Hoe oud is die aarde – Marius Nel

Johan vra:

Wil graag weet hoe oud die skepping werklik is as ons na die wetenskap kyk , of is die aarde regtig in ses dae (ons dag) geskape ?

Antwoord

Prof Marius Nel antwoord:

Die Bybel bied nêrens ‘n antwoord oor die ouderdom van die aarde nie.  Onthou, die Bybel bevat verkondiging oor God wat Hom aan mense openbaar en gee nie voor om ‘n wetenskaplike of historiese handboek te wees nie. Die Bybel noem ook nie dat die aarde sesduisend jaar oud is nie.  Wat belangrik is, is dat ons die Bybel gebruik waarvoor die Here bedoel het, om Hom te ontmoet en in ons kennis van Hom te groei. En stel ons belang in sy skepping, steek ons kers op by die wetenskap.

Skrywer:  Prof Marius Nel




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(2) – JP Louw

Die sentrum van ‘n woongebied

Water was die hartaar van dorpe en stede. Die waterput was ‘n eerste vereiste vir enige groepie om saam te leef. Mense het daagliks met hulle emmers (van velle gemaak) of kruike na die waterput gegaan om te skep (Johannes 4). Die put was dan ook ‘n belangrike sosiale plek vir gesels en rus.

Sommige waterputte was ‘n klein fontein, ander was gegrawe, dikwels in ‘n droë rivierbed. Min putte was diep en met ‘n muur omring. Baie was maar ‘n gat van ongeveer ‘n kubieke meter groot wat in droogtetye geen water gehad het nie (Jeremia 14:3). Die winterreëns het die putte aangevul en syferinge het hulle soms vir lank laat stand hou. Wanneer daar oorlog of struwelinge was, is putte toegegooi (Genesis 26:15, 2 Kronieke 32:4).

PutbyBarseba

Die antieke put by Berseba

 

Stadsmure

Die stadsmuur was ‘n woongebied se belangrikste kenmerk. Aanvanklik het die mure uit gepakte klip bestaan. Jerigo se muur was op ‘n stadium selfs moontlik twee meter dik en het waarskynlik ook ‘n hele paar torings gehad. Toe die landbou meer ontwikkel het en bouwerke toegeneem het, is die onderste dele van mure met klip gebou en die hoër dele met gebakte stene. Die mure was gewoonlik so gebou dat hulle met die omliggende grond kon saamval sodat dit ‘n steilte gevorm het wat moeilik bestyg kon word. Sommige mure het skuins op na bo geloop, ander was regop dubbelmure, met kamers tussenin of net met rommel opgevul. Mure soos hierdie was dus baie dik.

Mure het nie altyd aanvallers uitgehou nie. As ‘n stad ingeneem is, was dit so verwoes dat dit herbou moes word. Omdat stede gewoonlik op die beste plekke vir beskerming (dikwels op hoogtes) gebou is, het mense ‘n verwoeste stad op dieselfde plek herbou. Soms is ‘n stad meer kere verwoes en kan argeoloë vandag wanneer hulle so ‘n stad opgrawe uit die verskillende lae die stad se geskiedenis vasstel. So ‘n “opgehoopte” stad is ‘n tel genoem (Esra 2:59, Esegiël 3:15). Die woord tel is nie by alle name gevoeg nie. Berseba was ook ‘n tel-en so was baie stede. Prakties gesproke was ‘n tel ‘n gemaakte heuwel of koppie. Die onderste deel van elke nuwe muur moes breed wees om ‘n basis te vorm. So is die heuwel dus gevorm en is grond en klip vasgestamp om die skuinste stewiger te maak om die nuwe muur te steun. Soms is die skuinste ingegrawe in die ou vlak van die heuwel sodat daar ‘n sloot gevorm is voordat die nuwe skuinste begin pak is. Die uitgrawing het so meer beskerming gebied, maar ook meer materiaal gelewer vir die nuwe skuinste om die nuwe muur te steun en die sloot se buitewal te verhoog.

jebusietestad

Oorblyfsels van die muur van die Jebusiete stad van Jerusalem uit die agtiende eeu v.C.

Verbeterde tegnieke van oorlogvoering het dit nodig gemaak om die dubbelmure met kamers tussenin te vervang met breë soliede mure waarop torings en skerms aangebring is sodat die bo-punt van die muur as fort kon dien (2 Kronieke 26:15) vanwaar soldate kon skiet. By Lagis is selfs twee mure met ‘n oop stuk grond tussenin gebou om nog meer beveiliging te bied. Jerigo se muur moes op ‘n stadium ook ingeboude vertrekke gehad het. Ragab se huis (Josua 2:15) was bo in so ‘n muur met toegang tot die oop dak van die muur (Josua 2:6-8) wat dikwels ‘n ringmuur gehad waar wapens gehang is (Hooglied 4:4, Esegiël 27:11).

Skrywer: Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Stede en Dorpe(1) – JP Louw

Toe die vroegste mense begin het om die grond te bewerk, het hulle skuilings soos grotte verruil vir areas met meer vrugbare grond waar daar ook water beskikbaar was. Soms het dit tot botsings gelei met ander nomadiese groepe wat die water wou deel. Probleme soos hierdie het gemaak dat die vroegste landbouers bymekaar moes woon vir beskerming, en so het die eerste klein dorpies begin ontstaan. Hierdie dorpies was weinig meer as klein gehuggies. Ons moet nie aan hulle dink in terme van moderne dorpe nie.

 

Wanneer so ‘n dorpie taamlik kwesbaar was, het. die inwoners dikwels hulle huisies so gebou dat hulle aanmekaar gelas het met ‘n soliede muur aan die rugkant wat tegelyk ‘n skermmuur ge­vorm het met slegs een ingang na ‘n binneplein. Soms het die area self deur sy ligging redelike veiligheid gebied en kon ‘n keerwal of muur van gepakte klippe bykomend opgerig word. Dit het veral gebeur wanneer die gebied baie vrugbaar was of ook op n handelsroete geleë was. Die relatiewe rykdom van so ‘n groepie bewoners het gemaak dat hulle meer kon bebou, veral toe brons ploegskare begin maak is en die landbou ook buite die omringde wonings uitgebrei het. So ‘n woongebied, met ‘n behoorlike muur om­ring, is ‘n stad genoem. In Levitikus 25:29-31 lees ons van so ‘n ommuurde stad en van dorpe sonder mure. Dit was die muur wat dit ‘n stad gemaak het en nie juis die grootte van die plek nie. Sells stede so belangrik soos Jerusalem en Megiddo was ten tye van die Ou Testament maar bale klein in terme van moderne standaarde. Die hele lengte van die muur om ’n groterige stad was dikwels maar tussen 1 en 2 kilometer. Jerigo se muur was maar ongeveer ‘n half kilometer in lengte. Daarom kon Josua en sy mense op die sewende dag van hulle beleëring sewe maal om Jerigo loop (Josua 6:15). Later is by sommige stede baie sterk mure opgerig van gemesselde klippe of stene. Stede met so ‘n muur is ‘n versterkte stad genoem (Jeremia 34:7).

 

Stede en dorpe het bymekaar groepeer. In tye van oorlog het inwoners van die dorpe dikwels in die stede gaan skuiling soek en in oestye het inwoners van die stede dikwels gaan help om die oes op die lande rondom die dorpe in te samel. In Josua 15:32, 36 en 41 lees ons van “stede met hulle dorpe” wat saam nedersettings gevorm het.

Skrywer: Prof JP Louw




Ou Apostel Kerk – Vraag oor Doop? – Hermie van Zyl

‘n Leser vra,

My dogter is getroud met n man wat aan die Ou Apostle kerk behoort. Hulle is in ons kerk NG getroud . Ons kleindogter is gedoop in hulle kerk maar my dogter moes eers hulle Geloof en kerk aanvaar, ingesweer en ge her-doop word voordat ons kleinkind gedoop kon word. As n NG lidmaat het ek n geweldige innerlike stryd hiermee. Hoekom is my Gees so onrustig en voel dit net heeltemaal verkeerd?

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord

Self het ek ongelukkig geen eerstehandse ervaring of besondere kennis van die Ou Apostel Kerk (OAK) nie, maar ek sien dat daar reeds ’n stuk oor die OAK op die webblad van Bybelkennis verskyn het, geskryf deur prof Pieter Verster van die Universiteit van die Vrystaat.  (Skakel na artikel) . Die vraesteller kan dit gerus lees. In die stuk is daar ook ’n skakel na Wikipedia wat verdere waardevolle inligting oor die OAK gee. Die vraesteller kan dit ook opvolg.

 Nadat ek self bg stukke deurgelees het, is dit vir my duidelik dat daar drie kommerwekkende aspekte van die OAK is:

  1. Hulle leer dat die apostelamp van die Nuwe Testament vandag voortgesit word. Hiermee verkry die apostels in die OAK ’n mag en status wat buite verhouding is tot die beperkte insig waaroor ons as mense beskik, selfs al het ons ’n teologiese opleiding en selfs al staan ons in ’n besondere amp in die Kerk. Selfs die apostels in die Nuwe Testament het mekaar tereggewys (Paulus vir Sefas/Petrus: Gal 2:11-14). Verder, die apostelamp in die NT was ’n eenmalige amp vir die vestiging van die kerk en het na die dood van die apostels opgehou om te bestaan. Trouens, wat ons in die NT het, is juis die neerslag van die apostels se insigte, lering en geskrifte. Al wat ons vandag kan doen, is om daardie insigte te bestudeer, dit ons eie te maak, dit te verkondig, mekaar daaraan te herinner en dit sáám uit te leef. Maar juis daarom kan daar nie eietydse “apostels” wees wie se woord sonder teenspraak aanvaar moet word nie. Die enigste “apostels” wat daar vandag is, is die NT en OT, d w s, die Bybel.
  2. Juis vanweë die OAK se siening van die voortsetting van die apostelamp, beskou die OAK homself as die enigste Kerk wat die weg tot saligheid bewandel en kan aanwys. Hulle het daarom geen ekumeniese bande met ander Kerke nie. Dit is uiters kommerwekkend, want Christene het mekaar nodig. Sáám moet ons besin oor die waarheid van die evangelie vir vandag. Dit was nog altyd so dat wanneer ’n Kerk hom van ander distansieer en afskei en as uitgangspunt aanvaar om geen skakeling met enige ander Kerk te hê nie, allerlei skeeftrekkings van die evangelie ontstaan wat tot groot nadeel van die lidmate se geestelike heil kan wees.
  3. Die OAK aanvaar nie dat die Bybel veel historiese waarde het nie. Alles moet dus allegories verstaan word, d w s vergeestelik word. Nou, dit is wel so dat bepaalde historiese sake in die Bybel soms om spesiale interpretasie vra, maar dit  beteken nie dat die historiese as beginsel bevraagteken kan word nie. Dan word die hele evangelie op losse skroewe gestel. Die Christendom is juis ’n historiese godsdiens, bedoelende: ons glo dat God sy openbaring in die geskiedenis en deur besondere gebeure en mense bekendgemaak het. Sonder hierdie erkenning en belydenis vervlugtig die Christelike boodskap tot ’n filosofie en kan enigiets in die Bybel verdraai word om omtrent enigiets te beteken.

Ten spyte van bogenoemde besware is daar heelwat sake waarmee mens kan saamstem in die OAK se geloofsbelydenis, soos wat prof Verster ook uitwys.

Ek vertrou dat die vraesteller hiermee voldoende ingelig is om te weet waaroor dit in die OAK gaan.

Skrywer:   Prof Hermie van Zyl