsaamheid aan die gebooie van God; Gal 5:6 Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde in dade omgesit word. en Gal 5:12 Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulle self volledig ontman. So noem Paulus in Flp die Joodse dwaalleraars wat mense wil besny vir verlossing, ironies ‘verminkers’ (1983: betekenislose/vals besnydenis).

Skrywer:  Prof Francois Malan