Terwyl gemeentes in die eerste drie briewe eers opgeroep word om te luister en daarna volg die belofte van ‘n beloning, word die volgorde in die volgende vier briewe omgedraai.
Tiatira (huidige Akhisar), 64 km suid-oos van Pergamum geleë, destyds met ‘n groot aantal vakbonde of gildes van tekstielwerkers, kleurselmengers, skoenmakers, bronssmede, elk met sy eie beskermgod, en die songod Apollo, seun van Zeus, as hoofgod en beskermgod van die keiser. ‘Isebel’ en die heidense vakbonde gee in Tiatira die toon aan.
2:18 ‘Die Seun van God’ (in Openbaring kom die titel net hier voor, 45x in NT, hier die ware Seun van God teenoor Apollo, seun van die afgod Zeus). Sy eienskap in hierdie brief is sy oë ‘soos ‘n vlammende vuur’ en sy voete soos ‘gloeiende koper’ (deur vuur gelouter; 1:15 ) – sy vurige oë wat die leier en die gemeente deur en deur ken, wat hulle doen maar ook hulle gedagtes en harte deursoek (2:23); sy voete beklemtoon sy standvastige en duursame teenwoordigheid in teenstelling met Isebel se afbrekende leringe wat jou daarin vassuig.
2:19 Die Seun van God ken hulle werke van liefde wat gesien kan word in hulle diensbaarheid (diakonia) aan ander wat daaruit voortvloei, en hulle geloof in Christus met die volharding waarmee hulle aanhou glo in Christus te midde van teenstand van die hele samelewing. Anders as Efese, wat hulle eerste liefde verwerp het, het Tiatira in liefde, geloof, diensbaarheid en volharding toegeneem.
2:20 Maar anders as Efese, wat bose mense en leuenprofete nie kan verdra nie, laat Tiatira vir Isebel, wat haar self ‘n profetes noem, toe om die gemeente te leer en te verlei. Isebel, die Foenisiese prinses wat haar man Agab verlei het om die diens van die Here met die diens van haar gode Baäl en Asjera te laat saamsmelt (1 Kon 16:30-33; 1 Kon 21:25-26; 2 Kon 9:22), is die simbool van godsdienstige sinkretisme, om twee gode te aanbid en godsdienste te laat versmelt (vgl. egter Mt 6:24).
[‘n Baältempel het gewoonlik ‘n masseba gehad, ‘n klippilaaraltaar vir die manlike natuurgod van heerskappy, en ‘n asjera, ‘n houtpilaaraltaar vir die vroulike natuurgod van vrugbaarheid. Skynbaar het Agab orals in Israel sulke Baäl aanbiddingsplekke laat oprig, wat die tempel in Samaria verteenwoordig het. Daarmee saam het hy sy drie kinders name gegee wat aldrie elemente van die naam van die Here (Jahweh) bevat: Ahasia, Joram, Atalia.
Griekse en Romeinse profetesse is sibillae van die songod Apollo, die god van profesie, genoem omdat hulle geheime en gesigte oor die toekoms in ekstase gehoor en gesien het]
Die vrou, wat soos Isebel, in Tiatira opgetree het, was blybaar ‘n leiersfiguur wat die gemeente se geloof ondergrawe het, en haar verleiding tot onsedelikheid het by die sakelui en lede van die gildes ingang gevind. By die gildes se feeste is die vleis, voor gebruik, aan die afgode geoffer, en is onsedelikheid bedryf om vrugbaarheid te verkry. Christene wat geweier het om aan dié feeste deel te neem, is dislojale gilde-lede en ateïste genoem, mense sonder ‘n god en sy vrugbaarheid oor hulle lewe en werk. Hierdie vrou se profesië het gesê dat die Christene maar aan die feeste kan deelneem, en so hulle ekonomiese en sosiale probleme oplos, want as die gilde jou uitskop kry jy nie werk nie.
Verleiding, misleiding, word in Openbaring gebruik vir die bose: Satan wat die hele wêreld verlei (12:9), die dier uit die land wat die mense met wondertekens mislei tot afgodsdiens (13:14), die sedelose vrou Babel wat al die nasies met haar bedrog mislei (18:23). Die bose mislei mense deur dit wat aangebied word baie goed te laat lyk, op die oog af onskuldig en aanloklik. Die vurige oë van Christus is nodig om deur die bose se misleidende fasade te kyk.
2:21-23 Isebel se tyd vir bekering is bykans verby, maar sy bly weier om haar te bekeer van haar wellustige verleiding. In godsdienstige sin is Isebel se afgodsdiens ontug teenoor God, ‘n geheul met ‘n ander god. Weens haar ontugbed gooi God haar op ‘n siekbed. Haar meelopers wat hulle nie bekeer nie, word deur ‘n swaar lyding getref, en haar volgelinge word in die dood oorgegee. Die strafaankondiging oor die afgedwaaldes sluit af met ‘n waarskuwing aan al die gemeentes: Hy wat ons deur en deur ken, vergeld ons na ons werke.
2:24-25 Dié wat aan Christus getrou gebly het, word aan twee eienskappe uitgeken: (i) hulle huldig nie die leer van Isebel nie; (ii) hulle het nie die die dinge wat ander die ‘diep geheimenisse’ van die Satan noem, leer ken nie, dinge wat net vir die ingewydes bekend is – dit is waarskynlik ‘n sinspeling op die dwaling wat in 1 Johannes genoem word: sommiges wat sê dat hulle gemeenskap met God het en dat hulle daarom nie sonde het nie, en nie gesondig het nie, maar, hulle lewe in die duisternis en dink hulle lewenstyl maak nie saak aan hulle verhouding met God nie (1 Jn 1:8-10); en na 2 Johannes 9: elkeen wat “vooruitgaan” met hulle meerdere kennis en progressiewe insig, en nie bly by die naïewe geloof in Christus as God en mens en sy voorskrifte nie. Hulle het gedink hulle het daar verby ontwikkel. Op die getroues lê Christus geen nuwe verpligting nie. Hulle moet net vashou wat hulle het: liefde, geloof, diensbaarheid en volharding onder die aanslae van die gemeenskap en die verleidings van die wêreld, totdat Christus kom.
2:26-28 Vashou, oorwin en volhard om die werke van Christus te doen, sê dieselfde. Terwyl Isebel en haar volgelinge volgens hulle werke aan die dood oorgegee word (2:21-23), word die getroues beloon vir hulle werke vir Christus met:
gesag (eksousia) om oor die nasies te regeer (poimaneoo soos ‘n herder wat sy skape lei en help) met die gesag wat Christus van sy Vader ontvang het (vgl. Mt 28:18). Die Griekse Ps 2:8-9 word hier aangehaal. Openbaring sê: Christus voer sy gesag uit deur mense te wen deur sy lyding, soos ‘n Lam wat geslag is (Op 5:6-7). Maar uit sy mond kom ‘n swaard met twee snykante (1:16). Die yster herderstaf, wat aan die getroues gegee sal word, beskerm die skape teen wilde diere en verpletter die vyand; dit is die swaard wat aan twee kante skerp is, die woord van God wat red en oordeel.
en Hy sal aan hom die môrester gee. In Openb 22:16 sê Jesus: Ek is die helder môrester – wat die belofte van die nuwe dag aankondig. Om die môrester aan die oorwinnaars te gee, of die môrester oor hulle te laat skyn, is ‘n naamswisseling (metonomie). Daarmee ontvang hulle ‘n aandeel aan die messiaanse status van Christus. Verbind aan die Seun van God word ons kinders en erfgename van God, met ‘n aandeel aan sy lyding en sy heerlikheid (Rom 8:17; Dan 12:3).
2:29 Elkeen wat kan hoor word ook opgeroep om te luister na wat die Gees sê oor wie Christus is, wat Hy vir ons gedoen het en wat Hy deur die Gees reeds met ons doen: getrou in liefde, geloof, diens en volharding, en nie luister na Isebel en die aanloklikhede van die wêreld nie.
Skrywer: Prof Francois Malan