Die Openbaring aan Johannes – Brief-aanhef (1:4-8) – Francois Malan
Die aanhef (1:4) bestaan uit (i) die skrywer Johannes, sonder enige uitbreiding daarop – in 1:1 noem hy homself egter ‘n doulos, slaaf/dienskneg van Jesus Christus;
(ii) die geadresseerders – die sewe gemeentes in Asië as verteenwoordigers van die hele kerk: sewe as die getal van volkomendheid word 55 maal in Openbaring gebruik: sewe geeste (1:4); sewe sterre, sewe goue lampstaanders (1:12,20); sewe horings en sewe oë van die Lam (5:7); sewe koppe van die draak en die dier (12:3; 17:3); sewe seëls, sewe trompette, sewe bakke. Sewe is verbondstaal: 3 (Vader-Seun-Gees) + 4 wat die wêreld omsluit (oos-wes-noord-suid);
(iii) ‘n uitgebreide groete word aan die lesers/hoorders gestuur, met God se onverdiende genade en die resultaat daarvan, nl. vrede met God en met mekaar. Die vrede is God se regverdigheid wat uit sy genade besig is om die onderstebo wêreld reg te stel. Die drie persone van die Godheid se seën word aan die gemeentes gegee. God, die bron van die openbaring, word bekendgestel met ‘n reeks titels wat sy ewige natuur probeer weergee met drie beskrywings van wie die genade en vrede kom:
a van Hom wat is, en wat was, en besig is om te kom (ho erchomenos) – Eks 3:14: ‘Ek is wat Ek is’ word ook vertaal as ‘Ek is wat Ek was en wat Ek sal wees’ as die aktiewe teenwoordige God. Dit fokus op God se huidige bestaan, en Hy kom in Christus om te verlos en te oordeel. Die gelowige luisteraars, wat swaar ly onder vervolging en verwerping deur die samelewing, moet vashou aan Hom wat God is ook in hulle hede, soos Israel in die Egiptiese slawediens; die valse god bied homself ook aan met drie kenmerke wat God naboots: 17:8 ‘wat was, en nie is nie, en sal wees/kom (parestai).’
b en van die sewe Geeste voor sy troon – in 1:4; 3:1 word die volheid van die Gees se aktiewe teenwoordigheid en krag vanuit die troon van God in die wêreld beklemtoon; in 4:5 word die Gees verteenwoordig deur die sewe lampe van vuur voor God se troon; in 5:6 as die sewe oë van die Lam .
c en van Jesus Christus, die getroue getuie – gedurende sy aardse lewe was sy lewe en prediking tot sy dood ‘n getuienis vir die waarheid van God, teenoor die valsheid en leuens van die bose – ‘n voorbeeld vir sy kerk as sy getuies in die wêreld (11:1-13).
die eersteling uit die dood – deur sy opstanding is Hy die eerste wat uit die dood opstaan en kwalifiseer Hy die gelowige se hele bestaan, waarborg Hy die gelowige se hede en toekoms. Soos Hy opgestaan het sal die hele ‘oes’ opstaan (1 Kor.15:22). God se nuwe skepping is ‘n werklikheid in Christus. Jesus is die oorwinnaar oor die dood en oor die dier se moord-aksies.
en die heerser oor die konings van die aarde – nou en met sy wederkoms. Regeerders is die verdrukkers van die gelowiges wat teen Christus optrek in die laaste veldslag en verslaan word (6:15-17; 17:12-14; 18:9; 19:18-19). Die dier maak aanspraak op heerskappy oor die wêreld, maar Jesus is die heerser oor die wêreld (Mt 28:18). Hy moet aanbid word en nie die keiser of watter heerser ookal nie.
Die groete word gevolg deur die eerste van baie lofprysings (1:5b-6; 4:11; 5:9,12-13; 7:10,12, ens.). Jesus word geprys vir sy verlossingswerk met die betekenisvolle drie stellings:
Aan die Een wat ons steeds liefhet – God se liefde vir ons word getoon in die liefde en werk van Jesus. Sy kruisdood is die hoogste bewys van sy liefde vir ons.
en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het – soos die Israeliete deur die bloed van die Paaslam aan die kosyne in Egipte; al die offers wat in Levitikus beskryf is, wys na die offer wat God self vir die sonde van die wêreld gebring het (Hebr 10:1-14).
en ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – ‘n koninkryk teen dié van die draak en die dier, die Farao’s van hierdie verhaal (vgl. Eks 19:6 se koninkryk van priesters). Soos die Israeliete is die lesers op pad, met ‘n nuwe eksodus, na ‘n beloofde land. Op pad ontmoet hulle nuwe Farao’s (die draak en die dier), en word beproef deur afgode, wat hulle van God af wil wegtrek op hulle woestynreis – naamlik om kompromië aan te gaan met Babilon. Openbaring vertel hoe die Lam sy volk uit slawerny en ballingskap lei na die nuwe Jerusalem. Die gelowiges is God se personeel op aarde: heersers namens en saam met Hom oor die sonde, en priesters in sy diens met direkte toegang tot God, wat Hom selfs tot die dood toe sal dien. Jesus word geprys as die bonatuurlike Seun van God. Sy goddelike mag en grootheid is ewig en oortref alle aardse mag. Die ‘amen’ (‘laat dit so wees’) waarborg en bevestig die voorafgaande.
Verse 7-8 is ‘n profetiese aankondiging en goddelike verklaring wat die tema van die boek in poëtiese liedformaat verduidelik en Jesus se wederkoms aankondig.
1:7 kondig aan ‘Kyk! Hy is aan kom met die wolke…’ (Dan 7:13) – Hy kom om God se geregtigheid en vrede te vestig op die aarde. Aan die einde (22:20) word die inhoud van die boek omsluit met: ‘Ja, vir seker, Ek kom gou, Amen, kom Here Jesus’ (22:7: Kyk, Ek kom gou; 22:12 ‘Kyk, Ek kom gou’).
‘en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het, en al die volke op die aarde sal oor Hom huil/rou (vgl. Dan.7:14 en Sag 12:10). Ja, vir seker, Amen’ Christus se wederkoms bepaal die res van die boek se verloop. Hy kom gewis weer. Die nasies word deurgaans opgeroep om hulle te bekeer, anders sal God se oordeel hulle tref. Die dringendheid van die wederkoms dring elke gelowige om geestelik waaksaam te wees.
1:8 God praat self twee maal in die boek (1:8; 21:6). In die dubbele versekering kondig Hy Homself albei kere aan met die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet:
‘Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God,
wat is en wat was en wat besig is om te kom,
die Almagtige.
Hy is in beheer oor die ganse skepping en van die geskiedenis, van die eerste woord in die skepping tot by die laaste woord, tot in die nuwe skepping (vgl. Jes. 44:6; 48:12). Hy sal ook alles en almal tot vervulling bring aan die einde van alles. Hy is die oorsaak en finale doel van sy hele skepping. Jesus word ook die eerste en die laaste, die Alfa en die Omega genoem (1:17; 22:13). Hy behoort tot die volheid van die ewige wese van God. (Die Hebreeuse ekwivalent vir die Griekse Alfa en Omega is ’mt die eerste letter van hulle alfabet, ’, ‘alef’, die middelste mem, en die laaste letter tau. Dit spel ’emet = waarheid).
‘Wat is en wat was en wat besig is om te kom’ aan die begin van die paragraaf (1:4) word hier herhaal (1:8b), om die hele brief-opening te omsluit met die Ewige God se bestendige aktiewe teenwoordigheid in dié wêreld. Hy beheer die verlede, hede en toekoms.
‘die Almagtige’ beskryf God se absolute beheer oor hierdie wêreld en die wêreld wat kom. Die beskrywing kom 10 maal in die Nuwe Testament voor, 9 daarvan in Openbaring (1:8; 4:8; 11:17; 15:3; 16:7,14; 19:6,15; 21:22). In die Ou Testament word Hy genoem ‘die Heer van die leërskare.’, wat in die Griekse vertaling pantokrator ‘die Almagtige’ geword het. Daarmee word God se mag oor alle aardse magte en heersers uitgedruk. Hy het absolute mag en gesag. Die dier beweer dat hy totale beheer oor hierdie wêreld het (13:1-8), die heersers van die wêreld spog met titels wat hulle vergoddelik, en hulle misbruik hulle gesag deur dit met met mag en geweld te probeer afdwing (13:12-16). Maar God is alleen die Almagtige, die oorsprong en doel van die skepping. Hy toon sy almag deur Christus se liefdesoffer van Homself aan die kruis, deur God se liefde vir die wêreld. Daarom is Hy alleen waardig om die verseëlde boek van die toekoms oop te maak (hfst 5). Al sê die heersers van die wêreld ook wat, die gelowiges word bemoedig met die seker wete van God se almag, sy liedesmag wat die wêreld oorwin .
Skrywer: Prof Francois Malan