Die Openbaring aan Johannes – Nie as die Leeu nie, maar as die Lam, is Hy waardig (5:1-14) – Francois Malan

Die visioen in hoofstuk 4 juig God toe as die Skepper en Alleenheerser van die wêreld. In hoofstuk 5 word God toegejuig as die Verlosser en Redder van die skepping. Drie maal sê Johannes: ‘Ek het gesien: 5:1,6,11 om ‘n nuwe afdeling in te lei. Hy sien:

5:1-5 ‘n boekrol verseël met sewe seëls in God se regterhand;

5:6-10 die Lam wat geslag is; Hy staan, het sewe horings en sewe oë, en neem die boekrol, die vier lewende wesens en 24 ouderlinge val voor Hom neer en sing ‘n nuwe lied;

5:11-14 die engele en die hele skepping sluit by hulle aan om God en die Lam te prys.

Die verseëlde boekrol (1-5)

5:1 Die regterhand is simbolies vir God se mag om te red en regverdig te oordeel; Moses en die Israeliete sing van sy reddende en straffende regterhand, in Eks. 15:6; Ps. 20:7 sing van die kragtige verlossingsdade van sy regterhand; Ps. 48:11 U regterhand is vol geregtigheid; Jes. 41:10 letterlik: Ek ondersteun jou/hou jou vas, met my regterhand van geregtigheid. Die boekrol in God se regterhand het te doen met sy plan van verlossing en geregtigheid, sy regverdiging van gelowiges en sy regverdige oordeel oor ongelowiges. Dit bevat God se beplanning vir die verloop van die geskiedenis wat voorlê. Soos ‘n kontrak, bevat die buitekant die opsommende inhoudsopgawe van die binnekant. Op Eseg. 2:10 se boekrol, aan albei kante volgeskryf, was klaagliedere, treurliedere en smart-roepe geskryf. Die sewe seëls beklemtoon die volledige geslotenheid van die inhoud.

5:2 Die toekoms moet oopgesluit word – volgens Eseg. 2:10 maak God self die boekrol oop. Hier tree ‘n sterk engel na vore en roep met ‘n harde stem, sodat almal in die heelal dit kan hoor: ‘Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?’ Met die oopmaak van elke seël vanaf hoofstuk 6 ontvou God se verlossing en oordeel. Waardig? – wie het die gesag en bekwaamheid om God se verlossingsplan en sy oordeel deur te voer, en aan wie kan die toekoms van elke mens en die hele wêreld toevertrou word? Die sterk engel tree drie maal op: 5:1 by die ontvouing van die toekomsgeskiedenis; 10:1-2 by die oopmaak van die boekrol wat Johannes moet opeet, as verduideliking van sy rol as verkondiger; 18:21 by die aankondiging van Babilon se vernietiging.

5:3 Die uitnodiging word gerig aan enigiemand in die hemel, op die aarde, of onder die aarde – dit sluit aan by die tipiese Joodse drielaagheelal: hemel vir die bonatuurlike wesens, aarde of mensewêreld, en die onderaardse waar die geeste sou woon. Selfs in die hemel is daar niemand nie, want God se plan vir sy huishouding is afhanklik van iemand met die volle gesag en wat ten volle met die mensdom identifiseer.

5:4 In 4:1 is reeds gesê Johannes sal sien wat hierna gaan gebeur. Maar alles het nou tot stilstand gekom en dit lyk asof God se alleenheerskappy op aarde nie gaan bereik word nie. Daarom huil Johannes oor die hopeloosheid van die situasie en oor die vrye voortgang van die bose op aarde.

5:5 Maar een van die ouderlinge troos en bemoedig hom, want daar is een wat waardig is: ‘Kyk! (let fyn op) die Leeu uit die stam van Dawid, die wortel/afstammeling van Dawid het oorwin om die boek met sy sewe seëls oop te maak. ‘Het oorwin’ – Jesus het die magte van die bose oorwin met sy dood en opstanding. Hierdie ongewone soort oorwinning deur lyding en skynbare neerlaag is die hooftema van Openbaring en ‘n voorbeeld vir getroue gelowiges om na te volg. So anders as die wêreld wat op mag vertrou om te wen.

In Genesis 49:9 voorspel Jakob, voor hy sterf, vir Juda, wat met sy nageslag sal gebeur: jy is ‘n leeu…soos ‘n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie. Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer. Jesaja 11:1-10 sê vir die ballinge in Babilon: ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp (riza) van Isai, ‘n loot uit sy wortels (riza) sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus…Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel…Hy sal regverdig en betroubaar regeer…wolwe en skape sal saam wei…niemand sal kwaad aanrig nie…die nasies sal na hom vra.’ Hieruit het die Jode verwag dat die Messias sou oorwin deur militere welslae, en kon nie glo dat die man aan die kruis hulle beloofde koning is wat met sy liefde kom oorwin het nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – GOD SE TROONSAAL (vervolg, 4:4-11) – Francois Malan

4:4-11 Die kringe om die troon word in ‘n a-b-b-a patroon aangebied:

a          4:4-6a   ouderlinge

b          4:6b-8a lewende wesens

b          4:8b-9   lof van die lewende wesens

a          4:10-11 lof van die ouderlinge

Hoewel Johannes die ouderlinge eerste sien, vorm die vier lewende wesens die eerste kring om die troon en sing die eerste lofsang aan God, en die ouderlinge vorm die konsentriese sirkel om die vier lewende wesens, en hulle aanbidding en lofsang val in by die aanbidding en lofsang van die lewende wesens.

4:4 Rondom, in ‘n volle sirkel, om die troon van God, staan 24 trone waarop 24 ouderlinge sit. Hulle is beklee met wit klere as simbole van heiligheid/toewyding aan God en oorwinning oor morele en geestelike onreinheid, soos die ontelbare skare voor die troon en die Lam, wat geweier het om kompromië met die wêreld en sy afgode te maak, en hulle klere wit gewas het in die bloed van die Lam (7:14). Hulle trone en goue krone merk hulle as regeerders saam met God (vgl. Jesus se belofte in Mat. 19:28; 2 Tim. 2:12). Verskillende verklarings is vir die 24 gegee. Hulle kan waarskynlik geassosieer word met die 12 stamme van Israel en die 12 apostels van Jesus, as verteenwoordigers van die hele gemeenskap van gelowiges van die ou en nuwe bedelings. Daar word 12 maal in Openbaring na die ouderlinge verwys, in 8 daarvan word hulle spesifiek ouderlinge genoem.

4:5-6a Die weerligstrale, gedreun en donderslae wat uit die troon van God gekom het, is simbole van God se heiligheid wat waarsku dat Hy sy oordeel gaan voltrek, soos ook in 8:5; 11:19; 16:18. Die agtergrond is waarskynlik die verskyning van God by Sinai (Eks. 19:16-19; 20:18-21) en die magtige verskyning van die Here aan Esegiël tydens die ballingskap (Eseg. 1:3-28). Die sewe vuurfakkels voor die troon, die sewe Geeste van God, is die benaming van die Heilige Gees in sy veelvuldige en omvattende werking, soos in 1:4; 3:1 en 5:6.

Genesis 1:6-8 praat van die skeiding tussen die waters onder die gewelf en die waters bokant die gewelf, lg. wat God ‘hemel’ genoem het. In Eseg. 1:22 se gesig is die gewelf blink en skrikwekkend soos ‘n ysberg; In Dan. 12:3 skitter die glans van die hemel. Johannes sien die troon op iets soos ‘n see van glas, helder soos kristal. So word God se heerlikheid, glansrykheid en heiligheid sy andersheid, sy almag en ewige natuur, wat van die edelmetale se glans en kleure afstraal, weerspieël deur ‘n woeste see wat onder God se beheer spieëlglad tot rus kom . In Openb 13:1 kom die dier uit die onstuimige see onder die gewelf om chaos te saai en te vernietig. In 21:1 bestaan die see nie meer nie, as teken van die uitwerping van die bose uit die nuwe skepping.

4:6b-8a In die binneste kring om die troon is daar vier geheimsinnige wesens, wat die hele skepping verteenwoordig: die kalf die mak diere, die leeu die wilde diere, die arend die voëls, en een met ‘n menslike gesig die mensdom. Hulle is rondom en binne vol oë waarmee hulle ten volle aanskou: die heerlikheid, almag en ewige natuur van die Een op die troon (vgl. Eseg. 1:6 se vier wesens met vier gesigte: van ‘n mens, ‘n leeu, ‘n bul, ‘n arend, in 10:14 het die vier gerubs die gesig van ‘n engel, ‘n mens, ‘n leeu en ‘n arend), en het ses vlerke (soos Jes. 6:2 se serafs; maar in Eseg. 1:6 net vier wesens). Die vier wesens is embleme van al die skepsels wat in harmonie met die Skepper leef, soos wat God die wêrld bedoel het. Hulle doen ook diens as die opmerksame oë van God, wat met alwetenheid oor sy skepping wag hou. Die vlerke getuig van ratsheid en spoed. Hulle sien alles raak en is oral teenwoordig.

4:8b Die liedere wat hulle sing prys God se kenmerke en sy werk, waarom Hy waardig is om aanbid te word. Hulle hoof werk is om Hom te aanbid. Dit word dubbel beklemtoon: dag en nag, sonder ophou. Onophoudelike aanbidding is die natuurlike houding van die skepping in ‘n van-aangesig-tot-aangesig ontmoeting met die Skepper. Die lofprysing het drie strofes met drie dele elk: heilig, heilig, heilig – Here, God, Almagtige – wat was, en wat is, en wat kom.

Drie maal heilig (toegewy), soos in Jes. 6:3, om te beklemtoon dat God verhewe is bo die skepping en bonatuurlik is. Die Vader, Seun en Heilige Gees is Een, in liefde aan mekaar toegewy; en toegewy aan die onderhouding van die skepping.

Here – wat regeer; God – die allerhoogste bonatuurlike skepper en onderhouer van die heelal, die bron en die sin van die lewe; Almagtige (9x in Openbaring) – sy mag waarmee Hy skep, onderhou, regeer en verlos.

Wat was en wat is en wat kom (1:4,8), is ‘n uitbreiding op Eks. 3:14: ‘Ek is wat Ek is,’ wat God se aktiewe teenwoordigheid uitdruk, Eks. 3:15: dit is God se naam in ewigheid – God beheer die verlede, hede en toekoms.

4:9-11 Johannes beskryf die wesens se lofsang met drie woorde: hulle bring heerlikheid-eer-dank aan Hom wat op die troon sit en vir ewig en ewig lewe. Die 24 ouderlinge se eerbetoon, wat hulle byvoeg by die lewende wesens se lof, word ook in drie sinsnedes verduidelik:

Hulle val neer voor Hom wat op die troon sit – erkenning van sy alleenheerskappy;

Hulle aanbid Hom wat lewe tot in ewigheid en ewigheid – beklemtoning van sy ewigheid;

Hulle sit hulle trone neer voor die troon – erkenning van sy alleenheerskappy; ook die mate van gesag en heerskappy oor God se eiendom; wat hulle het, het Hy aan hulle verleen, en alle eer kom Hom toe (Genesis 1:28; 2:15).

Hulle beklemtoon God se alleenheerskappy teenoor valse aansprake op alleenheerskappy op aarde (13:8,12). Die vier lewende wesens besing God se heiligheid en majesteit; die ouderlinge sy werk as die enigste Skepper:

U is waardig, ons Here en God om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang

(Domitianus, wat vir Johannes verban het, het beveel dat hyself dwarsdeur die Romeinde ryk as ‘ons here en god’ aangespreek word) omdat U alle dinge geskep het, deur u wil het alles ontstaan, en is dit geskep – alles en almal het in God se denke en beplanning ontstaan, is deur sy Woord en Gees geskep, en as Here en God onderhou en heers Hy oor ons en die hele skepping.

Anders as die lewende wesens, spreek die ouderlinge God persoonlik aan: U…ons Here en God – ons lewe in sy hand, onder sy leiding en sorg, in ons deurmekaar leefwêreld. God is groter as enige keiser of regeerder, omdat Hy die Skepper en Onderhouer van sy skepping is. Hoofstuk 4 gee ‘n kykie op die skepping in hamonie met sy Skepper, wanneer God in die sentrum van ons lewe is.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – GOD SE TROONSAAL Hoofstuk 4-5 – Francois Malan

Na die eerste visioen van die verheerlikste Christus in sy kerk (1:9-3:22), teken die volgende visioen God as die Skepper (4:1-11) en Verlosser (5:1-14). Hy sit op die troon in beheer van die geskiedenis, en in die volgende hoofstukke voltrek Hy sy oordeel oor die goddeloses, soos deur die seëls, trompette en bakke uitgebeeld word, maar demonstreer Hy ook sy verlossing, deur die verseëling van die gelowiges en die afmeet van die tempel, met die nuwe Jerusalem as die hoogtepunt.

Hoofstuk 1-3 fokus op die kerk as ontvangers; hoofstukke 4-11 op die heelal as ontvangers van God se oordeel en verlossing; in hoofstukke 12-22 word gefokus op die geskiedenis waarin die oordeel en die verlossing opbou tot ‘n hoogtepunt.

In hoofstukke 4-5 word God en die Lam aanbid, teenoor die wêreld se aanbidding van die dier uit die see in hoofstuk 13; God se troon is in die sentrum van die gesig, om sy algehele heerskappy oor die hele skepping aan te dui; teenoor die troon van die draak en Babilon, wat God probeer uitskuif uit die sentrum, en God se gesag wederegtelik vir hulle probeer toe-eien (hoofstukke 13 en 17). In die geweldige stryd tussen God en die Bose is God se oorwinning reeds bekend. Rome vervolg Christus se volgelinge sodat hulle Rome se kultuur sal volg of sterf; God oordeel die ‘aardbewoners’ (goddeloses) om hulle tot bekering te roep en aan hulle die ware lewe te gee (9:20-21; 14:6-7; 16:9,11). Die boek eindig met God se heerskappy wat deur die hele skepping seëvier in die nuwe hemel en nuwe aarde.

God word aanbid, eers deur die vier lewende wesens (4:8), dan die 24 ouderlinge (4:10-11), dan weer deur die twee groepe (5:8-9), daarna die menigte engele (5:11-12), en dan die klimaks – die hele skepping (5:13). So word God aanbid in Esegiël 1, en in Jesaja 6 met God op sy troon in die tempel. In Openb 4 word God as Skepper aanbid, in hoofstuk 5 as Verlosser op grond van wat die Lam gedoen het. So word die Vader, die Seun, oordeel en verlossing saam gebind.

Johannes se hemelse visioen (4:1-2a)

‘Hierna het ek gesien’ – dié uitdrukking merk vyf nuwe gedeeltes in die boek (4:1; 7:1,9; 15:5; 18:1). Johannes se posisie verskuif van die aarde na die hemel, waar hy ‘n deur gesien het wat oopgemaak is, en nou oop staan (‘n voltooide werkwoord, om die werk van Christus wat geskied het en voortgaan, aan te dui). Daarmee kry Johannes ‘n gesig van Bo af op wat op aarde gebeur (in 9:1-2 word die bodemlose diepte oopgesluit vir die verwoester om sy werk op aarde te kom doen). Die eerste stem, so hard soos ‘n basuin (1:10, waarskynlik die stem van Christus) roep Johannes om die troonsaal te betree om ‘n visie van Bo te kry op wat hierna moet gebeur – dit open egter ook die visie op die verlede van Christus se kruisdood, die toekoms van die nuwe Jerusalem en die hede van die huidige heerskappy van die dier en Babilon, alles in die konteks van God se totale plan vir die geskiedenis.

Johannes is meteens in die Gees, deur die Gees in besit geneem. Hy sien wat gewone oë nie kan sien, en hoor wat gewone ore nie kan hoor nie. Die Heilige Gees lei hom om die ‘geheime’ van God se plan vir hierdie wêreld aan sy lesers te gaan oordra.

4:2b-3 Kyk, daar was ‘n troon in die hemel, en Iemand wat op die troon sit… ‘n Oorweldigende visioen van God, die heerser en regeerder, as die fokuspunt. Vanuit hierdie gunstigste posisie kan Johannes die wêreld en sy gebeure aanskou en beskryf vanuit ‘n perspektief wat op God sentreer. Die ‘troon’ is ‘n sentrale simbool van die hele boek, wat 47 keer voorkom uit die 62 keer in die Nuwe Testament. Aardse trone kompeteer met God se sentrale troon (Pergamum bly waar die troon van die Satan is, 2:13); die diere uit die see ontvang krag en gesag uit die troon van die draak (13:2); die vyfde engel gooi sy bak uit op die troon van die dier (16:10). Vanuit die aardse perspektief lyk dit of die dier oor die aarde regeer (13:4). Maar vanuit die perspektief van Bo af regeer God oor alles; Openbaring beskryf God veral as die Een wat op die troon sit (4:3,9,10; 5:1,7,13; 6:16; 7:10,15; 19:4; 20:11; 21:5).

Daarby gebruik Johannes edelstene as metafore om God se heerlikheid te beskryf: sy voorkoms is soos om te kyk na ‘n kristalhelder jaspis steen (in 21:11, soos ‘n diamant), en na ‘n rooi karneool (in Latyn, soos rooivleis; in Grieks sardion, deursigtig rooi, word ook vir die vroulike wese gebruik). Die stene wat die lig weerkaats, verdiep God se misterieuse andersheid. Soos sy karakter, sal die stad waarin God sal woon, ook soos glinsterende edelstene lyk (21:11,18-20).

en rondom die troon soos ‘n stralekrans is daar ‘n reënboog wat net soos groen smarag lyk (Engels: emerald). Terwyl die troon God se heerskappy en oordeel simboliseer en aan Jesaja 6:1-4 en Esegiël 1:26-28 se roepingsvisioene herinner, kombineer die reënboog simbolies die helder ligglans wat God omring, volgens Esegiël 1:28, en die verbondsteken aan Noag,volgens Genesis 9:12-17. So wil Johannes sy lesers voorberei op God se oordeel wat op hande is (2 Petr. 3:5-7, 10-13).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Laodisea – vervolg (3:18-22) – Francois Malan

3:18     (i) Die gemeente met sy goud in die banke van die ryk stad, moet vir sy geestelike armoede goud wat in die vuur gelouter is by die Here koop om by God ryk te wees – 1 Petr. 1:7 praat van ons geloof se egtheid wat deur allerhande beproewings gelouter word en kosbaarder is as verganklike goud wat met vuur getoets word, maar wat uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Christus geopenbaar word.

(ii) Kolosse se purperrooi wolklere en Hierapolis se gekleurde wolmateriaal het vér afgesteek by Laodisea se gesogde swart wolklere wat hulle rykdom en vernaamheid vertoon het, maar hulle was naak in God se oë – ‘n groot skande in die Joodse kultuur (vgl. Jes. 20:1-4); die besetene van Gerasa/Gadara het soos ‘n bees naak rondgeloop, geestelik versteurd en bankrot, maar na sy genesing het hy by Jesus se voete gesit, met klere aan en by sy volle verstand (Luk. 8:27,35). Wit klere is in Openbaring simbool vir geregtigheid, verlossing en oorwinning wat ons by Jesus kan kry deur in Hom te glo en Hom te volg op sy lydenspad (6:11; 7:9; 13-14 wit gemaak in die bloed van die Lam; 19:13-14). Laodisea se swart wolklere van selfvoldaanheid moet vervang word met wit klere van gesuiwerde geloof en vertroue op die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29).

(iii) Laodisea se mediese skool was wêreldberoemd en ook sy oogsalf van sandsteen wat verpoeier was. Deur hulle voorspoed en selfvoldaanheid is hulle verblind om nie hulle geestelike blindheid en verval raak te sien nie. Daarom beveel Christus by hulle sy oogsalf aan, ‘n nuwe gesigspunt van Bo, deur die verandering van hulle denke (metanoia bekering) oor Christus en oor hulle lewe as kinders van God. Vgl. die genesing en verlossing van die blindgeborene teenoor die blindheid van die Fariseërs wat sê dat hulle sien, in Joh. 9:39-41.

3:19 Die oplossing gaan nog verder. As hulle Vriend, berispe en tugtig Christus die gemeente, omdat Hy hulle liefhet (fileoo vriendskapsliefde). Berispe behels die identifisering van die probleem om iemand daardeur te oortuig om iets daaraan te doen; tug se doel is om iemand te help om op die regte spoor te kom (vgl. Spr. 3:11-12,24; Hebr. 12:5-6). Goddelike liefde gaan gepaard met dissipline. As Laodisea dissipline uit liefde verstaan en ernstig opneem, sal hulle ywerig wees om hulle te bekeer – van louwarm tot vuurwarm in Christus se diens. Die fokus van hulle lewe moet verskuif van eie gewin na ‘n lewe toegewy aan die diens van Christus en God, as volgelinge van Christus en kinders van God omdat hulle verbind is aan die Seun van God, met ‘n liefde wat gee en nie gryp nie.

3:20 is ‘n goddelike uitnodiging om tot inkeer te kom. Die Laodisense het skynbaar die deur van hulle harte gesluit vir gemeenskap met Hom. Die geslote deur is ‘n beeld van die gevaarlike dieptes waarin die gemeente verval het. Die Here van sy kerk staan by hierdie kerk, maar buite, en klop om in te gaan om vir hulle ‘n fees aan te bied. Hulle word opgeroep om mooi te luister na sy kloppende hart: ‘Kyk!’ Elke lidmaat moet self besluit of hy/sy vir die kloppende Vriend gaan oopmaak en Hom as die Here van hulle lewe in te nooi om in sy gemeenskap hulle hele lewe uit te leef. Tafelgemeenskap is ‘n teken van hartlike deelname en intieme gemeenskap van vriende (Joh. 15:12-15). Dit is ‘n voorafskuwing van die hemel (Op. 19:7,9, die bruilofsfees van die Lam; vgl. Jes. 25:6; Luk. 12:35-41; 13:29; 22:29-30).

3:21 Die hoogste eer vir dié wat oorwin oor die versoekings en aanslae van die wêreld en hulle eie hart se louheid, is om saam met Jesus op sy troon te sit langs die Vader (vgl. 20:4; 22:3-5). Satan en die dier wat as despote regeer, sal onttroon word, en Jesus, wat saam met die Vader regeer, sal sy oorwinning met diegene deel wat die deur van hulle lewe vir Hom oopgemaak het. Die wyse waarop die oorwinning verkry word, is die onderwerp in hoofstuk 5, ‘n oorwinning deur die Lam wat sy lewe gee, en daarom is Hy waardig om die boekrol, wat die geskiedenis van die heelal laat voortrol, oop te maak en met liefde te regeer.

3:22 Die boodskap is vir alle gemeentes bedoel, en wie ookal die woord met oop ore hoor, en luister deur dit gehoorsaam te volg, ontvang van Christus die lewe saam met God, wat nou reeds sy deel word, en vir ewig.

Van vier uit die sewe gemeentes in Klein-Asië (huidige Turkye) het slegs bouvalle oorgebly: Efese, Pergamum, Sardis, Laodisea. Die ander drie, Smirna, Tiatira en Filadelfia, is vandag moderne stede met moderne name, en het min van die ou stede se bouvalle oorgebly.

Efese, die groot handelstad, met die tempel van Artemis as een van die sewe wonders van die antieke tyd, wat haar eerste liefde verlaat het, is in 262 n.C. deur die Gote verwoes, en het later onder Arabiere, Turke en Mongole deurgeloop.

Smirna, vir wie vervolging voorspel is, waar Polikarpus in 155/156 n.C. op die brandstapel gesterf het, het die Turkse invalle en Islam ‘n tyd lank afgeweer, en daar is tans nog ‘n Roomse klooster.

Pergamum, gewaarsku teen die Nikolaïte, het na die Arabiese invalle in 716-717 n.C. agteruitgegaan, tot net bouvalle daarvan oorgebly het.

Tiatira, met geld as hulle god, is telkens herbou ná die Arabiere en Turke se aanvalle, en heet vandag Akisar.

Sardis, geestelik dood, is in 117n.C .deur ‘n aardbewing verwoes, deur die Romeine opgebou, en in 716 n.C. deur Arabiere vernietig.

Filadelfia, die getroue, is in 390 n.C. deur die Turke verower en in 716 n.C. deur Islam oorgeneem, tans Alaseïr (stad van Allah).

Laodisea, die loue bankhoofstad, is in die Middeleeue deur die Moslemoorloë vernietig.

 

Hoewel daar ‘n opbloei in die gemeentes was na ontvangs van die briewe, en die Christelike geloof deur Turkye versprei het, maar weer lou geword het, het Islam in 716-717n.C. Turkye oorspoel en die kerk onderdruk en uitgedruk. Na die eerste wêreldoorlog het Turkye in 1923 ‘n onafhanklike Moslemstaat geword, wat alle Christene verban het, sodat daar vandag nie eers 1% van die bevolking in Christus glo nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan