Die wettelose mens – Francois Malan

Willie vra:

2 Tessalonisense 2:3 & 4 – Kan julle dalk uitbrei op wie die wettelose mens is , wat die opstand behels?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die wettelose mens wat vir die verderf bestem is (letterlik: die mens van wetteloosheid, die seun van die verderf – albei Hebreeuse idiomatiese uitdrukkings om die nouste betrekking tussen die soort persoon en die wetteloosheid en verderf aan te dui.) Dié mens se optrede is sodanig dat hy letterlik met wetteloosheid en goddeloosheid geassosieer word, wat deur God verwoes sal word tot in die ewige verderf.

1 Johannes 2:18-22 noem hom die antichris, wat teen Christus getuig en optree, en dat daar nou reeds baie antichriste is, mense wat uit die geledere van die gemeente kom, maar nie werklik deel van die gemeente was nie, omdat hulle ontken dat Jesus die Christus is en daarom die Vader en die Seun ontken.

2 Tes 2:4 omskryf hom as die een wat teenstand bied en hom verhef oor alles wat God genoem of voorwerp van aanbidding genoem word.

Hy sal homself beskou as groter en sterker as enige bonatuurlike wese en alle godsdiens van die tafel probeer vee, en homself as die eningste aanbiddingswaardige voorstel.

Iets hiervan is reeds in Jesaja 14:13-14 genoem in verband met die koning van Babel en in Esegiël 28:2,6,9 oor die regeerder van Tirus.

In Paulus se tyd het die Romeinse keiser Caligula in 40 n.C. beveel dat sy eie standbeeld in die tempel van Jerusalem opgerig word. Hy is egter vermoor voordat die opdrag uitgevoer is.

 

Uit 2 Tes se beskrywing blyk dit dat die wettelose mens ‘n wêreldoorheerser sal wees, maar die aarde wat hy sal beheer, is in werklikheid God se aarde (Ps 24). 2 Tes 2:9-12 sê: Deur die Satan sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met geweldige magsvertoon en met allerlei tekens en vals wonders, en die mense wat verlore gaan, sal die leuen glo.

Vers 8 sê egter dat die wettelose mens deur God geopenbaar sal word en dat die Here Jesus hom met die asem van sy mond sal vernietig – die wederkoms van Christus sal die einde van die antichris se tirannie wees. Dit is goddelike humor: bloot deur die asem van Christus se mond en sy verskyning word die wettelose mens uitgewis.

In Openbaring 13 word die Satan se twee handlangers genoem: die dier uit die see, wat die antichris en sy anti-goddelike regeermag voorstel, en die dier uit die aarde, wat die valse profete voorstel wat die mensdom verlei om die beeld van die dier uit die see te aanbid en te dien. Hulle einde word in Openb 20:10 beskryf.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Hoekom wou die Here vir Moses doodmaak?

Willie vra:

Eksodus 4 :24 ,25,26 – Ek wonder soms hoekom die Here vir Moses wou doodmaak toe hy reeds oppad was . Tydens die opdrag kon God seker vir hom gesê om te onthou dat sy seun nog nie besny was nie en dit eers moes doen voor hy vertrek? Hoe het Sippora geweet wat om te doen en ‘n mens wonder wat het sy gesien wat haar laat optree het ?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die taal, betekenis en vertaling van die kort verhaal lewer heelwat probleme. Moses se naam kom nie in die drie verse voor nie, maar is in die Afrikaanse vertaling van 1983 ingevoeg. Letterlik staan daar in die brontaal Hebreeus:

 

4:24 ‘En toe hy (Moses?) op reis in die herberg was, het Jahweh hom (Moses?) ontmoet, en hom (Moses of sy seun?) probeer doodmaak.’

(Jahweh is die Naam van God ‘die altyd teenwoordige,’ die ‘Ek is wat Ek is’ van Eksodus 3:14; wat in die Grieks met kurios=Here vertaal is en ons Bybels ook as ‘Die Here’ vertaal word)

 

4.25 ‘Toe het Sippora ‘n klipmes geneem en die voorhuid van haar seun afgesny en sy voet (Moses of die seun se voet?) daarmee aangeraak, en gesê: want jy is ‘n bloedbruidegom vir my.’

(‘voet’ is ‘n eufemisme vir sy penis/voorhuid, soos in Jes 6:12; 7:20; Eseg 16:25 1983 ‘skoonheid’ vir voet; Deutr 28:57)

 

4:26 ‘Toe het hy (wie?) van hom (wie?) onttrek; toe sy gesê het: bloedbruidegom, met die oog op besnydenisse.’

 

Uit die gang van die argument verwys die ‘hy’ en ‘hom’ waarskynlik na Moses, soos ons vertalings dit verduidelik. Wat nie duidelik is nie, is of Moses as kind besny is nie. Hy was as baba weggesteek, en is daarna as ‘n Egiptiese prins groogemaak. Sippora sou nie die besnydenis nou op hom kon toepas nie, met die oog daarop dat hy ‘n werk moet gaan doen en nie eers kan herstel na die operasie nie, en het moontlik daarom hulle seun besny en die afgesnyde voorhuid van die seun teen Moses se penis gedruk, as teken dat die seun se besnydenis die plek van Moses se besnydenis moes inneem. Sippora was die enigste persoon wat die nag in die omstandighede die besnydenis kon verrig.

Die klipmes word bv. in Josua 5:2-9 gebruik om al die Israeliete wat nog nie besny was nie, te besny voordat hulle in Kanaän kan ingaan ‘om bevry te word van die smaad wat van die Egiptiese tyd af op hulle rus’ (5:9).

 

Dat die Here Moses probeer doodmaak het, herinner aan Abraham, wat sy geliefde seun Isak moes offer as die Here se toets vir die egtheid van Abraham se vertroue en gehoorsaamheid aan die Here (Gen 22); en aan Jakob wat by die Jabbokrivier die hele nag met die Here gestoei het voordat hy Kanaän kon binnegaan, ná sy verblyf in Haran (Genesis 32:22-30). Jesus se eis vir sy dissipels was: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg…wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry’ (Mattheus 16:24-25). Romeine 6:4 sê: ‘deur die doop is ons immers saam met Christus in sy dood begrawe…sodat ons so ‘n nuwe lewe (soos Christus) kan lei.’

 

Bloedbruidegom word in die 1983-vertaling verduidelikkend vertaal as ‘Jy is nou my bruidgom wat deur bloed beskerm word’ (Eksodus 4:25 en 26). Moses se beskerming is eerder Jahweh ‘die Ek is’ wat aktief teenwoordig is by jou om Israel uit Egipte te gaan lei. Moses se skaapwagterskierie word in die Hebreeus van Eks 4:20 ‘die kierie van God in sy hand’ (1983: wat God hom gegee het) waarmee hy die wonders moet gaan doen waartoe die Here hom in staat gestel het (letterlik: wat Ek in jou hand gesit het; 4:21).

‘Bloedbruidegom’ het eerder te doen met die gebruik om die bruidegom voor die huwelik te besny as ‘n verklaring aan die aanstaande skoonouers dat hy volwasse genoeg is vir ‘n huwelik en om hom voorberei om die bruidegom van die bruid te word wat die an se bloedlyn voortsit.

Die besnydenis is deur God vir Abrham en sy nageslag ingestel as die verbondsteken tussen Hom en hulle (Genesis 17:11), maar die verbond self is: ‘Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag’ (Gen 17:7), met alles wat dit insluit dat Abraham en sy nageslag in God se teenwoordigheid kan bly lewe (vgl. Gen. 17:18).

 

Die hele verhaal beklemtoon dat die Here aktief teenwoordig is en in beheer is van die hele situasie, ook wat hierna gaan volg. Moses moet aan Farao gaan sê: Israel is my oudste seun. Laat my seun gaan sodat hy my kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak (Eks 4:23).

 

Die hele verhaal bly egter in misterie gehul, en gee aan ons nie genoeg gegewens om presies te sê waarom dit gebeur het, juis toe Moses in gehoorsaamheid aan die Here teruggegaan het na Egipte toe nie (Eks 4:19). Maar dat te doen het met die geestelike voorbereiding van Moses vir die geweldige taak wat op gaan rus, is seker. En dat hy in alles op die Here sal vertrou en nie op homself nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Openbaring aan Johannes – God en die Lam word geprys (5:11-14) – Francois Malan

5:11-12 Die tweede lied van die engelekoor:

Wat Johannes sien word geïnterpreteer deur wat hy hoor. Die sirkels om die troon brei uit tot tienduisende maal tienduisende en duisende maal duisende; ontelbaar baie, soos in Daniël 7:10. Met harde stemme roep hulle uit dat Hy, as die Lam wat geslag is, waardig is om sewe lofprysings te ontvang (die volle getal): vier loof Hom, drie aanbid Hom. Hy word geloof vir:

a sy krag waarmee Hy die mag van die Bose verbreek het deur sy liefdesoffer van Homself aan die kruis. Dit is die krag van sy liefde, liefdesmag. Daarom het God aan Hom al die seggenskap gegee in die hemel en op die aarde (Mat. 28:18).

b sy rykdom – in Joh..12:32 het Jesus al van sy kruisiging gesê: as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek – met sy liefdesoffer trek Hy mense na Hom toe (vgl. ook Op. 3:18 wat verwys na die ware rykdom van geloof en vertroue op God). Sy nederige liefdesoffer staan teenoor die prag en praal van die sedelose vrou, die groot stad Babilon, waarmee sy die volke verlei het (17:4; 18:16).

c sy wysheid, die wysheid van God, wat, deur die dwaasheid van die kruis, die ‘wysheid’ van die wêreld aan die kaak gestel het (1Kor. 1:24,30) – God se wyse plan – ‘n gekruisigde God – is dwaasheid in die oë van die wêreld.

d sy sterkte verwys na die dinamiek in sy sterwe, om daardeur die dood en die Bose vir eens en vir altyd te oorwin, deur die sondelas van die wêreld te dra, en die mag van sonde en dood te verbreek.

Die laaste drie lofprysings aanbid sy verhoogde status, die Lam wat staan aan die regterhand van God.

e eer – die eer vir die uitvoering van God se plan kom alleen die Lam toe vir sy oordeel oor die wêreld, en redding van die geroepenes. Die eer en die heerlikheid wat aan God gebring word (4:11) kom ook die Lam toe. Dit getuig van die eenhied tussen die Seun en die Vader.

f heerlikheid – die glans van sy liefdesoffer aan die kruis verduidelik: God is liefde (1 Joh. 4:8,10). Sy heerlikheid is die glans van sy liefde, die glans van God se liefde vir die wêreld, wat sy Seun gegee het, en die glans van die Seun se liefde wat Homself gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kry (Joh. 3:16,36).

g lof – wat met dankbaarheid gesing word vir sy aanvaarding van sy leierstaak uit God se regterhand, en lof omdat Hy alleen daartoe waardig is, bekwaam daarvoor en vertroubaar daarmee.

5:13-14 Die derde lied, die hele skepping sing: eer aan God en die Lam.

Die skepping se vier afdelings word genoem: die hemel, die aarde, onder die aarde, die see – alles daarvan en daarin hef die pryslied aan – op die oomblik is die bose geeste in die lug, onder op die aarde, in die see, en is mense op die aarde nog in opstand teen God, maar die geskiedenis loop aan totdat alles en almal God en die Lam prys (vgl. 1 Kor. 15:23-28). Die inhoud van die lied herhaal van die elemente van al die liedere in hoofstukke 4-5 en word afgesluit met die bevestiging deur die vier verteenwoordigers van die hele skepping se ‘Amen’ en die 24 verteenwoordigers van die Ou en Nuwe Testament se gelowiges wat neerval in aanbidding

In hoofstuk 4 is God aanbid; in hoofstuk 5:11-12 is die Lam geprys, en hier in 5:13-14 word God en die Lam aanbid deur die hele skepping. Daarteen staan hoofstuk 18 met die weeklagte van konings, handelaars en matrose oor die verlore glorie van Babilon. Hoofstukke 4-5 openbaar hoe die kruisgebeurtenis in die verlede die huidige en toekomstige verloop van die geskiedenis bepaal. Van Bo af gesien word mag en sukses beskryf in terme van die beeld van die Lam wat geslag is en nou aan God se regterhand staan. Van onder af gesien word mag en sukses gesien deur Babilon se oorheersing, onderdrukking en selfverheerlikking.

As gelowiges het ons deel aan Christus se oorwinning wat Hy oor die Satan aan die kruis behaal het. Deur ons getuienis met woord, daad en lewenswyse verkondig ons sy oorwinning op elke lewensterrein. Ons is deel van ‘n verbete stryd in die samelewing en in ons eie lewe, maar sing nou reeds oor die uitslag daarvan (vgl. Ef 6:10-18).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die Lam (5:6-10) – Francois Malan

5:6 Johannes hoor van die leeu, maar hy sien ‘n Lam, soos een wat geslag is, staan (!). Tussen die troon en die vier lewende wesens en die ouderlinge staan die opgestane Lam. Openbaring gebruik ‘die Lam’ 28 maal (4×7) as metafoor vir Jesus se persoon en werk (in 7:17 word die Lam voorgestel as herder van die gereddes; in 17:14 oorwin die leeu uit die herder-koning Dawid se nageslag. Die leeu oorwin egter as die Lam saam met sy geroepenes in hulle stryd teen die dier en sy tien konings; vgl. 12:10-11). Deur die bloed van die paaslam aan die kosyne is Israel gered uit die Egiptiese slawerny (Eks. 12:21-23,31). God oorwin deur die liefdesoffer van Jesus, deur sy sterwe en opstaan uit die dood word ons verlos uit ons sondeslawerny (28 simboliseer sy volmaakte wêreldwye oorwinning: 4=aarde x 7=volmaakte getal ). God se offerlam verteenwoordig die manier waarop God se krag en wysheid in die wêreld vertoon word.

Die horing is ‘n beeld vir krag, en sewe horings sê: die Lam het volmaakte krag. Die sewe oë sien en ken alles as die alwetende God (vgl. Sag. 4:10: die sewe oë van die Here kyk oor die hele aarde). Die sewe oë is die volheid van die Gees wat dwarsoor die wêreld aan die werk is om mense met die Lam se liefdesoffer na God en die Lam toe te lei. Die alsiende, alwetende, alomteenwoordige Lam beliggaam die volheid van God se Gees.

5:7 Op plegtige dramatiese wyse beskrywe Johannes: die Lam ‘het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.’ Daarmee aanvaar Hy, wat ten volle daarvoor bekwaam is, die taak om God se plan met die wêreld uit te voer.

5:8-10 Die betekenis van sy aanvaarding van die taak word gesien in die reaksie van die skepping daarop: die lewende wesens en die ouderlinge val voor Hom neer in ootmoedige aanbidding; die ouderlinge met (i) liere (10snarige harpe) vir begeleiding van hulle lied (soos in 14:2 en 15:3; vgl. Dawid se lier wat die bose verdryf, in 1 Sam. 16:23) (ii) met goue bakke wat gevul is met wierook, wat die gebede van die heiliges verteenwoordig. God luister na die gebede van die gelowiges, en dit het ‘n invloed op die verloop van die geskiedenis (in 8:3-5 laat dit God se trompetoordele losbreek).

Die lewende wesens en die ouderlinge sing saam ‘n nuwe lied (soos in Ps. 33:3 om die planne van die Skepper te loof; Ps. 40:4 gesing deur die verlosde; Ps. 96:1 vir die Here se reddingsdade; Ps. 98:1 vir sy oorwinning; Ps. 149:1 vir sy goedheid; Jes. 42:10 vir sy verlossing uit die ballingskap). Hier besing hulle die kruisdood en opstanding van Christus wat die hele wêreldgeskiedenis in ‘n nuwe rigting stuur. Die lied word in drie dele verdeel:

  1. die Lam word geloof – Hy is waardig om die geskiedenis te lei deur elkeen van die seëls (sfragidas wat opgedruk word) oop te maak. Elke mens kan Jesus, wat uit liefde vir die wêreld gesterf het, vertrou met sy/haar lewe, met elkeen se toekoms en geskiedenis en met die geskiedenis van die wêreld.
  2. want Hy is geslag (esfages dodelik wond) soos Jes. 53:7 se dienaar van die Here wat soos ‘n lam na die slagplek gelei word. Sy oorwinning word nie op die slagveld behaal nie, maar by die slagpek Golgota. Met sy bloed het Hy mense vir God gekoop, soos op die slawemark, om deel van God se gesin te word; uit die vier windstreke van die aarde word mense deur God teruggekoop: ‘uit elke stam, taal, volk, nasie,’ om lid van God se familie te word (die omvattende uitdrukking kom 7x in Openbaring voor: 5:9; 7:9 se groot menigte voor die troon; 10:11 aan wie die boodskap verkondig moet word; 11:9 die aardbewoners wat hulle oor die lyke van die gelowiges sal verheug; 13:7 wat aan die gesag van die dier oorgegee is; 14:6 aan wie die engel God se oordeel aankondig; 17:15 die mense wat by die sedelose vrou bly). Hier beklemtoon die uitdrukking die wêreldomvattende betekenis van Jesus se kruisdood, maar ook dat dit mense is vanuit al die groepe, en nie alle mense voor die voet nie (Joh 3:16 sê ‘dié wat in Hom glo;’ Joh. 6:37: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; 6:65).

c. Die Lam het hulle ‘n koninkryk en priesters van God gemaak, wat oor die aarde sal regeer – ‘n beeld uit Eksodus 19:6-7: op Sinaiberg sê die Here vir Moses: ‘As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees,’n koninkryk wat My as priesters dien en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Die nuwe eksodus verlos ons van ons sonde (Op. 1:5 Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader), ook verlos van die verdrukking van die nuwe farao (Op. 12-13). Op grond van Christus se kruisdood deel gelowiges in sy liefdesheerskappy oor sy skepping en herskepping, wat as priesters saam met Hom ly en vir ander intree in by God.

Skrywer:  Prof Francois Malan